Hierdie post moet ek begin met die belydenis dat ek my droomjob het. Loshande. Daar kort nog hier en daar iets, maar dit wat ek doen is verseker een van die goed wat ek al van kleins af wou doen – al was dit dan ‘n dormante droom. Baie min mense kan dit sê. (‘n Vriend van my werk by ‘n speelgoedfabriek - bou robotte vir ‘n lewe. Ek gee toe dat hy dit ook mag sê. So nou en dan help ek hom “navorsing” doen.)
Dis dalk ook ‘n goeie idee om hier toevallig net op te merk dat my idee van ‘n droomjob deels toe te skryf is aan die invloed wat Indiana Jones op my lewe gehad het. (Dis egter ‘n post vir ‘n ander dag!)
Lank terug, het my vriend in ‘n koffiegesprek vandag die situasie mooi uiteengesit, het mense universiteite toe gekom om te leer. Kennis was die wagwoord. Goed, dis natuurlik uit ‘n post-Verligting perspektief uit. Watookal. Die bestaansreg van universiteite was eenvoudig om plekke te skep waar mense kennis kan opdoen. Vandag, egter, kan mens ‘n ander prentjie verf. Geld is die dryfkrag. Mense kom universiteit toe om hulle te bemagtig sodat hulle geld in die hande kan kry.
Dit, liewe leser, is deels die tragedie van my lewe. ‘n Paar uur per week sing-skree ek my tragiese lofsang tot kennis, omdat ek nog heeltyd met ‘n ander prentjie sit oor mense se motivering om op universiteit te wees. Ek vermoed, eintlik, dat selfs toekomstige predikante – tot ‘n groot mate – hierdeur gemotiveer word. Om regtig eerlik te wees, ek het ook ‘n goeie tikkie daarvan weg – wel, ten minste was dit ‘n gedeeltelike motivering, aanvanklik. Geld is natuurlik ‘n noodsaaklike euwel – selfs om verder te swot.
Die ironie is dus nou die volgende: selfs al het ek my droomjob, lyk dit vir my (soms) of daar ook nou nie regtig mense is wat daarin belangstel om dit wat ek met hulle wil deel – op ‘n pad wat ek self nog ver moet stap – regtig te weet nie. Hulle wil net hierdie swot-ding agter die blad kry. Toegegee, daar sit mense voor my wat wel wil leer – heel moontlik omdat hulle ideale soortgelyk aan myne koester. Selfs dit, besef ek, is eintlik maar … leeg.
Dames en Here, ek het – het ek ‘n klinkende simbaal geword?
Ek glo darem nie so nie, hoor ek so nou en dan deur die eggo’s in my kop. Iewers beteken ek iets vir iemand. Inderdaad, dis deesdae die enigste ligpuntjies in my lewe – as ek een of ander student met een of ander iets kan help. Weg van my klein heiligdom waar ek met my Griekse Bybel speel. Ek weet soms nie of my tweedejaars Griekse klas besef hoeveel ek hulle nodig het nie. Dit gee … betekenis aan my lewe. Die groot vraag wat egter deesdae in my kop ronddraai: hoe is ek relevant in hierdie situasie? Vir hierdie mense? Hoe is Grieks relevant vir hierdie mense?
Bygedra deur Ronald