Buite blink en binne stink?

November 13, 2009

Onlangs in ‘n erediens is daar in die agtergrond – terwyl die preek aangegaan het – teen die skerm kort boodskappe geflits van hoe “mense” die kerk sien. Dit wat die kerk verkeerd doen is op ‘n rooi skerm geprojekteer, dit wat die kerk reg doen op ‘n blou skerm. (Ek vermoed dis die erediensgroep wat die lyste saamgestel het – maar dit kon dalk ook meer mense as die erediensgroep se opinies gewees het.)

Dit wat my die meeste getref het, is dat die rooi boodskappe oorwegend dinge is wat binne die kerk gebeur, terwyl die blou boodskappe goed is wat die kerk as ‘n institusie doen en wat dus eintlik buite die dag-tot-dag bestaan van die “gewone” lidmate van die kerk plaasvind.

Byvoorbeeld:

Rooi: die kerk is skynheilig – dus, die mense wat kerk toe gaan is skynheilig.

Blou: die kerk rig kinderhuise op – dus, ons gee almal geld en betaal dan iemand om namens ons ‘n kinderhuis op te rig.

(Nou knyp ek maar my oë toe en hou duim vas, want ek is kleurblind, en hierbo is vir al wat ek weet dalk groen en pers.)

Dis ‘n groot verskil. Dis amper asof daar ‘n middellyn is wat die twee kante netjies kan skei. Aan die een kant staan die lidmate van die kerk en gooi al hul verantwoordelikheid soos ‘n sak silwermunte op die bietjie mense wat aan die ander kant van die lyn staan.

Verstaan mooi, ek sê nie ons moet ophou om die institusionele projekte van die kerk aan te pak nie. Maar solank daar hierdie onderskeid is tussen ons (die “gewone lidmate”)-hulle (die mense wat betaal word om goed te doen), selfs al is hierdie onderskeid net in hoe ons dink daaroor, is ons eintlik nie besig om regtig die evangelie te leef nie. Dan is die kerk maar eintlik, selfs al doen dit baie goeie goed daarbuite, buite blink en binne stink.

Hier sluit my selfpreek af. Ek gaan bietjie probeer kerk wees aan altwee kante van die lyn.


“Son of Man” – fliek

Mei 5, 2009

In dit wat volg, gaan ek so ‘n bietjie van die storie van “Son of Man” weggee. O, as jy die basiese storie nog nie ken nie – daar is vier amptelike weergawes (vyf, tegnies, as jy Markus 16:9-20 as ‘n eie evangelie in ‘n neutedop beskou). Maar dalk wil jy verras word – soos ek was – met die manier hoe hierdie storie uitgebeeld word. Moet dan nie verder lees nie! (Maar gaan kyk die fliek – sommer in hierdie week nog!)

Son of Man is die evangelie in ‘n Suider-Afrikaanse konteks. As ek reg verstaan, praat die mense in die storie Xhosa – dit het Engelse byskrifte. Die fliek is ‘n radikale interpretasie van die evangelie – as mens dit langs die ander vier (vyf) sit. Die koninkryk van Judea word beset – in tipiese Afrika-burgeroorlog styl, met mense met masjiengewere wat elke nou en dan op ander losbrand; korrupsie wat die oorhand het. Die fliek maak niks met Apartheid nie – verwys nie eers eenkeer daarna nie – dit kon eintlik, maar ek dink dit was ‘n bewuste keuse om dit nie te doen nie. Te midde van al hierdie geweld en korrupsie tree Jesus dan op en lewer ‘n boodskap van ‘n ander manier om dinge te doen – ‘n nie-geweld manier. Ag, eintlik vreeslik baie ander teologiese temas ook wat aangespreek word, op ‘n besonderse manier.

Die fliek begin in medio res, soos ‘n klassieke klassieke verhaal. (Ek verwys nou na Homeros se geskribbel. Die man had nogal talent.) Die eerste tonele beeld ‘n volwasse Jesus in die woestyn uit, waar die duiwel Hom versoek. Die Satan vat Jesus na ‘n duin, wys Hom die aarde, en seg dat as Hy hom aanbid, dan gee hy al hierdie lande aan Hom. Dit eindig met Jesus wat die duiwel by ‘n duin afstamp, met die woorde: “This is my world!” ‘n Snaakse manier om die storie te begin, het ek gedink. Dit beeld Jesus as so magtig uit – en ek was nie seker of dit in die Afrika konteks inpas nie. Die verhaal keer dan terug na die begin – Maria wat die boodskap van ‘n engel ontvang dat sy swanger gaan word, ens. Nie lank nie, of een van die mees aangrypendste dele van die fliek vind plaas – die kindermoord. Op hierdie punt is daar ‘n klein verhaaltjie ingebou wat nie in die Bybelse verhale is nie, maar noodsaaklik is in die fliek. Na ‘n aantal kinders wreed vermoor word, en Jesus en sy gesin toekyk, kom daar ‘n engel om Jesus te kom haal – dis amper ‘n tweede versoeking, een wat sê: “Dit alles kan nou eindig, hierdie beker kan by jou verbygaan.” Die kind Jesus, nog nie eers vier jaar oud nie, antwoord dan vasbeslote: “This is my world!” Die sirkel is voltooi; die tema van die fliek is aangekondig; die ondertoon van die fliek bereik sy volle trefkrag.

Die manier hoe die fliek eindig, was ook vir my ‘n aangename verrassing. Gedurende die fliek praat Jesus soveel wat ek as “politiek” gesien het, maar wat eintlik ‘n nuwe leefwyse was, dat ek skoon bang was Jesus staan nie uit die dood uit op nie. Hy word ook nie ‘n verhoor gegun nie, sommer net uit die weg geruim. “Crossan, hier kom ons!” het ek gedink. Jesus se lyk word in ‘n vlak graf êrens tussen niks en nêrens gegooi. Sy ma gaan haal dit egter, en hulle bind dit aan ‘n kruis vas wat uitkyk op die dorpie. Dan volg daar ‘n konfrontasie met die magte wat Judea beset, terwyl Jesus se volgelinge in Afrika-styl toi toi onder die kruis. (I kid you not. As jy nog nie hierdie fliek gekyk het nie, gaan kyk dit NOU.) Ek was ernstig bang dat hulle die fliek se boodskap tot ‘n soortvan politieke propaganda verskraal het. Ernstig, ek het nie gedink Jesus gaan opstaan nie. En DIT was vir my ‘n nuwe ondervinding. Want ons almal WEET mos Jesus gaan opstaan. Ons hoor dit dan al so baie! Maar hierdie keer het ek regtig gedink: daar is dit nou. Hy is dood. Hulle gaan Hom nie in hierdie fliek laat opstaan nie. Die boodskap is klaar.

Die karakters is interessant. Twee van Jesus se twaalf dissipels is vroue. Die enigste persoon wat ek dalk ‘n bietjie anders sou uitbeeld, is Judas. Die arme man is sleg van die begin af, volgens die fliek. (Goed dan, volgense die vier (vyf) evangelies ook.) ‘n Meisie wat saam met my die fliek gekyk het, het gemeen dat hulle darem ‘n aantreklike man gekry het om die rol van Jesus te vertolk. Sover dit my aangaan, is ek geneig om saam te stem. (Maar my opinie tel nie nou juis so baie in hierdie departement nie.)

Op die kassie van die DVD is daar ‘n aanhaling van ‘n  fliek resensent (van Sky Movies), waarmee ek ook hierdie post wil afsluit: “Mel Gibson – look and learn!”


Wat is die Bybel?

Maart 25, 2009

My broer sê nou die dag vir my dat hy vir hom ‘n boek bestel het wat die vier evangelies saam in een gooi (dus, ‘n “harmonie”). Dis een of ander Amerikaanse ou wat so probeer sin maak van die tydsverloop van die gebeure waarvan die evangelies vertel; ek kan ongelukkig nie onthou wat sy naam is nie. Aanvanklik het ek nie geweet hoekom die hele gedoente my gepla het nie, maar na ek ‘n rukkie daaroor gaan sit en dink het, dink ek ek het die probleem nou in my kop raakgevat. Dis ‘n probleem wat diep lê – dis ‘n probleem wat gaan oor wat die Bybel is, en wat dit vir mense beteken. Ek gaan my storie egter eers ‘n bietjie van ‘n draai laat loop – net om die punt ‘n bietjie te illustreer.

Sien, die Amerikaner is natuurlik nie die eerste ou wat daaraan gedink het om die vier evangelies te versoen nie. Die vroegste vertaling in Siries – so lyk dit vir ons – is dié van Tatianus, wat die vier evangelies (miskien ook ‘n vyfde een wat aan hom bekend was!) in een gesit het. (Hierdie vertaling staan bekend as die “Diatessaron” – en het al baie hoofbrekens besorg aan mense wat die tekstradisie van die Nuwe Testament bestudeer). Goed, miskien het hy dit van ‘n Griekse weergawe afgeskryf wat nie aan ons bekend is nie (behalwe dalk die stukkies wat hulle gevind het by Dura Europos?). Hierdie hele affêre het baie vroeg afgespeel – al in die tweede eeu na Christus. Na ‘n ruk het die (ortodokse) kerk besluit daar is verseker net vier evangelies wat in die versameling boeke hoort wat hulle as gesaghebbend sien, en het hulle probeer om elke moontlike teken van die Diatessaron uit te wis. (Nog hoofbrekens vir die geleerdes vandag.) Tatianus het ‘n baie vloeiende idee gehad van wat die evangelies is – dit vertel die verhaal van Jesus, en hoekom vier hê as daar een kan wees? Dalk was die Diatessaron ‘n hulpmiddel vir sendelinge om makliker met ander mense oor Jesus te praat – daarom ook die vertaling in Siries.

Die hedendaagse poging om die vier evangelies saam te flans, is (myns insiens) egter iets heel anders. Dit kan ook nie anders nie, want dit gebeur na die Aufklärung, in die tyd van (en net na) die modernisme. Dit gaan daaroor om die Bybel as waar te bewys – as ons al die verskille tussen die evangelies kan uitstryk, dan moet dit mos so wees dat die Bybel onfeilbaar is. Dalk is die logika juis andersom: die Bybel is onfeilbaar, daarom moet ons die verskille tussen die evangelies kan uitstryk. Dit is juis waar my ongemaklikheid met die hele storie sit: dat ons die BYBEL dan so op die voorgrond stel, dat ons ons geloof aan die absolute (woordelikse) waarheid daarvan moet koppel. Daar is selfs ‘n woord hiervoor: bibliolatrie (=bybelaanbidding). Dis nou wanneer ons vergeet dat die Bybel eintlik na God verwys, en dat dit self nie aanbid behoort te word nie. Dis eintlik baie snaaks – want selfs die skrywers van die Nuwe Testament het so daaraan gedink – dit wat ons vandag as die Ou Testament ken, en veral die profeet Jesaja (40-55), het vir hulle bloot gewys na Jesus. Daarom kon hulle maar dele van die Bybel uit konteks aanhaal, of selfs hier en daar van die aanhalings verander, sodat dit nog duideliker vir mense kan wys wie Jesus is.

Dus is my probleem nie soseer met die feit dat die woorde van die Bybel in ‘n ander volgorde rangskik word nie – my probleem is die (moontlike, moet ek byvoeg – ek ken nie die man wat dit gedoen het nie, dis maar net ‘n vermoede) motief wat daar agter sit. Wat my betref: ek is tevrede daarmee dat die Bybel vir my ‘n rigtingwyser is na God – wat vir my van verskillende kante af toelig wie God is – sodat ek uiteindelik ‘n verhouding met God kan hê.