(Geestelike) Supersterre!

Oktober 12, 2009

Die Oostelike Sinode van die NG Kerk het ‘n liedjieskrywerskompetisie uitgevaardig. Dit het my baie laat dink.

Hoekom juis die kerk se musiek op dieselfde manier as die wêreld se musiek inrig? Op die ritme van dieselfde sisteem? Is dit sinvol om ‘n Idols te hou sodat ons ‘n beter liedereskat vir die kerk kan opbou?

My dink is in twee geskeur.

Aan die een kant is dit wonderlik dat daar soveel nuwe liedere in omloop kom. (Vir hierdie sinode is daar 206 liedere ingeskryf! 206 – maar nie almal gaan noodwendig gebruik word nie. Ek hoop daar is meer liedere wat mens kan gebruik as net die wat gewen het.) Dit is belangrik, want musikale mense mag dalk van verveling dood neerslaan as daar nie nuwe goed geskryf word nie. (Meeste kerke het nie versekering teen hierdie tipe goed nie.) Belangriker as dit, is dat daar juis ‘n tekort aan liedere is vir die handjievol mense wat hierdie styl liedere in hul eredienste wil gebruik. Die hoendertand-getal goeie liedere waaruit hulle op die oomblik keuses kan maak, bied min of meer die verskeidenheid wat my klerekas my elke oggend bied.

Dan moet ek ook skerp kritiek teenoor die verIdolisering van die kerk se musiek uitspreek. Wel, om die waarheid te sê, ek het nog altyd gedink Idols is in elk geval ‘n bietjie van die pad af. Dis so … sinteties. Soos plastiek-ketties. Ja, baie soos plastiekketties, die musiek word ook in ‘n gietvorm ingedruk.

Dalk sou dit ‘n goeie idee wees as ons ons aandag ‘n bietjie bestee om mense te help om eerder in gemeentes liedere te skryf – vir gemeentes. Eerder as om die ore na buite te rig, om na een of ander Superster-strooipop se pype te dans. Dit sou vir my sin maak. As ‘n been-af verliefde sot ‘n liefdeslied skryf, mag dit dalk vir almal rondom hom pragtig wees, maar dit het partykeer net regtig betekenis vir sy bessie-wang stroopgesiggie. (Dan vra mense nog hoekom ek nie ‘n meisie het nie!) Dit mog dalk die geval wees met ons kerkmusiek ook. Ons smokkel soveel liedere van buite af in – nee, die oorgrote meerderheid van ons liedere – dat dit soms maar net mooi op die oor val. En dood lê verkluim daar buite. Dalk kan ons gemeentes begin help om vir hulle self liedere te skryf?

Natuurlik is dit nie altyd sleg om liedere van buite af te kry nie. Party mense het nou maar eenmaal net die gawe om dit goed te kan doen. Dit moet ons deel met ander. Veral die wat in Suid-Afrika self begin liedere skryf. Dit spreek tog almal van ons aan – ten minste verstaan ons die taal daarvan. Daarom is ‘n liedjieskryfkompetisie dalk nie die slegste ding wat in die kerk kan gebeur nie.

Ek moet darem ook in hierdie post iets sê van hoe die Oostelike Sinode se liedjieskryfkompetisie uitgedraai het. Ek is opgewonde oor die nuwe liedere wat ons bykry. Ek het nie so baie van alles gehou nie – maar smaak verskil seker. Hier en daar het ek so effens begin skrik vir die teologie van ‘n lied – maar aan die ander kant, ek skrik elke nou en dan effens vir die teologie van ander mense se uitsprake (en gereeld as ek in die spieël kyk).


Stuk-stuk raak die Woordpers tot Hollands gekaap

Augustus 5, 2009

Ek sien daar is iets wat my WordPress account stadig maar seker tot Afrikaans verander. Soos ‘n gogga. Ek is egter nie so beïndruk soos sommige mense (die mense agter die kap van die – baie arbitrêre – woordbyl?)  sou dink nie.  Behalwe dat die twee tale nou lelik gemeng word, is ek nie heeltemal oortuig dat die regte vertalings altyd gebruik word nie – sekere dinge val darem maar snaaks op die oor! Byvoorbeeld: “Preview” het onlangs verander tot “Vooraf Kyk” – maar dit maak nie regtig sin nie; dit moet veel eerder “Kyk Vooraf” wees – dis immers ‘n opdrag wat mens aan die rekenaar gee.

Aanvanklik was ek heel verward: wat, in Engels,  is ‘n “Wysig?” Eers gedog dis ‘n afkorting van die afkorting wysiwyg. Om nog verder kommentaar te lewer: ek is amper seker “comment” is nie “kommentaar” nie – dalk ‘n “stuk kommentaar”, maar nie net “kommentaar” nie.

Het daaraan gedink om die taal waarin ek skryf (volgens WordPress) te verander, maar gaan dit vir eers so hou, want ek hou nogal van die “Tuiste” vir “Home” – dis iets wat ek al lankal wou verander, maar nie geweet het hoe nie. Dit is immers wat die mense sien wat die blog lees; ‘n tipe van wjsiwjk (wat jy sien is wat jy kry).


My musiek op MySpace … gaan luister gerus (met ‘n onkritiese oor)

Julie 29, 2009

So ‘n hele rukkie terug het ek demo’s opgevang. Hier is dit!

Dis meestal lofprysing-musiek – of ten minste, Afrikaanse musiek met ‘n … ek huiwer om dit te sê, maar dis waar … Christelike inslag. Dalk kan iemand dit êrens in ‘n kerk gebruik of iets? Ek het die woorde in PDF formaat op ‘n bladsy hier op Wurmblikkie gesit – en ‘n link daar bo gemaak.

Ek het die goed so gestel dat mens dit kan aflaai van MySpace af. Vet weet hoe mens dit regkry, ek het ook nou nog nie regtig probeer nie.


Ek ken ‘n ou, ou liedjie – maar ouer as daardie een (P. Berol. 8299)

Julie 17, 2009

Ek lees bietjie Grieks saam met die tweedejaars. Nou goed dan, die universiteit betaal my om Grieks saam met die tweedejaars te lees.

Ek is mal daaroor.

Vandag het ons ‘n gedig (was dit miskien ‘n lied?) gelees wat, sover ek weet, nog nooit in Afrikaans vertaal is nie. Dit is êrens in die vierde eeu op ‘n stuk papirus neergeskryf wat nou in Berlyn is (P. Berol. 8299). Miskien kom dit uit nog ‘n vroeër tyd! Iemand, vermoedelik in Egipte êrens, het hierdie gedig die moeite werd geag om oor te skryf.

Dis ongelukkig net die laaste deel van die gedig wat oorgebly het. Ons weet dit, want die laaste reëls begin elke keer met die opeenvolgende laaste letters van die Griekse alfabet. Dus was daar waarskynlik 24 reëls aanvanklik, een vir elke letter van die Griekse alfabet. Dit val onmiddelik op dat dit soos die psalms klink.

Hier is my vertaling daarvan:

U beskerm die lam van gevaar; U neem dit en maak dit deel van u kudde.

Noudat ek weet dat die Seun die Herder is, besit ek die weiveld van die Vader.

Sal ek tussendeur vreesaanjaende magte reis, sal niks van hulle swaarkry my tref nie.

Want U is Genade, (U is) die Geseënde Een: noudat ek U gesien het, sal ek wegkom van al die planne wat teen my gesmee word.

Ek tel musiekinstrumente op vir U; ek sal heilige koordanse dans!

O Woord van die nimmereindigende Vader, aan U die eer, die mag tot in ewigheid!


Hier is die Grieks, vir diegene wat dalk ‘n beter vertaling daarvan wil maak – of net myne wil korrigeer. (Onthou tog asb: hierdie is nie ‘n kritiese teks nie!)

Τηρεῖς συ τὸν ἄρνα ἐπ’ ὤμου λαβὼν σῇ ποίμνῃ ἑνώσας.

Υἱὸν νομέα νῦν ἐπέγνων, νῦν ἔσχα νομὴν πατρῴαν.

Φοβερὰς δυνάμεις διοδεύσω μηδέν τι παθὼν ἀπὸ τούτων.

Χάρις τε συ, μάκαρ, ἀποβλέψας ἀποφεύξομαι τῶν ἐπιβούλων.

Ψαλτήριά σοι ἀνεγείρω, ἁγίους δὲ χοροὺς χορεὺσω.

Ὧ Λόγε πατρὸς ἀπειρίτου, σοὶ δόξα, κράτος εἰς αἰῶνας.


hy of Sy; Hy of Hom haar syne

Junie 16, 2009

Daar is in Afrikaans ‘n verskil tussen die persoonlike voornaamwoord en die besitlike voornaamwoord. Dit is ‘n taalreël; dis nou maar net ‘n feit soos ‘n koei.

‘n Persoonlike voornaamwoord is wanneer die voornaamwoord (hy/sy/hom/haar ens.) gebruik word in die plek van ‘n naam, of ‘n persoon. Byv., “Jan is al oud genoeg om op die klim en klouter te speel, want hy is al veertien.” Dis eintlik twee sinne, maar as mens die naam voluit sê die tweede keer klink dit dom.

‘n Besitlike voornaamwoord word in die plek van ‘n persoon se naam gebruik as dit besit aandui, byv. “Sara het baie albasters, maar haar varkies is nie lekker op hok nie.” Dus, die spreekwoordelike dwalende varkies behoort aan Sara.

Wanneer daar van God gepraat word, is daar ‘n verskil tussen die besitlike voornaamwoord en die persoonlike voornaamwoord. Net een van hierdie voornaamwoorde (die persoonlike vnw) word met ‘n hoofletter gespel!!! Dus:

“God het ook vroulike eienskappe, Sy word ook as ‘n moeder uitgebeeld.” (Persoonlike voornaamwoord). (Kyk Ps 131).

“God is ons koning, sy glorie kan ons nie met woorde uitdruk nie.” (Besitlike voornaamwoord).

Gaan kyk gerus in die Bybel (Byv. Gen 1:5; Gen 1:26-27) as jy my nie glo nie.

Gaan maak NOU die goed op julle kerk se projeksieskerm reg. Dit maak die drie taalfreaks in julle gemeente ongemaklik elke keer as julle lofliedere sing!


Luidkeels 3

Junie 3, 2009

So, dis amper weer tyd dat die uiters suksesvolle Retief Burger en kie ‘n derde CD / DVD opneem.

Hierdie keer word daar egter gedoen waarvan ‘n mens net kan droom – of wel, dalk het dit die vorige keer ook gebeur, maar ek het verseker nie daarvan geweet nie. Hierdie keer word die musiek voor die tyd vrygestel – in ‘n onverwerkde vorm, maar nog steeds! Nou al kan mens dit van die Luidkeels webblad aflaai – sodat mens saam kan sing die dag van die Groot Opname – maar meer as dit, nou kan mens dit solank in kerke begin sing! Dankie tog vir die digitale wêreld!

Op die oomblik is ek besig om daarna te luister. Dit klink goed, baie gefokus op lof (wat verwag mens?). Dit klink baie Retiewerig. Wat ‘n goeie ding is. Sien uit daarna om die verwerkde liedjies te hoor – en ook by die opname (R40, by NG Moreleta Park, Saterdag, 25 Julie 2009).

Ek gaan ook dadelik begin gebruikmaak van hierdie liedjies – so vars soos pasgebakde plaasbrood – as ons by die Jakaranda kinderhuis (in Pretoria) begin musiekmaak. Iemand lus om ons daarmee te help? Dit sal lekker wees as mens ‘n span het wat kan afwissel.

Wat kan mens nog sê van Luidkeels 3? Om by die laaste metafoor te hou – hierdie opname kan nie ‘n misbaksel wees as mense dit al voor die gebeurtenis begin gebruik nie!


Die teologie van Lied 190 (Grote God, aan U die eer)

April 25, 2009

Lied 190 (uit die Liedboek van die Kerk, 2001, NG Kerk-Uitgewers) maal die afgelope week in my kop rond. Dit is een van my gunsteling gesange: moontlik omdat ons dit al so baie in ons tradisie gesing het, en moontlik omdat dit so lekker op die kitaar gespeel kan word. Die melodie, oorspronklik Großer Gott, wir loben dich, is al bekend vanaf 1668, en dit werk nog steeds.

Ek dink egter onwillekeurig aan die teologie wat agter hierdie gesang, en moontlik agter die Liedboek, lê. Liedere, net soos preke, boeke en blogs, het ‘n eie teologie wat onderliggend is daaraan. Dit kan ook natuurlik nie anders nie! Mens moet dus soms op eiers loop – wat (baie!) nuwe kerkliedere betref, maar ook soms wat die ou tradisionele gesange betref.

 

Lied 190


(1) Grote God, aan U die eer!

Heerlik is waar U regeer;

hemels is u majesteit;

heilig u geregtigheid.

U wat alles onderhou, 

U is ewig en getrou.


(2) In genade, groot en ryk,

bou U, Heer, u koninkryk.

Voordat ek kon kies, kon vra,

het u Seun my vloek gedra.

Ek kon vind: U’t my gekry

voor ek nog my skuld bely.


(3) U, oor alles God en Hoof,

open oë van geloof

dat ons sien, geen goed of kwaad

word aan toeval oorgelaat:

Bokant ons begrip, verstand,

hou U al wat is in stand.

 

Ek hou baie van die eerste twee verse – dis diep teologie. (Soos teologie maar gaan, is dit ook oop vir interpretasie!) Die derde versie pla my egter. Op die oog af lyk dit of dit ‘n “Puppetmeischter” God voorstel. ” … geen goed of kwaad word aan toeval oorgelaat: … ” Beteken dit dan tot God letterlik alles beheer wat op aarde aangaan? ‘n Mens sou so dink! Dis ook heel moontlik dat die lied oorspronklik hierdie betekenis gehad het. (Die oorspronklike lied is tussen 1719-1790 deur Ignaz Franz gepen.) Ek sal baie versigtig wees voordat ek dit in ‘n erediens gebruik! Hoe nou gemaak? Moet mens dit herinterpreteer, of net nooit in ‘n erediens gebruik nie? Die eerste twee versies is dan so mooi! Ek kan dink dat mens miskien kan lees as: nadat goed of kwaad geskied het, gryp God in. Met hierdie interpretasie is daar egter ook probleme! 

Dis jammer dat Lied 191 so onbekend is. Dis gegrond op dieselfde melodie (soos ook Lied 192), en is later vertaal in Afrikaans as 190. (Dit gaan terug op Te Deum laudamus - weet nie hoe lank terug dit geskryf is nie – maar is eers in 2001 in Afrikaans beskikbaar gestel.) Hiermee strook my eie teologie beter. Sien byvoorbeeld vers 3:

 

Vader, ewig, goed en groot,

hoor ons lof uit elke oord.

Seun van God in ewigheid,

ons is tot u diens bereid.

Heil’ge Gees, Vertrooster, Heer,

ons, u kerk, wil U steeds eer.

 

Mens moet maar lugtig loop vir enige lied se teologie!


Kaleidoskoop, mosaïek of verkleurmannetjie op ‘n smartiebox – hoe lyk ‘n multi-kulturele erediens?

April 1, 2009

Marcel Barnard praat van “bricolageliturgie”. Sommige kerke verwys na ‘n “mosaïek”. Iemand het al êrens melding gemaak van ‘n kaleidoskoop. Al hierdie is maniere om van ‘n erediens te praat wat uit verskillende kleure, geure en klanke – verskillende geloofstradisies – aanmekaargeweef is. Verskillende kleure? Verskillende geure? Verskillende klanke? Dis nou juis my probleem: dit voel vir my of al hierdie beskrywings eintlik maar nog steeds twee-dimensioneel is; of dit uit dieselfde kultuur kom (en jy is welkom hier, solank jy jouself kan aanpas om by hierdie kultuur in te skakel) en of dit eintlik maar nog ‘n mono-kultuur is, waarvan die liturgie net wyd uiteenlopend is. Veral hier in smartiebox Suid-Afrika … 

Daar is twee goed, op die oog af, wat verhoed dat mens ‘n ordentlike, drie-dimensionele, multi-kulturele diens kan hê. Dit word natuurlik as ‘n verskoning gebruik in baie kerke (onder andere ‘n sekere volkskerk): taal en musiek. Musiek is mos in elk geval ‘n probleem, ons sukkel om ons mono-kultuur eredienste se nate bymekaar te hou. Dis nou as gevolg van die onderskeie subkulture wat soos olie en water meng. Nogtans, ons het nie eers begin om die volle impak van die verskil in musiek tussen kulture aan te spreek nie.

Taal skep natuurlik glad nie so groot probleem as wat party mense dink nie. ‘n Tolk is eintlik nie so steurend nie – meeste mense bly nog steeds 7de Laan kyk – en Engels – as party mense net hul nukke sal los – is ‘n bruikbare common denominator (gemene deler – sien, dit was nie so moeilik nie!) 

‘n Derde noemenswaardige ding, is dat baie kerke dienste het in verskillende tale. Ag, hoe pragtig! Hoe wonderlik! Solank ons net nie die kerkgebou op dieselfde tyd moet beset nie, o weë! Dit gaan nou nogal bereidheid en ‘n sekere stuk opgawe verg om hierdie dienste bymekaar te gooi.

Natuurlik is hierdie lang relaas wat ek nou net gevoer het, vanuit my perspektief (dit van die NG Kerk?) gesien. Daar is hordes gemeentes wat elke Sondag multi-kulturele dienste het – ek dink byvoorbeeld aan ‘n klein gemeente in Mamelodi – daar is verskeie tale en kulture teenwoordig! Ek kan egter die NG Kerk gemeentes wat so kerk hou, op my een hand se vingers tel. Dalk is dit beter om hulle hier op die blog te tel:

NG Riviera. Hulle het nie elke aand saam diens nie – daar is ‘n Afrikaanse diens en ‘n Engelse diens dieselfde tyd, maar soms gooi hulle die twee saam. Ek was juis hierdie Sondag in so ‘n gesamentlike diens – en het baie daarvan gehou. Die prediker het in Afrikaans gepreek, maar die Engels het op die projektorskerm verskyn. Daar is in Afrikaans en Engels gebid (en gesing), en die liturgie is in altwee tale hanteer. Natuurlik kan mens hierdie hele gedoente nog meer verfyn – maar ek dink dis ‘n stappie in die regte rigting.

Andrew Murray – gemeente. Alhoewel ek nog nie self daar was nie, en ek vermoed hulle in elk geval net in Engels ‘n diens het.

Dalk verraai ek nou my onkunde, maar dis waar my lysie stop. Ek besef ook dat my post nie regtig enige vrae antwoord nie. Miskien is dit eerder ‘n aankondiging dat ek oor hierdie sakie dink, en ‘n uitnodiging vir enigiemand anders om saam met my daaroor te dink. Hoe lyk ‘n multi-kulturele erediens? Kan ons dalk by die vroeë kerk gaan leer? Grieke en Jode? Olie en water?