Hoe my stambome geskud is

Die graf se oppervlak is al goed afgeloop deur die duisende besoekers wat daagliks daaroor wandel, sonder om dit eers op te merk. Geen wonder; dis maar net een graf tussen 2500 ander. Om presies te wees, nommer 281 van 2500 ander grafte. Maar op hierdie besonderse Sondag, 1 Augustus 2010, ruk IT van den Bergh se graf in die Oude Kerk in Amsterdam my tot stilstand – of, effens filosofies gestel – tot ‘n eksistensiële halfwegstasie.

Waar kom ek vandaan?

Dis nie die eerste keer in die afgelope twee maande dat ek die vraag teëkom nie. Dis tog ‘n Nederlandse van, nie waar nie? Hoe lank is jou familie al in Suid-Afrika?

Ek weet nie. Ek weet glad nie. Die vraag is al tevore aan my gestel, maar die verste wat ek kan terugdink, is ‘n vae herinnering dat my ouma- en oupagrootjie ten minste in Suid-Afrika moes gewees het. Die wortels van my stamboom verdwyn as’t ware in die vergetelheid.

Daarom dat hierdie graf van Iohannes Theodorus van den Bergh my so aangryp. Veral hier in Nederland, waar alles so bekend, en dog so vreemd is. Waar ek sinsnedes hoor wat ek nog nooit gehoor het nie en tog verstaan sonder om selfs daaroor na te dink. Waar ek in ‘n museum instap en voel of ek in die Kaap is – selfs die portrette aan die muur voel vir my na ‘n weerkaatsing van beelde wat eintlik in my geheue leef.

Soos mens die Oude Kerk betree, is daar ‘n rekenaar met inligting oor al die grafte in die kerk. Ek tik “van den bergh” in, effens stadig vanweë die gepantserde sleutelbord. (Toegegee, my van is eintlik “van der Bergh”, maar ek vermoed dat iemand êrens ‘n strepie te hoog getrek het. Sover ek kan aflei, is Van den Bergh die oorspronklike van. Daar is dan ook geen van der Bergh in die Oude Kerk begrawe nie.) Daar is skynbaar 12 Van den Berghe in die Oude Kerk begrawe, waarvan die oudste Adriana van den Bergh is (1661!). Op daardie tydstip sou ek uiteraard graag elkeen van hierdie twaalf wou naspoor, om te kyk of daar nie dalk iets is wat my met hulle verbind nie. Ongelukkig is dit vyfuur, en die vriendelike Nederlander, wat nie deur ‘n ywerige waansin om sy voorsate te vind besiel is nie, dreig hoeka om al die besoekers by die deur uit te boender.

Gelukkig spoor ek later die indeks van die Oude Kerk se grafte op die internet op. Dit help nie veel nie; selfs al is die prentjies van meeste grafte ook daar beskikbaar, en kan mens hier en daar iets te wete kom oor die persoon. Natuurlik was dit “een bijzondere eer om in De Oude Kerk begraven te worden” (volgens die Oude Kerk se webblad). Iemand in my familie (?) het êrens iets bereik, dis verseker. Soos A(d)riana, wat die eerste vroulike beroepstoneelspeler was by die Amsterdamse Skouburg. Sy is nie al een nie, verseker die internet my; blykbaar moet ek ook op een of ander manier verbind wees met die Amerikaanse president, Theodore Roosevelt (Kyk gerus hier as jy my nie glo nie):

Cornelius Gysbertse van der Bergh was getroud met Cornelia Wynantse van der Poel; hul had ‘n dogter, Tryntjie Cornelis van den Bergh. Tryntjie was getroud met Pieter Waldron; hul had ‘n dogter, Rebecca Waldron. Rebecca was getroud met Johannes G. Yates; hul had ‘n dogter, Angeltje Yates. Angeltje was getroud met Cornelius van Schaack; hul had ‘n dogter, Maria van Schaak. Maria was getroud met James Jacobus Roosevelt; hul had ‘n seun, Cornelius van Schaack Roosevelt. Cornelius was getroud met Margaret Barnhill; en ja, Cornelius en Margaret was die trotse ouers van Teddy Roosevelt.

Ek vergaap my eers aan hierdie inligting. So, Theodore Roosevelt is familie van CG van der Bergh. Wag ‘n bietjie! Dit kan nie wees nie! Hierdie is 6 of 7 generasies, waarvan die eerste 5 in die ketting tussen CG en T vrouens is!!! Hulle kan dan mos nie …

Ronald, jou seksistiese bliksem. Natuurlik is die ma ook deel van die geslagslyn! Nou ja, my ma se nooiensvan is Müller. Dit is ook ‘n ou familie; ‘n Duitse een. Dit kan ek waarskynlik verder navors, as ek wil. Maar watter een van die 79 Duitse mans wat tussen 1652 en 1806 aan die Kaap geland het is nou eintlik my oeroupa? (Kyk hier as jy my nie glo nie.)

Dan tref dit my weer! Ronald, jou seksistiese bliksem. Dis nie net die Müller familie wat jy moet navors nie, dis ook jou ouma aan moederskant waarna jy moet kyk. Dieselfde reëls geld immer vir jou ma as wat vir jou geld. Nou goed, sover ek weet, was my ouma aan moederskant se nooiensvan Espach; ook ‘n Duitse familie, as ek dit reg het. Wag ‘n bietjie! Eintlik moet ek ook al die ander dames in my stamboom navors, aan altwee kante … (In alle eerlikheid gesê, ek was nie die eerste een wat hieraan gedink het nie. Terwyl ek nog in Nederland was het ek en my medereisiger juis hieroor gesit en gesels. Dit het my sowaar eers ten volle getref na ek Teddy Roosevelt – ek kan hom seker maar Teddy noem, ons is immers familie – se stamboom gekry het.)

Die veronderstelling dat ek “afkomstig” is van die kant van die familie wie se van ek dra, is eintlik ‘n baie arrogante en patriargale manier van dink. Die gedagte is waarskynlik afkomstig van die idee dat die vrou nie eers bydra tot die stof waaruit die mens gevorm word nie – sy is net ‘n houer vir die man se saad. Die gedagte hieraan het ons natuurlik al lankal afgesweer, maar die oorblyfsels daarvan sit vandag nog in ons siening van geneaologie – van stambome – vasgevang. Hoe jammer is dit nie! Hoeveel keer is dit nie juis die vrou wat kultuur oordra aan hul kinders nie, selfs in ‘n patriargale samelewing?

Hierdie nuwe insig lei my natuurlik tot nuwe insigte – oftewel, versterk van my oues. Die wortels van my stamboom het in die vergetelheid verdwyn. Dit lyk ook of dit so verweef is, dat ek dit nooit sal kan ontrafel nie. Daarmee bedoel ek natuurlik nie dat ek alles gaan ontsê van my verlede en van waar ek vandaan kom nie. Maar soms … soms moet mens ook nuwe wortels plant.

Een ding weet ek verseker: ek het vaste wortels. Dit lê daar langs my hart, êrens aan die Suidpunt van Afrika. Boonop het ek ook nou ‘n antwoord op daardie vraag, volgende keer as iemand my vra:

– Waar kom jy vandaan?

6 Responses to Hoe my stambome geskud is

  1. cobus sê:

    Dankie. Mal oor die maniere hoe jy eerkik kan wees oor jou eie seksisme. Die goed is darem lekker diep in ons in.

  2. tiaan sê:

    Dis ‘n cool post! Stem saam met Cobus. Ek weet ek het ook iewers Nederlandse en Franse wortels aan beide kante. My ouma aan vaderskant was net twee kinders, terwyl my oupa aan vaderskant een van 13 kinders uit drie (saamgestelde) gesinne was. Baie familie, baie lyne, baie geskiedenis wat oorgedra is en wat ons goed ken en baie van weet. Aan moederskant was my ouma een van drie kinders, maar my oupa weer ‘n enigste kind. Daarom weet ek byna niks van daai kant af nie – min stories, min bande…het laas jaar by my oumagrootjie se 100e (!) eers van die mense vir die eerste keer gesien, en tog deel ons iewers gene.
    Dis snaaks wat ‘n mens sien as jou wortels en wat nie…;-)

  3. Hugo sê:

    Het jy geweet in Joodse kultuur is dit die *ma* wat Joodsheid oordra? As jou *ma* Joods was, is jy Joods.

    Omtrent voorsate, mens kan deesdae genetiese materiaal stuur vir ‘n plek wat dan vir jou sê van waar jy afkomstig is, deur jou pa-se-pa-se-pa-… se lyn te bepaal via die Y kromosoom (indien jy self ‘n ou is – ek weet nie wat doen hulle vir dames nie, en ek werk van vae geheue af hier), en jou ma-se-ma-se-ma-… lyn te bepaal via die mitokondria (ek raai omtrent Afrikaanse spelling hier). Dan sê hulle vir jou waar daai twee lyne vandaan kom. Watter tribe, watter land. “Wow, ek kom uit *A* en uit *B*!” sê jy dan.

    Hoe belaglik, eintlik, steeds, want as jy slegs 20 generasies terug gaan, kan jy tot meer as ‘n miljoen voor-ouers hê! (2^20) Sal seker minder wees, want niggies en neefies het met mekaar getrou. (Of second cousins, third cousins, watookal.) So nou weet jy bv waar twee van miljoene van jou voor-ouers vandaan gekom het. Big whoop.

    Alhoewel die feit bly seker staan dat daardie twee indiwidue ‘n meer direkte invloed het op jou DNA as die ander, weens hoe daardie stukkies DNA oorgedra word. Enige van jou ander gene kon van enige van die miljoene gekom het (indien nie via mutasie of iets nie), so mens weet heelwat minder omtrent wie meer en wie minder “bygedra” het vir die res.

  4. Ronald sê:

    Hugo – baie interessant! So, ons is eintlik maar ‘n laslappie kombers of ‘n moerbeislaai van gene, selfs al kan ons ten minste so bietjie van ‘n lyn daaruit bepaal.

    Tiaan – dalk is dit juis die ding? Ons kies wat ons as ons wortels beskou. Of ten minste, dit word soms aan ons oorgedra.

  5. Gareth sê:

    Great post Ronald… I had a similar ‘eksistensiële halfwegstasie’ a couple of years back on a retreat in Stellenbosch. I was out on a walk among some vineyards (as you do), and came across a tiny little grave site with 8 graves surrounded by a foot-high wall. I went to have a closer look and found out, to my shock, that all the graves had the name “Beyers” on it. It made me want to ask the same question – where do I come from?

    Thanks too for the link to the immigrants to SA. V interesting. I found my ancestor in the list – “BEYER, Johann David, Erfurt, *1733” We’ve actually got a book at home, “Van Erfurt na die Kaap” that follows the (male) Beyers line quite a while back. I almost passed through Erfurt last month, but not quite sure what I’d do there. I certainly wouldn’t feel at home.

    And yes, we choose what to remember and what to forget. I’m very happy to have Herman Charles Bosman (my Ouma’s cousin), Generaal C. F. Beyers and Rian Malan in my family tree, but would prefer to omit DF Malan ;)

    Keep exploring!

  6. […] shirt I could find, but which I think has since become my favourite). In Amsterdam I found the grave site of some of my relatives; visited a church service in the Keizersgrachtkerk, simply enjoyed the beautiful city, and had a […]

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: