Geld … en predikante (aldus Adam Small)

Oktober 2, 2009

Die digter Adam Small vat dit goed saam in sy gedig, so ek hoef nie veel daaroor uit te brei nie:

Doemanie

‘n Proefiet van jesus dj‎‎ý?

’n proefiet?

djy moet djou palys-hys

djy moet djoe aeroplane-motorkar

djy moet daai kamma sêd smile van djou

en djou tears

en djou woerawarra op die pulpit

moet djou skorrelsvol braai-atappels en –

vleis?

djou hys ’n woestyn? nou sal mens djou verbeel!

en hoe lyk dit moet djou kale pote vi’daai streamline ding

hoe lyk dit moet djou toega vi’ die vel van ’n kameel

hoe lyk dit moet daai skorrelsvol vi’sprinkane en wille hiening?


Robbeneiland

Augustus 31, 2009

‘n Besoek aan Robbeneiland kan nogal ‘n nare ervaring wees. (Vir my was dit eerder die terugkomslag, op die boot, terwyl ek nie die horison kan sien nie … blykbaar moet mens die heeltyd die horison dophou … aaklige groengesig-landrot ervaring!)

Sommer so van die wegspringblokke af was ek ‘n bietjie teleurgestel. In plaas daarvan om buite saam met die uitlanders op die boot se rand te gaan staan en die Kaapse wind trotseer, het ek maar nes geskrop in die binneste ruim van die skip. Ek het mos al die see gesien. Veel eerder wou ek die inligtingsvideo bekyk; ek wou myself immers voorberei op wat wag by Robbeneiland.

Hoe langer ek kyk, hoe meer begin ek voel iets is nie pluis nie. Die verteller se stellings val ‘n bietjie snaaks op die oor:

“Our ancestors were imprisoned on this island … “

Goed, miskien was een van my voorouers ook daar gevange gehou. Wie weet? Dis egter nie te lank daarna nie, of ek hoor:

“The land was given back to the people … “

Ek weet hierdie is ‘n fyn onderskeid, maar stories – taal – tekste – sit in my bloed – en in my opleiding. Moet die sin nie eerder wees: “The land was given back to all the people … ” nie? Dis mos verskriklike ons-julle taal wat die verteller daar kwytraak! Hoe meer ek luister, hoe moeiliker sit daai stoel. Die verteller eindig met ‘n soetsappige “peace-and-reconciliation” sousie. Ek is eger oortuig dat dit nou nie juis die ondertoon is wat die video inkleur nie. (Ek is immers opgelei om na die implisiete ideologie in die subteks te soek.)

Die besoek aan die eiland verloop vir my effens beter. Die eerste gids is nogal vermaaklik – weet darem nie of hy so vermaaklik was soos wat sy (onuitgesproke, vrywillige) fooitjie (wat hy by die deur van die bus verhaal) dit vereis nie. Die tweede gids gebruik ook ons-julle taal, maar hy was immers ‘n politieke gevangene op die eiland.

Iets vreet egter aan my van daardie video. Ek dink nie die verskuilde agenda (myns insiens) is noodwendig ‘n ideologie wat deur al die mense in ons land gedeel word nie – ongeag hul ras. Inteendeel, ek dink ook nie dat dit die ideologie is wat die mense van die Struggle gehad het nie. Ek is nie heeltemal onkundig nie. Long Walk to Freedom het ek al vroeg in my studies gelees; so ook ‘n paar ander goed in dieselfde lyn. (Ek beveel LWtF ten sterkste aan!) Goed, dit maak my nie ‘n kenner nie. ‘n Paar plekke op Robbeneiland tel ek tog brokkies op wat strook met wat ek al gelees het. Die treffendste hiervan is die Universiteit.

Die Universiteit is ‘n grot wat by die klipgroef is waar die politieke gevangenes op Robbeneiland daagliks geswoeg en gesweet het. Dit is die enigste skuiling wat hulle gehad het; die enigste stukkie privaatheid tussen die gewapende buitewêreld. Dit het bekendgestaan as die Universiteit omdat dit hier is waar die gevangenes “van mekaar geleer het”. Hier is meer as die helfde van ons land se grondwet geskryf – ‘n grondwet van gelykheid. Dit terwyl daar alle gleentheid was om die land vir ‘n sekere groep te eien. Terwyl die groepie daar binne die Universiteit gesit het, verag deur dié mense daarbuite, het hulle lustig beplan … om vir almal ewe veel kans te gee.

‘n Besoek aan Robbeneiland is verseker die moeite werd. Dit vertel ‘n storie wat oorvertel moet word. Dit herinner aan slegte dinge; dinge waaruit en waarvan ons by mekaar kan leer. Saam. Ja, pak gerus die reis aan na Robbeneiland, as die kans homself voordoen. Wees net lugtig vir ‘n vals ideologie; en as jy kan, hou die horisonne dop …


Wie slaan deesdae (letterlik) die drom in Afrika?

Mei 17, 2009

Ek het die voorreg om by NG Arcadia se musiekbediening betrokke te kon raak. Sommer by die eerste 11:00 diens wat ek bygewoon het, het die finalejaar teologie student (wat toevallig ook vandag sy proefpreek gedoen het – praat van vleuende vaandels!) die gemeente uitgenooi om by die band betrokke te raak. Katvoet het ek aangebied om saam te speel – ek wou niemand se plek vat nie, maar dit het na ‘n plek gelyk waar ek gelyk verhoudings kan bou en my talente kan inspan. 

Dit het toe so uitgewerk dat dit slegs ek en Jacques, die finalejaar, was wat opgedaag het wat wel musiekinstrumente kon bespeel. (Jacques kitaar en ek baskitaar.) Vir drie Dinsdae na mekaar het ons nou al ‘n ander dromspeler gehad – wat die Jembe moes bespeel. Tot my uiterste verbasing het elkeen van hierdie drie (al drie swart mans) dit moeilik gevind! 

Ek praat toe tydens ontbyt met ‘n vriendin van my wat musiek swot. “Ja,” sê sy, “jy moet onthou die Jembe is ‘n Noord-Afrika instrument.” Een merkie langs my naam vir stereotipering! Die gesprek raak vinnig dieper. My vriendin swot musiekterapie – en hulle bespreek dikwels die rol van musiek in die samelewing, en veral die stad. Sy skilder die prentjie so treffend: die mense wat in die middestad van Pretoria bly, is lankal nie meer die mense wat op die platteland bly nie. Sommige van hulle het hier in Pretoria grootgeword. Dis nie meer dieselfde kultuur nie. Sy sit die dink in my los: dis nou ‘n mengelmoes. Kultuur is ‘n glibberige ding! ’n Tweede merkie langs my naam vir stereotipering!

Vroeër vanaand koffie-kuier ek by ander vriende. Een van hulle was vir langer as ‘n jaar in Burundi – en sy vermaak ons gereeld met stories (ligtelik en ernstig!) oor haar wedervaringe. “Ja,” sê sy, “dromspeel in Burundi verskil van dorp tot dorp.” Sy vertel ons hoe sy leer dromspeel het in een dorp. (Ek glo haar – ek het haar al in aksie gesien. Sy werk teen ‘n tempo van ongeveer ‘n vriend / vyf minute.) In ‘n ander dorp kom sy mense teë wat duidelik sukkel – tot sy hulle reghelp!

Dis maklik om mens te misgis met mense-groepe. Dalk is dit ‘n beter pad om te stap as mens mense leer ken vir hulself; hoe hulle elkeen afsonderlik regtig is.


“Son of Man” – fliek

Mei 5, 2009

In dit wat volg, gaan ek so ‘n bietjie van die storie van “Son of Man” weggee. O, as jy die basiese storie nog nie ken nie – daar is vier amptelike weergawes (vyf, tegnies, as jy Markus 16:9-20 as ‘n eie evangelie in ‘n neutedop beskou). Maar dalk wil jy verras word – soos ek was – met die manier hoe hierdie storie uitgebeeld word. Moet dan nie verder lees nie! (Maar gaan kyk die fliek – sommer in hierdie week nog!)

Son of Man is die evangelie in ‘n Suider-Afrikaanse konteks. As ek reg verstaan, praat die mense in die storie Xhosa – dit het Engelse byskrifte. Die fliek is ‘n radikale interpretasie van die evangelie – as mens dit langs die ander vier (vyf) sit. Die koninkryk van Judea word beset – in tipiese Afrika-burgeroorlog styl, met mense met masjiengewere wat elke nou en dan op ander losbrand; korrupsie wat die oorhand het. Die fliek maak niks met Apartheid nie – verwys nie eers eenkeer daarna nie – dit kon eintlik, maar ek dink dit was ‘n bewuste keuse om dit nie te doen nie. Te midde van al hierdie geweld en korrupsie tree Jesus dan op en lewer ‘n boodskap van ‘n ander manier om dinge te doen – ‘n nie-geweld manier. Ag, eintlik vreeslik baie ander teologiese temas ook wat aangespreek word, op ‘n besonderse manier.

Die fliek begin in medio res, soos ‘n klassieke klassieke verhaal. (Ek verwys nou na Homeros se geskribbel. Die man had nogal talent.) Die eerste tonele beeld ‘n volwasse Jesus in die woestyn uit, waar die duiwel Hom versoek. Die Satan vat Jesus na ‘n duin, wys Hom die aarde, en seg dat as Hy hom aanbid, dan gee hy al hierdie lande aan Hom. Dit eindig met Jesus wat die duiwel by ‘n duin afstamp, met die woorde: “This is my world!” ‘n Snaakse manier om die storie te begin, het ek gedink. Dit beeld Jesus as so magtig uit – en ek was nie seker of dit in die Afrika konteks inpas nie. Die verhaal keer dan terug na die begin – Maria wat die boodskap van ‘n engel ontvang dat sy swanger gaan word, ens. Nie lank nie, of een van die mees aangrypendste dele van die fliek vind plaas – die kindermoord. Op hierdie punt is daar ‘n klein verhaaltjie ingebou wat nie in die Bybelse verhale is nie, maar noodsaaklik is in die fliek. Na ‘n aantal kinders wreed vermoor word, en Jesus en sy gesin toekyk, kom daar ‘n engel om Jesus te kom haal – dis amper ‘n tweede versoeking, een wat sê: “Dit alles kan nou eindig, hierdie beker kan by jou verbygaan.” Die kind Jesus, nog nie eers vier jaar oud nie, antwoord dan vasbeslote: “This is my world!” Die sirkel is voltooi; die tema van die fliek is aangekondig; die ondertoon van die fliek bereik sy volle trefkrag.

Die manier hoe die fliek eindig, was ook vir my ‘n aangename verrassing. Gedurende die fliek praat Jesus soveel wat ek as “politiek” gesien het, maar wat eintlik ‘n nuwe leefwyse was, dat ek skoon bang was Jesus staan nie uit die dood uit op nie. Hy word ook nie ‘n verhoor gegun nie, sommer net uit die weg geruim. “Crossan, hier kom ons!” het ek gedink. Jesus se lyk word in ‘n vlak graf êrens tussen niks en nêrens gegooi. Sy ma gaan haal dit egter, en hulle bind dit aan ‘n kruis vas wat uitkyk op die dorpie. Dan volg daar ‘n konfrontasie met die magte wat Judea beset, terwyl Jesus se volgelinge in Afrika-styl toi toi onder die kruis. (I kid you not. As jy nog nie hierdie fliek gekyk het nie, gaan kyk dit NOU.) Ek was ernstig bang dat hulle die fliek se boodskap tot ‘n soortvan politieke propaganda verskraal het. Ernstig, ek het nie gedink Jesus gaan opstaan nie. En DIT was vir my ‘n nuwe ondervinding. Want ons almal WEET mos Jesus gaan opstaan. Ons hoor dit dan al so baie! Maar hierdie keer het ek regtig gedink: daar is dit nou. Hy is dood. Hulle gaan Hom nie in hierdie fliek laat opstaan nie. Die boodskap is klaar.

Die karakters is interessant. Twee van Jesus se twaalf dissipels is vroue. Die enigste persoon wat ek dalk ‘n bietjie anders sou uitbeeld, is Judas. Die arme man is sleg van die begin af, volgens die fliek. (Goed dan, volgense die vier (vyf) evangelies ook.) ‘n Meisie wat saam met my die fliek gekyk het, het gemeen dat hulle darem ‘n aantreklike man gekry het om die rol van Jesus te vertolk. Sover dit my aangaan, is ek geneig om saam te stem. (Maar my opinie tel nie nou juis so baie in hierdie departement nie.)

Op die kassie van die DVD is daar ‘n aanhaling van ‘n  fliek resensent (van Sky Movies), waarmee ek ook hierdie post wil afsluit: “Mel Gibson – look and learn!”


Onafhanklike waarneming by die verkiesing

April 23, 2009

Ek is ingepraat om as ‘n onafhanklike waarnemer by die verkiesing te dien. Nie dat dit te veel ompraat gekos het nie – dit voel na iets waar mens betrokke kan wees by ons land se demokrasie, op grondvlak, selfs verder as om net jou kruisie te maak. (As jy jou kruisie gemaak het, is ek trots op jou!)

Daar was allerhande verrassings, dus, gister (22 April). Ek het van 15:00 af die middag gewerk in ‘n klein tent waar altesaam toe so ongeveer 550 mense gestem het. Die mense van die IEC was besonders aangenaam – hulle het die hele dag al daar gesit, terwyl hulle eers baie laat kos gekry het en die logistieke probleme van die IEC (wat nie hierdie mense se skuld was nie) het gesorg dat hulle uit stembriewe uitgehardloop het, selfs al het hulle vroegtydig die hoofkantoor laat weet. Natuurlik was die kiesers baie ongelukkig daaroor!

Wat my egter die meeste gepla het, is die houding van my eie volksgenote. Ek sal nou nie kru taal hier in die kuberruimte inslinger nie, maar sommige Afrikaners se houding is eenvoudig net AF. Die lankmoedige  (swart) mense wat saam met my in die tent gewerk het is keer op keer deur lyf- en tongtaal geskasty. Dis darem nie deur die bank so gewees nie; soms was daar Afrikaners wat baie gemoedelik omgegaan het met die mense in die tent. Nogtans is ek geskok; dit is nog erger gemaak deur die feit dat hulle my dan (as die enigste wit persoon in die tent) uitgesonder het asof ons ‘n tipe van ‘n kameraderie besit – deur byvoorbeeld net vir my te groet, of dadelik na my toe te stap om te vra wat aangaan. Ek kry hulle eintlik jammer. Vir myself ook, want ek betrap myself keer op keer dat hierdie neigings by my ook kop uitsteek. Wie verstaan nou eintlik wat in Suid-Afrika aangaan? Die mense wat, na die verkiesing verby is, buite IN AFRIKA onder die sterrehemel ‘n vuurtjie maak om warm te bly, of dié mense wat dit amper nooit buite waag nie?

Bygesê, die ANC party-agente was ook nou nie juis vriendelik met my gewees nie. Ek vermoed hulle het gedink dat ek van die DA af is, want toe hulle agterkom dat ek onafhanklik is, was heel heelwat meer aangenaam. Een van hulle het my selfs genooi om saam met hulle die aand verder te gaan partytjie!

Na die verkiesing verby is, moes ek amper twee ure in die koue wag vir die persoon saam met wie ek gery het (ons stasies was op die Moloto pad uit, vir die wat daardie deel van Pretoria ken, regoor mekaar). Hulle tent (wat verseël word, en dan mag jy net loop as die stemme finaal alles klop – dis ‘n wonder dat ons nie ook rookseine moes uitstuur soos in die Rooms Katolieke kerk nie) het nie so vinnig eenstemmigheid oor die stemme bereik soos ons nie. Dit was bibberkoud! Maar, dit was die moeite werd. Ek het darem my deeltjie gaan doen vir ons land se demokrasie!


Making Money – Terry Pratchett. ‘n Suid-Afrikaanse perspektief.

April 9, 2009

Terry Pratchett is geniaal, ‘n ware satiriese fantasieverhaal-maestro. Ek het onlangs sy Making Money klaargelees. Wat ‘n fees! Ek weet nie waar kry hy sy idees vandaan nie, maar gewoonlik slaan hy die spyker op die kop. Twee tema’s in die boek staan vir my voorop:

  1.  Pratchett beskryf die bankwese as in ‘n gemors – ‘n profetiese uitspraak, as mens daaraan dink. Dit gaan vir hom baie oor waarin die sekuriteit van geld/bankwese gesetel is. (Sien punt 2). In die proses wees Pratchett hoe onderduims die hele gedoente is / kan wees.
  2. Die oplossing (of is dit juis sy kritiek?) wat Pratchett bied is dat die sekuriteit van bankwese in die werkersklas lê. Interessant genoeg stel Pratchett juis hierdie laag in die samelewing as die grootste gevaar-wie hulle beheer, kan die wêreld oorwin. Hier lê ook die grootste potensiaal vir rewolusie! Dalk lees ek te veel in die hele storie in. Ten minste het dit my laat dink!

 Die storie lyk natuurlik anders hier in Suid-Afrika. Die banke is in ‘n toestand, nog altyd. Mens sit ook nie jou geld in die bank om dit te laat groei nie, net om dit op te pas. Jy betaal hulle, anders as in Pratchett se tuisland. (So lyk dit vir iemand wat nou nie juis baie verdien nie!)

Afrika lyk op die oog af  ’n bodemlose put te wees wat dors geld opslurp. Korrupsie; rykes wat al hoe ryker word; armes wat in sommige plekke lankal nie meer hul hoop in geld as handelsmiddel stel nie. Ek kies egter om mooi te luister wat Pratchett sê – of ten minste wat ek inlees in wat hy geskryf het. (Praat van lustig allegoriseer!) Die eintlike waarde van ‘n land is in sy mense. Dis dalk diep begrawe, soos ‘n skat, maar dis daar. Daar word bietjie hiervan uitgebeeld in The Motorcycle Diaries, een van my gunsteling flieks. Dit handel oor Che Guevara se lewe. Dis verseker verromantiseer, maar darem dra dit ‘n sterk boodskap. Gaan kyk dit gerus.

 Wat my betref, ek val maar saam in hierdie bodemlose put. Om dit nog beter te stel: ek val SAAM  met SA mense in hierdie put. In hierdie wonderlike, skatryk land.