Ou skool worship en prefab lofprysing

Oktober 27, 2009

Ou skool worship. Uit volle bors.

Soveel so dat ek nie weet wat om daarmee te doen nie.

Soveel so dat Jesus, groot bo almal klink soos ‘n skool wat alles gee om die geesbeker by interhoër in te palm. Helaas, nee, ek dink nie ek het al ooit by ‘n sportbyeenkoms ‘n lied gehoor wat met soveel drif gesing word nie.

Dit skreeu – ja, dit grens letterlik aan skreeu – teen alles wat ek al in my korte lewe oor lofprysing (en om lofprysing te lei) geleer het. In my kop moet daar ‘n gewyde stilte wees; daardie meaningful silence êrens in die middel van ‘n liedjie in die middel van die hele affêre. Lofprysing moet mos min of meer hierdie patroon hê: ‘n raserige begin, ‘n diep middel, met ‘n fokuspunt êrens, en dan (bege)lei die musiekspan weer die mense uit om hulle gereed te kry vir die boodskap wat volg.

Lofprysing by die Jakaranda kinderhuis lyk soos volg: ‘n raserige begin, ‘n raserige middel, en dan ‘n raserige einde. Bygesê, hulle laat hulle ook nie eintlik juis lei nie – deels omdat hulle dalk nie die musiekspan so goed kan hoor nie; die gevolg hiervan is dat ons eerder hulle tempo vat as andersom. Aanvanklik het ek gedink hierdie mense dryf die spot met ons; maar na dit keer op keer gebeur, dink ek nie meer so nie. Inteendeel, ek dink hulle hou van sing. Uit volle bors. Die hele tyd.

Dit dwing natuurlik die vraag na vore: is daar iets verkeerd hiermee? Verseker nie!. Die hele gedoente wys net hoeveel die prefab idee van lofprysing in my kop is: daar moet eenvoudig stilte tussen-in wees. Die prefab idee van lofprysing hoor ons gereeld in allerlei vorme: by die kerk, op CD’s, by lofprysingsshows. Dit veronderstel ‘n sekere wyse van omgaan met musiek en ‘n sekere kwaliteit van musiek. Daarmee is nou nie noodwendig iets verkeerd nie – veral kwaliteit, maar sodra prefab lofprsying ons enigste manier word waarop ons sing, begin ons ons “lofprysing” altyd daaraan meet – dit word ‘n maatstaf (wat deur ander mense opgestel is!) om te bepaal of ons regtig nou geworship het.

Daarom dink ek nie ek moet die mense by Jakaranda kinderhuis “opvoed” in lofprysing nie. Hulle ken dit klaar – dalk meer as ek. Ja, inteendeel – ek sê dankie vir dit wat ek by hulle kon leer, en ek sien uit na die volgende keer wat ek saam met hierdie mense sang kan geniet.

 

 

 


(Geestelike) Supersterre!

Oktober 12, 2009

Die Oostelike Sinode van die NG Kerk het ‘n liedjieskrywerskompetisie uitgevaardig. Dit het my baie laat dink.

Hoekom juis die kerk se musiek op dieselfde manier as die wêreld se musiek inrig? Op die ritme van dieselfde sisteem? Is dit sinvol om ‘n Idols te hou sodat ons ‘n beter liedereskat vir die kerk kan opbou?

My dink is in twee geskeur.

Aan die een kant is dit wonderlik dat daar soveel nuwe liedere in omloop kom. (Vir hierdie sinode is daar 206 liedere ingeskryf! 206 – maar nie almal gaan noodwendig gebruik word nie. Ek hoop daar is meer liedere wat mens kan gebruik as net die wat gewen het.) Dit is belangrik, want musikale mense mag dalk van verveling dood neerslaan as daar nie nuwe goed geskryf word nie. (Meeste kerke het nie versekering teen hierdie tipe goed nie.) Belangriker as dit, is dat daar juis ‘n tekort aan liedere is vir die handjievol mense wat hierdie styl liedere in hul eredienste wil gebruik. Die hoendertand-getal goeie liedere waaruit hulle op die oomblik keuses kan maak, bied min of meer die verskeidenheid wat my klerekas my elke oggend bied.

Dan moet ek ook skerp kritiek teenoor die verIdolisering van die kerk se musiek uitspreek. Wel, om die waarheid te sê, ek het nog altyd gedink Idols is in elk geval ‘n bietjie van die pad af. Dis so … sinteties. Soos plastiek-ketties. Ja, baie soos plastiekketties, die musiek word ook in ‘n gietvorm ingedruk.

Dalk sou dit ‘n goeie idee wees as ons ons aandag ‘n bietjie bestee om mense te help om eerder in gemeentes liedere te skryf – vir gemeentes. Eerder as om die ore na buite te rig, om na een of ander Superster-strooipop se pype te dans. Dit sou vir my sin maak. As ‘n been-af verliefde sot ‘n liefdeslied skryf, mag dit dalk vir almal rondom hom pragtig wees, maar dit het partykeer net regtig betekenis vir sy bessie-wang stroopgesiggie. (Dan vra mense nog hoekom ek nie ‘n meisie het nie!) Dit mog dalk die geval wees met ons kerkmusiek ook. Ons smokkel soveel liedere van buite af in – nee, die oorgrote meerderheid van ons liedere – dat dit soms maar net mooi op die oor val. En dood lê verkluim daar buite. Dalk kan ons gemeentes begin help om vir hulle self liedere te skryf?

Natuurlik is dit nie altyd sleg om liedere van buite af te kry nie. Party mense het nou maar eenmaal net die gawe om dit goed te kan doen. Dit moet ons deel met ander. Veral die wat in Suid-Afrika self begin liedere skryf. Dit spreek tog almal van ons aan – ten minste verstaan ons die taal daarvan. Daarom is ‘n liedjieskryfkompetisie dalk nie die slegste ding wat in die kerk kan gebeur nie.

Ek moet darem ook in hierdie post iets sê van hoe die Oostelike Sinode se liedjieskryfkompetisie uitgedraai het. Ek is opgewonde oor die nuwe liedere wat ons bykry. Ek het nie so baie van alles gehou nie – maar smaak verskil seker. Hier en daar het ek so effens begin skrik vir die teologie van ‘n lied – maar aan die ander kant, ek skrik elke nou en dan effens vir die teologie van ander mense se uitsprake (en gereeld as ek in die spieël kyk).


Fokofpolisiekar en die Intense Leegheid van die Siel

Augustus 14, 2009

‘n Vriend van my, wat (onder andere) hier blog, doen navorsing oor Fokofpolisiekar. Meeste mense weet dit nie, en ek vermoed sal dit ook nie sommer raai nie, maar ek het meer as die helfde van my MDiv skripsie met Fokofpolisiekar in die agtergrond (en BAIE koffie) geskryf.

Hulle is eenvoudig net een van die groepe wat die beste musiek – musikaal, bedoel ek nou – in Afrikaans maak. Ek vermoed dit is die hoofsaak hoekom baie mense na hulle luister. Inderdaad, ek is nie so seker of almal noodwendig hulle boodskap snap nie – vergelyk byvoorbeeld hierdie lirieke van Hemel op die Platteland wat ek op die internet gekry het (sal maar eerder nie sê waar nie):

Kan jy my skroewe vir my vasdraai?
Kan jy my albasters vir my find?
Kan jy jou idee van normaal
By jou gat opdruk?
Kan jy?
Kan jy Aberdeen spel?

Ironies dat die ou nie “vind” kan spel nie – of ten minste nie gesien het dit is verander deur ‘n woordverwerker nie. Nog meer van ‘n ironie dat die woord “a-p-a-t-i-e” nou vervang is met “Aberdeen” – wat beteken die hele punt van die liedjie is gemis.

Hemel op die platteland is een van die groep se ouer liedjies. Dit bevat natuurlik ook hierdie opspraakwekkende gedeelte:

Kan iemand dalk ‘n god bel
En vir hom sê ons het hom nie meer
Nodig nie
Kan jy -
Kan jy apatie spel?

Ek dink hierdie is ouens wat erg ontnugter is – deur die kerk; deur die samelewing waarin hulle grootgeword het. Ek dink hulle is ouens met diep insig.

Ek dink ook hulle is verkeerd.

Hulle lewer egter sosiale kommentaar wat mens nie sommer kan miskyk nie. Sosiale kommentaar – en kommentaar op die kerk – wat ek hoop op een of ander tyd deur alle teologiestudente in die gesig staar word. Ek gaan nie alles in hierdie een post kan aanraak nie. Ek kan maar net hier en daar so losweg vat. Die volgende deel uit Lugsteuring, byoorbeeld, het my veral aangegryp:

Ek wil net nie verkeerd wees in
hierdie lewenslang kleedrepitisie nie
Is die monster wat jou jaag
emosionele progressie?
Is jy die enigste vyand van
spirituele tegnologie?
Ons oë is vervang met skerms
en ons siele met prentjies van die see

Nou, ek vermoed ons het hier te doen met ‘n erediens.  Dink mens kan dit sien in die res van die liedjie ook. Dink dis nogal baie raak. Die hele “kerk-toe-gaan” ervaring het mos tot ‘n groot mate ‘n toetssteen geword vir mens se geloof. Dit spreek van onegtheid – iets wat mens gerus uit jou geloof uit kan sny.

Terselfdertyd, dink ek, is hierdie ouens bewus van iets groters, selfs al kies hulle om dit mis te lees. Ja, hulle wil die Greep van Geloof afgooi. Maar waarmee sit mens dan? Ek dink mens kan dit gerus die Intense Leegheid van die Siel noem. Kyk bietjie na hierdie aanhaling – al die lirieke van Tiny Town:

In wrede woede het ek die
hand wat beheer gebyt
Verwyt myself op harder en
harder grond neergesmyt
Dis nou ek wat die leiband lei
Te veel verskeur om sulke
argumente ernstig op te neem
Miskien is niks soos wat ek dink dit is nie
My greep op my geloof glip gereeld
My wonde wonder waar genesing kom vandaan
Soet slaap sonder sonde vanaand

Miskien is niks soos wat jy dink dit is nie
Jou greep op jou geloof glip gereeld
Jou wonde wonder waar genesing kom vandaan
Soet slaap sonder sonde vanaand

Hierdie liedjie het my aangespreek. Ek waardeer die eerlikheid daarvan – die absolute openheid. Ek betreur die feit dat die kerk nie ‘n oop genoeg ruimte – en ‘n veilig genoeg ruimte – skep vir mense wat sulke vrae wil vra nie. Die gevolg? Afgesien daarvan dat die idee van die kerk gesien word as iets met gesag wat op mens afgedwing word? Iets wat afgegooi moet word? Na my mening: mense wat verskeur word. Hierdie is goed waardeur ‘n mens moet worstel; maar daar is geen plek daarvoor nie. Hierdie is goed waarmee ek graag mense sou wou uitdaag; maar daar is geen plek daarvoor nie.

Anderkant die vermaaklikheidskerk en die Intense Leegheid van die Siel lê daar antwoorde. Graag sal ek mense daar wil sien aankom, maar dit moet nie geforseer wees nie. Sal ek Fokofpolisiekar vir mense aanbeveel om hulle hiermee te help? Nie sommer vir enigiemand nie. Vir teologiestudente – wel, miskien. Iets anders wat ek wel definitief vir teologiestudente sal aanbeveel is om Oppikoppi toe te gaan – sodat hulle kan leer van die wêreld, van liefde en aanvaarding. Ja, nie noodwendig om mense daar te gaan bekeer nie, maar net om bietjie waar te neem – en te leer. Plus, mens hoor dalk net ‘n bietjie goeie musiek ook. Dít is egter ‘n post vir ‘n ander dag.


Luidkeels 3

Junie 3, 2009

So, dis amper weer tyd dat die uiters suksesvolle Retief Burger en kie ‘n derde CD / DVD opneem.

Hierdie keer word daar egter gedoen waarvan ‘n mens net kan droom – of wel, dalk het dit die vorige keer ook gebeur, maar ek het verseker nie daarvan geweet nie. Hierdie keer word die musiek voor die tyd vrygestel – in ‘n onverwerkde vorm, maar nog steeds! Nou al kan mens dit van die Luidkeels webblad aflaai – sodat mens saam kan sing die dag van die Groot Opname – maar meer as dit, nou kan mens dit solank in kerke begin sing! Dankie tog vir die digitale wêreld!

Op die oomblik is ek besig om daarna te luister. Dit klink goed, baie gefokus op lof (wat verwag mens?). Dit klink baie Retiewerig. Wat ‘n goeie ding is. Sien uit daarna om die verwerkde liedjies te hoor – en ook by die opname (R40, by NG Moreleta Park, Saterdag, 25 Julie 2009).

Ek gaan ook dadelik begin gebruikmaak van hierdie liedjies – so vars soos pasgebakde plaasbrood – as ons by die Jakaranda kinderhuis (in Pretoria) begin musiekmaak. Iemand lus om ons daarmee te help? Dit sal lekker wees as mens ‘n span het wat kan afwissel.

Wat kan mens nog sê van Luidkeels 3? Om by die laaste metafoor te hou – hierdie opname kan nie ‘n misbaksel wees as mense dit al voor die gebeurtenis begin gebruik nie!


Wie slaan deesdae (letterlik) die drom in Afrika?

Mei 17, 2009

Ek het die voorreg om by NG Arcadia se musiekbediening betrokke te kon raak. Sommer by die eerste 11:00 diens wat ek bygewoon het, het die finalejaar teologie student (wat toevallig ook vandag sy proefpreek gedoen het – praat van vleuende vaandels!) die gemeente uitgenooi om by die band betrokke te raak. Katvoet het ek aangebied om saam te speel – ek wou niemand se plek vat nie, maar dit het na ‘n plek gelyk waar ek gelyk verhoudings kan bou en my talente kan inspan. 

Dit het toe so uitgewerk dat dit slegs ek en Jacques, die finalejaar, was wat opgedaag het wat wel musiekinstrumente kon bespeel. (Jacques kitaar en ek baskitaar.) Vir drie Dinsdae na mekaar het ons nou al ‘n ander dromspeler gehad – wat die Jembe moes bespeel. Tot my uiterste verbasing het elkeen van hierdie drie (al drie swart mans) dit moeilik gevind! 

Ek praat toe tydens ontbyt met ‘n vriendin van my wat musiek swot. “Ja,” sê sy, “jy moet onthou die Jembe is ‘n Noord-Afrika instrument.” Een merkie langs my naam vir stereotipering! Die gesprek raak vinnig dieper. My vriendin swot musiekterapie – en hulle bespreek dikwels die rol van musiek in die samelewing, en veral die stad. Sy skilder die prentjie so treffend: die mense wat in die middestad van Pretoria bly, is lankal nie meer die mense wat op die platteland bly nie. Sommige van hulle het hier in Pretoria grootgeword. Dis nie meer dieselfde kultuur nie. Sy sit die dink in my los: dis nou ‘n mengelmoes. Kultuur is ‘n glibberige ding! ’n Tweede merkie langs my naam vir stereotipering!

Vroeër vanaand koffie-kuier ek by ander vriende. Een van hulle was vir langer as ‘n jaar in Burundi – en sy vermaak ons gereeld met stories (ligtelik en ernstig!) oor haar wedervaringe. “Ja,” sê sy, “dromspeel in Burundi verskil van dorp tot dorp.” Sy vertel ons hoe sy leer dromspeel het in een dorp. (Ek glo haar – ek het haar al in aksie gesien. Sy werk teen ‘n tempo van ongeveer ‘n vriend / vyf minute.) In ‘n ander dorp kom sy mense teë wat duidelik sukkel – tot sy hulle reghelp!

