Coca-Cola, Pseudo-Paulus en Plagiaat

Julie 29, 2009

Kolossense is waarskynlik nie deur Paulus geskryf nie. Nou goed dan, dit kon dalk deur Paulus geskryf gewees het. Efesiërs, egter, het ‘n kleiner kans om regtig deur Paulus geskryf te gewees het.

Nou ja, daar is allerhande goed wat mens in gedagte moet hou as mens so ‘n uitlating maak. Een van hulle kan wees dat iemand anders die brief vir Paulus geskryf het – dus, dat Paulus ‘n tipe van ‘n “sekretaris” gehad het – (mens noem so iemand ‘n amanuensis). Daarom dat hy aan die einde van sommige briewe noem dat hy nou “met sy eie hand” skryf. (E.g. 1 Kor 16:21, maar veral Gal 6:11).

Hoekom sal iemand dan homself as Paulus voordoen as hy skryf? Een rede kan wees omdat hy ‘n leerling van Paulus was, en hy meen dus dat dit eintlik maar in elk geval is wat Paulus geskryf het. ‘n Ander moontlikheid kan die beste met ‘n hedendaagse voorbeeld uitgelig word: Coca-Cola.

Ek hoef niemand te vertel wat Coca-Cola is nie. En dit is juis die punt! Iewers het ek gehoor (en ek glo dit, daarom dat ek dit sommerso uitblaker) dat sou Coca-Cola alles verloor wat hulle het – elke pennie – sal hulle weer van voor af kan begin en ‘n nuwe sukses van die storie maak. Selfs al proe die koeldrank wat hulle dan maak heelwat anders as dit waaraan ons gewoond is. Alles net omdat hulle handelsmerk so bekend is.

In die vroeë kerk was Paulus ook amper so ‘n handelsmerk. Om iets aan sy naam te koppel, was om dit besonderse waarde te gee. Selfs dan ook die mense wat onder hom “studeer” het – hierdie mense wat naby hom was, het hoë status gekry bloot omdat hulle by hom was. Dit was veral onder die heidense (i.e., nie-Joodse) kerk dat Paulus se stem soveel werd was – en raai bietjie watter groep het toe baie vinnig die grootste deel van die vroeë kerk uitgemaak?

Deur op die Paulus-podium te klim, kan mens soveel meer mense bereik. Antieke skrywers het so iets nie as plagiaat gesien nie. Ou Paulus sou dalk opgewerk geword het as hy met iets nie in die brief saamgestem het nie – en dit sal ons nou nie weet nie – maar as hy saamgestem het, sou hy waarskynlik nie juis omgekrap gewees het nie.


Behoort, beleef, bely: Saampraat met Nelus Niemandt

Junie 29, 2009

Ek skryf hierdie post na aanleiding van Prof Nelus Niemandt se artikel in die Beeld.

Prof Niemandt betoog kortliks die volgende: in plaas van ‘n kerk waarin hul geloof bely, hul geloof dan daarna kan beleef en dan uiteindelik tot die gemeenskap behoort (hierdie is die tradisionele manier van kerkwees in veral die NG Kerk),  moet die volgorde omgeswaai word: na ‘n behoort, beleef, bely situasie.

Ek kan nie help om in breë trekke hiermee saam te stem nie. Die eienskappe wat my generasie (X) tipeer, voel ek mos aan my eie bas: ons is nie meer so lojaal aan instansies nie, eerder die ideaal wat agter die instansies lê. (Juis nou die dag weer hieroor gepraat met die Dinsdaggroepie – julle weet wie julle is.) Daarom ook dat ons nie noodwendig onsself aan ‘n kerk vasbind net omdat dit van ons verwag word nie – ons wil sien hoekom ons aan daardie kerk moet behoort. Terwyl ons terselfdertyd ook daarna hunker om te behoort …

Soos sulke dinge maar gaan (hierdie is immers ‘n gesprek) moet ek egter ‘n paar punte uitlig wat ek wil byvoeg of effens wil verander:

  1. In die tradisionele model was daar nou nie juis veel belewing nie. Uitlewing miskien. In die nuwe model voel ek ook dat beleef enbehoort oorvleuel – tot so ‘n mate dat dit op presies dieselfde tyd kan gebeur.
  2. Prof Niemandt raak die punt aan, maar brei nie soveel daarop uit nie: Jesus het eerstens mense verwelkom, en daarna het die geloofsreis posgevat. Waar ander groepe eksklusief was – soos die Qumran gemeenskap – en hoë eise gestel het wat verband gehou het met heiligheid – was die beweging wat rondom Jesus ontstaan het radikaal inklusief. Ten minste, dis die slotsom waartoe ek kom met my gedeeltelike verstaan en lees van die Bybel (en ander tekste). (Nota: en baie, baie meer leeswerk moet ek nog doen! :) )
  3. Die gesprek moet waarskynlik oor meer gaan as net die omkeer van hierdie volgorde. Die kerk gaan waarskynlik ook nie dieselfde lyk as wat dit nou lyk nie. Die fokus kan, myns insiens, nie meer soseer op die instansie val nie. ‘n Organiese verstaan van die kerk – dit kan dalk werk. Nietemin, dis nie nodig om te veel hieroor uit te brei aangesien die voorbrand vir so ‘n gesprek in die SA kerkgemeenskap alreeds besig is om gedoen te word, onder andere deur Prof Niemandt in Nuwe Drome vir Nuwe Werklikhede. (Dis beskikbaar by Loot.co.za vir slegs R82, of by Kalahari.net vir slegs R79. Bargain! Koop dit sommer vir jou hele kerkraad as ‘n middel-van-die-jaar kersgeskenk.)

Daar is een aanhaling in Prof Niemandt se artikel wat my sal bybly, en wat ek heelhartig sal onderskryf; daarmee sluit ek ook dan hierdie deel van die gesprek af:

Mense stel belang om die liefde van Jesus van Nasaret in aksie te sien.

Mag dit in ons kerkwees / liggaam-van-Christus-wees elke dag al hoe meer sigbaar word.


Wat is die Bybel?

Maart 25, 2009

My broer sê nou die dag vir my dat hy vir hom ‘n boek bestel het wat die vier evangelies saam in een gooi (dus, ‘n “harmonie”). Dis een of ander Amerikaanse ou wat so probeer sin maak van die tydsverloop van die gebeure waarvan die evangelies vertel; ek kan ongelukkig nie onthou wat sy naam is nie. Aanvanklik het ek nie geweet hoekom die hele gedoente my gepla het nie, maar na ek ‘n rukkie daaroor gaan sit en dink het, dink ek ek het die probleem nou in my kop raakgevat. Dis ‘n probleem wat diep lê – dis ‘n probleem wat gaan oor wat die Bybel is, en wat dit vir mense beteken. Ek gaan my storie egter eers ‘n bietjie van ‘n draai laat loop – net om die punt ‘n bietjie te illustreer.

Sien, die Amerikaner is natuurlik nie die eerste ou wat daaraan gedink het om die vier evangelies te versoen nie. Die vroegste vertaling in Siries – so lyk dit vir ons – is dié van Tatianus, wat die vier evangelies (miskien ook ‘n vyfde een wat aan hom bekend was!) in een gesit het. (Hierdie vertaling staan bekend as die “Diatessaron” – en het al baie hoofbrekens besorg aan mense wat die tekstradisie van die Nuwe Testament bestudeer). Goed, miskien het hy dit van ‘n Griekse weergawe afgeskryf wat nie aan ons bekend is nie (behalwe dalk die stukkies wat hulle gevind het by Dura Europos?). Hierdie hele affêre het baie vroeg afgespeel – al in die tweede eeu na Christus. Na ‘n ruk het die (ortodokse) kerk besluit daar is verseker net vier evangelies wat in die versameling boeke hoort wat hulle as gesaghebbend sien, en het hulle probeer om elke moontlike teken van die Diatessaron uit te wis. (Nog hoofbrekens vir die geleerdes vandag.) Tatianus het ‘n baie vloeiende idee gehad van wat die evangelies is – dit vertel die verhaal van Jesus, en hoekom vier hê as daar een kan wees? Dalk was die Diatessaron ‘n hulpmiddel vir sendelinge om makliker met ander mense oor Jesus te praat – daarom ook die vertaling in Siries.

Die hedendaagse poging om die vier evangelies saam te flans, is (myns insiens) egter iets heel anders. Dit kan ook nie anders nie, want dit gebeur na die Aufklärung, in die tyd van (en net na) die modernisme. Dit gaan daaroor om die Bybel as waar te bewys – as ons al die verskille tussen die evangelies kan uitstryk, dan moet dit mos so wees dat die Bybel onfeilbaar is. Dalk is die logika juis andersom: die Bybel is onfeilbaar, daarom moet ons die verskille tussen die evangelies kan uitstryk. Dit is juis waar my ongemaklikheid met die hele storie sit: dat ons die BYBEL dan so op die voorgrond stel, dat ons ons geloof aan die absolute (woordelikse) waarheid daarvan moet koppel. Daar is selfs ‘n woord hiervoor: bibliolatrie (=bybelaanbidding). Dis nou wanneer ons vergeet dat die Bybel eintlik na God verwys, en dat dit self nie aanbid behoort te word nie. Dis eintlik baie snaaks – want selfs die skrywers van die Nuwe Testament het so daaraan gedink – dit wat ons vandag as die Ou Testament ken, en veral die profeet Jesaja (40-55), het vir hulle bloot gewys na Jesus. Daarom kon hulle maar dele van die Bybel uit konteks aanhaal, of selfs hier en daar van die aanhalings verander, sodat dit nog duideliker vir mense kan wys wie Jesus is.

Dus is my probleem nie soseer met die feit dat die woorde van die Bybel in ‘n ander volgorde rangskik word nie – my probleem is die (moontlike, moet ek byvoeg – ek ken nie die man wat dit gedoen het nie, dis maar net ‘n vermoede) motief wat daar agter sit. Wat my betref: ek is tevrede daarmee dat die Bybel vir my ‘n rigtingwyser is na God – wat vir my van verskillende kante af toelig wie God is – sodat ek uiteindelik ‘n verhouding met God kan hê.