Ou skool worship en prefab lofprysing

Oktober 27, 2009

Ou skool worship. Uit volle bors.

Soveel so dat ek nie weet wat om daarmee te doen nie.

Soveel so dat Jesus, groot bo almal klink soos ‘n skool wat alles gee om die geesbeker by interhoër in te palm. Helaas, nee, ek dink nie ek het al ooit by ‘n sportbyeenkoms ‘n lied gehoor wat met soveel drif gesing word nie.

Dit skreeu – ja, dit grens letterlik aan skreeu – teen alles wat ek al in my korte lewe oor lofprysing (en om lofprysing te lei) geleer het. In my kop moet daar ‘n gewyde stilte wees; daardie meaningful silence êrens in die middel van ‘n liedjie in die middel van die hele affêre. Lofprysing moet mos min of meer hierdie patroon hê: ‘n raserige begin, ‘n diep middel, met ‘n fokuspunt êrens, en dan (bege)lei die musiekspan weer die mense uit om hulle gereed te kry vir die boodskap wat volg.

Lofprysing by die Jakaranda kinderhuis lyk soos volg: ‘n raserige begin, ‘n raserige middel, en dan ‘n raserige einde. Bygesê, hulle laat hulle ook nie eintlik juis lei nie – deels omdat hulle dalk nie die musiekspan so goed kan hoor nie; die gevolg hiervan is dat ons eerder hulle tempo vat as andersom. Aanvanklik het ek gedink hierdie mense dryf die spot met ons; maar na dit keer op keer gebeur, dink ek nie meer so nie. Inteendeel, ek dink hulle hou van sing. Uit volle bors. Die hele tyd.

Dit dwing natuurlik die vraag na vore: is daar iets verkeerd hiermee? Verseker nie!. Die hele gedoente wys net hoeveel die prefab idee van lofprysing in my kop is: daar moet eenvoudig stilte tussen-in wees. Die prefab idee van lofprysing hoor ons gereeld in allerlei vorme: by die kerk, op CD’s, by lofprysingsshows. Dit veronderstel ‘n sekere wyse van omgaan met musiek en ‘n sekere kwaliteit van musiek. Daarmee is nou nie noodwendig iets verkeerd nie – veral kwaliteit, maar sodra prefab lofprsying ons enigste manier word waarop ons sing, begin ons ons “lofprysing” altyd daaraan meet – dit word ‘n maatstaf (wat deur ander mense opgestel is!) om te bepaal of ons regtig nou geworship het.

Daarom dink ek nie ek moet die mense by Jakaranda kinderhuis “opvoed” in lofprysing nie. Hulle ken dit klaar – dalk meer as ek. Ja, inteendeel – ek sê dankie vir dit wat ek by hulle kon leer, en ek sien uit na die volgende keer wat ek saam met hierdie mense sang kan geniet.

 

 

 


Fokofpolisiekar en die Intense Leegheid van die Siel

Augustus 14, 2009

‘n Vriend van my, wat (onder andere) hier blog, doen navorsing oor Fokofpolisiekar. Meeste mense weet dit nie, en ek vermoed sal dit ook nie sommer raai nie, maar ek het meer as die helfde van my MDiv skripsie met Fokofpolisiekar in die agtergrond (en BAIE koffie) geskryf.

Hulle is eenvoudig net een van die groepe wat die beste musiek – musikaal, bedoel ek nou – in Afrikaans maak. Ek vermoed dit is die hoofsaak hoekom baie mense na hulle luister. Inderdaad, ek is nie so seker of almal noodwendig hulle boodskap snap nie – vergelyk byvoorbeeld hierdie lirieke van Hemel op die Platteland wat ek op die internet gekry het (sal maar eerder nie sê waar nie):

Kan jy my skroewe vir my vasdraai?
Kan jy my albasters vir my find?
Kan jy jou idee van normaal
By jou gat opdruk?
Kan jy?
Kan jy Aberdeen spel?