Dis maklik om mens te misgis met mense-groepe. Dalk is dit ‘n beter pad om te stap as mens mense leer ken vir hulself; hoe hulle elkeen afsonderlik regtig is.


Antieke kopiereg en ‘n digitale wêreld

April 10, 2009

In die ou, ou dae was boekeskryf nie so ‘n maklike ding gewees nie. Ek praat nou van die ou, ou dae voor almal van ons se oumagrootjies. In die eerste paar eeue van hierdie jaartelling. Behalwe dalk die juffrou wat in ons hoërskool se bib gewerk het (en toevallig ook die geskiedenis-onnie was) – sy het dalk daardie dae gesien. Om mee te begin, die kans dat jy kon lees was maar klein. Sommige meen tot 20% van die samelewing. (Ons is vinnig besig om weer daar uit te kom.) Lees en skryf is nie dieselfde ding nie; die kans dat jy kon skryf was waarskynlik nog kleiner as 20% – dalk so min as 5%. Ordentlike skryfgoed was duur. Gekke en dwase was dus volop. Hulle het selfs op blare gegriffel, en ou potskerwe. (Mens sou ‘n lang opstel kon skryf oor die meerdoeligheid van gebroke potskerwe. Elke nou en dan, byvoorbeeld, het mens ‘n ou potskerfie nodig gehad om jou swere mee te krap). 

Kopiereg was nog ‘n groter “probleem”. Sodra mens jou werk klaar geskryf het – so het dit met baie skrywers / digters gegaan – het mens ‘n private partytjie gehou en dit dan gaan voordra aan iemand wat genoeg geld gehad het om jou te borg om die hele ding gepubliseer te kry. Dan het daardie persoon mense betaal om ‘n paar kopieë te maak van jou werk – en dan, boeta, dan het daardie klein werkie van jou (so 12 boekrolle?) vrye teuels gekry. Mense het oor en weer die goed uitgeruil, gekopieër en dan weer aan ander gegee om afskrifte te maak. Daar was mense wie se werk dit was om boeke oor te skryf. (Met boeke bedoel ons hier natuurlik grotendeels boekrolle.) Dit was egter nie die groot probleem nie – dit was daardie ouens wat net kon lees waaroor jy jou moes bekommer. Amateurs. Uiteindelik het jou werkie op baie plekke heel anders gelyk as toe jy dit geskryf het.

Iewers in die verlede het dinge verander. Kopiereg het sy opwagting gemaak. Dit moes seker kort na Gutenberg en sy nederige kontrêpsie gewees het. Nou was dit ewe skielik doodsonde om by iemand anders af te skryf. (‘n Siekte wat tot vandag toe nog in skole gevind word.) Dit wat jy geskryf het, was joune – en tot ‘n groot mate kon jy beheer wat daarmee gebeur. Behalwe as iemand besluit al jou boeke moet brand. (Die Verligting.) 

Tot onlangs. Snaaks hoe die wêreld dikwels in sirkels loop! Die digitale eeu maak dit nou makliker as ooit tevore (selfs mense wat nie kan lees en skryf nie – die grootste gedeelte van die kinders in SA skole; en in die Sondagskool) om goed te kopiëer. Kliek – kliek: dis soos toorkuns. Enigiemand wat ooit met ‘n stel skurwe blare, potskerwe of selfs luukse vellum moes spook, sou groen wees van jaloesie. Dis onafwendbaar: ons stuur af op ‘n situasie waar mense weer beheer verloor oor hulle werke! Dit sluit vandag natuurlik musiek, boeke, rekenaarprogramme en wie-weet-wat nog alles in. Daar is ook niks wat hierdie reuse-wiel gaan stop nie. Die mense (outeurs!) wat dit eerste besef (skuus, ek bedoel al ‘n hele rukkie terug besef het), gaan die beste daarvan afkom.


Kaleidoskoop, mosaïek of verkleurmannetjie op ‘n smartiebox – hoe lyk ‘n multi-kulturele erediens?

April 1, 2009

Marcel Barnard praat van “bricolageliturgie”. Sommige kerke verwys na ‘n “mosaïek”. Iemand het al êrens melding gemaak van ‘n kaleidoskoop. Al hierdie is maniere om van ‘n erediens te praat wat uit verskillende kleure, geure en klanke – verskillende geloofstradisies – aanmekaargeweef is. Verskillende kleure? Verskillende geure? Verskillende klanke? Dis nou juis my probleem: dit voel vir my of al hierdie beskrywings eintlik maar nog steeds twee-dimensioneel is; of dit uit dieselfde kultuur kom (en jy is welkom hier, solank jy jouself kan aanpas om by hierdie kultuur in te skakel) en of dit eintlik maar nog ‘n mono-kultuur is, waarvan die liturgie net wyd uiteenlopend is. Veral hier in smartiebox Suid-Afrika … 

Daar is twee goed, op die oog af, wat verhoed dat mens ‘n ordentlike, drie-dimensionele, multi-kulturele diens kan hê. Dit word natuurlik as ‘n verskoning gebruik in baie kerke (onder andere ‘n sekere volkskerk): taal en musiek. Musiek is mos in elk geval ‘n probleem, ons sukkel om ons mono-kultuur eredienste se nate bymekaar te hou. Dis nou as gevolg van die onderskeie subkulture wat soos olie en water meng. Nogtans, ons het nie eers begin om die volle impak van die verskil in musiek tussen kulture aan te spreek nie.

Taal skep natuurlik glad nie so groot probleem as wat party mense dink nie. ‘n Tolk is eintlik nie so steurend nie – meeste mense bly nog steeds 7de Laan kyk – en Engels – as party mense net hul nukke sal los – is ‘n bruikbare common denominator (gemene deler – sien, dit was nie so moeilik nie!) 

‘n Derde noemenswaardige ding, is dat baie kerke dienste het in verskillende tale. Ag, hoe pragtig! Hoe wonderlik! Solank ons net nie die kerkgebou op dieselfde tyd moet beset nie, o weë! Dit gaan nou nogal bereidheid en ‘n sekere stuk opgawe verg om hierdie dienste bymekaar te gooi.

Natuurlik is hierdie lang relaas wat ek nou net gevoer het, vanuit my perspektief (dit van die NG Kerk?) gesien. Daar is hordes gemeentes wat elke Sondag multi-kulturele dienste het – ek dink byvoorbeeld aan ‘n klein gemeente in Mamelodi – daar is verskeie tale en kulture teenwoordig! Ek kan egter die NG Kerk gemeentes wat so kerk hou, op my een hand se vingers tel. Dalk is dit beter om hulle hier op die blog te tel:

NG Riviera. Hulle het nie elke aand saam diens nie – daar is ‘n Afrikaanse diens en ‘n Engelse diens dieselfde tyd, maar soms gooi hulle die twee saam. Ek was juis hierdie Sondag in so ‘n gesamentlike diens – en het baie daarvan gehou. Die prediker het in Afrikaans gepreek, maar die Engels het op die projektorskerm verskyn. Daar is in Afrikaans en Engels gebid (en gesing), en die liturgie is in altwee tale hanteer. Natuurlik kan mens hierdie hele gedoente nog meer verfyn – maar ek dink dis ‘n stappie in die regte rigting.

Andrew Murray – gemeente. Alhoewel ek nog nie self daar was nie, en ek vermoed hulle in elk geval net in Engels ‘n diens het.

Dalk verraai ek nou my onkunde, maar dis waar my lysie stop. Ek besef ook dat my post nie regtig enige vrae antwoord nie. Miskien is dit eerder ‘n aankondiging dat ek oor hierdie sakie dink, en ‘n uitnodiging vir enigiemand anders om saam met my daaroor te dink. Hoe lyk ‘n multi-kulturele erediens? Kan ons dalk by die vroeë kerk gaan leer? Grieke en Jode? Olie en water?