Borreltempels, padwoede en integriteit-termometers

Deur my motorvenster sien ek hoe ‘n voetganger doodluiters oor die pad stap. Ek verwonder my eers vir ‘n ruk dat ek deur die venster kan sien – ek is nou nie die wêreld se getrouste motorwasser nie. Dan kyk ek verby my eerste gedagtes en sien hoe ‘n meisie (was dit in ‘n Clio?) amper die voetganger disnis ry. Dis by ‘n verkeerslig. Die arme ou het net in ‘n reguit lyn oor die pad gestap om by die oorkant uit te kom. Dit was, inderdaad, sy volle reg as padgebruiker. Die meisie wou draai, maar die voetganger het na haar sin nie vinnig genoeg geloop nie. Sy ruk haarself op en swaai vervaard haar hand na die voetganger terwyl sy binne haar motor sit en swets.

Hoekom tree mense so op as hulle in ‘n motor klim? Dis asof hulle hele houding verander. Dalk is hierdie meisie met die Clio (of watse klein tjor dit ookal was – hulle almal lyk vir my maar dieselfde) een van die “gaafste mense wat jy ooit sal ken!” My vermoede is dat dit te make het met die onderskeid wat ons tref tussen die private en publieke sfere. Tuis kan jy mos maak soos wat jy wil – dis jou huis, en elke haan kraai koning op sy eie mishoop. Dis ‘n private sfeer. Wanneer mens egter in die publiek is – byvoorbeeld, in ‘n winkelsentrum – dan moet jy jouself gedra. Die belange van die ander een – wat jou kan sien – word nou op die voorgrond gestel. 

Mense beskou motors, sonder dat hulle dit besef, as deel van hierdie private sfeer. Dis asof hulle ‘n borrel van hul eie huis saam met hulle vat. Jammer dan dat baie mense se huise eintlik tempels is – tempels wat hulle vir hulleself opgerig het. Nou sit mens met ‘n klomp borreltempels op die land se paaie. Binne hierdie borrelheiligdom kan mens maak wat mens wil, want mens is mos in jou private sfeer. Daarom dat mens kan vloek en skel en tekens wys. Of in mens se neus grou. Of hardop sing. Gelukkig is daar darem nog nie te veel mense wat hulle klere in hul motors begin uittrek nie.

Padwoede is dan soos om krieket of rugby te sit en kyk en die skeidsregter uit te jou. Of erger nog, as jou bubble bars, dan raak jy de hoenders in en klim uit jou private sfeer in die publieke sfeer in om daardie padvark se nek om te draai.

Hierdie is nou my punt; die slotsom van my oordenkinge: mens moet daarna poog om dieselfde op te tree in publieke en private ruimtes. Dit is integriteit. Ek wil amper dit uitlating maak dat padwoede ‘n tipe van ‘n integriteit-termometer is: dit meet nie net hoe warm onder die kraag jy is nie, maar ook hoe jy jouself gedra as jy alleen is. Want wat almal nie altyd besef nie, is dat die vensters van jou motor dikwels ‘n eenrigting-spieël is.

2 Responses to Borreltempels, padwoede en integriteit-termometers

  1. cobus sê:

    Lees gerus Johan Rossouw se Rooi Z4 en ‘n Renaissance-kasteel en sy gedagtes oor hierdie presiese selfde ding… alhoewel dit nie gaan oor mense wat swets in hulle karre nie, maar eerder mense wat hulle seksualiteit in hierdie eie private sfeer (wat tog los is van die huis) uitleef.

  2. Ronald sê:

    Gits, miskien het ek dan by hom geleen – dit het dalk in my onderbewussyn bly vassteek. Ek het die boek so 6 maande terug gelees.

    Daar is seker slegter goed wat in ‘n mens se onderbewussyn kan vassteek.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: