Wie slaan deesdae (letterlik) die drom in Afrika?

Ek het die voorreg om by NG Arcadia se musiekbediening betrokke te kon raak. Sommer by die eerste 11:00 diens wat ek bygewoon het, het die finalejaar teologie student (wat toevallig ook vandag sy proefpreek gedoen het – praat van vleuende vaandels!) die gemeente uitgenooi om by die band betrokke te raak. Katvoet het ek aangebied om saam te speel – ek wou niemand se plek vat nie, maar dit het na ‘n plek gelyk waar ek gelyk verhoudings kan bou en my talente kan inspan. 

Dit het toe so uitgewerk dat dit slegs ek en Jacques, die finalejaar, was wat opgedaag het wat wel musiekinstrumente kon bespeel. (Jacques kitaar en ek baskitaar.) Vir drie Dinsdae na mekaar het ons nou al ‘n ander dromspeler gehad – wat die Jembe moes bespeel. Tot my uiterste verbasing het elkeen van hierdie drie (al drie swart mans) dit moeilik gevind! 

Ek praat toe tydens ontbyt met ‘n vriendin van my wat musiek swot. “Ja,” sê sy, “jy moet onthou die Jembe is ‘n Noord-Afrika instrument.” Een merkie langs my naam vir stereotipering! Die gesprek raak vinnig dieper. My vriendin swot musiekterapie – en hulle bespreek dikwels die rol van musiek in die samelewing, en veral die stad. Sy skilder die prentjie so treffend: die mense wat in die middestad van Pretoria bly, is lankal nie meer die mense wat op die platteland bly nie. Sommige van hulle het hier in Pretoria grootgeword. Dis nie meer dieselfde kultuur nie. Sy sit die dink in my los: dis nou ‘n mengelmoes. Kultuur is ‘n glibberige ding! ‘n Tweede merkie langs my naam vir stereotipering!

Vroeër vanaand koffie-kuier ek by ander vriende. Een van hulle was vir langer as ‘n jaar in Burundi – en sy vermaak ons gereeld met stories (ligtelik en ernstig!) oor haar wedervaringe. “Ja,” sê sy, “dromspeel in Burundi verskil van dorp tot dorp.” Sy vertel ons hoe sy leer dromspeel het in een dorp. (Ek glo haar – ek het haar al in aksie gesien. Sy werk teen ‘n tempo van ongeveer ‘n vriend / vyf minute.) In ‘n ander dorp kom sy mense teë wat duidelik sukkel – tot sy hulle reghelp!

Dis maklik om mens te misgis met mense-groepe. Dalk is dit ‘n beter pad om te stap as mens mense leer ken vir hulself; hoe hulle elkeen afsonderlik regtig is.

One Response to Wie slaan deesdae (letterlik) die drom in Afrika?

  1. Ronald sê:

    Post Scriptum

    Gisteraand, toe verbaas die een outjie ons heeltemal. Dit was sommer van nature die beste oefening wat ons nog gehad het – nadat die mannetjie ‘n ritme van êrens uitgekrap het wat ek nie in my lewe sou kon baasraak nie.

    ‘n Derde merkie langs my naam vir (mis-)stereotipering.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: