“Hy het sy geloof verloor …”

Ek glo nie mens kan geloof vasvat in een definisie nie. Immers, geloof is dit wat ons nie kan sien nie (Heb 11:1), so hoe sal ons nou in elk geval daaraan kan vat? Selfs al praat ons van ‘n tasbare geloof. Geloof om uit die bootjie te klim … of binne die kas te bly? Dis deesdae maar troebel water daarbuite!

Alle grappies op ‘n stokkie. Ons sukkel om geloof in ‘n definisie oor te sit. Dit pla my veral wanneer ek ‘n stelling hoor soos: “Hy het sy geloof verloor.” Vandag wil ek maar net oor een aspek daarvan praat – deels deur die Anne Rice geloof-debakel ontketen. Die probleem wat ek op die tafel wil sit: ons verstaan geloof in ‘n heeltemal te kleine sfeer. My invalshoek is in die vorm van ‘n vergelyking: ons verstaan van geloof is soos seewater wat verdamp het, en waarvan net die sout nog agterbly. (Nota: ek skryf as ‘n lid van die NG Kerk, in Suid-Afrika; ek wil net solank hierdie punt duidelik maak – dit sal later duidelik word waarom.)

Wat beteken dit om te glo (ingeslote natuurlik Heb 11:1, maar ek vra die vraag ‘n bietjie wyer)? Baie mense sou ‘n lysie daar stel: as mens in hierdie dinge glo (daar is ‘n God; Jesus is God; Jesus het gesterf en het opgestaan) en ook dan vertrou op God – dit is geloof. Kom ons noem dit die sout van die seewater. (Vir my gaan dit in elk geval in ‘n groot mate oor vertroue eerder as ‘n wete.) Goed, hoe jy hierdie dinge verstaan kan verskil van hoe ek dit verstaan – maar dis nie waaroor ek vandag wil praat nie.

Ek wil vandag oor die water praat.

Die water in ons seewatermengsel is iets wat die hele storie aan mekaar bind. Dit is iets waarin die sout ook – laat ek dit nou al solank uitwys – oplos. Vir alle praktiese doeleindes word al die deeltjies sout met behulp van al die deeltjies water aanmekaargehou en aan mekaar verbind. (Ja, ja, ek weet … chemie was nog nooit my sterkpunt nie, maar hierdie is ‘n metafoor!)

Die water, dink ek, is die geloofsgemeenskap. Geloof is eintlik ‘n baie minder private ding as wat ons dit altyd wil uitmaak. Ja, dis belangrik dat jy jou geloofsissues vir jouself uitsorteer: maar indien jy in ‘n geloofsgemeenskap is, word hierdie issues baie minder belangrik. Minder belangrik in die sin dat die hele geloofsgemeenskap nou dit dra – en dat almal by almal ingeskakel is. Om so daaroor te dink, lei tot ‘n baie voller verstaan van geloof: dan praat ons ook van ‘n geloof in ‘n gemeenskap, en nie van ‘n enkele persoon nie. Dan onthou mens ook dat geloof altyd gedeel word.

Twee hedendaagse voorbeelde – en vergewe my as ek hier op tone trap – is die Rooms Katolieke Kerk en die Joodse gemeenskap. Indien ons as Protestantse (Evangeliese?) Christene ons op-die-individu-gerigde definisie van geloof sou gaan toepas op hierdie twee gemeenskappe, sou ons vinnig kon vasstel dat daar heelwat mense is wat “hul geloof verloor het.” Veral die Joodse gemeenskap – soos ek dit nou verstaan, natuurlik. Nogtans skakel hierdie mense sonder teenkanting, maar ook vrywillig, in hulle onderskeie geloofsgemeenskappe in; beskryf hulle hulself as deel van hierdie gemeenskappe. Die gemeenskap aanvaar hulle en wys hulle ook nie op ‘n harde, jy-is-in-of-jy-is-uit manier tereg nie; oftewel, nie sover ek kan agterkom nie.

In dieselfde asem moet ek daarop wys dat ek nie geloof met kultuur wil vervang nie. Die doel van my skrywe is eerder om daarop te wys hoe nou geloof en gemeenskap met mekaar verbonde is; tot so ‘n mate dat ons moeilik ‘n stelling kan maak soos: “Sy het haar geloof verloor.” Inderdaad, dit kan ons nie sê as “sy” dan nog deel van die geloofsgemeenskap is nie, of hoe?

2 Responses to “Hy het sy geloof verloor …”

  1. flippiefanus sê:

    Ek dink ek verstaan die punt wat jy probeer maak, maar …

    Wat dan daarvan dat elkeen op grond van sy of haar geloof gered word? Daar kan die gemeenskap tog nie tot mens se redding kom nie of hoe?

  2. Ronald sê:

    Ja, ek gee toe, my post trek ‘n fyn lyn, maar dis nog steeds daar. Ek stem saam – mens moet nie my metafoor te veel strek nie. Elkeen bly natuurlik nog verantwoordelik vir sy eie geloofsopvattings. Dalk is my probleem meer met die oordeel wat mense soms uitspreek, op grond van wat hulle dink – dit terwyl (volgens my mening) geloof nie ‘n eenvoudige definisie het nie.

    Die Bybel (ek het aspris nie daarna verwys in my blogpost nie), is redelik duidelik oor mens se eie verantwoordelikheid in hierdie storie, maar tegelykertyd word daar nou weer op plekke in die Bybel klem gelê op die geloofsgemeenskap ook.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: