Antieke kopiereg en ‘n digitale wêreld

In die ou, ou dae was boekeskryf nie so ‘n maklike ding gewees nie. Ek praat nou van die ou, ou dae voor almal van ons se oumagrootjies. In die eerste paar eeue van hierdie jaartelling. Behalwe dalk die juffrou wat in ons hoërskool se bib gewerk het (en toevallig ook die geskiedenis-onnie was) – sy het dalk daardie dae gesien. Om mee te begin, die kans dat jy kon lees was maar klein. Sommige meen tot 20% van die samelewing. (Ons is vinnig besig om weer daar uit te kom.) Lees en skryf is nie dieselfde ding nie; die kans dat jy kon skryf was waarskynlik nog kleiner as 20% – dalk so min as 5%. Ordentlike skryfgoed was duur. Gekke en dwase was dus volop. Hulle het selfs op blare gegriffel, en ou potskerwe. (Mens sou ‘n lang opstel kon skryf oor die meerdoeligheid van gebroke potskerwe. Elke nou en dan, byvoorbeeld, het mens ‘n ou potskerfie nodig gehad om jou swere mee te krap). 

Kopiereg was nog ‘n groter “probleem”. Sodra mens jou werk klaar geskryf het – so het dit met baie skrywers / digters gegaan – het mens ‘n private partytjie gehou en dit dan gaan voordra aan iemand wat genoeg geld gehad het om jou te borg om die hele ding gepubliseer te kry. Dan het daardie persoon mense betaal om ‘n paar kopieë te maak van jou werk – en dan, boeta, dan het daardie klein werkie van jou (so 12 boekrolle?) vrye teuels gekry. Mense het oor en weer die goed uitgeruil, gekopieër en dan weer aan ander gegee om afskrifte te maak. Daar was mense wie se werk dit was om boeke oor te skryf. (Met boeke bedoel ons hier natuurlik grotendeels boekrolle.) Dit was egter nie die groot probleem nie – dit was daardie ouens wat net kon lees waaroor jy jou moes bekommer. Amateurs. Uiteindelik het jou werkie op baie plekke heel anders gelyk as toe jy dit geskryf het.

Iewers in die verlede het dinge verander. Kopiereg het sy opwagting gemaak. Dit moes seker kort na Gutenberg en sy nederige kontrêpsie gewees het. Nou was dit ewe skielik doodsonde om by iemand anders af te skryf. (‘n Siekte wat tot vandag toe nog in skole gevind word.) Dit wat jy geskryf het, was joune – en tot ‘n groot mate kon jy beheer wat daarmee gebeur. Behalwe as iemand besluit al jou boeke moet brand. (Die Verligting.) 

Tot onlangs. Snaaks hoe die wêreld dikwels in sirkels loop! Die digitale eeu maak dit nou makliker as ooit tevore (selfs mense wat nie kan lees en skryf nie – die grootste gedeelte van die kinders in SA skole; en in die Sondagskool) om goed te kopiëer. Kliek – kliek: dis soos toorkuns. Enigiemand wat ooit met ‘n stel skurwe blare, potskerwe of selfs luukse vellum moes spook, sou groen wees van jaloesie. Dis onafwendbaar: ons stuur af op ‘n situasie waar mense weer beheer verloor oor hulle werke! Dit sluit vandag natuurlik musiek, boeke, rekenaarprogramme en wie-weet-wat nog alles in. Daar is ook niks wat hierdie reuse-wiel gaan stop nie. Die mense (outeurs!) wat dit eerste besef (skuus, ek bedoel al ‘n hele rukkie terug besef het), gaan die beste daarvan afkom.

2 Responses to Antieke kopiereg en ‘n digitale wêreld

  1. cobus sê:

    En natuurlik raak die moontlikhede om ander se woorde te verdraai net soveel meer aanloklik… met moderne tegnologie kan ek sommer ‘n video van jou maak wat jou woorde totaal verdraai…

  2. […] Hierdie keer word daar egter gedoen waarvan ‘n mens net kan droom – of wel, dalk het dit die vorige keer ook gebeur, maar ek het verseker nie daarvan geweet nie. Hierdie keer word die musiek voor die tyd vrygestel – in ‘n onverwerkde vorm, maar nog steeds! Nou al kan mens dit van die Luidkeels webblad aflaai – sodat mens saam kan sing die dag van die Groot Opname – maar meer as dit, nou kan mens dit solank in kerke begin sing! Dankie tog vir die digitale wêreld! […]

Lewer kommentaar op cobus Kanselleer antwoord