Plekke, geskiedenis en betekenis

Rondom die hele Dortmund loop ‘n 8m hoë muur. Natuurlik om die vyande uit te hou. Die vyande is orals rondom Dortmund – voor jy kan sê mes het iemand al weer teen die stad opgetrek om die skatte uit haar midde te kom uitgrou. Dis immers ‘n Hanse-stad*, ‘n plek waar groot handel gedryf word met die sout en ander kosbaarhede wat van die Ooste af kom. Die Dortmunders staan vas!** Verskeie torings hou wag oor die muur, om dit maklik te maak om die mense wat op die stad afstorm te kan stop. Ja, 8m hoog is hierdie muur! Net jammer, selfs al bly ek nou al 2.5 maande hier, het ek hierdie muur eenvoudig tot vandag toe nog nie gesien nie.

Die ooglopendste rede is seker ook die beste een: die muur is nie meer daar nie.*** Daar loop eenvoudig net ‘n pad – vier bane in elke rigting groot – om die ou middestad. (Dit het ek al gesien. Tot vervelens toe, want mens wag omtrent 2 minute vir die robot om oor te slaan.) Dit is egter nie al wat my oogklappe vir my verberg het nie. Daar is ook ‘n ryk geskiedenis aan Dortmund se kerke. Die een kerk het byvoorbeeld die mooiste altaar (sjeesh, klink woes, is eintlik maar net die tafel wat daar voor staan in die Ortodokse / Katolieke tradisies) in die hele provinsie. Dis regtig baie goed gedoen. Verder is daar ‘n kerk wat deur Karel die Grote en Pous Leo III hier gegrond is (+-800nC) wat hier naby staan, sommerso. Die probleem is, as ek net so deur dit alles rondwandel, het ek nie ‘n idee waarna ek kyk nie.

Eintlik is dit natuurlik met enigiets so. As ek net na iets kyk, kan ek dit fisies beskryf, maar nie noodwendig verstaan waarna ek kyk nie. Want die waarna is eintlik die gesamentlike bewussyn van die mensdom. Dit groei – en dit kort baie meer mense as net ek om dit te laat posvat, totdat ek dit kan begryp. Dis soos ‘n spoelklip wat deur jare se gedagtes en geskiedenis tot betekenis en vorm gebring is.

Nog ‘n voorbeeld: so rukkie terug was ek in die Keizersgrachtkerk. Oulike kerkie****; so tussen-in die ander huise ingedruk, het ek gedink. Tipies vir Amsterdam. Ek vind eers later uit dis nou eintlik die kerk wat Abraham Kuyper help stig het, tydens die Doleantie. Ingewikkelde stukkie kerkgeskiedenis, gelaai met betekenis. Aangrypend. Maar net as jy dit weet.

Waarop stuur ek af, om hierdie blogpost tot ‘n einde te bring? Ja, estetika het waarde. ‘n Mooi gebou of plek kan mens verseker aangryp, sonder dat jy iets voorheen daarvan hoef te geweet het. Maar volgens my mening, is dit slegs deur geskiedenis wat ‘n plek betekenis kry.

Ek wik en weeg op die voorpunte van my tone, my voete in teenoorgestelde rigtings, maar steeds na vorentoe geneigd. Die een voet wil ‘n kerk betree – ‘n heilige plek; die ander voet wil bloot ‘n gebou binnestap. Dis my kop wat die besluit gaan moet neem.

* Hanse-stede was ‘n alliansie van die top-handel stede wat onafhanklikheid verwerf het. So het hulle mekaar se rûe beskerm. Dis toevallig ook Dortmund waar Hansa bier vandaan kom, en hierdie alliansie wat die bier sy naam verleen het.

** Daar is selfs ‘n spreekwoord hiervan gemaak. Die Duitsers gebruik dit tot vandag toe: So fast as Duorpe. Dis ou Duits, wat dit makliker maak vir ons om te verstaan. Vandag sou mens dit so skryf: So fest wie Dortmund. Dit beteken (hopelik het jy dit nou al self gesnap): So vas as Dortmund.

*** Die Tweede Wêreldoorlog het eenvoudig alles hier in stukkies opgeblaas. Die Ruhrgebiet, waar Dortmund lê, is Duitsland se belangrikste industriegebied. Daar is ‘n toring, die Adlerturm, wat na die Tweede Wêreldoorlog weer gebou is, en waar daar ook argeologiese opgrawings gemaak is.Hier kan mens ‘n deel van die oorspronklike stadsmuur nog sien – so dit het darem nie heeltemal verdwyn nie. Nog ‘n interessante feit is dat, vasgemessel in hierdie toring se fondamente, daar ‘n geraamte gevind is  -blykbaar vermoor! Klink vir my soos ‘n speurstorie wat wag om te gebeur …

**** Die “kerkie” het meer as een galery en my vriend wat in die gemeente is het my meegedeel dat dit sitplek bied vir ongeveer 1000 mense.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: