Die teologie van Lied 190 (Grote God, aan U die eer)

Lied 190 (uit die Liedboek van die Kerk, 2001, NG Kerk-Uitgewers) maal die afgelope week in my kop rond. Dit is een van my gunsteling gesange: moontlik omdat ons dit al so baie in ons tradisie gesing het, en moontlik omdat dit so lekker op die kitaar gespeel kan word. Die melodie, oorspronklik Großer Gott, wir loben dich, is al bekend vanaf 1668, en dit werk nog steeds.

Ek dink egter onwillekeurig aan die teologie wat agter hierdie gesang, en moontlik agter die Liedboek, lê. Liedere, net soos preke, boeke en blogs, het ‘n eie teologie wat onderliggend is daaraan. Dit kan ook natuurlik nie anders nie! Mens moet dus soms op eiers loop – wat (baie!) nuwe kerkliedere betref, maar ook soms wat die ou tradisionele gesange betref.

 

Lied 190


(1) Grote God, aan U die eer!

Heerlik is waar U regeer;

hemels is u majesteit;

heilig u geregtigheid.

U wat alles onderhou, 

U is ewig en getrou.


(2) In genade, groot en ryk,

bou U, Heer, u koninkryk.

Voordat ek kon kies, kon vra,

het u Seun my vloek gedra.

Ek kon vind: U’t my gekry

voor ek nog my skuld bely.


(3) U, oor alles God en Hoof,

open oë van geloof

dat ons sien, geen goed of kwaad

word aan toeval oorgelaat:

Bokant ons begrip, verstand,

hou U al wat is in stand.

 

Ek hou baie van die eerste twee verse – dis diep teologie. (Soos teologie maar gaan, is dit ook oop vir interpretasie!) Die derde versie pla my egter. Op die oog af lyk dit of dit ‘n “Puppetmeischter” God voorstel. ” … geen goed of kwaad word aan toeval oorgelaat: … ” Beteken dit dan tot God letterlik alles beheer wat op aarde aangaan? ‘n Mens sou so dink! Dis ook heel moontlik dat die lied oorspronklik hierdie betekenis gehad het. (Die oorspronklike lied is tussen 1719-1790 deur Ignaz Franz gepen.) Ek sal baie versigtig wees voordat ek dit in ‘n erediens gebruik! Hoe nou gemaak? Moet mens dit herinterpreteer, of net nooit in ‘n erediens gebruik nie? Die eerste twee versies is dan so mooi! Ek kan dink dat mens miskien kan lees as: nadat goed of kwaad geskied het, gryp God in. Met hierdie interpretasie is daar egter ook probleme! 

Dis jammer dat Lied 191 so onbekend is. Dis gegrond op dieselfde melodie (soos ook Lied 192), en is later vertaal in Afrikaans as 190. (Dit gaan terug op Te Deum laudamus – weet nie hoe lank terug dit geskryf is nie – maar is eers in 2001 in Afrikaans beskikbaar gestel.) Hiermee strook my eie teologie beter. Sien byvoorbeeld vers 3:

 

Vader, ewig, goed en groot,

hoor ons lof uit elke oord.

Seun van God in ewigheid,

ons is tot u diens bereid.

Heil’ge Gees, Vertrooster, Heer,

ons, u kerk, wil U steeds eer.

 

Mens moet maar lugtig loop vir enige lied se teologie!

3 Responses to Die teologie van Lied 190 (Grote God, aan U die eer)

  1. e g jansen sê:

    U sê ongelukkig nie wie die oorspronklike digter is nie. Ek vermoed dis seker oorspronkilik in Duits? Sou graag die Duitse teks wou bekom. Groete en dankie EDDIE JANSEN

  2. Riaan Meyer sê:

    In die gees van kyk na die teologie agter die woorde, laat my die volgende toe rakende vers 3.
    Ek aanvaar die kwelling lê by: ” geen goed of kwaad word aan toeval oorgelaat.”
    As ons kyk na die begin van vers 3:
    (3) U, oor alles God en Hoof

    Dan skep dit vir ons n beeld van God as heerser oor die/Sy koninkryk. As heerser is dit dan Sy wette wat geskied.

    “Bokant ons begrip, verstand,
    hou U al wat is in stand.”

    Bokant ons begrip, verstand,
    So slegs deur:

    “open oë van geloof
    dat ons sien”

    dus met geestelike oë sal ons kan sien dat:
    Deur die werking van U geregtigheid

    “word geen goed of kwaad aan toeval oorgelaat:”

    Dit is dus deur Sy wet dat geen goed of kwaad aan toeval oorgelaat word nie.
    Dus kan ons aanvaar dat goed en kwaad, gesien deur geestelike oë, (oë met toegang tot n wysheid en morele regverdigheid hoër as die van ons alledaagse verstaan).
    Tot n insig en perspektief gekom kan word.
    Van waar goed en kwaad gesien kan word as regverdige gevolge, van voorafgaande handelinge. Eerder as lukrake gebeure van uit die niet.

    Die teologie wat ek agter hierdie woorde sien, is wat losweg na verwys word as karma.

    Karma as n Heilige wet, wat onafhanklik staan, van ons gunstige of afkerende verstaan daarvan.
    N wet wat staan as n heilige hoeksteen onderliggend aan ons Menslike ontwikkeling. Die kans vir die insig om self te kies, om aan die ontvang kant te staan van die gevolge van ons aksies.
    In Eerlike Waarheid. Naak voor ons sondes.

    So leef ons dan almal ons verantwoordlikhede. Indien nie in die lewe nie, dan dalk wel in n volgende. En dit dan ten spuite van en selfs as gevolg van die verlossings daad van Christus vir die mensdom.
    Sodat ons dan uit diepe ervaring en volwassewording, self kan kies om te doen aan ander soos wat ons wil hê aan ons gedoen moet word.

    Ek vertrou die herinterpretasie is wydoop en wriemelend.

     

    • Freek Terblanche sê:

      Ja vers 3 gaan saam met die algemene oortuiging ‘GOD is in beheer’ wat nie ongekwalifiseerd waar is nie! Ons kan gladnie vers 3 sing nie!
      Andrew Wommack se Authority Series
      [audio src="http://www.awmi.net/audio/audio-teachings/#/awm_l03_sovereignty.mp3" /]
      verduidelik dit baie goed
      Freek Terblanche 0815460469

Lewer kommentaar op Freek Terblanche Kanselleer antwoord