Oktober 27, 2009
Ou skool worship. Uit volle bors.
Soveel so dat ek nie weet wat om daarmee te doen nie.
Soveel so dat Jesus, groot bo almal klink soos ‘n skool wat alles gee om die geesbeker by interhoër in te palm. Helaas, nee, ek dink nie ek het al ooit by ‘n sportbyeenkoms ‘n lied gehoor wat met soveel drif gesing word nie.
Dit skreeu – ja, dit grens letterlik aan skreeu – teen alles wat ek al in my korte lewe oor lofprysing (en om lofprysing te lei) geleer het. In my kop moet daar ‘n gewyde stilte wees; daardie meaningful silence êrens in die middel van ‘n liedjie in die middel van die hele affêre. Lofprysing moet mos min of meer hierdie patroon hê: ‘n raserige begin, ‘n diep middel, met ‘n fokuspunt êrens, en dan (bege)lei die musiekspan weer die mense uit om hulle gereed te kry vir die boodskap wat volg.
Lofprysing by die Jakaranda kinderhuis lyk soos volg: ‘n raserige begin, ‘n raserige middel, en dan ‘n raserige einde. Bygesê, hulle laat hulle ook nie eintlik juis lei nie – deels omdat hulle dalk nie die musiekspan so goed kan hoor nie; die gevolg hiervan is dat ons eerder hulle tempo vat as andersom. Aanvanklik het ek gedink hierdie mense dryf die spot met ons; maar na dit keer op keer gebeur, dink ek nie meer so nie. Inteendeel, ek dink hulle hou van sing. Uit volle bors. Die hele tyd.
Dit dwing natuurlik die vraag na vore: is daar iets verkeerd hiermee? Verseker nie!. Die hele gedoente wys net hoeveel die prefab idee van lofprysing in my kop is: daar moet eenvoudig stilte tussen-in wees. Die prefab idee van lofprysing hoor ons gereeld in allerlei vorme: by die kerk, op CD’s, by lofprysingsshows. Dit veronderstel ‘n sekere wyse van omgaan met musiek en ‘n sekere kwaliteit van musiek. Daarmee is nou nie noodwendig iets verkeerd nie – veral kwaliteit, maar sodra prefab lofprsying ons enigste manier word waarop ons sing, begin ons ons “lofprysing” altyd daaraan meet – dit word ‘n maatstaf (wat deur ander mense opgestel is!) om te bepaal of ons regtig nou geworship het.
Daarom dink ek nie ek moet die mense by Jakaranda kinderhuis “opvoed” in lofprysing nie. Hulle ken dit klaar – dalk meer as ek. Ja, inteendeel – ek sê dankie vir dit wat ek by hulle kon leer, en ek sien uit na die volgende keer wat ek saam met hierdie mense sang kan geniet.
1 Kommentaar |
christenskap, erediens, musiek | Tagged: erediens, musiek |
Permalink
Bygedra deur Ronald
Oktober 12, 2009
Die Oostelike Sinode van die NG Kerk het ‘n liedjieskrywerskompetisie uitgevaardig. Dit het my baie laat dink.
Hoekom juis die kerk se musiek op dieselfde manier as die wêreld se musiek inrig? Op die ritme van dieselfde sisteem? Is dit sinvol om ‘n Idols te hou sodat ons ‘n beter liedereskat vir die kerk kan opbou?
My dink is in twee geskeur.
Aan die een kant is dit wonderlik dat daar soveel nuwe liedere in omloop kom. (Vir hierdie sinode is daar 206 liedere ingeskryf! 206 – maar nie almal gaan noodwendig gebruik word nie. Ek hoop daar is meer liedere wat mens kan gebruik as net die wat gewen het.) Dit is belangrik, want musikale mense mag dalk van verveling dood neerslaan as daar nie nuwe goed geskryf word nie. (Meeste kerke het nie versekering teen hierdie tipe goed nie.) Belangriker as dit, is dat daar juis ‘n tekort aan liedere is vir die handjievol mense wat hierdie styl liedere in hul eredienste wil gebruik. Die hoendertand-getal goeie liedere waaruit hulle op die oomblik keuses kan maak, bied min of meer die verskeidenheid wat my klerekas my elke oggend bied.
Dan moet ek ook skerp kritiek teenoor die verIdolisering van die kerk se musiek uitspreek. Wel, om die waarheid te sê, ek het nog altyd gedink Idols is in elk geval ‘n bietjie van die pad af. Dis so … sinteties. Soos plastiek-ketties. Ja, baie soos plastiekketties, die musiek word ook in ‘n gietvorm ingedruk.
Dalk sou dit ‘n goeie idee wees as ons ons aandag ‘n bietjie bestee om mense te help om eerder in gemeentes liedere te skryf – vir gemeentes. Eerder as om die ore na buite te rig, om na een of ander Superster-strooipop se pype te dans. Dit sou vir my sin maak. As ‘n been-af verliefde sot ‘n liefdeslied skryf, mag dit dalk vir almal rondom hom pragtig wees, maar dit het partykeer net regtig betekenis vir sy bessie-wang stroopgesiggie. (Dan vra mense nog hoekom ek nie ‘n meisie het nie!) Dit mog dalk die geval wees met ons kerkmusiek ook. Ons smokkel soveel liedere van buite af in – nee, die oorgrote meerderheid van ons liedere – dat dit soms maar net mooi op die oor val. En dood lê verkluim daar buite. Dalk kan ons gemeentes begin help om vir hulle self liedere te skryf?
Natuurlik is dit nie altyd sleg om liedere van buite af te kry nie. Party mense het nou maar eenmaal net die gawe om dit goed te kan doen. Dit moet ons deel met ander. Veral die wat in Suid-Afrika self begin liedere skryf. Dit spreek tog almal van ons aan – ten minste verstaan ons die taal daarvan. Daarom is ‘n liedjieskryfkompetisie dalk nie die slegste ding wat in die kerk kan gebeur nie.
Ek moet darem ook in hierdie post iets sê van hoe die Oostelike Sinode se liedjieskryfkompetisie uitgedraai het. Ek is opgewonde oor die nuwe liedere wat ons bykry. Ek het nie so baie van alles gehou nie – maar smaak verskil seker. Hier en daar het ek so effens begin skrik vir die teologie van ‘n lied – maar aan die ander kant, ek skrik elke nou en dan effens vir die teologie van ander mense se uitsprake (en gereeld as ek in die spieël kyk).
1 Kommentaar |
Afrikaans, NG Kerk, erediens, musiek | Tagged: geloof, musiek |
Permalink
Bygedra deur Ronald
Julie 26, 2009
Terwyl ek nog die predikantpaadjie-teologiekursus op fakulteit geloop het, het ek altyd gedink dit sal lekker wees om met dié of met dáái groep mense te werk. Dis seker maar hoe dit met elke tokkelok gaan. Die eerste ruk (en dit kom van hoërskool af) het ek altyd gedink ek sal ‘n “jeugdominee” wees – dis nou iemand wat se hooffokus op tieners is. Dit het redelik gou verander op universiteit; ek het begin dink studente is meer my ding – of miskien ou mense.
Redelik onlangs het ek weer skuiwe gemaak in die volgorde van hierdie voorkeure. Die lysie lyk nou so:
- Nog steeds studente; insluitende mense net na skool wat nie gaan studeer het nie.
- Mense tussen 40 en 60.
- Voorskool en laerskoolkinders.
- Oumense (ouer as 60).
- Mense tussen 25 en 40.
- Tieners (hoërskoolkinders).
Alhoewel die studente ding nou al ‘n rukkie lank in plek is, was daar ‘n radikale omswaai tussen hoërskoolkinders en laerskoolkinders. Hulle het net mooi plekke omgeruil. Snotneusies, inkleurkryt en klein skoene maak my nog steeds nie kinderlik opgewonde nie (en die kanse is goed dat dit nooit sal gebeur nie); erger nog, wanneer mense baba-taal begin praat en verkleinvorme vir alles begin gebruikies gooi ek steeds in my mondjie op, maar ek verander nie meer in ‘n soutpilaar as die klein goed in my teenwoordigheid kom nie. Inteendeel, dit voel vir my asof ek al hoe meer agter die kap van die byl begin kom en verstaan hoe werk die goed se koppe! Natuurlik is dit wat jy sien dit wat jy kry. Belangriker nog, hulle het min of meer almal dieselfde behoeftes – en dit kan ‘n mens deur die bank lees en aanspreek. Dieselfde kan mens nie sê van tieners nie – daardie klomp is oppervlakkig op ‘n ander manier.
2 Kommentaar |
NG Kerk, erediens |
Permalink
Bygedra deur Ronald
Julie 23, 2009
Sal ek dit nou maar erken? Ek is nog steeds op soek na my identiteit. Neig 27 se kant toe. Dis telkens as iemand sommer goed aanneem oor my dat ek dit veral ervaar – byvoorbeeld, mense wat aanneem dat ek in die akademie gaan opeindig, êrens by ‘n universiteit, besig om my stowwerige lesings aan te bied vir die stowwerige banke waarop niemand regtig sit nie.
Die afgelope week is ek op veral twee geleenthede uitgedaag om weer ‘n bietjie van meet af aan oor my eie identiteit te dink. Veral hoe ek dit meet. Die eerste geleentheid – laas Vrydagaand. ‘n Koffie-gesprek saam met ‘n vriendin. Sy dwing my, onwillekeurig (en vir haar dalk - onwetend), om te erken dat dit vir my (te veel) saak maak wat ander mense van my dink. Dis die begin van die nuwe kwartaal, en ek worry oor wat die nuwe klomp studente gaan sien – wat hulle gaan dink – in watter boksie hulle my gaan sit.
Die tweede geleentheid gebeur twee dae later – laas Sondag. Ek woon die oggenddiens by Mosaiëk gemeente in Johannesburg by. (Ons kan ander dag miskien praat oor Mosaiëk self.) Die prediker (Johan Geyser) sê nie regtig iets nuuts nie – nie na Vrydagaand nie – maar bring dit dalk net ‘n bietjie meer ter illustrasie. Op die verhoog is daar ‘n pawiljoen. (Twee konsepte wat my brein al lelik deurmekaar gekrap het.) Telkens stap daar nuwe mense op die verhoog op, kry dan ‘n kaartjie by Johan Geyser, om toeskouers van sy lewe te word, en dan gaan sit hulle natuurlik op die pawiljoen. Na ‘n ruk begin hy daarop sinspeel dat hy nou vir hulle leef. Alles doen hy om hulle tevrede te stel. In pleks daarvan om sy lewe voor God uit te leef.
Die twee kuiers – een minder formeel, op ‘n bank met ‘n koppie koffie in die hand, die ander in ‘n erediens saam met ander Christene – trou in my kop. My vriendin met haar identiteit in God gegrond – Johan Geyser wat nie sy besluite in ander se goedkeuring wil grond nie. Om nie vir ander te leef nie, maar om juis vir ander te leef. As dit enigsins sin maak.
Hopelik dwing al hierdie ligte stampies op die pad my ook al hoe meer in daardie rigting.
3 Kommentaar |
christenskap, erediens |
Permalink
Bygedra deur Ronald
Junie 3, 2009
So, dis amper weer tyd dat die uiters suksesvolle Retief Burger en kie ‘n derde CD / DVD opneem.
Hierdie keer word daar egter gedoen waarvan ‘n mens net kan droom – of wel, dalk het dit die vorige keer ook gebeur, maar ek het verseker nie daarvan geweet nie. Hierdie keer word die musiek voor die tyd vrygestel – in ‘n onverwerkde vorm, maar nog steeds! Nou al kan mens dit van die Luidkeels webblad aflaai – sodat mens saam kan sing die dag van die Groot Opname – maar meer as dit, nou kan mens dit solank in kerke begin sing! Dankie tog vir die digitale wêreld!
Op die oomblik is ek besig om daarna te luister. Dit klink goed, baie gefokus op lof (wat verwag mens?). Dit klink baie Retiewerig. Wat ‘n goeie ding is. Sien uit daarna om die verwerkde liedjies te hoor – en ook by die opname (R40, by NG Moreleta Park, Saterdag, 25 Julie 2009).
Ek gaan ook dadelik begin gebruikmaak van hierdie liedjies – so vars soos pasgebakde plaasbrood – as ons by die Jakaranda kinderhuis (in Pretoria) begin musiekmaak. Iemand lus om ons daarmee te help? Dit sal lekker wees as mens ‘n span het wat kan afwissel.
Wat kan mens nog sê van Luidkeels 3? Om by die laaste metafoor te hou – hierdie opname kan nie ‘n misbaksel wees as mense dit al voor die gebeurtenis begin gebruik nie!
3 Kommentaar |
Afrikaans, erediens, musiek | Tagged: Afrikaans, Malpanoeta, MP3, musiek, Retief Burger |
Permalink
Bygedra deur Ronald
Mei 24, 2009
cliché: (uitspr. klie-sjee’) (-s) 1 Drukvorm vir illustrasies. 2 Afgesaagde, holruggeryde uitdrukking; verslete beeldspraak.
-HAT
Die lewendige en lewegewende geloof dring ons daartoe om ons ou, uitgedroogde cliché’s met nuwes te vervang. Wanneer die lewensbloed van daardie cliché’s opgedroog het, is dit tyd om weer nuwes uit te dink.
Is dit moontlik om anders met die teologie om te gaan? Is dit moontlik om anders oor God te praat? Wat is die middelpunt, die anker? Miskien lê die antwoord in die uitroep van die hervormers:
ecclesia reformata semper reformanda (secundum verbi dei)
“die gereformeerde kerk moet altyd gereformeer word (volgens die Woord van God)”
Leave a Comment » |
Bybel, christenskap, erediens | Tagged: Bybel |
Permalink
Bygedra deur Ronald
Mei 20, 2009
‘n Vriendin wat saam met my geswot het, is onlangs bevestig as predikant. Met haar intreepreek het sy die volgende seën gebruik, wat my diep getref het. Dis ‘n ou Franciskaanse seënbede – hierdie is die weergawe wat in die NG Kerk se handleiding by die erediens gedruk is:
Mag die Here jou seën met ongemak oor maklike antwoorde, halwe waarhede en oppervlakkige verhoudings sodat jy uit die diepte van jou hart kan leef;
Mag die Here jou seën met woede oor onreg, onderdrukking en die uitbuiting van mense sodat jy kan werk vir geregtigheid, vryheid en vrede;
Mag die Here jou seën met trane om te stort vir mense wat pyn, verwerping, honger en oorlog ervaar sodat jy ‘n hand kan uitreik en hulle pyn in blydskap kan verander.
En mag God jou seën met genoeg dwaasheid om te glo dat jy ‘n verskil kan maak in hierdie wêreld, sodat jy dinge sal kan doen wat ander mense dink nie gedoen kan word nie.
Leave a Comment » |
armoede, christenskap, erediens | Tagged: erediens, teodisee |
Permalink
Bygedra deur Ronald
April 28, 2009
Hierdie Sondag het ek uiteindelik die geleentheid gehad om die 11:00 diens (die Engelse diens) by NG Arcadia by te woon. Ek was eers nie bewus dat daar twee dienste (‘n Afrikaanse diens – meer tradisioneel NG, en ‘n Engelse diens) is nie. Dit was dus ‘n effense teleurstelling om uit te vind dat die ou NG lidmate nie soseer saam met die nuwer groep mense kerk het nie – dit is eintlik maar twee gemeentes in een kerkgebou: ‘n jammerte, voorwaar.
Die diens was nogtans insiggewend. Skokkend, om vir myself dit uit te wys: die oomblik toe ek instap, dink ek so stilweg: “hierdie is nie ‘n multikulturele diens nie, waar is die witmense?” Dis wat ek gedink het! Dit was eers na die diens dat ek ten volle begryp het: ‘n groot deel van die mense teenwoordig spreek Frans en Engels; andere is natuurlik van die groot verskeidenheid ander kulture in ons land en van oraloor Afrika. Die diens het heeltemal in Engels geskied, terwyl ons een Afrikaanse lied gesing het, as deel van ‘n medley. (Mens kon sommer hoor heelwat van die mense is nie Afrikaans magtig nie.) Na die preek en offerande het hulle ook ‘n lied in ‘n Afrika-taal gesing, ek weet nie wat dit was nie.
Dit was mos ‘n langnaweek, dus was daar nie baie mense nie, en die kerkgebou het pas konstruksiewerk ondergaan wat veroorsaak het dat hul klankstelsel nie gewerk het nie, en hul ‘n tydelike een moes opstel wat verskriklik geraas het.
Ek het behoorlik uit gevoel – maar nog steeds gemaklik met die teologie en wat in die erediens gebeur. Vir die oomblik dink ek ek het ‘n kerk gekry waar ek ongemaklik genoeg is om ‘n bietjie meer betrokke by te raak. Hier gaan ek dinge kan leer – oor multikulturele bediening, en dalk nog ‘n sakvol ander goed ook.
(Plus, die feit dat die diens om 11:00 is beteken ek kan nog heelhartig ander kerke besoek om te sien wat ek by hulle kan ’steel’.)
Leave a Comment » |
NG Kerk, erediens |
Permalink
Bygedra deur Ronald