“Dude, watse songs ken jy?”

Dude, watse songs ken jy?”

Indien jy enigsins al ooit êrens gedurf waag het om jou hand aan ‘n kitaar te slaan, is hierdie vraag nie vir jou ’n nuutjie nie. Dit beteken, meestal, hoeveel tabs het jy uit jou kop uit geleer; anders gestel, hoeveel ure het jy daaraan spandeer om een of ander band wat dit reggekry het om in die wye wêreld ’n indruk te maak te probeer na-aap. In meeste gevalle, tot op die laaste klankgolf na te boots.

Mense is gewoonlik verras as ek sê ek ken geen songs nie.

Nou goed, kom ons wees nou regtig eerlik – ek ken die lead (want dis wat mense meestal daarmee bedoel) van een song – ’n redelik onbekende song van Tree, en dit eenvoudig omdat ek dit so baie al gespeel het, ek dink nie ek sal dit ooit vergeet nie. Wat die akkoorde betref – as mens ’n sing-song wil hou (haha! hoeveel keer gebeur dit?) – dit kan mens mos maar improviseer, hoekom nie? Dit hoef in elk geval (volgens my) nie honderd persent te klink soos die oorspronklike nie.

Wat my egter tref as daar plotselings ‘n kitaar op die toneel verskyn, is dat daar altyd een of twee mense is (ouens is, kom ons wees nou eerlik) wat hul repertoire aan mens wil opdring. Of eerder, teenoor mens wil toets. Dit word eintlik so bietjie van ’n kompetisie; wie kan homself die beste met sy (voorbereide, goed ingeoefende) talente in die middelpunt van alle aandag stel.

Betreuerenswaardig.

Die swaartepunt van om ’n instrument te bespeel het vir my al lank terug oorgeskuif na improvisasie. Veral in ’n groep, as daar meer as een persoon is wat ’n instrument kan bespeel. Dit is die ware musiekvryheid; die diepte wat mens saam kan bereik as mens saam ’n melodie optower. Dit is sowaar moontlik met ingeoefende musiek – daartoe moet ek instem – maar dit is altyd ’n begrensde moontlikheid. Dalk is dit hoekom my musieksmaak deesdae meer na Jazz toe neig – minimale grense, maksimale improvisasie.

Ek bely dat ek hierdie tipe improvisasie nog gans en al nie onder die knie het nie. Dit voel vir my egter nog steeds meer van waarde om so ’n kreatiewe, selfstandige musiek na te streef. Dalk beweeg ek net in verkeerde kringe; maar aan daardie kringe sal ek graag wil sê: “Komaan ouens, ruk julleself reg en MAAK musiek.”

Daar is baie ouens wat “beter” as ek is met musiek; ek is seker beter as klomp ander mense wat dit betref (en ek is seker as ek nou sou wou sit en tabs oefen heeldag, sal ek ook ’n indrukwekkende arsenaal kan opbou), maar ek stel veel eerder belang om saam met julle te speel.

4 Responses to “Dude, watse songs ken jy?”

  1. tiaan sê:

    Ronald, bra, get off your high horse! ;-) Ek kan aan een spesifieke Kalahari Konserttoer dink wat ons in ‘n huis in Danielskuil al te lekker gesing-song het op Klopjag se musiek (betreurenswaardig dat jy nie daai aand ook by ons gasteouers oorgeslaap het nie, want dit was legend!), met vriend Cobus aan die stuur van ingeoefende kitaar tabs.
    Ja, ek weet partykeer (okay, meeste kere) is dit ‘n kompetisie van “myne is groter as joune” – maar maak dit regtig die MAAK van musiek op daardie geleenthede minder geldig? Want hoe hard hulle ookal probeer, niemand kan 100% getrou vir Jimi Hendrix, Kurt Cobain of selfs Sallas naboots nie. Is daar nie juis iets daarin raak te sien vir ons strewe om perfek te wees, om soos iemand te wees wat ons bewonder, om iets te beleef van die transendente wat ons self ervaar het toe ons daardie musiek of liedjie of song vir die eerste keer gehoor het nie? Ek leer tog nie ‘n liedjie speel omdat ek NIE daarvan hou nie, doen ek?
    Vra nou daardie openingsvraag aan my, ‘n vioolspeler en my antwoord is: “Enigiets.” Want ek MOET improviseer, as ‘n reel. Vir lank het ek met alles en altyd die wysie op ‘n viool probeer uitwerk, tot my eie frustrasie want ek het geweet dit werk nie. Tot ‘n seminaar by vriend Louis Brittz, waar ek geleer het my werk is actually om in te kleur met my instrument. Ek kry dit nie altyd so goed reg soos wat ek wil nie, maar hey, ek try. In search of the Blue note.
    En ek weet, ten diepste, daai ouens wat die bands so namaak, try ook maar net.

  2. toortsie sê:

    Ja, almal probeer maar net! Ek raak al te oud om al die groot kitaarspelers na te maak. en dis vir my wonderlik as hier van die jeugdiges by my aan huis kom, my kitaar uitruk en die WONDERLIKSTE klanke uit haar haal. LW. HAAR, Want my kitaar is te mooi om MANLIK te kan wees!! Lol. maar…. kry ons lus om sommer net lekker te sing – enige iets – van Sarie Marais tot wat ook al…. dan moet die ou tannie maar weer vir Lisa gryp, want ongelukkig lyk dit vir my, kan die jongelinge slegs dit speel wat hulle geoefen het, en glad nie deur hulle ORE gelei word nie. Manne, meisies! Gryp julle kitare! en SPEEL! maar moenie julle laat beperk deur ‘n papier met voorgeskrewe drukke nie!!! As jy musikaal is, BEHOORT jou ore vir jou PRESIES te wys wat julle moet speel.

  3. Ronald sê:

    Lol! Ja, Tiaan, ek moet erken, ek het dalk te skerp gepraat. Dis daardie “myne is groter as joune” tipe ding wat my so van die hele affêre afsit. Maar dat oefening, en inoefening ook noodsaaklik is, dit moet ek verseker toegee. Ek hou veral van jou beskrywing van hoekom iemand ‘n song sal leer – touché! Ek het nog nie so daaraan gedink nie. En spyt het ek verseker dat ek nie daardie aand op Kalahari saam met julle gekuier het nie!

    Deksels, mis ek nou Kalahari :)

    Toortsie – dis my probleem ook. Maar nou deur die bril van Tiaan se kommentaar, natuurlik. :) Hou so aan met die “op gehoor” speel! Of net musiek maak, oor die algemeen!

  4. toortsie sê:

    Dankie. Met-die-Oor-speel is darem nie die enigste manier wat ek dit doen nie. MAAR ek voel regtig dat juis ‘n kitaar hom daartoe leen om op die oor te speel en dat jy nie so verskriklik vas aan die bladsy voor jou moet wees nie.Die ding is, ‘n kitaar is so ‘n lekker instrument om orals saam te neem en daar is altyd iemand wat sommer net lus het om saam te sing. en dan moet die kitaarspeler nie sê: Ek kan hierdie eenvoudige lekker saamsingliedjie nie speel nie. Soos om ‘n vuur.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: