Buite blink en binne stink?

November 13, 2009

Onlangs in ‘n erediens is daar in die agtergrond – terwyl die preek aangegaan het – teen die skerm kort boodskappe geflits van hoe “mense” die kerk sien. Dit wat die kerk verkeerd doen is op ‘n rooi skerm geprojekteer, dit wat die kerk reg doen op ‘n blou skerm. (Ek vermoed dis die erediensgroep wat die lyste saamgestel het – maar dit kon dalk ook meer mense as die erediensgroep se opinies gewees het.)

Dit wat my die meeste getref het, is dat die rooi boodskappe oorwegend dinge is wat binne die kerk gebeur, terwyl die blou boodskappe goed is wat die kerk as ‘n institusie doen en wat dus eintlik buite die dag-tot-dag bestaan van die “gewone” lidmate van die kerk plaasvind.

Byvoorbeeld:

Rooi: die kerk is skynheilig – dus, die mense wat kerk toe gaan is skynheilig.

Blou: die kerk rig kinderhuise op – dus, ons gee almal geld en betaal dan iemand om namens ons ‘n kinderhuis op te rig.

(Nou knyp ek maar my oë toe en hou duim vas, want ek is kleurblind, en hierbo is vir al wat ek weet dalk groen en pers.)

Dis ‘n groot verskil. Dis amper asof daar ‘n middellyn is wat die twee kante netjies kan skei. Aan die een kant staan die lidmate van die kerk en gooi al hul verantwoordelikheid soos ‘n sak silwermunte op die bietjie mense wat aan die ander kant van die lyn staan.

Verstaan mooi, ek sê nie ons moet ophou om die institusionele projekte van die kerk aan te pak nie. Maar solank daar hierdie onderskeid is tussen ons (die “gewone lidmate”)-hulle (die mense wat betaal word om goed te doen), selfs al is hierdie onderskeid net in hoe ons dink daaroor, is ons eintlik nie besig om regtig die evangelie te leef nie. Dan is die kerk maar eintlik, selfs al doen dit baie goeie goed daarbuite, buite blink en binne stink.

Hier sluit my selfpreek af. Ek gaan bietjie probeer kerk wees aan altwee kante van die lyn.


(Geestelike) Supersterre!

Oktober 12, 2009

Die Oostelike Sinode van die NG Kerk het ‘n liedjieskrywerskompetisie uitgevaardig. Dit het my baie laat dink.

Hoekom juis die kerk se musiek op dieselfde manier as die wêreld se musiek inrig? Op die ritme van dieselfde sisteem? Is dit sinvol om ‘n Idols te hou sodat ons ‘n beter liedereskat vir die kerk kan opbou?

My dink is in twee geskeur.

Aan die een kant is dit wonderlik dat daar soveel nuwe liedere in omloop kom. (Vir hierdie sinode is daar 206 liedere ingeskryf! 206 – maar nie almal gaan noodwendig gebruik word nie. Ek hoop daar is meer liedere wat mens kan gebruik as net die wat gewen het.) Dit is belangrik, want musikale mense mag dalk van verveling dood neerslaan as daar nie nuwe goed geskryf word nie. (Meeste kerke het nie versekering teen hierdie tipe goed nie.) Belangriker as dit, is dat daar juis ‘n tekort aan liedere is vir die handjievol mense wat hierdie styl liedere in hul eredienste wil gebruik. Die hoendertand-getal goeie liedere waaruit hulle op die oomblik keuses kan maak, bied min of meer die verskeidenheid wat my klerekas my elke oggend bied.

Dan moet ek ook skerp kritiek teenoor die verIdolisering van die kerk se musiek uitspreek. Wel, om die waarheid te sê, ek het nog altyd gedink Idols is in elk geval ‘n bietjie van die pad af. Dis so … sinteties. Soos plastiek-ketties. Ja, baie soos plastiekketties, die musiek word ook in ‘n gietvorm ingedruk.

Dalk sou dit ‘n goeie idee wees as ons ons aandag ‘n bietjie bestee om mense te help om eerder in gemeentes liedere te skryf – vir gemeentes. Eerder as om die ore na buite te rig, om na een of ander Superster-strooipop se pype te dans. Dit sou vir my sin maak. As ‘n been-af verliefde sot ‘n liefdeslied skryf, mag dit dalk vir almal rondom hom pragtig wees, maar dit het partykeer net regtig betekenis vir sy bessie-wang stroopgesiggie. (Dan vra mense nog hoekom ek nie ‘n meisie het nie!) Dit mog dalk die geval wees met ons kerkmusiek ook. Ons smokkel soveel liedere van buite af in – nee, die oorgrote meerderheid van ons liedere – dat dit soms maar net mooi op die oor val. En dood lê verkluim daar buite. Dalk kan ons gemeentes begin help om vir hulle self liedere te skryf?

Natuurlik is dit nie altyd sleg om liedere van buite af te kry nie. Party mense het nou maar eenmaal net die gawe om dit goed te kan doen. Dit moet ons deel met ander. Veral die wat in Suid-Afrika self begin liedere skryf. Dit spreek tog almal van ons aan – ten minste verstaan ons die taal daarvan. Daarom is ‘n liedjieskryfkompetisie dalk nie die slegste ding wat in die kerk kan gebeur nie.

Ek moet darem ook in hierdie post iets sê van hoe die Oostelike Sinode se liedjieskryfkompetisie uitgedraai het. Ek is opgewonde oor die nuwe liedere wat ons bykry. Ek het nie so baie van alles gehou nie – maar smaak verskil seker. Hier en daar het ek so effens begin skrik vir die teologie van ‘n lied – maar aan die ander kant, ek skrik elke nou en dan effens vir die teologie van ander mense se uitsprake (en gereeld as ek in die spieël kyk).


Tegnologiese eye-candy of sommer net bruikbaar?

Oktober 11, 2009

Die oomblik as mense PowerPoint ontdek, gaan hulle heeltemal oorboord daarmee. Ondervinding het ons almal pynlik daarvan geleer. Met elke letter wat luid intik, of hoppende mannetjie wat invlieg en met laser-gedrywe klank ons aandag op DIE BELANGRIKSTE PUNT vestig wat op daardie skyfie voorkom. Tot ons natuurlik wreed aan die volgende BELANGRIKSTE PUNT blootgestel word. Eina.

Dit is ongelukkig ook soms so as mense deesdae konferensies reël – en veral kerkbyeenkomste. Dis baie maklik om tegnologiese overkill te pleeg! Te veel is maklik te veel. Dalk moet mens ‘n paar riglyne daarstel vir so iets. En die twee heel BELANGRIKSTE  goed (as ek dit met ‘n laser-sound en flashing lights / marching ants kon uitwys het ek) wat ek aan kan dink, is eenvoud en funksionaliteit.

Eenvoud – of ten minste, dit wat die mense sien moet eenvoudig wees. Ja, daar moet dinge agter die skerms gebeur – hou dit asseblief so. Sit die drade mooi weg, behalwe as dit die jaarlikse Cable Convention is. Moet eerder nie dat die mense agterkom daar is mense wat in die agtergrond skarrel om die regte prop by die regte prop betyds in te kry nie. Inteendeel, laat die mense nie eers heeltemal agterkom daar is tegnologie betrokke nie. Daardie tipe eenvoud.

Funksionaliteit – as dit nie nodig is nie, moenie dit gebruik nie. Dit maak die kanse vir foute net meer, en eintlik beïndruk jy niemand nie. Meeste mense het in elk geval al beter gesien. Maar! As iets kan bydra tot hoe goed iets werk, doen dit dan. Al is dit dan ook maar ‘n eksperiment. Partykeer moet ‘n mens bietjie waag om te wen.

Ek is tans by die Oostelike Sinode van die NG Kerk. ‘n Hele paar van ons is hier om sommer net te blog en te tweet oor wat hier aangaan. (Soek vir #sinoos op twitter). Ons kan oor enigiets blog, maar ons hoef nie objektief te wees nie – dis die hele punt – ons moet juis ‘n stem wees na die buitewêreld van hier binne af. Daar gaan dus ‘n paar blogs volg soos hierdie een. Die “amptelike” blog is hier. Die volgende ouens gaan ook so nou en dan ‘n blog hieroor skryf, terwyl die sinode nog aan die gang is, en miskien daarna:

Cobus van Wyngaard

Lourens Grobbelaar

Skillie Botha

Miskien is ek bevooroordeel (maar ek mag maar wees – ek moet mos juis subjektief wees), maar mens kan hierdie ouens se blogs in elk geval volg.

Op die oomblik vind ek die sinode se tegnologie gebruik redelik smaakvol – daar is miskien te veel projektors (ek tel 6 skerms, plus 2 TV skerms), maar ten minste help dit dat enigiemand die spreker kan sien. Die tegnologie vloei mooi inmekaar, die video-kamera word goed hanteer (dit fade, byvoorbeeld, maar nie so dat dit steurend is nie). Een ding wat my veral beïndruk het, is dat daar onmiddelik foto’s van ons geneem is toe ons registreer – ek weet nou nie heeltemal waarvoor dit gebruik word nie, maar ek dink dis nogal handig. (Dit was ‘n bietjie soos ‘n drukgang – net een manier op daardie stadium in die saal in, en dis verby die kamera. Glimlag.)

Nou goed, meer blogposts sal dalk volg na hierdie een – ook oor die inhoud van die sinode.


Geld … en predikante (aldus Adam Small)

Oktober 2, 2009

Die digter Adam Small vat dit goed saam in sy gedig, so ek hoef nie veel daaroor uit te brei nie:

Doemanie

‘n Proefiet van jesus dj‎‎ý?

’n proefiet?

djy moet djou palys-hys

djy moet djoe aeroplane-motorkar

djy moet daai kamma sêd smile van djou

en djou tears

en djou woerawarra op die pulpit

moet djou skorrelsvol braai-atappels en –

vleis?

djou hys ’n woestyn? nou sal mens djou verbeel!

en hoe lyk dit moet djou kale pote vi’daai streamline ding

hoe lyk dit moet djou toega vi’ die vel van ’n kameel

hoe lyk dit moet daai skorrelsvol vi’sprinkane en wille hiening?


Fokofpolisiekar en die Intense Leegheid van die Siel

Augustus 14, 2009

‘n Vriend van my, wat (onder andere) hier blog, doen navorsing oor Fokofpolisiekar. Meeste mense weet dit nie, en ek vermoed sal dit ook nie sommer raai nie, maar ek het meer as die helfde van my MDiv skripsie met Fokofpolisiekar in die agtergrond (en BAIE koffie) geskryf.

Hulle is eenvoudig net een van die groepe wat die beste musiek – musikaal, bedoel ek nou – in Afrikaans maak. Ek vermoed dit is die hoofsaak hoekom baie mense na hulle luister. Inderdaad, ek is nie so seker of almal noodwendig hulle boodskap snap nie – vergelyk byvoorbeeld hierdie lirieke van Hemel op die Platteland wat ek op die internet gekry het (sal maar eerder nie sê waar nie):

Kan jy my skroewe vir my vasdraai?
Kan jy my albasters vir my find?
Kan jy jou idee van normaal
By jou gat opdruk?
Kan jy?
Kan jy Aberdeen spel?

Ironies dat die ou nie “vind” kan spel nie – of ten minste nie gesien het dit is verander deur ‘n woordverwerker nie. Nog meer van ‘n ironie dat die woord “a-p-a-t-i-e” nou vervang is met “Aberdeen” – wat beteken die hele punt van die liedjie is gemis.

Hemel op die platteland is een van die groep se ouer liedjies. Dit bevat natuurlik ook hierdie opspraakwekkende gedeelte:

Kan iemand dalk ‘n god bel
En vir hom sê ons het hom nie meer
Nodig nie
Kan jy -
Kan jy apatie spel?

Ek dink hierdie is ouens wat erg ontnugter is – deur die kerk; deur die samelewing waarin hulle grootgeword het. Ek dink hulle is ouens met diep insig.

Ek dink ook hulle is verkeerd.

Hulle lewer egter sosiale kommentaar wat mens nie sommer kan miskyk nie. Sosiale kommentaar – en kommentaar op die kerk – wat ek hoop op een of ander tyd deur alle teologiestudente in die gesig staar word. Ek gaan nie alles in hierdie een post kan aanraak nie. Ek kan maar net hier en daar so losweg vat. Die volgende deel uit Lugsteuring, byoorbeeld, het my veral aangegryp:

Ek wil net nie verkeerd wees in
hierdie lewenslang kleedrepitisie nie
Is die monster wat jou jaag
emosionele progressie?
Is jy die enigste vyand van
spirituele tegnologie?
Ons oë is vervang met skerms
en ons siele met prentjies van die see

Nou, ek vermoed ons het hier te doen met ‘n erediens.  Dink mens kan dit sien in die res van die liedjie ook. Dink dis nogal baie raak. Die hele “kerk-toe-gaan” ervaring het mos tot ‘n groot mate ‘n toetssteen geword vir mens se geloof. Dit spreek van onegtheid – iets wat mens gerus uit jou geloof uit kan sny.

Terselfdertyd, dink ek, is hierdie ouens bewus van iets groters, selfs al kies hulle om dit mis te lees. Ja, hulle wil die Greep van Geloof afgooi. Maar waarmee sit mens dan? Ek dink mens kan dit gerus die Intense Leegheid van die Siel noem. Kyk bietjie na hierdie aanhaling – al die lirieke van Tiny Town:

In wrede woede het ek die
hand wat beheer gebyt
Verwyt myself op harder en
harder grond neergesmyt
Dis nou ek wat die leiband lei
Te veel verskeur om sulke
argumente ernstig op te neem
Miskien is niks soos wat ek dink dit is nie
My greep op my geloof glip gereeld
My wonde wonder waar genesing kom vandaan
Soet slaap sonder sonde vanaand

Miskien is niks soos wat jy dink dit is nie
Jou greep op jou geloof glip gereeld
Jou wonde wonder waar genesing kom vandaan
Soet slaap sonder sonde vanaand

Hierdie liedjie het my aangespreek. Ek waardeer die eerlikheid daarvan – die absolute openheid. Ek betreur die feit dat die kerk nie ‘n oop genoeg ruimte – en ‘n veilig genoeg ruimte – skep vir mense wat sulke vrae wil vra nie. Die gevolg? Afgesien daarvan dat die idee van die kerk gesien word as iets met gesag wat op mens afgedwing word? Iets wat afgegooi moet word? Na my mening: mense wat verskeur word. Hierdie is goed waardeur ‘n mens moet worstel; maar daar is geen plek daarvoor nie. Hierdie is goed waarmee ek graag mense sou wou uitdaag; maar daar is geen plek daarvoor nie.

Anderkant die vermaaklikheidskerk en die Intense Leegheid van die Siel lê daar antwoorde. Graag sal ek mense daar wil sien aankom, maar dit moet nie geforseer wees nie. Sal ek Fokofpolisiekar vir mense aanbeveel om hulle hiermee te help? Nie sommer vir enigiemand nie. Vir teologiestudente – wel, miskien. Iets anders wat ek wel definitief vir teologiestudente sal aanbeveel is om Oppikoppi toe te gaan – sodat hulle kan leer van die wêreld, van liefde en aanvaarding. Ja, nie noodwendig om mense daar te gaan bekeer nie, maar net om bietjie waar te neem – en te leer. Plus, mens hoor dalk net ‘n bietjie goeie musiek ook. Dít is egter ‘n post vir ‘n ander dag.


O Kinders! My bedieningsvoorkeure het geskuif!

Julie 26, 2009

Terwyl ek nog die predikantpaadjie-teologiekursus op fakulteit geloop het, het ek altyd gedink dit sal lekker wees om met dié of met dáái groep mense te werk. Dis seker maar hoe dit met elke tokkelok gaan. Die eerste ruk (en dit kom van hoërskool af) het ek altyd gedink ek sal ‘n “jeugdominee” wees – dis nou iemand wat se hooffokus op tieners is. Dit het redelik gou verander op universiteit; ek het begin dink studente is meer my ding – of miskien ou mense.

Redelik onlangs het ek weer skuiwe gemaak in die volgorde van hierdie voorkeure. Die lysie lyk nou so:

  1. Nog steeds studente; insluitende mense net na skool wat nie gaan studeer het nie.
  2. Mense tussen 40 en 60.
  3. Voorskool en laerskoolkinders.
  4. Oumense (ouer as 60).
  5. Mense tussen 25 en 40.
  6. Tieners (hoërskoolkinders).

Alhoewel die studente ding nou al ‘n rukkie lank in plek is, was daar ‘n radikale omswaai tussen hoërskoolkinders en laerskoolkinders. Hulle het net mooi plekke omgeruil. Snotneusies, inkleurkryt en klein skoene maak my nog steeds nie kinderlik opgewonde nie (en die kanse is goed dat dit nooit sal gebeur nie); erger nog, wanneer mense baba-taal begin praat en verkleinvorme vir alles begin gebruikies gooi ek steeds in my mondjie op, maar ek verander nie meer in ‘n soutpilaar as die klein goed in my teenwoordigheid kom nie. Inteendeel, dit voel vir my asof ek al hoe meer agter die kap van die byl begin kom en verstaan hoe werk die goed se koppe! Natuurlik is dit wat jy sien dit wat jy kry. Belangriker nog, hulle het min of meer almal dieselfde behoeftes – en dit kan ‘n mens deur die bank lees en aanspreek. Dieselfde kan mens nie sê van tieners nie – daardie klomp is oppervlakkig op ‘n ander manier.


Behoort, beleef, bely: Saampraat met Nelus Niemandt

Junie 29, 2009

Ek skryf hierdie post na aanleiding van Prof Nelus Niemandt se artikel in die Beeld.

Prof Niemandt betoog kortliks die volgende: in plaas van ‘n kerk waarin hul geloof bely, hul geloof dan daarna kan beleef en dan uiteindelik tot die gemeenskap behoort (hierdie is die tradisionele manier van kerkwees in veral die NG Kerk),  moet die volgorde omgeswaai word: na ‘n behoort, beleef, bely situasie.

Ek kan nie help om in breë trekke hiermee saam te stem nie. Die eienskappe wat my generasie (X) tipeer, voel ek mos aan my eie bas: ons is nie meer so lojaal aan instansies nie, eerder die ideaal wat agter die instansies lê. (Juis nou die dag weer hieroor gepraat met die Dinsdaggroepie – julle weet wie julle is.) Daarom ook dat ons nie noodwendig onsself aan ‘n kerk vasbind net omdat dit van ons verwag word nie – ons wil sien hoekom ons aan daardie kerk moet behoort. Terwyl ons terselfdertyd ook daarna hunker om te behoort …

Soos sulke dinge maar gaan (hierdie is immers ‘n gesprek) moet ek egter ‘n paar punte uitlig wat ek wil byvoeg of effens wil verander:

  1. In die tradisionele model was daar nou nie juis veel belewing nie. Uitlewing miskien. In die nuwe model voel ek ook dat beleef enbehoort oorvleuel – tot so ‘n mate dat dit op presies dieselfde tyd kan gebeur.
  2. Prof Niemandt raak die punt aan, maar brei nie soveel daarop uit nie: Jesus het eerstens mense verwelkom, en daarna het die geloofsreis posgevat. Waar ander groepe eksklusief was – soos die Qumran gemeenskap – en hoë eise gestel het wat verband gehou het met heiligheid – was die beweging wat rondom Jesus ontstaan het radikaal inklusief. Ten minste, dis die slotsom waartoe ek kom met my gedeeltelike verstaan en lees van die Bybel (en ander tekste). (Nota: en baie, baie meer leeswerk moet ek nog doen! :) )
  3. Die gesprek moet waarskynlik oor meer gaan as net die omkeer van hierdie volgorde. Die kerk gaan waarskynlik ook nie dieselfde lyk as wat dit nou lyk nie. Die fokus kan, myns insiens, nie meer soseer op die instansie val nie. ‘n Organiese verstaan van die kerk – dit kan dalk werk. Nietemin, dis nie nodig om te veel hieroor uit te brei aangesien die voorbrand vir so ‘n gesprek in die SA kerkgemeenskap alreeds besig is om gedoen te word, onder andere deur Prof Niemandt in Nuwe Drome vir Nuwe Werklikhede. (Dis beskikbaar by Loot.co.za vir slegs R82, of by Kalahari.net vir slegs R79. Bargain! Koop dit sommer vir jou hele kerkraad as ‘n middel-van-die-jaar kersgeskenk.)

Daar is een aanhaling in Prof Niemandt se artikel wat my sal bybly, en wat ek heelhartig sal onderskryf; daarmee sluit ek ook dan hierdie deel van die gesprek af:

Mense stel belang om die liefde van Jesus van Nasaret in aksie te sien.

Mag dit in ons kerkwees / liggaam-van-Christus-wees elke dag al hoe meer sigbaar word.


Dominee-kersies

April 29, 2009

Waarmee sal ons predikante vergelyk? 

Miskien met ‘n brandende fakkel, wat almal wat in hul teenwoordigheid kom, skoonbrand en hul sondes wegneem. Of, altans, dis wat mense wil hê predikante moet dink. Rondom elke predikant is daar ‘n stukkie heiligheid wat almal so rein maak as hul in die predikant se teenwoordigheid kom. Skoon bedees, so asof die dominee hul gewete is.

Daarom dat predikante so beskermd is. Sulke sagte dominee-handjies en dominee-hartjies het. Verskans teen die wêreld. Is daar regtig ‘n wêreld daar buite hierdie skuiling?

Dit sny twee kante toe. Vir predikante beteken dit dat hulle bietjie moet uitgaan. Dalk ‘n dop drink. Dalk ‘n ander werk kry. Dalk ‘n bietjie Fokofpolisiekar luister. Toe NG Weltevrede so ‘n ruk terug ‘n predikantepos adverteer, was een van hul vereistes dat die kandidaat twee mense wat nie in Christus glo nie, as referente moet bysit. Dit het ‘n hele paar ouens vir die pos gediskwalifiseer. 

Dit beteken egter ook dat amal wat nie predikante is nie moet stop om so op te tree teenoor dominees. HOU OP DAARMEE! Hê bietjie genoeg integriteit om voor die predikant ook jou sê te sê en jou ding te doen. Miskien moet die protestantse tradisie weer bieg as ‘n sakrament erken, sodat die predikante ten minste kan hoor wat vang die mense in die gemeente aan. Dit is nog altyd die mense wat regtig eerlik is wat vir mens die meeste leer.

Na alles is dominees eintlik maar flou kersies wat vergeefs in die wind flikker. Sodra die skadu’s die kudde versluier, neem die regte wêreld oor.


‘n Multikulturele diens: NG Arcadia

April 28, 2009

Hierdie Sondag het ek uiteindelik die geleentheid gehad om die 11:00 diens (die Engelse diens) by NG Arcadia by te woon. Ek was eers nie bewus dat daar twee dienste (‘n Afrikaanse diens – meer tradisioneel NG, en ‘n Engelse diens) is nie. Dit was dus ‘n effense teleurstelling om uit te vind dat die ou NG lidmate nie soseer saam met die nuwer groep mense kerk het nie – dit is eintlik maar twee gemeentes in een kerkgebou: ‘n jammerte, voorwaar. 

Die diens was nogtans insiggewend. Skokkend, om vir myself dit uit te wys: die oomblik toe ek instap, dink ek so stilweg: “hierdie is nie ‘n multikulturele diens nie, waar is die witmense?” Dis wat ek gedink het! Dit was eers na die diens dat ek ten volle begryp het: ‘n groot deel van die mense teenwoordig spreek Frans en Engels; andere is natuurlik van die groot verskeidenheid ander kulture in ons land en van oraloor Afrika. Die diens het heeltemal in Engels geskied, terwyl ons een Afrikaanse lied gesing het, as deel van ‘n medley. (Mens kon sommer hoor heelwat van die mense is nie Afrikaans magtig nie.) Na die preek en offerande het hulle ook ‘n lied in ‘n Afrika-taal gesing, ek weet nie wat dit was nie.

Dit was mos ‘n langnaweek, dus was daar nie baie mense nie, en die kerkgebou het pas konstruksiewerk ondergaan wat veroorsaak het dat hul klankstelsel nie gewerk het nie, en hul ‘n tydelike een moes opstel wat verskriklik geraas het. 

Ek het behoorlik uit gevoel – maar nog steeds gemaklik met die teologie en wat in die erediens gebeur. Vir die oomblik dink ek ek het ‘n kerk gekry waar ek ongemaklik genoeg is om ‘n bietjie meer betrokke by te raak. Hier gaan ek dinge kan leer – oor multikulturele bediening, en dalk nog ‘n sakvol ander goed ook.

(Plus, die feit dat die diens om 11:00 is beteken ek kan nog heelhartig ander kerke besoek om te sien wat ek by hulle kan ’steel’.)


Die teologie van Lied 190 (Grote God, aan U die eer)

April 25, 2009

Lied 190 (uit die Liedboek van die Kerk, 2001, NG Kerk-Uitgewers) maal die afgelope week in my kop rond. Dit is een van my gunsteling gesange: moontlik omdat ons dit al so baie in ons tradisie gesing het, en moontlik omdat dit so lekker op die kitaar gespeel kan word. Die melodie, oorspronklik Großer Gott, wir loben dich, is al bekend vanaf 1668, en dit werk nog steeds.

Ek dink egter onwillekeurig aan die teologie wat agter hierdie gesang, en moontlik agter die Liedboek, lê. Liedere, net soos preke, boeke en blogs, het ‘n eie teologie wat onderliggend is daaraan. Dit kan ook natuurlik nie anders nie! Mens moet dus soms op eiers loop – wat (baie!) nuwe kerkliedere betref, maar ook soms wat die ou tradisionele gesange betref.

 

Lied 190


(1) Grote God, aan U die eer!

Heerlik is waar U regeer;

hemels is u majesteit;

heilig u geregtigheid.

U wat alles onderhou, 

U is ewig en getrou.


(2) In genade, groot en ryk,

bou U, Heer, u koninkryk.

Voordat ek kon kies, kon vra,

het u Seun my vloek gedra.

Ek kon vind: U’t my gekry

voor ek nog my skuld bely.


(3) U, oor alles God en Hoof,

open oë van geloof

dat ons sien, geen goed of kwaad

word aan toeval oorgelaat:

Bokant ons begrip, verstand,

hou U al wat is in stand.

 

Ek hou baie van die eerste twee verse – dis diep teologie. (Soos teologie maar gaan, is dit ook oop vir interpretasie!) Die derde versie pla my egter. Op die oog af lyk dit of dit ‘n “Puppetmeischter” God voorstel. ” … geen goed of kwaad word aan toeval oorgelaat: … ” Beteken dit dan tot God letterlik alles beheer wat op aarde aangaan? ‘n Mens sou so dink! Dis ook heel moontlik dat die lied oorspronklik hierdie betekenis gehad het. (Die oorspronklike lied is tussen 1719-1790 deur Ignaz Franz gepen.) Ek sal baie versigtig wees voordat ek dit in ‘n erediens gebruik! Hoe nou gemaak? Moet mens dit herinterpreteer, of net nooit in ‘n erediens gebruik nie? Die eerste twee versies is dan so mooi! Ek kan dink dat mens miskien kan lees as: nadat goed of kwaad geskied het, gryp God in. Met hierdie interpretasie is daar egter ook probleme! 

Dis jammer dat Lied 191 so onbekend is. Dis gegrond op dieselfde melodie (soos ook Lied 192), en is later vertaal in Afrikaans as 190. (Dit gaan terug op Te Deum laudamus - weet nie hoe lank terug dit geskryf is nie – maar is eers in 2001 in Afrikaans beskikbaar gestel.) Hiermee strook my eie teologie beter. Sien byvoorbeeld vers 3:

 

Vader, ewig, goed en groot,

hoor ons lof uit elke oord.

Seun van God in ewigheid,

ons is tot u diens bereid.

Heil’ge Gees, Vertrooster, Heer,

ons, u kerk, wil U steeds eer.

 

Mens moet maar lugtig loop vir enige lied se teologie!