Julie 29, 2009
Kolossense is waarskynlik nie deur Paulus geskryf nie. Nou goed dan, dit kon dalk deur Paulus geskryf gewees het. Efesiërs, egter, het ‘n kleiner kans om regtig deur Paulus geskryf te gewees het.
Nou ja, daar is allerhande goed wat mens in gedagte moet hou as mens so ‘n uitlating maak. Een van hulle kan wees dat iemand anders die brief vir Paulus geskryf het – dus, dat Paulus ‘n tipe van ‘n “sekretaris” gehad het – (mens noem so iemand ‘n amanuensis). Daarom dat hy aan die einde van sommige briewe noem dat hy nou “met sy eie hand” skryf. (E.g. 1 Kor 16:21, maar veral Gal 6:11).
Hoekom sal iemand dan homself as Paulus voordoen as hy skryf? Een rede kan wees omdat hy ‘n leerling van Paulus was, en hy meen dus dat dit eintlik maar in elk geval is wat Paulus geskryf het. ‘n Ander moontlikheid kan die beste met ‘n hedendaagse voorbeeld uitgelig word: Coca-Cola.
Ek hoef niemand te vertel wat Coca-Cola is nie. En dit is juis die punt! Iewers het ek gehoor (en ek glo dit, daarom dat ek dit sommerso uitblaker) dat sou Coca-Cola alles verloor wat hulle het – elke pennie – sal hulle weer van voor af kan begin en ‘n nuwe sukses van die storie maak. Selfs al proe die koeldrank wat hulle dan maak heelwat anders as dit waaraan ons gewoond is. Alles net omdat hulle handelsmerk so bekend is.
In die vroeë kerk was Paulus ook amper so ‘n handelsmerk. Om iets aan sy naam te koppel, was om dit besonderse waarde te gee. Selfs dan ook die mense wat onder hom “studeer” het – hierdie mense wat naby hom was, het hoë status gekry bloot omdat hulle by hom was. Dit was veral onder die heidense (i.e., nie-Joodse) kerk dat Paulus se stem soveel werd was – en raai bietjie watter groep het toe baie vinnig die grootste deel van die vroeë kerk uitgemaak?
Deur op die Paulus-podium te klim, kan mens soveel meer mense bereik. Antieke skrywers het so iets nie as plagiaat gesien nie. Ou Paulus sou dalk opgewerk geword het as hy met iets nie in die brief saamgestem het nie – en dit sal ons nou nie weet nie – maar as hy saamgestem het, sou hy waarskynlik nie juis omgekrap gewees het nie.
Leave a Comment » |
Bybel, Nuwe Testament, kerkgeskiedenis, tekskritiek | Tagged: Bybel, kerkgeskiedenis, Nuwe Testament, Paulus |
Permalink
Bygedra deur Ronald
Julie 7, 2009
‘n Skripsie is soos ‘n bol deeg.
Eers lê die gedagte net daar, tot jy begin om stadig maar seker die ding plat te rol, sodat jy uiteindelik koekievorms daaruit kan sny. Dan begin jy aan die punte sny; jy maak die deeg ‘n bietjie minder sodat die vorm beter kan lyk; jy sny die goed wat niks te make het met jou skripsie nie langs die kante af.
Dan begin jy besef hierdie idee is nie in die beste vorm wat dit kan wees nie. Jy rol die deeg weer in ‘n balletjie op, en dan’s jy weer waar jy begin het. ‘n Groot bol gedagtes wat op die tafel voor jou lê. Ag wat, bring maar die koekroller …
Leave a Comment » |
Nuwe Testament, tekskritiek, teodisee |
Permalink
Bygedra deur Ronald
April 10, 2009
In die ou, ou dae was boekeskryf nie so ‘n maklike ding gewees nie. Ek praat nou van die ou, ou dae voor almal van ons se oumagrootjies. In die eerste paar eeue van hierdie jaartelling. Behalwe dalk die juffrou wat in ons hoërskool se bib gewerk het (en toevallig ook die geskiedenis-onnie was) – sy het dalk daardie dae gesien. Om mee te begin, die kans dat jy kon lees was maar klein. Sommige meen tot 20% van die samelewing. (Ons is vinnig besig om weer daar uit te kom.) Lees en skryf is nie dieselfde ding nie; die kans dat jy kon skryf was waarskynlik nog kleiner as 20% – dalk so min as 5%. Ordentlike skryfgoed was duur. Gekke en dwase was dus volop. Hulle het selfs op blare gegriffel, en ou potskerwe. (Mens sou ‘n lang opstel kon skryf oor die meerdoeligheid van gebroke potskerwe. Elke nou en dan, byvoorbeeld, het mens ‘n ou potskerfie nodig gehad om jou swere mee te krap).
Kopiereg was nog ‘n groter “probleem”. Sodra mens jou werk klaar geskryf het – so het dit met baie skrywers / digters gegaan – het mens ‘n private partytjie gehou en dit dan gaan voordra aan iemand wat genoeg geld gehad het om jou te borg om die hele ding gepubliseer te kry. Dan het daardie persoon mense betaal om ‘n paar kopieë te maak van jou werk – en dan, boeta, dan het daardie klein werkie van jou (so 12 boekrolle?) vrye teuels gekry. Mense het oor en weer die goed uitgeruil, gekopieër en dan weer aan ander gegee om afskrifte te maak. Daar was mense wie se werk dit was om boeke oor te skryf. (Met boeke bedoel ons hier natuurlik grotendeels boekrolle.) Dit was egter nie die groot probleem nie – dit was daardie ouens wat net kon lees waaroor jy jou moes bekommer. Amateurs. Uiteindelik het jou werkie op baie plekke heel anders gelyk as toe jy dit geskryf het.
Iewers in die verlede het dinge verander. Kopiereg het sy opwagting gemaak. Dit moes seker kort na Gutenberg en sy nederige kontrêpsie gewees het. Nou was dit ewe skielik doodsonde om by iemand anders af te skryf. (‘n Siekte wat tot vandag toe nog in skole gevind word.) Dit wat jy geskryf het, was joune – en tot ‘n groot mate kon jy beheer wat daarmee gebeur. Behalwe as iemand besluit al jou boeke moet brand. (Die Verligting.)
Tot onlangs. Snaaks hoe die wêreld dikwels in sirkels loop! Die digitale eeu maak dit nou makliker as ooit tevore (selfs mense wat nie kan lees en skryf nie – die grootste gedeelte van die kinders in SA skole; en in die Sondagskool) om goed te kopiëer. Kliek – kliek: dis soos toorkuns. Enigiemand wat ooit met ‘n stel skurwe blare, potskerwe of selfs luukse vellum moes spook, sou groen wees van jaloesie. Dis onafwendbaar: ons stuur af op ‘n situasie waar mense weer beheer verloor oor hulle werke! Dit sluit vandag natuurlik musiek, boeke, rekenaarprogramme en wie-weet-wat nog alles in. Daar is ook niks wat hierdie reuse-wiel gaan stop nie. Die mense (outeurs!) wat dit eerste besef (skuus, ek bedoel al ‘n hele rukkie terug besef het), gaan die beste daarvan afkom.
2 Kommentaar |
boeke, musiek, tekskritiek | Tagged: kopiereg, MP3, musiek |
Permalink
Bygedra deur Ronald
Maart 25, 2009
My broer sê nou die dag vir my dat hy vir hom ‘n boek bestel het wat die vier evangelies saam in een gooi (dus, ‘n “harmonie”). Dis een of ander Amerikaanse ou wat so probeer sin maak van die tydsverloop van die gebeure waarvan die evangelies vertel; ek kan ongelukkig nie onthou wat sy naam is nie. Aanvanklik het ek nie geweet hoekom die hele gedoente my gepla het nie, maar na ek ‘n rukkie daaroor gaan sit en dink het, dink ek ek het die probleem nou in my kop raakgevat. Dis ‘n probleem wat diep lê – dis ‘n probleem wat gaan oor wat die Bybel is, en wat dit vir mense beteken. Ek gaan my storie egter eers ‘n bietjie van ‘n draai laat loop – net om die punt ‘n bietjie te illustreer.
Sien, die Amerikaner is natuurlik nie die eerste ou wat daaraan gedink het om die vier evangelies te versoen nie. Die vroegste vertaling in Siries – so lyk dit vir ons – is dié van Tatianus, wat die vier evangelies (miskien ook ‘n vyfde een wat aan hom bekend was!) in een gesit het. (Hierdie vertaling staan bekend as die “Diatessaron” – en het al baie hoofbrekens besorg aan mense wat die tekstradisie van die Nuwe Testament bestudeer). Goed, miskien het hy dit van ‘n Griekse weergawe afgeskryf wat nie aan ons bekend is nie (behalwe dalk die stukkies wat hulle gevind het by Dura Europos?). Hierdie hele affêre het baie vroeg afgespeel – al in die tweede eeu na Christus. Na ‘n ruk het die (ortodokse) kerk besluit daar is verseker net vier evangelies wat in die versameling boeke hoort wat hulle as gesaghebbend sien, en het hulle probeer om elke moontlike teken van die Diatessaron uit te wis. (Nog hoofbrekens vir die geleerdes vandag.) Tatianus het ‘n baie vloeiende idee gehad van wat die evangelies is – dit vertel die verhaal van Jesus, en hoekom vier hê as daar een kan wees? Dalk was die Diatessaron ‘n hulpmiddel vir sendelinge om makliker met ander mense oor Jesus te praat – daarom ook die vertaling in Siries.
Die hedendaagse poging om die vier evangelies saam te flans, is (myns insiens) egter iets heel anders. Dit kan ook nie anders nie, want dit gebeur na die Aufklärung, in die tyd van (en net na) die modernisme. Dit gaan daaroor om die Bybel as waar te bewys – as ons al die verskille tussen die evangelies kan uitstryk, dan moet dit mos so wees dat die Bybel onfeilbaar is. Dalk is die logika juis andersom: die Bybel is onfeilbaar, daarom moet ons die verskille tussen die evangelies kan uitstryk. Dit is juis waar my ongemaklikheid met die hele storie sit: dat ons die BYBEL dan so op die voorgrond stel, dat ons ons geloof aan die absolute (woordelikse) waarheid daarvan moet koppel. Daar is selfs ‘n woord hiervoor: bibliolatrie (=bybelaanbidding). Dis nou wanneer ons vergeet dat die Bybel eintlik na God verwys, en dat dit self nie aanbid behoort te word nie. Dis eintlik baie snaaks – want selfs die skrywers van die Nuwe Testament het so daaraan gedink – dit wat ons vandag as die Ou Testament ken, en veral die profeet Jesaja (40-55), het vir hulle bloot gewys na Jesus. Daarom kon hulle maar dele van die Bybel uit konteks aanhaal, of selfs hier en daar van die aanhalings verander, sodat dit nog duideliker vir mense kan wys wie Jesus is.
Dus is my probleem nie soseer met die feit dat die woorde van die Bybel in ‘n ander volgorde rangskik word nie – my probleem is die (moontlike, moet ek byvoeg – ek ken nie die man wat dit gedoen het nie, dis maar net ‘n vermoede) motief wat daar agter sit. Wat my betref: ek is tevrede daarmee dat die Bybel vir my ‘n rigtingwyser is na God – wat vir my van verskillende kante af toelig wie God is – sodat ek uiteindelik ‘n verhouding met God kan hê.
1 Kommentaar |
Bybel, kerkgeskiedenis, tekskritiek | Tagged: bibliolatrie, Bybel, evangelie, geloof, harmonie, kerkgeskiedenis, modernisme, Nuwe Testament, Tatianus |
Permalink
Bygedra deur Ronald