Ironies dat die ou nie “vind” kan spel nie – of ten minste nie gesien het dit is verander deur ‘n woordverwerker nie. Nog meer van ‘n ironie dat die woord “a-p-a-t-i-e” nou vervang is met “Aberdeen” – wat beteken die hele punt van die liedjie is gemis.

Hemel op die platteland is een van die groep se ouer liedjies. Dit bevat natuurlik ook hierdie opspraakwekkende gedeelte:

Kan iemand dalk ‘n god bel
En vir hom sê ons het hom nie meer
Nodig nie
Kan jy -
Kan jy apatie spel?

Ek dink hierdie is ouens wat erg ontnugter is – deur die kerk; deur die samelewing waarin hulle grootgeword het. Ek dink hulle is ouens met diep insig.

Ek dink ook hulle is verkeerd.

Hulle lewer egter sosiale kommentaar wat mens nie sommer kan miskyk nie. Sosiale kommentaar – en kommentaar op die kerk – wat ek hoop op een of ander tyd deur alle teologiestudente in die gesig staar word. Ek gaan nie alles in hierdie een post kan aanraak nie. Ek kan maar net hier en daar so losweg vat. Die volgende deel uit Lugsteuring, byoorbeeld, het my veral aangegryp:

Ek wil net nie verkeerd wees in
hierdie lewenslang kleedrepitisie nie
Is die monster wat jou jaag
emosionele progressie?
Is jy die enigste vyand van
spirituele tegnologie?
Ons oë is vervang met skerms
en ons siele met prentjies van die see

Nou, ek vermoed ons het hier te doen met ‘n erediens.  Dink mens kan dit sien in die res van die liedjie ook. Dink dis nogal baie raak. Die hele “kerk-toe-gaan” ervaring het mos tot ‘n groot mate ‘n toetssteen geword vir mens se geloof. Dit spreek van onegtheid – iets wat mens gerus uit jou geloof uit kan sny.

Terselfdertyd, dink ek, is hierdie ouens bewus van iets groters, selfs al kies hulle om dit mis te lees. Ja, hulle wil die Greep van Geloof afgooi. Maar waarmee sit mens dan? Ek dink mens kan dit gerus die Intense Leegheid van die Siel noem. Kyk bietjie na hierdie aanhaling – al die lirieke van Tiny Town:

In wrede woede het ek die
hand wat beheer gebyt
Verwyt myself op harder en
harder grond neergesmyt
Dis nou ek wat die leiband lei
Te veel verskeur om sulke
argumente ernstig op te neem
Miskien is niks soos wat ek dink dit is nie
My greep op my geloof glip gereeld
My wonde wonder waar genesing kom vandaan
Soet slaap sonder sonde vanaand

Miskien is niks soos wat jy dink dit is nie
Jou greep op jou geloof glip gereeld
Jou wonde wonder waar genesing kom vandaan
Soet slaap sonder sonde vanaand

Hierdie liedjie het my aangespreek. Ek waardeer die eerlikheid daarvan – die absolute openheid. Ek betreur die feit dat die kerk nie ‘n oop genoeg ruimte – en ‘n veilig genoeg ruimte – skep vir mense wat sulke vrae wil vra nie. Die gevolg? Afgesien daarvan dat die idee van die kerk gesien word as iets met gesag wat op mens afgedwing word? Iets wat afgegooi moet word? Na my mening: mense wat verskeur word. Hierdie is goed waardeur ‘n mens moet worstel; maar daar is geen plek daarvoor nie. Hierdie is goed waarmee ek graag mense sou wou uitdaag; maar daar is geen plek daarvoor nie.

Anderkant die vermaaklikheidskerk en die Intense Leegheid van die Siel lê daar antwoorde. Graag sal ek mense daar wil sien aankom, maar dit moet nie geforseer wees nie. Sal ek Fokofpolisiekar vir mense aanbeveel om hulle hiermee te help? Nie sommer vir enigiemand nie. Vir teologiestudente – wel, miskien. Iets anders wat ek wel definitief vir teologiestudente sal aanbeveel is om Oppikoppi toe te gaan – sodat hulle kan leer van die wêreld, van liefde en aanvaarding. Ja, nie noodwendig om mense daar te gaan bekeer nie, maar net om bietjie waar te neem – en te leer. Plus, mens hoor dalk net ‘n bietjie goeie musiek ook. Dít is egter ‘n post vir ‘n ander dag.


26 – en steeds op soek na my identiteit

Julie 23, 2009

Sal ek dit nou maar erken? Ek is nog steeds op soek na my identiteit. Neig 27 se kant toe. Dis telkens as iemand sommer goed aanneem oor my dat ek dit veral ervaar – byvoorbeeld, mense wat aanneem dat ek in die akademie gaan opeindig, êrens by ‘n universiteit, besig om my stowwerige lesings aan te bied vir die stowwerige banke waarop niemand regtig sit nie.

Die afgelope week is ek op veral twee geleenthede uitgedaag om weer ‘n bietjie van meet af aan oor my eie identiteit te dink. Veral hoe ek dit meet. Die eerste geleentheid – laas Vrydagaand. ‘n Koffie-gesprek saam met ‘n vriendin. Sy dwing my, onwillekeurig (en vir haar dalk  - onwetend), om te erken dat dit vir my (te veel) saak maak wat ander mense van my dink. Dis die begin van die nuwe kwartaal, en ek worry oor wat die nuwe klomp studente gaan sien – wat hulle gaan dink – in watter boksie hulle my gaan sit.

Die tweede geleentheid gebeur twee dae later – laas Sondag. Ek woon die oggenddiens by Mosaiëk gemeente in Johannesburg by. (Ons kan ander dag miskien praat oor Mosaiëk self.) Die prediker (Johan Geyser) sê nie regtig iets nuuts nie – nie na Vrydagaand nie – maar bring dit dalk net ‘n bietjie meer ter illustrasie. Op die verhoog is daar ‘n pawiljoen. (Twee konsepte wat my brein al lelik deurmekaar gekrap het.) Telkens stap daar nuwe mense op die verhoog op, kry dan ‘n kaartjie by Johan Geyser, om toeskouers van sy lewe te word, en dan gaan sit hulle natuurlik op die pawiljoen. Na ‘n ruk begin hy daarop sinspeel dat hy nou vir hulle leef. Alles doen hy om hulle tevrede te stel. In pleks daarvan om sy lewe voor God uit te leef.

Die twee kuiers – een minder formeel, op ‘n bank met ‘n koppie koffie in die hand, die ander in ‘n erediens saam met ander Christene – trou in my kop. My vriendin met haar identiteit in God gegrond – Johan Geyser wat nie sy besluite in ander se goedkeuring wil grond nie. Om nie vir ander te leef nie, maar om juis vir ander te leef. As dit enigsins sin maak.

Hopelik dwing al hierdie ligte stampies op die pad my ook al hoe meer in daardie rigting.


“Stranger than Fiction” en die opstanding van Jesus

Julie 13, 2009

Een van my gunsteling flieks is sonder twyfel “Stranger than Fiction”, met Will Ferrell in die hoofrol. (In hierdie post gaan ek heelwat van die storielyn weggee – as jy die fliek nog nie onder oë gehad het nie, dan stel ek voor dat jy dalk hierdie post laat verbygaan!)

Die fliek se hoofkarakter, Harold Crick, ontdek een oggend dat daar ’n verteller is wat sy hele lewensverhaal soos dit gebeur voorhou. Stelselmatig ontdek die karakter dat hy inderdaad nie mal is nie, maar dat hy eintlik in ’n storie leef. Die fliek het heelwat te sê vir ’n studie van die letterkunde, en dit is net eenvoudig goed aanmekaargesit. Kan egter nou nie aanhou om die fliek se lof te besing nie – dis verseker beter om dit te kyk as wat ek daarop kommentaar kan lewer! Tot sy skok besef die protagonis dat die skrywer wat sy lewensverhaal neerpen, Kay Eiffel, slegs tragedies skryf – daar was nog nie een verhaal waar die held die dood vrygespring het as haar verhale tot slot kom nie. Dit is onvermydelik – hy gaan sterf!

Die einde kom dan ook vinnig – hy spring voor ’n bus in om ’n kind uit die pad uit te stamp, en natuurlik tref die bus hom! Die skrywer verander egter die verhaal, teen alle verwagtinge van beide karakter en kyker. Een van die laaste tonele in die fliek speel dan in die hospitaal af, waar die karakter herstel na sy onderonsie met die bus. Gevra waarom sy die karakter laat leef het – wat van die boek volgens ’n professor in letterkunde minder geslaagde poging maak – antwoord sy min of meer as volg:

Because it’s a book about a man who doesn’t know he’s about to die. And then dies. But if a man does know he’s about to die and dies anyway. Dies- dies willingly, knowing that he could stop it, then- I mean, isn’t that the type of man who you want to keep alive?

Kom ons sit vir ’n oomblik die vraag of Jesus God is opsy – asook die vraag of Hy uit die dood uit opgestaan het of nie. Wat bly oor? Sou dit heeltemal afbreek doen aan die persoon wat ons as Jesus ken? Wat oorbly is Jesus se lewe op aarde. (In sekere kringe sou mens praat van die “Historiese Jesus”). Sou ’n geskiedkundige hieroor skryf – wat natuurlik al heelwat kere gebeur het – sou dit nogal moeilik wees om die feite vas te vat. Ongeag die menigdom vrae wat eenvoudig nie vaste antwoorde het nie, is daar ’n hele paar goed wat mens wel met sekerheid kan sê. Ons het ook (ten minste) vier betroubare bronne (en hier vertrou ek veral op die tradisie!) wat vir ons meer vertel, en waaruit ons baie kan wys word. Ook ander boeke wat ek gelees het, het my hiermee gehelp; om nader te kom aan wat Hy hier gedoen het. (Byvoorbeeld Fatherless in Galilee deur Prof van Aarde.)

Die volgende staan vir my vas: Jesus was radikaal; ’n kontra-kultuur leier – waar kultuur ook soms as politiese ideologie gelees kan word – ’n figuur wat ’n ongekende openheid openbaar het tot op die punt dat dit ’n moorddadige reaksie by die owerhede ontketen. Jesus het mense liefgehad – op meer as een plek in die evangelies word vertel hoe Hy hulle “innig” jammer gekry het (die Griekse woord wat telkens hier gebruik word tower prentjies op van jou binnegoed wat heeltemal in jou omkeer – soos klere in ’n wasmasjien); hoe Hy teen alle verwagtinge van die samelewing wette oortree het om sy liefde aan hierdie mense te wys; hoe Hy homself nie gesteur het aan dit wat “rein” is of “onrein” is nie. Daar is nog heelwat wat ’n mens kan sê oor sy lewe. Soveel so dat die skrywer van een van die bronne wat aan ons beskikbaar is meen dat daar nie ’n end aan al die geskrywery sal wees as mens dit moet neerpen nie. Dis definitief beter as mens dit self gaan lees; ek hoef nou nie al vier evangelies hier te herhaal nie.

Hoe meer ek van hierdie Man leer, hoe meer dink ek dat dit is hoe ek wil wees. Méér nog: hoe meer ek van hierdie Man leer, hoe meer dink ek dat Hy God moet wees. Dit wat Hy op aarde gedoen het, is seersekerlik goddelik. Sy selfopoffering tot op die punt dat Hy sy lewe gegee het – dít is ’n ideaal wat sonder twyfel verdien om voort te leef. Waarrondom ander mense hulself ook kan skaar. Selfs al beteken dit ook dat hulle hul lewe moet gee.

Natuurlik kan mens die ooreenkomste tussen Stranger than Fiction en die lewe van Jesus net so ver vat. Soos enige metafoor het dit beperkinge. Dit help dalk net om een faset van Jesus se lewe en sy opstanding ’n bietjie duideliker te maak – in elk geval, dit help vir my.

Nou ja, die kans is goed dat ek nie dáár gaan uitkom waar Hy was nie; dat ek tekort skiet daaraan om dit te doen wat Hy daagliks gedoen het. Dit voel ek elke dag, hoe ek nog nie dáár is nie; hoe ek nóg meer liefde aan mense kan bewys – dít wetende dat ek soms uit eie keuse die regte keuse vermy.


Van Aarde, The Shack en die risus paschalis

Junie 28, 2009

Ek het vanaand sopas teruggekom van die “Joint Conference” vir Teologie op Stellenbosch. Die Teologie Fakulteit van die Maties is hierdie jaar 150 jaar oud, dus het hulle hierdie konferensie daar gehou om al dit te vier. Dit was nogal ‘n aangename geleentheid – sal miskien later weer daaroor blog, miskien egter eerder op my Engelse blog.

Een van die lesings wat definitief uitgestaan het, is die van Prof Andries van Aarde oor die triniteitsbegrip in die gewilde boek van Young, The Shack. Die boonste kamer van die Teologie Fakulteit was gepak – dit terwyl daar net 20 uitdeelstukke was. Wat het hulle gedink? Van Aarde, The Shack – natuurlik gaan daar meer as 20 mense wees.

(Dit wat volg is my interpretasie van die lesing! Ek mag dalk verkeerd gehoor of verstaan het.) Van Aarde het ‘n baie positiewe beoordeling van die boek gegee. Ongelukkig was die tyd te kort om sy hele referaat te lewer, so ek vermoed daar is ook effense kritiek wat hy nie by kon uitkom nie. Die hoofargument van sy betoog was dat die Shack weer ‘n verhoudingselement in die triniteit inbring; hy het ook ander goed uitgelig, byvoorbeeld dat die boek ‘n postliberale lees van die Bybel verteenwoordig. Van Aarde meen dat die boek weer teruggryp na ‘n tyd voor Tertullianus, wat die begrip trinitas die eerste keer gebruik het. Dit laat die Drie-Eenheid dan ook oop om weer mense toe te laat. Die idee is dat daar ook geen verhouding tussen mense kan bestaan – d.w.s. liefde – as dit nie ook so was met God nie.

Al drie Persone van die Drie-Eenheid word speels uitgebeeld in die boek. Van Aarde gaan hiermee saam, en verwys dan ook na die risus paschalis. Dit is ‘n ou Ortodokse tradisie wat klaarblyklik in Bavaria ontstaan het, waarin die priester die gemeente lui in ‘n geweldige lagbui om die opstanding uit die dood te vier.  (Prof Yolanda Dreyer het die relevante gedeeltes in die boek uitstekend voorgelees, asook die verwysing na die risus paschalis.) Dit, volgens Van Aarde, is ‘n belangrike element wat ons in ons geloof moet terugkry.

Tydens die vrae was dit veral Prof Pieter de Villiers se kommentaar wat vir my interessant was. Prof De Villiers spesialiseer op spiritualiteit, en veral die mistiek. Volgens hom stem die Shack nie soseer ooreen met wat in die klassieke mistiek geglo sou word nie. Dit is eenvoudig net onmoontlik om die essensie van God vas te vat. Prof Van Aarde het egter daarop gewys dat veral die Heilige Gees uitgebeeld word as Iemand waarop Mack, die hoofkarakter in die verhaal, nie kan fokus nie.

Myns insiens: die boek se plot ontvou vir my ‘n bietjie stadig. Verder irriteer die manier hoe die onderskeie verhoudings uitgebeeld word in die boek my so ‘n bietjie, maar ek besef dit sê dalk meer van my as van die boek of die skrywer. Daar is verskeie ander probleme wat ook uitgewys kan word – byvoorbeeld, dat die boek maklik patripassianisme (die kettery dat die Vader saam met die Seun aan die kruis gesterf het, dus dat daar nie drie Persone is nie, maar drie verskillende maniere waarop God Homself manifesteer) kan uitbeeld. Of, eintlik moet ons dit erken – dat die boek dit eintlik so voorstel. (Die bekende teoloog Moltmann, soos ek verstaan, is egter nie te ver van hierdie siening af nie – The Crucified God is op my lysie, maar ek moet dit nog lees). Prof Van Aarde het ook op hierdie verstaan in die boek gewys – maar nou ja, hoe kan mens in elk geval oor God praat? Self Augustinus het gesê dat ons eintlik niks oor God kan sê nie; dit wat die kerkvaders gesê het, is bloot maar net omdat mens iets moet sê.

Verder dink ek die boek is verseker ‘n produk van sy tyd. Die groot klem op verhoudings en wegbeweeg van die strukturele elemente in godsdiens is nie besonders nuut nie. Sommige van dit is nodig – na my mening gaan ons egter weer op ‘n stadium ‘n tyd bereik waar die kerk in ‘n vaster struktuur staan na die huidige struktuur uitgedaag en gedekonstrueer is. Hoe dit gaan lyk, dit kan ek nie sê nie. Nogtans dink ek die boek kan mense in pyn help. Ek sal dit aanbeveel vir mense om te lees – maar dit nie as Die Waarheid verkoop nie.


Wat is jou “malpanoeta”? / Woorde wat teologie verklap.

Mei 30, 2009

Sluit klomp Christene vir ‘n rukkie in ‘n kerkgebou toe, en hulle ontwikkel blitsvinnig vir jou hulle eie dialek. Gelukkig. Dit is ‘n goeie barometer van hul teologie. Die Siriese naamwoord malpanoeta beteken “onderrig”. Onderrig, op sy beurt, kan in Engels vertaal word met teaching. Teaching, soos in: “Hene, ek like daardie ou se teaching!”

‘n Ander Ingelse uitdrukking kan dit die beste uitddruk: Dead giveaway

Natuurlik sny ek nou lyne en blokkies soos Tant Sannie fudge opdeel. Die lewe is nie ‘n skaakspel nie; nog minder ‘n skaakbord. Ek weet goed dat mens nie sommer mense in boksies sit nie. Partykeer help dit egter.

Voor dit lyk of ek my mes in het vir die charismate: Gerrie Gereformeerd (of Neels Nederduits dan, as jy wil) se woordeboek dra ook sy bagasie. Genade, woorde soos genade self. Ongelukkig. Dit maak dit moeilik om regtig iets te sê as al die woorde klaar ingekleur is.


Diensbare cliché’s – ook in die erediens

Mei 24, 2009

cliché: (uitspr. klie-sjee’) (-s) 1 Drukvorm vir illustrasies. 2 Afgesaagde, holruggeryde uitdrukking; verslete beeldspraak.

-HAT

 

Die lewendige en lewegewende geloof dring ons daartoe om ons ou, uitgedroogde cliché’s met nuwes te vervang. Wanneer die lewensbloed van daardie cliché’s opgedroog het, is dit tyd om weer nuwes uit te dink. 

Is dit moontlik om anders met die teologie om te gaan? Is dit moontlik om anders oor God te praat? Wat is die middelpunt, die anker? Miskien lê die antwoord in die uitroep van die hervormers:

ecclesia reformata semper reformanda (secundum verbi dei)

“die gereformeerde kerk moet altyd gereformeer word (volgens die Woord van God)”


Ou Franciskaanse seënbede

Mei 20, 2009

‘n Vriendin wat saam met my geswot het, is onlangs bevestig as predikant. Met haar intreepreek het sy die volgende seën gebruik, wat my diep getref het. Dis ‘n ou Franciskaanse seënbede – hierdie is die weergawe wat in die NG Kerk se handleiding by die erediens gedruk is:

Mag die Here jou seën met ongemak oor maklike antwoorde, halwe waarhede en oppervlakkige verhoudings sodat jy uit die diepte van jou hart kan leef;

Mag die Here jou seën met woede oor onreg, onderdrukking en die uitbuiting van mense sodat jy kan werk vir geregtigheid, vryheid en vrede;

Mag die Here jou seën met trane om te stort vir mense wat pyn, verwerping, honger en oorlog ervaar sodat jy ‘n hand kan uitreik en hulle pyn in blydskap kan verander.

En mag God jou seën met genoeg dwaasheid om te glo dat jy ‘n verskil kan maak in hierdie wêreld, sodat jy dinge sal kan doen wat ander mense dink nie gedoen kan word nie.


Indiwidualisme en die dogma wat maklik verstrik

Mei 3, 2009

In onse liewe land is daar ‘n tipe strik wat soos ‘n spinnerak veral die bourgeois – die (wit Afrikaner) middelklas – vasbind en tot onbeweeg bring. Mens noem dit dogma. Dit was nog altyd in die kerkgeskiedenis so – van die vroegste tye af. Deesdae is dit egter gekoppel met nog ‘n gevaarliker konsep – indiwidualisme. Ons as Christene het vergeet dat ons onsself tot ‘n groter ideaal verbind. Dit beteken dat dit toe nou nie oor ons gaan nie.

Die twee konsepte saam lei tot, byvoorbeeld:

1. Dis mos nie sonde om ryk te wees nie. (Maak nie saak hoeveel mense ek uitbyt in die proses nie.)

2. My gesin kom eerste. (Selfs bo dit wat dit van my verwag om ‘n volgeling van Christus te wees.)

3. ‘n Algemene stagnasie in kerke, aangesien ons almal besig is om by selgroepe te ‘groei’. (Maar ons doen niks in die regte wêreld daar buite nie.)

Dalk is ek vanoggend te sinies.


Dominee-kersies

April 29, 2009

Waarmee sal ons predikante vergelyk? 

Miskien met ‘n brandende fakkel, wat almal wat in hul teenwoordigheid kom, skoonbrand en hul sondes wegneem. Of, altans, dis wat mense wil hê predikante moet dink. Rondom elke predikant is daar ‘n stukkie heiligheid wat almal so rein maak as hul in die predikant se teenwoordigheid kom. Skoon bedees, so asof die dominee hul gewete is.

Daarom dat predikante so beskermd is. Sulke sagte dominee-handjies en dominee-hartjies het. Verskans teen die wêreld. Is daar regtig ‘n wêreld daar buite hierdie skuiling?

Dit sny twee kante toe. Vir predikante beteken dit dat hulle bietjie moet uitgaan. Dalk ‘n dop drink. Dalk ‘n ander werk kry. Dalk ‘n bietjie Fokofpolisiekar luister. Toe NG Weltevrede so ‘n ruk terug ‘n predikantepos adverteer, was een van hul vereistes dat die kandidaat twee mense wat nie in Christus glo nie, as referente moet bysit. Dit het ‘n hele paar ouens vir die pos gediskwalifiseer. 

Dit beteken egter ook dat amal wat nie predikante is nie moet stop om so op te tree teenoor dominees. HOU OP DAARMEE! Hê bietjie genoeg integriteit om voor die predikant ook jou sê te sê en jou ding te doen. Miskien moet die protestantse tradisie weer bieg as ‘n sakrament erken, sodat die predikante ten minste kan hoor wat vang die mense in die gemeente aan. Dit is nog altyd die mense wat regtig eerlik is wat vir mens die meeste leer.

Na alles is dominees eintlik maar flou kersies wat vergeefs in die wind flikker. Sodra die skadu’s die kudde versluier, neem die regte wêreld oor.