Oktober 2, 2009
Die digter Adam Small vat dit goed saam in sy gedig, so ek hoef nie veel daaroor uit te brei nie:
Doemanie
‘n Proefiet van jesus djý?
’n proefiet?
djy moet djou palys-hys
djy moet djoe aeroplane-motorkar
djy moet daai kamma sêd smile van djou
en djou tears
en djou woerawarra op die pulpit
moet djou skorrelsvol braai-atappels en –
vleis?
djou hys ’n woestyn? nou sal mens djou verbeel!
en hoe lyk dit moet djou kale pote vi’daai streamline ding
hoe lyk dit moet djou toega vi’ die vel van ’n kameel
hoe lyk dit moet daai skorrelsvol vi’sprinkane en wille hiening?
Leave a Comment » |
NG Kerk, Suid Afrika, armoede | Tagged: armoede, geld |
Permalink
Bygedra deur Ronald
April 9, 2009
Terry Pratchett is geniaal, ‘n ware satiriese fantasieverhaal-maestro. Ek het onlangs sy Making Money klaargelees. Wat ‘n fees! Ek weet nie waar kry hy sy idees vandaan nie, maar gewoonlik slaan hy die spyker op die kop. Twee tema’s in die boek staan vir my voorop:
- Pratchett beskryf die bankwese as in ‘n gemors – ‘n profetiese uitspraak, as mens daaraan dink. Dit gaan vir hom baie oor waarin die sekuriteit van geld/bankwese gesetel is. (Sien punt 2). In die proses wees Pratchett hoe onderduims die hele gedoente is / kan wees.
- Die oplossing (of is dit juis sy kritiek?) wat Pratchett bied is dat die sekuriteit van bankwese in die werkersklas lê. Interessant genoeg stel Pratchett juis hierdie laag in die samelewing as die grootste gevaar-wie hulle beheer, kan die wêreld oorwin. Hier lê ook die grootste potensiaal vir rewolusie! Dalk lees ek te veel in die hele storie in. Ten minste het dit my laat dink!
Die storie lyk natuurlik anders hier in Suid-Afrika. Die banke is in ‘n toestand, nog altyd. Mens sit ook nie jou geld in die bank om dit te laat groei nie, net om dit op te pas. Jy betaal hulle, anders as in Pratchett se tuisland. (So lyk dit vir iemand wat nou nie juis baie verdien nie!)
Afrika lyk op die oog af ’n bodemlose put te wees wat dors geld opslurp. Korrupsie; rykes wat al hoe ryker word; armes wat in sommige plekke lankal nie meer hul hoop in geld as handelsmiddel stel nie. Ek kies egter om mooi te luister wat Pratchett sê – of ten minste wat ek inlees in wat hy geskryf het. (Praat van lustig allegoriseer!) Die eintlike waarde van ‘n land is in sy mense. Dis dalk diep begrawe, soos ‘n skat, maar dis daar. Daar word bietjie hiervan uitgebeeld in The Motorcycle Diaries, een van my gunsteling flieks. Dit handel oor Che Guevara se lewe. Dis verseker verromantiseer, maar darem dra dit ‘n sterk boodskap. Gaan kyk dit gerus.
Wat my betref, ek val maar saam in hierdie bodemlose put. Om dit nog beter te stel: ek val SAAM met SA mense in hierdie put. In hierdie wonderlike, skatryk land.
Leave a Comment » |
Suid Afrika, armoede, boeke, flieks | Tagged: Afrika, armoede, geld |
Permalink
Bygedra deur Ronald
Maart 26, 2009
Ek was gister by ‘n gesprek oor hoe mens die Bybel moet lees. Snaaks genoeg, na gister se uitlatings, het ek maar redelik my mond gehou. Daar was in elk geval ander mense wat dit beter kan beduie. Wat my wel opgeval het – en sulke goed val my deesdae al hoe meer op – is hoeveel mense luukse leergebonde Bybels het. (Ek het self een – goed, ek het toevallig meer as een.) Kan ons dit regtig regverdig om so duur vir Bybels te betaal? Dis tog nie regtig funksioneel nie – net luuks?
Ek onthou toe ek nog ‘n kinders was, het my ouers altyd ons kolliehonde se medisyne in allerhande ander kos probeer verdoesel. Sommige van die goed het maar aardig geruik vir my; ander kere was dit prima stukkies vleis. Die honde het natuurlik die ou happies verslind. (Ons honde was nie van daardie tipes wat oormatig gepamperlang is nie – die kleinste ou stukkie vleis het hulle seker pure wolf laat voel.) Soms het hulle al rondom die pilletjies geëet, sodat mens maar weer probeer het met ‘n ander stuk. Een of ander tyd het die medisyne darem ingegaan.
Miskien is ‘n luukse Bybel maar net die happie waarin die medisyne gerol is. Dit wat mens in die Bybel lees, is immers nie altyd so lekker nie. O ja, daar is dele wat mens opgewonde maak. Dis nou natuurlik, as mens die ding lees. Ek dink nog steeds dis te veel geld wat vermors word. Dit beteken natuurlik nie dat ek nou myne gaan brand en die goedkoopste een gaan aanskaf nie – dis mos onsinnig om een fout met ‘n ander te probeer regmaak. Ek gaan egter nie sommer weer vir myself so ‘n luukse uitgawe koop nie, en definitief ander mense aanraai om twee keer te dink voor hulle doen!
7 Kommentaar |
Bybel, armoede | Tagged: armoede, Bybel, Bybelstudie, materialisme |
Permalink
Bygedra deur Ronald