Om God te hierjy en jou

Ek tel ’n tendens op onder sommige van my meer krities denkende vriende om na God in die “normale” tweedepersoon te verwys: “Jy”, of “Jou”. Dit skok my piëtisties Protestantse siel tot in die sesde sirkel van Dante se hel (dis nou die sirkel waar godslastering sou inpas).* Elke keer.

Gelukkig dat van my ander krities denkende vriende my ook ’n paar goed van dekonstruksie geleer het. So, kom ons dink eers ’n bietjie hieroor. Die “U” wat in ons Bybelvertalings voorkom, is ’n respekvorm. Dit word dubbeld beklemtoon – eenmaal deur bloot die feit dat “u” gebruik word, ’n tweede keer deur ’n verwysing na God altyd as ’n hoofletter gedruk word.** Die Engelse taal, daarteenoor, maak nie meer ’n onderskeid tussen die respekvorm en die gewone tweedepersoonsvorm nie (“you”). Hierdie taalverwikkeling het daartoe gelei dat veel sanggroepe wat dit nie in die “regte wêreld” sou kon maak nie, tog vir hulleself ’n naam kon maak in die “Gospel”-wêreld***:

“I love You, I love You, I want You, I want You” is nie ver weg van “I love you, I love you, I want you, I want you” nie. Tot ons spyt.

My weersin teen die gebruik van “Jy” of “Jou” vir God is natuurlik te danke aan my tipiese Afrikanerskap. Mens sê “Oom” en “Tannie”, “Prof”, en in baie huishoudings “Pa” en “Ma”, selfs al sou ’n normale sin ’n voornaamwoord verwag. Dis maar net weens die respekte.

Nou na die Duits. Die Duitsers het seker nog ’n meer ingewikkeld sisteem om respek aan te dui as Afrikaans. Hulle het selfs werkwoorde wat die aksie van “hoflik praat” of “normal praat” te beskryf (“siezen” en “duzen”). Interessant is, egter, dat daar in ’n gesin glad nie “gesiezen” word nie. Daar noem almal – kinders, ouers, grootouers, oergrootouers – watookal – mekaar op die normale tweedepersoonsnaam. Dis nie ’n kwessie van respek nie; dis ’n kwessie van intimiteit. Respek is voorveronderstel – part of the package.

In soverre die nuwe Afrikaanse tendens hierdie feit onderstreep, kan my swak siel heelhartig daarmee saamgaan. Sal ek dit selfs aanraai – die “U” – vorm kan mens dalk God so laat “vrees” dat mens vergeet mens kan ook intiem met Hom wees. And that’s the beauty of it!

__________

Notas:

*Dis nou, as ek as Protestant in daardie tipe goed sou glo.

** Nie vir besitlike voornaamwoorde nie! Ek het al voorheen hieroor gemor.

*** Ek vermoed my vriende kan dalk deur die lirieke / lede van ’n sekere Afrikaanse band beïnvloed wees; dus moet ek vinnig hier byvoeg dat mens nie al die sanggroepe wat ’n verwysing na God as “Jy” of “Jou” oor dieselfde kam kan skeer nie. Plus, as ek reg onthou het hierdie spesifieke sanggroep al lank terug gesê dat hulle nie “Gospel” maak nie, net musiek … :-)

6 Responses to Om God te hierjy en jou

  1. Natalia sê:

    Ek dink die woordjie respek is kern hier. Respek uit latyn beteken “Om weer te kyk”, wanneer ons dus respek vir iemand het is dit om tweekeer te kyk. Wanneer dit by God kom, moet ons nog ‘n paar keer kyk…in verwondering.

  2. toortsie sê:

    O, ek stem 100% saam met jou!!! En hier waar ek vandaan kom praat ons ook nog van oom en tannie, al wil soveel mense dit nie hê nie!! En om my ouers te jy en jou??? NOOIT!!! Hoeveel te meer dan nie vir God nie??

  3. Dion sê:

    Mooi gesê. Ek gebruik ook net “U” as ek met my God praat. Ek dink tog ‘n sekere mate van vrees, maar soos in respek-vrees, is gesond in ons verhouding met God. Dis seker ook maar ‘n geval van nie wat jy sê nie, maar van hòè jy dit sê. Ons kon wel “jy” en “jou” teenoor my pa en ma gebruik (ek dink dit was ook ‘n kwessie van intimiteit), maar hulle name vir aanspreek sal tot die nimmereinde nog “Pappa” en “Mamma” wees, nie “pa” en “ma” nie.

  4. flippiefanus sê:

    Solank respek nie in die plek van liefde kom staan nie. Baie maal in die ommegang tussen mense is respek watverwag word totaal liefdeloos. Ek dink God plaas ‘n baie hoe”r prioriteit op liefde as op respek. Respek en hoe dit uitgeleef word is baie maal ‘n kultuurafhanklike saak, maar liefde is kultuur invariant.

  5. Olga sê:

    Hoe kan liefde moontlik wees sonder respek? Die aanspreek vorm sal maar altyd ‘n twispunt wees. Vir God en mens. My bybel gebruik darem nog U. Nee, my bybel gebruik Thee and thou wat vir my vertaal na U. Hoofletter en al.

  6. Dion sê:

    Netso, Olga… :)

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: