Ek het die aaklige fout begaan om Watchmen laas Donderdag te gaan kyk.
Dis eintlik nogal vreemd, want ek sou later uitvind dat Jacques Liebenberg van Beeld die fliek ‘n 5/5 resensie gegee het. Ek het respek vir Jacques Liebenberg – hy skroom nie om sy sê te sê nie. Sover ek weet, het hy al menige fliek ‘n 0 gegee – en ‘n 0 was dit dan werd. Wanneer ookal Jacques besluit om ‘n fliek met ‘n 5 te kroon, kan jy maar wed ek gaan dit kyk. (Anders as met Barry Ronge, wie se resensies ek in my jonger dae as ‘n inverse maatstaf gebruik het.) Ek kan egter nie help om te dink dat Jacques ‘n fout gemaak het met Watchmen nie!
Geeneen van die karakters het my aangespreek nie – voorwaar, ek het geen empatie gehad met enige van hulle nie! (Goed, behalwe die ou wat duidelik onbeholpe is wat die skoner geslag betref; dis natuurlik nou nie iets waarmee ek myself wil vereenselwig nie, en buitendien is daardie greintjie empatie vir my doodgedruk in die middel van die fliek deur die langste onnodige sekstoneel wat ek tot nog in ‘n fliek gesien het.) Die storie agter die storie, so lyk dit my, kan nogal goed wees. Dis dieselfde tipe materiaal wat mens in Sin City kry, of 300. Tot ‘n mate word die fliek ook so aangebied – die hoeke waaruit dit verfilm is, die donker kleure. Dit het egter nie dieselfde trefkrag nie en het verseker nie daarin geslaag om my in te trek nie – ek kon nie minder omgee wat in die karakters se verlede gebeur het nie!
Wat my seersekerlik ook van die fliek gepla het, is Dr. Manhattan. Die grootste deel van die fliek is die man (superwese?) poedelnaak. Dus was ek nie seker of hy eerder na Adam of na God toe neig nie. Alhoewel hy dit ontken in die fliek, word hy eintlik maar as God uitgebeeld. As die fliek só die teodisee-vraagstuk probeer aanspreek (hoekom is daar kwaad in hierdie wêreld?), sit dit die pot myle mis. (En na my mening is dit wel ‘n tema van die fliek: die mens is sleg; hoe beskerm die mens homself teen homself?) Behalwe natuurlik as jy ‘n erg deïstiese siening van God het (dus, dat God nie betrokke is by hierdie wêreld nie).
Die enigste goeie ding wat ek van die fliek kan kwytraak, is dat die karakters darem ‘n mate van kompleksiteit vertoon. Meeste van hulle is nie óf goed, óf sleg nie, maar sit darem êrens tussen-in. Mens kan seker maar dieselfde sê van die fliek se ontknoping – ja, die einde kan dalk die hele gedoente red. Miskien het Jacques Liebenberg net die begin gesien, toe geswig voor die versoeking om te slaap, en net betyds wakker geword om die einde te aanskou. (Jammer dat ons nie oor hierdie een saamstem nie. Ek gaan nog steeds sy raad volg.)
Bygedra deur Ronald