Sing-skree die tragedie van my lewe

Augustus 12, 2009

Hierdie post moet ek begin met die belydenis dat ek my droomjob het. Loshande. Daar kort nog hier en daar iets, maar dit wat ek doen is verseker een van die goed wat ek al van kleins af wou doen – al was dit dan ‘n dormante droom. Baie min mense kan dit sê. (‘n Vriend van my werk by ‘n speelgoedfabriek - bou robotte vir ‘n lewe. Ek gee toe dat hy dit ook mag sê. So nou en dan help ek hom “navorsing” doen.)

Dis dalk ook ‘n goeie idee om hier toevallig net op te merk dat my idee van ‘n droomjob deels toe te skryf is aan die invloed wat Indiana Jones op my lewe gehad het. (Dis egter ‘n post vir ‘n ander dag!)

Lank terug, het my vriend in ‘n koffiegesprek vandag die situasie mooi uiteengesit, het mense universiteite toe gekom om te leer. Kennis was die wagwoord. Goed, dis natuurlik uit ‘n post-Verligting perspektief uit. Watookal. Die bestaansreg van universiteite was eenvoudig om plekke te skep waar mense kennis kan opdoen. Vandag, egter, kan mens ‘n ander prentjie verf. Geld is die dryfkrag. Mense kom universiteit toe om hulle te bemagtig sodat hulle geld in die hande kan kry.

Dit, liewe leser, is deels die tragedie van my lewe. ‘n Paar uur per week sing-skree ek my tragiese lofsang tot kennis, omdat ek nog heeltyd met ‘n ander prentjie sit oor mense se motivering om op universiteit te wees. Ek vermoed, eintlik, dat selfs toekomstige predikante – tot ‘n groot mate – hierdeur gemotiveer word. Om regtig eerlik te wees, ek het ook ‘n goeie tikkie daarvan weg – wel, ten minste was dit ‘n gedeeltelike motivering, aanvanklik. Geld is natuurlik ‘n noodsaaklike euwel – selfs om verder te swot.

Die ironie is dus nou die volgende: selfs al het ek my droomjob, lyk dit vir my (soms) of daar ook nou nie regtig mense is wat daarin belangstel om dit wat ek met hulle wil deel – op ‘n pad wat ek self nog ver moet stap – regtig te weet nie. Hulle wil net hierdie swot-ding agter die blad kry. Toegegee, daar sit mense voor my wat wel wil leer – heel moontlik omdat hulle ideale soortgelyk aan myne koester. Selfs dit, besef ek, is eintlik maar … leeg.

Dames en Here, ek het – het ek ‘n klinkende simbaal geword?

Ek glo darem nie so nie, hoor ek so nou en dan deur die eggo’s in my kop. Iewers beteken ek iets vir iemand. Inderdaad, dis deesdae die enigste ligpuntjies in my lewe – as ek een of ander student met een of ander iets kan help. Weg van my klein heiligdom waar ek met my Griekse Bybel speel. Ek weet soms nie of my tweedejaars Griekse klas besef hoeveel ek hulle nodig het nie. Dit gee … betekenis aan my lewe. Die groot vraag wat egter deesdae in my kop ronddraai: hoe is ek relevant in hierdie situasie? Vir hierdie mense? Hoe is Grieks relevant vir hierdie mense?


Ou Franciskaanse seënbede

Mei 20, 2009

‘n Vriendin wat saam met my geswot het, is onlangs bevestig as predikant. Met haar intreepreek het sy die volgende seën gebruik, wat my diep getref het. Dis ‘n ou Franciskaanse seënbede – hierdie is die weergawe wat in die NG Kerk se handleiding by die erediens gedruk is:

Mag die Here jou seën met ongemak oor maklike antwoorde, halwe waarhede en oppervlakkige verhoudings sodat jy uit die diepte van jou hart kan leef;

Mag die Here jou seën met woede oor onreg, onderdrukking en die uitbuiting van mense sodat jy kan werk vir geregtigheid, vryheid en vrede;

Mag die Here jou seën met trane om te stort vir mense wat pyn, verwerping, honger en oorlog ervaar sodat jy ‘n hand kan uitreik en hulle pyn in blydskap kan verander.

En mag God jou seën met genoeg dwaasheid om te glo dat jy ‘n verskil kan maak in hierdie wêreld, sodat jy dinge sal kan doen wat ander mense dink nie gedoen kan word nie.


Watchmen

Maart 29, 2009

Ek het die aaklige fout begaan om Watchmen laas Donderdag te gaan kyk. 

Dis eintlik nogal vreemd, want ek sou later uitvind dat Jacques Liebenberg van Beeld die fliek ‘n 5/5 resensie gegee het. Ek het respek vir Jacques Liebenberg – hy skroom nie om sy sê te sê nie. Sover ek weet, het hy al menige fliek ‘n 0 gegee – en ‘n 0 was dit dan werd. Wanneer ookal Jacques besluit om ‘n fliek met ‘n 5 te kroon, kan jy maar wed ek gaan dit kyk. (Anders as met Barry Ronge, wie se resensies ek in my jonger dae as ‘n inverse maatstaf gebruik het.) Ek kan egter nie help om te dink dat Jacques ‘n fout gemaak het met Watchmen nie!

Geeneen van die karakters het my aangespreek nie – voorwaar, ek het geen empatie gehad met enige van hulle nie! (Goed, behalwe die ou wat duidelik onbeholpe is wat die skoner geslag betref; dis natuurlik nou nie iets waarmee ek myself wil vereenselwig nie, en buitendien is daardie greintjie empatie vir my doodgedruk in die middel van die fliek deur die langste onnodige sekstoneel wat ek tot nog in ‘n fliek gesien het.) Die storie agter die storie, so lyk dit my, kan nogal goed wees. Dis dieselfde tipe materiaal wat mens in Sin City kry, of 300. Tot ‘n mate word die fliek ook so aangebied – die hoeke waaruit dit verfilm is, die donker kleure. Dit het egter nie dieselfde trefkrag nie en het verseker nie daarin geslaag om my in te trek nie – ek kon nie minder omgee wat in die karakters se verlede gebeur het nie!

Wat my seersekerlik ook van die fliek gepla het, is Dr. Manhattan. Die grootste deel van die fliek is die man (superwese?) poedelnaak. Dus was ek nie seker of hy eerder na Adam of na God toe neig nie. Alhoewel hy dit ontken in die fliek, word hy eintlik maar as God uitgebeeld. As die fliek só die teodisee-vraagstuk probeer aanspreek (hoekom is daar kwaad in hierdie wêreld?), sit dit die pot myle mis. (En na my mening is dit wel ‘n tema van die fliek: die mens is sleg; hoe beskerm die mens homself teen homself?) Behalwe natuurlik as jy ‘n erg deïstiese siening van God het (dus, dat God nie betrokke is by hierdie wêreld nie).

Die enigste goeie ding wat ek van die fliek kan kwytraak, is dat die karakters darem ‘n mate van kompleksiteit vertoon. Meeste van hulle is nie óf goed, óf sleg nie, maar sit darem êrens tussen-in. Mens kan seker maar dieselfde sê van die fliek se ontknoping – ja, die einde kan dalk die hele gedoente red. Miskien het Jacques Liebenberg net die begin gesien, toe geswig voor die versoeking om te slaap, en net betyds wakker geword om die einde te aanskou. (Jammer dat ons nie oor hierdie een saamstem nie. Ek gaan nog steeds sy raad volg.)