Van Aarde, The Shack en die risus paschalis

Ek het vanaand sopas teruggekom van die “Joint Conference” vir Teologie op Stellenbosch. Die Teologie Fakulteit van die Maties is hierdie jaar 150 jaar oud, dus het hulle hierdie konferensie daar gehou om al dit te vier. Dit was nogal ‘n aangename geleentheid – sal miskien later weer daaroor blog, miskien egter eerder op my Engelse blog.

Een van die lesings wat definitief uitgestaan het, is die van Prof Andries van Aarde oor die triniteitsbegrip in die gewilde boek van Young, The Shack. Die boonste kamer van die Teologie Fakulteit was gepak – dit terwyl daar net 20 uitdeelstukke was. Wat het hulle gedink? Van Aarde, The Shack – natuurlik gaan daar meer as 20 mense wees.

(Dit wat volg is my interpretasie van die lesing! Ek mag dalk verkeerd gehoor of verstaan het.) Van Aarde het ‘n baie positiewe beoordeling van die boek gegee. Ongelukkig was die tyd te kort om sy hele referaat te lewer, so ek vermoed daar is ook effense kritiek wat hy nie by kon uitkom nie. Die hoofargument van sy betoog was dat die Shack weer ‘n verhoudingselement in die triniteit inbring; hy het ook ander goed uitgelig, byvoorbeeld dat die boek ‘n postliberale lees van die Bybel verteenwoordig. Van Aarde meen dat die boek weer teruggryp na ‘n tyd voor Tertullianus, wat die begrip trinitas die eerste keer gebruik het. Dit laat die Drie-Eenheid dan ook oop om weer mense toe te laat. Die idee is dat daar ook geen verhouding tussen mense kan bestaan – d.w.s. liefde – as dit nie ook so was met God nie.

Al drie Persone van die Drie-Eenheid word speels uitgebeeld in die boek. Van Aarde gaan hiermee saam, en verwys dan ook na die risus paschalis. Dit is ‘n ou Ortodokse tradisie wat klaarblyklik in Bavaria ontstaan het, waarin die priester die gemeente lui in ‘n geweldige lagbui om die opstanding uit die dood te vier.  (Prof Yolanda Dreyer het die relevante gedeeltes in die boek uitstekend voorgelees, asook die verwysing na die risus paschalis.) Dit, volgens Van Aarde, is ‘n belangrike element wat ons in ons geloof moet terugkry.

Tydens die vrae was dit veral Prof Pieter de Villiers se kommentaar wat vir my interessant was. Prof De Villiers spesialiseer op spiritualiteit, en veral die mistiek. Volgens hom stem die Shack nie soseer ooreen met wat in die klassieke mistiek geglo sou word nie. Dit is eenvoudig net onmoontlik om die essensie van God vas te vat. Prof Van Aarde het egter daarop gewys dat veral die Heilige Gees uitgebeeld word as Iemand waarop Mack, die hoofkarakter in die verhaal, nie kan fokus nie.

Myns insiens: die boek se plot ontvou vir my ‘n bietjie stadig. Verder irriteer die manier hoe die onderskeie verhoudings uitgebeeld word in die boek my so ‘n bietjie, maar ek besef dit sê dalk meer van my as van die boek of die skrywer. Daar is verskeie ander probleme wat ook uitgewys kan word – byvoorbeeld, dat die boek maklik patripassianisme (die kettery dat die Vader saam met die Seun aan die kruis gesterf het, dus dat daar nie drie Persone is nie, maar drie verskillende maniere waarop God Homself manifesteer) kan uitbeeld. Of, eintlik moet ons dit erken – dat die boek dit eintlik so voorstel. (Die bekende teoloog Moltmann, soos ek verstaan, is egter nie te ver van hierdie siening af nie – The Crucified God is op my lysie, maar ek moet dit nog lees). Prof Van Aarde het ook op hierdie verstaan in die boek gewys – maar nou ja, hoe kan mens in elk geval oor God praat? Self Augustinus het gesê dat ons eintlik niks oor God kan sê nie; dit wat die kerkvaders gesê het, is bloot maar net omdat mens iets moet sê.

Verder dink ek die boek is verseker ‘n produk van sy tyd. Die groot klem op verhoudings en wegbeweeg van die strukturele elemente in godsdiens is nie besonders nuut nie. Sommige van dit is nodig – na my mening gaan ons egter weer op ‘n stadium ‘n tyd bereik waar die kerk in ‘n vaster struktuur staan na die huidige struktuur uitgedaag en gedekonstrueer is. Hoe dit gaan lyk, dit kan ek nie sê nie. Nogtans dink ek die boek kan mense in pyn help. Ek sal dit aanbeveel vir mense om te lees – maar dit nie as Die Waarheid verkoop nie.

3 Responses to Van Aarde, The Shack en die risus paschalis

  1. Pierre sê:

    More Ronald, ek dink jy is nou besig om vir my mede 4e jaars tekskritiek te gee. Eks by die werk en kon nie deel in die vreugde nie.

    Wel kan ek vir jou se dat die dele wat jy blog uit jou akademiese lewe, et al, vir my rerig baie insigte oor die onderwerpe behandel.

    Dankie veral vir die artikel oor die ‘to theo basilea’ en hierdie stuk oor die Shack is great en ek dink al vir lank daaraan. Daar is wel ‘n paar vrae rondom die patripassianisme wat ek vir jou het. Baie groetnis
    Pierre

  2. Ronald sê:

    Pierre!

    Dankie man! Ek hoop nie ek moes vir julle klasgee vandag nie ;o) Bly ek kon darem vir iemand daarbuite iets beteken.

    Ek gesels graag met jou oor patripassianisme, maar sal eerlik wees en sê dat sistematiese teologie nou nie juis my sterkpunt is nie. Stuur my ‘n email / corner my op kampus, dan maak ons ‘n tyd vas as jy wil.

    Cheers!

  3. liewelettie sê:

    Vir my was The Shack stof tot nadenke – dit het my aan die dink gesit oor wat ek glo. Dit het dus nie my denke geswaai nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: