“Stranger than Fiction” en die opstanding van Jesus

Julie 13, 2009

Een van my gunsteling flieks is sonder twyfel “Stranger than Fiction”, met Will Ferrell in die hoofrol. (In hierdie post gaan ek heelwat van die storielyn weggee – as jy die fliek nog nie onder oë gehad het nie, dan stel ek voor dat jy dalk hierdie post laat verbygaan!)

Die fliek se hoofkarakter, Harold Crick, ontdek een oggend dat daar ’n verteller is wat sy hele lewensverhaal soos dit gebeur voorhou. Stelselmatig ontdek die karakter dat hy inderdaad nie mal is nie, maar dat hy eintlik in ’n storie leef. Die fliek het heelwat te sê vir ’n studie van die letterkunde, en dit is net eenvoudig goed aanmekaargesit. Kan egter nou nie aanhou om die fliek se lof te besing nie – dis verseker beter om dit te kyk as wat ek daarop kommentaar kan lewer! Tot sy skok besef die protagonis dat die skrywer wat sy lewensverhaal neerpen, Kay Eiffel, slegs tragedies skryf – daar was nog nie een verhaal waar die held die dood vrygespring het as haar verhale tot slot kom nie. Dit is onvermydelik – hy gaan sterf!

Die einde kom dan ook vinnig – hy spring voor ’n bus in om ’n kind uit die pad uit te stamp, en natuurlik tref die bus hom! Die skrywer verander egter die verhaal, teen alle verwagtinge van beide karakter en kyker. Een van die laaste tonele in die fliek speel dan in die hospitaal af, waar die karakter herstel na sy onderonsie met die bus. Gevra waarom sy die karakter laat leef het – wat van die boek volgens ’n professor in letterkunde minder geslaagde poging maak – antwoord sy min of meer as volg:

Because it’s a book about a man who doesn’t know he’s about to die. And then dies. But if a man does know he’s about to die and dies anyway. Dies- dies willingly, knowing that he could stop it, then- I mean, isn’t that the type of man who you want to keep alive?

Kom ons sit vir ’n oomblik die vraag of Jesus God is opsy – asook die vraag of Hy uit die dood uit opgestaan het of nie. Wat bly oor? Sou dit heeltemal afbreek doen aan die persoon wat ons as Jesus ken? Wat oorbly is Jesus se lewe op aarde. (In sekere kringe sou mens praat van die “Historiese Jesus”). Sou ’n geskiedkundige hieroor skryf – wat natuurlik al heelwat kere gebeur het – sou dit nogal moeilik wees om die feite vas te vat. Ongeag die menigdom vrae wat eenvoudig nie vaste antwoorde het nie, is daar ’n hele paar goed wat mens wel met sekerheid kan sê. Ons het ook (ten minste) vier betroubare bronne (en hier vertrou ek veral op die tradisie!) wat vir ons meer vertel, en waaruit ons baie kan wys word. Ook ander boeke wat ek gelees het, het my hiermee gehelp; om nader te kom aan wat Hy hier gedoen het. (Byvoorbeeld Fatherless in Galilee deur Prof van Aarde.)

Die volgende staan vir my vas: Jesus was radikaal; ’n kontra-kultuur leier – waar kultuur ook soms as politiese ideologie gelees kan word – ’n figuur wat ’n ongekende openheid openbaar het tot op die punt dat dit ’n moorddadige reaksie by die owerhede ontketen. Jesus het mense liefgehad – op meer as een plek in die evangelies word vertel hoe Hy hulle “innig” jammer gekry het (die Griekse woord wat telkens hier gebruik word tower prentjies op van jou binnegoed wat heeltemal in jou omkeer – soos klere in ’n wasmasjien); hoe Hy teen alle verwagtinge van die samelewing wette oortree het om sy liefde aan hierdie mense te wys; hoe Hy homself nie gesteur het aan dit wat “rein” is of “onrein” is nie. Daar is nog heelwat wat ’n mens kan sê oor sy lewe. Soveel so dat die skrywer van een van die bronne wat aan ons beskikbaar is meen dat daar nie ’n end aan al die geskrywery sal wees as mens dit moet neerpen nie. Dis definitief beter as mens dit self gaan lees; ek hoef nou nie al vier evangelies hier te herhaal nie.

Hoe meer ek van hierdie Man leer, hoe meer dink ek dat dit is hoe ek wil wees. Méér nog: hoe meer ek van hierdie Man leer, hoe meer dink ek dat Hy God moet wees. Dit wat Hy op aarde gedoen het, is seersekerlik goddelik. Sy selfopoffering tot op die punt dat Hy sy lewe gegee het – dít is ’n ideaal wat sonder twyfel verdien om voort te leef. Waarrondom ander mense hulself ook kan skaar. Selfs al beteken dit ook dat hulle hul lewe moet gee.

Natuurlik kan mens die ooreenkomste tussen Stranger than Fiction en die lewe van Jesus net so ver vat. Soos enige metafoor het dit beperkinge. Dit help dalk net om een faset van Jesus se lewe en sy opstanding ’n bietjie duideliker te maak – in elk geval, dit help vir my.

Nou ja, die kans is goed dat ek nie dáár gaan uitkom waar Hy was nie; dat ek tekort skiet daaraan om dit te doen wat Hy daagliks gedoen het. Dit voel ek elke dag, hoe ek nog nie dáár is nie; hoe ek nóg meer liefde aan mense kan bewys – dít wetende dat ek soms uit eie keuse die regte keuse vermy.


Behoort, beleef, bely: Saampraat met Nelus Niemandt

Junie 29, 2009

Ek skryf hierdie post na aanleiding van Prof Nelus Niemandt se artikel in die Beeld.

Prof Niemandt betoog kortliks die volgende: in plaas van ‘n kerk waarin hul geloof bely, hul geloof dan daarna kan beleef en dan uiteindelik tot die gemeenskap behoort (hierdie is die tradisionele manier van kerkwees in veral die NG Kerk),  moet die volgorde omgeswaai word: na ‘n behoort, beleef, bely situasie.

Ek kan nie help om in breë trekke hiermee saam te stem nie. Die eienskappe wat my generasie (X) tipeer, voel ek mos aan my eie bas: ons is nie meer so lojaal aan instansies nie, eerder die ideaal wat agter die instansies lê. (Juis nou die dag weer hieroor gepraat met die Dinsdaggroepie – julle weet wie julle is.) Daarom ook dat ons nie noodwendig onsself aan ‘n kerk vasbind net omdat dit van ons verwag word nie – ons wil sien hoekom ons aan daardie kerk moet behoort. Terwyl ons terselfdertyd ook daarna hunker om te behoort …

Soos sulke dinge maar gaan (hierdie is immers ‘n gesprek) moet ek egter ‘n paar punte uitlig wat ek wil byvoeg of effens wil verander:

  1. In die tradisionele model was daar nou nie juis veel belewing nie. Uitlewing miskien. In die nuwe model voel ek ook dat beleef enbehoort oorvleuel – tot so ‘n mate dat dit op presies dieselfde tyd kan gebeur.
  2. Prof Niemandt raak die punt aan, maar brei nie soveel daarop uit nie: Jesus het eerstens mense verwelkom, en daarna het die geloofsreis posgevat. Waar ander groepe eksklusief was – soos die Qumran gemeenskap – en hoë eise gestel het wat verband gehou het met heiligheid – was die beweging wat rondom Jesus ontstaan het radikaal inklusief. Ten minste, dis die slotsom waartoe ek kom met my gedeeltelike verstaan en lees van die Bybel (en ander tekste). (Nota: en baie, baie meer leeswerk moet ek nog doen! :) )
  3. Die gesprek moet waarskynlik oor meer gaan as net die omkeer van hierdie volgorde. Die kerk gaan waarskynlik ook nie dieselfde lyk as wat dit nou lyk nie. Die fokus kan, myns insiens, nie meer soseer op die instansie val nie. ‘n Organiese verstaan van die kerk – dit kan dalk werk. Nietemin, dis nie nodig om te veel hieroor uit te brei aangesien die voorbrand vir so ‘n gesprek in die SA kerkgemeenskap alreeds besig is om gedoen te word, onder andere deur Prof Niemandt in Nuwe Drome vir Nuwe Werklikhede. (Dis beskikbaar by Loot.co.za vir slegs R82, of by Kalahari.net vir slegs R79. Bargain! Koop dit sommer vir jou hele kerkraad as ‘n middel-van-die-jaar kersgeskenk.)

Daar is een aanhaling in Prof Niemandt se artikel wat my sal bybly, en wat ek heelhartig sal onderskryf; daarmee sluit ek ook dan hierdie deel van die gesprek af:

Mense stel belang om die liefde van Jesus van Nasaret in aksie te sien.

Mag dit in ons kerkwees / liggaam-van-Christus-wees elke dag al hoe meer sigbaar word.