Onafhanklike waarneming by die verkiesing

Ek is ingepraat om as ‘n onafhanklike waarnemer by die verkiesing te dien. Nie dat dit te veel ompraat gekos het nie – dit voel na iets waar mens betrokke kan wees by ons land se demokrasie, op grondvlak, selfs verder as om net jou kruisie te maak. (As jy jou kruisie gemaak het, is ek trots op jou!)

Daar was allerhande verrassings, dus, gister (22 April). Ek het van 15:00 af die middag gewerk in ‘n klein tent waar altesaam toe so ongeveer 550 mense gestem het. Die mense van die IEC was besonders aangenaam – hulle het die hele dag al daar gesit, terwyl hulle eers baie laat kos gekry het en die logistieke probleme van die IEC (wat nie hierdie mense se skuld was nie) het gesorg dat hulle uit stembriewe uitgehardloop het, selfs al het hulle vroegtydig die hoofkantoor laat weet. Natuurlik was die kiesers baie ongelukkig daaroor!

Wat my egter die meeste gepla het, is die houding van my eie volksgenote. Ek sal nou nie kru taal hier in die kuberruimte inslinger nie, maar sommige Afrikaners se houding is eenvoudig net AF. Die lankmoedige  (swart) mense wat saam met my in die tent gewerk het is keer op keer deur lyf- en tongtaal geskasty. Dis darem nie deur die bank so gewees nie; soms was daar Afrikaners wat baie gemoedelik omgegaan het met die mense in die tent. Nogtans is ek geskok; dit is nog erger gemaak deur die feit dat hulle my dan (as die enigste wit persoon in die tent) uitgesonder het asof ons ‘n tipe van ‘n kameraderie besit – deur byvoorbeeld net vir my te groet, of dadelik na my toe te stap om te vra wat aangaan. Ek kry hulle eintlik jammer. Vir myself ook, want ek betrap myself keer op keer dat hierdie neigings by my ook kop uitsteek. Wie verstaan nou eintlik wat in Suid-Afrika aangaan? Die mense wat, na die verkiesing verby is, buite IN AFRIKA onder die sterrehemel ‘n vuurtjie maak om warm te bly, of dié mense wat dit amper nooit buite waag nie?

Bygesê, die ANC party-agente was ook nou nie juis vriendelik met my gewees nie. Ek vermoed hulle het gedink dat ek van die DA af is, want toe hulle agterkom dat ek onafhanklik is, was heel heelwat meer aangenaam. Een van hulle het my selfs genooi om saam met hulle die aand verder te gaan partytjie!

Na die verkiesing verby is, moes ek amper twee ure in die koue wag vir die persoon saam met wie ek gery het (ons stasies was op die Moloto pad uit, vir die wat daardie deel van Pretoria ken, regoor mekaar). Hulle tent (wat verseël word, en dan mag jy net loop as die stemme finaal alles klop – dis ‘n wonder dat ons nie ook rookseine moes uitstuur soos in die Rooms Katolieke kerk nie) het nie so vinnig eenstemmigheid oor die stemme bereik soos ons nie. Dit was bibberkoud! Maar, dit was die moeite werd. Ek het darem my deeltjie gaan doen vir ons land se demokrasie!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: