Geld … en predikante (aldus Adam Small)

Oktober 2, 2009

Die digter Adam Small vat dit goed saam in sy gedig, so ek hoef nie veel daaroor uit te brei nie:

Doemanie

‘n Proefiet van jesus dj‎‎ý?

’n proefiet?

djy moet djou palys-hys

djy moet djoe aeroplane-motorkar

djy moet daai kamma sêd smile van djou

en djou tears

en djou woerawarra op die pulpit

moet djou skorrelsvol braai-atappels en –

vleis?

djou hys ’n woestyn? nou sal mens djou verbeel!

en hoe lyk dit moet djou kale pote vi’daai streamline ding

hoe lyk dit moet djou toega vi’ die vel van ’n kameel

hoe lyk dit moet daai skorrelsvol vi’sprinkane en wille hiening?


Ou Franciskaanse seënbede

Mei 20, 2009

‘n Vriendin wat saam met my geswot het, is onlangs bevestig as predikant. Met haar intreepreek het sy die volgende seën gebruik, wat my diep getref het. Dis ‘n ou Franciskaanse seënbede – hierdie is die weergawe wat in die NG Kerk se handleiding by die erediens gedruk is:

Mag die Here jou seën met ongemak oor maklike antwoorde, halwe waarhede en oppervlakkige verhoudings sodat jy uit die diepte van jou hart kan leef;

Mag die Here jou seën met woede oor onreg, onderdrukking en die uitbuiting van mense sodat jy kan werk vir geregtigheid, vryheid en vrede;

Mag die Here jou seën met trane om te stort vir mense wat pyn, verwerping, honger en oorlog ervaar sodat jy ‘n hand kan uitreik en hulle pyn in blydskap kan verander.

En mag God jou seën met genoeg dwaasheid om te glo dat jy ‘n verskil kan maak in hierdie wêreld, sodat jy dinge sal kan doen wat ander mense dink nie gedoen kan word nie.


Making Money – Terry Pratchett. ‘n Suid-Afrikaanse perspektief.

April 9, 2009

Terry Pratchett is geniaal, ‘n ware satiriese fantasieverhaal-maestro. Ek het onlangs sy Making Money klaargelees. Wat ‘n fees! Ek weet nie waar kry hy sy idees vandaan nie, maar gewoonlik slaan hy die spyker op die kop. Twee tema’s in die boek staan vir my voorop:

  1.  Pratchett beskryf die bankwese as in ‘n gemors – ‘n profetiese uitspraak, as mens daaraan dink. Dit gaan vir hom baie oor waarin die sekuriteit van geld/bankwese gesetel is. (Sien punt 2). In die proses wees Pratchett hoe onderduims die hele gedoente is / kan wees.
  2. Die oplossing (of is dit juis sy kritiek?) wat Pratchett bied is dat die sekuriteit van bankwese in die werkersklas lê. Interessant genoeg stel Pratchett juis hierdie laag in die samelewing as die grootste gevaar-wie hulle beheer, kan die wêreld oorwin. Hier lê ook die grootste potensiaal vir rewolusie! Dalk lees ek te veel in die hele storie in. Ten minste het dit my laat dink!

 Die storie lyk natuurlik anders hier in Suid-Afrika. Die banke is in ‘n toestand, nog altyd. Mens sit ook nie jou geld in die bank om dit te laat groei nie, net om dit op te pas. Jy betaal hulle, anders as in Pratchett se tuisland. (So lyk dit vir iemand wat nou nie juis baie verdien nie!)

Afrika lyk op die oog af  ’n bodemlose put te wees wat dors geld opslurp. Korrupsie; rykes wat al hoe ryker word; armes wat in sommige plekke lankal nie meer hul hoop in geld as handelsmiddel stel nie. Ek kies egter om mooi te luister wat Pratchett sê – of ten minste wat ek inlees in wat hy geskryf het. (Praat van lustig allegoriseer!) Die eintlike waarde van ‘n land is in sy mense. Dis dalk diep begrawe, soos ‘n skat, maar dis daar. Daar word bietjie hiervan uitgebeeld in The Motorcycle Diaries, een van my gunsteling flieks. Dit handel oor Che Guevara se lewe. Dis verseker verromantiseer, maar darem dra dit ‘n sterk boodskap. Gaan kyk dit gerus.

 Wat my betref, ek val maar saam in hierdie bodemlose put. Om dit nog beter te stel: ek val SAAM  met SA mense in hierdie put. In hierdie wonderlike, skatryk land.


Voorspoedsteologie – budget of straight?

April 2, 2009

Voorspoedsteologie is nie ‘n goeie ding nie, sowaar as (biltong? roomkaas?) vet! Tog – dis so LEKKER!

Ek sit toe Dinsdagaand in ‘n onbekende selgroep – ‘n multikulturele een ;-) – en die (spraaksame) leier van die groep waarsku ons almal onder andere teen die voorspoedsteologie. Ja, daar sal verseker moeilike tye kom! Om ‘n Christen te wees, is nie maklik nie. Soms gaan dit maar broekskeur. Vasbyt, dis al wat ons kan doen. Dis eintlik die Satan wat sy mes vir ons in het. Dis hy wat so lustig die vetjies sny. Om rede ons natuurlik sy planne lelik in die wiele ry as ons net op God fokus. Dan sal alles, uiteindelik, vir ons goed uitwerk … Die selgroep luister aandagtig. Daarna ruil hulle stories uit van hoe dinge alles ten goede meewerk. Mense wat gesond word, geld wat eensklaps opduik. 

Iets knaag aan my. Iets kom fluister in my oor. Miskien is dit die duiwel? Miskien is dit die still small voice waarvan ons netnou gepraat het? Miskien is dit my gewete? As alles elke nou en dan ten goede meewerk in elkeen van ons se lewens – is dit nie maar voorspoedsteologie op ‘n budget plan nie? Wat maak ons in elk geval almal hier, as dit nie is om onsself ‘n bietjie te kom krag en genade inspuit om by die volgende uitbetaling te kom nie? 

Hemel is ook nie die oplossing nie. Hel, hemel is eintlik maar net ‘n straight uitbetalingsplan – iets wat sal gebeur as jy doodgaan. Nie dat ek nie sê ons gaan eendag in God se teenwoordigheid kan wees nie. (Ek sê dalk maar net ons is alreeds.)

Ek dink willekeurig aan diadiese samelewings – amper iets soos ubuntu. Dis nou die tipe samelewings waarin mense soos Paulus en kie geleef het. Dit was nie ‘n indiwidualistiese saak nie, maar eerder ‘n groepsaak. Die Christene het ‘n nuwe groep gevorm – en na my mening sou alles ten goede vir hulle meewerk as ‘n groep. Miskien verstaan ek dit verkeerd. Maar dis al wat vir my sin maak. Dalk is die enigste manier om die voorspoedsteologie te ontduik, om een vir die span te vat – sonder ‘n beloning.


‘n Lekker luukse, leergebonde medisynepilletjie

Maart 26, 2009

Ek was gister by ‘n gesprek oor hoe mens die Bybel moet lees. Snaaks genoeg, na gister se uitlatings, het ek maar redelik my mond gehou. Daar was in elk geval ander mense wat dit beter kan beduie. Wat my wel opgeval het – en sulke goed val my deesdae al hoe meer op – is hoeveel mense luukse leergebonde Bybels het. (Ek het self een – goed, ek het toevallig meer as een.) Kan ons dit regtig regverdig om so duur vir Bybels te betaal? Dis tog nie regtig funksioneel nie – net luuks? 

Ek onthou toe ek nog ‘n kinders was, het my ouers altyd ons kolliehonde se medisyne in allerhande ander kos probeer verdoesel. Sommige van die goed het maar aardig geruik vir my; ander kere was dit prima stukkies vleis. Die honde het natuurlik die ou happies verslind. (Ons honde was nie van daardie tipes wat oormatig gepamperlang is nie – die kleinste ou stukkie vleis het hulle seker pure wolf laat voel.) Soms het hulle al rondom die pilletjies geëet, sodat mens maar weer probeer het met ‘n ander stuk. Een of ander tyd het die medisyne darem ingegaan.

Miskien is ‘n luukse Bybel maar net die happie waarin die medisyne gerol is. Dit wat mens in die Bybel lees, is immers nie altyd so lekker nie. O ja, daar is dele wat mens opgewonde maak. Dis nou natuurlik, as mens die ding lees. Ek dink nog steeds dis te veel geld wat vermors word. Dit beteken natuurlik nie dat ek nou myne gaan brand en die goedkoopste een gaan aanskaf nie – dis mos onsinnig om een fout met ‘n ander te probeer regmaak. Ek gaan egter nie sommer weer vir myself so ‘n luukse uitgawe koop nie, en definitief ander mense aanraai om twee keer te dink voor hulle doen!