Doop, nagmaal en jongdominees (oftewel, proponente)

Toe ek nog jonk en bitter was … nou goed, seker nie die regte woordkeuse nie, eerder semi-rebels-krities … het ek al ‘n paar keer kritiek uitgespreek oor die feit dat proponente (dit is nou teologie studente wat afgestudeer is, maar nog nie in ‘n gemeente as ‘n dominee werk nie) nie die doop en nagmaal kan bedien nie. Hoekom kan ons (want ek is ingesluit in hierdie kategorie) preek dat die spoeg spat, maar nie die sakramente bedien nie (alhoewel hierdie “tekens” nie uit onsself nie, maar van God kom)?

Die mees arrogantste kritiek wat ek uitgespreek het, is in ‘n dokument waarin ek my beweegredes moes uiteensit waarom ek ‘n proponent / dominee in die NG Kerk wil word. In my inleidingssin kom dit al so bietjie deur:

” … hoekom ek ‘n predikant sou wou word in die NG Kerk … “

‘n Bietjie later in die dokument sê ek prontuit:

“Alhoewel ek nie verstaan hoekom slegs predikante die doop en nagmaal kan bedien nie, respekteer ek die NG Kerk se siening oor hierdie saak.  Ek sal graag self ook hierdie tekens wil bedien.  Dít is een van my beweegredes om toegelaat te word om ‘n predikant te wees in die NG Kerk familie.”

Natuurlik ‘n bietjie toegedraai in ‘n “ek-verstaan” verskoning, maar my gevoel, dink ek, het duidelik geblyk.

Nie die regte plek hierdie om om verskoning te vra nie – maar, en ‘n baie groot MAAR: ek het tot ander insigte gekom. Ek verstaan dinge bietjie beter. Daarom, baie genuanseerd, wil ek my stelling verander: ek dink dis ‘n goeie ding dat net predikante wat vas aan ‘n gemeente gekoppel is hierdie sakramente kan bedien.

Net eers gou ‘n “disclaimer.” My verduideliking neem nou ‘n idealistiese vorm aan – waarmee ek bedoel, dis die ideaal waarna gemeentes moet streef. Daar is natuurlik nie so ding soos ‘n “ideale gemeente” nie, maar soos met baie ander goed in die teologie kan die idee van ‘n “ideale gemeente” ons  ‘n bietjie help om nader daaraan te kom in ons eie gemeentes.

Hier is my verduideliking, kortom:

Die doop en die nagmaal beteken nie veel sonder ‘n gemeenskap waarin dit plaasvind nie. Hierdie gemeenskap kan natuurlik op ‘n hele aantal maniere verstaan word. Dit het alles te doen met verhoudings; tussen mense in die ganse gemeente. In my “ideale gemeente”-beeld moet ‘n dominee dan ook met mense in haar / sy gemeente ‘n verhouding opbou; ‘n sekere rol vervul in hierdie gemeente, en (sleutelwoorde!) oor ‘n lang tydperk ‘n pad met hierdie gemeentelede stap.

Met ander woorde: doop en nagmaal is tekens van God se betrokkenheid by die mens; maar hierdie betrokkenheid sluit ook die mens se betrokkenheid by ander mense in. Die regte plek om hierdie tekens dan na vore te laat kom, is natuurlik die primêre waar mense hulle betrokkenheid by God en ander mense uitleef. Dit sluit die predikant in! So, ‘n predikant wat vas aan ‘n gemeente gekoppel is, is die regte persoon om die simboliek hiervan uit te beeld. QED!

11 Responses to Doop, nagmaal en jongdominees (oftewel, proponente)

  1. Tom Smith sê:

    Ek dink ook daar is iets in die community-aspek van die sakramente veral soos dit betrekking het tot kerk dissipline … thanks vir hierdie.

  2. Haai Ronald,

    Ek was dit eens met jou dat ek ook nie kon verstaan dat Proponente (en 4de jaar teologiestudente for that matter) die Woord kon bedien (en dat dit kerkordelik bo die bediening van sakramente gesien word), maar nie self die sakramente kon bedien nie.

    Dieselfde oortuigings wat jy nou het oor die bediening en aard van sakramente, deel ek met jou. Tog dink ek steeds dat die Kerkorde nie konsekwent is in hierdie saak nie. Ek sou dit eintlik graag verander wou sien, nie op grond van ‘n hïerargiese ding nie, maar juis omdat die sakramente tot die gemeenskap behoort en eintlik net in die geloofsgemeenskap uitgeoefen moet word.

    Dit beteken dat ek nie ten gunste van privaat doop rituele is nie, want hoe word jy dan ingesluit by ‘n gemeenskap as die gemeenskap nie eers daar is om dit te sien nie?

  3. Ronald sê:

    Pieter, ek stem saam. Dis ongelukkig ook bietjie van ‘n magspel, as ek my eerlike opinie moet gee. Of, dis hoe dit in elk geval vir my nog voorkom. Dalk sou dit beter wees om mense (nie net predikante nie!) kerkordelik toe te laat om die doop en nagmaal te bedien indien daardie persoon self ‘n pad in die gemeente gestap het.

    Wat die privaat doop betref: ja, daar het jy verseker ‘n punt beet. Bygesê, dis vir my altyd mooi as ‘n liturg die kinders in die gemeente vorentoe roep om te kyk hoe word ‘n ander kind (of grootmens) gedoop, en hulleself, eintlik ons almal, ook so herinner word aan ons eie doop.

  4. Marina du Toit sê:

    Ronald
    Ek is self nie ‘n predikant nie
    En ook nie eers ‘n proponent nie ;-)
    Ek is net ‘n gewone persoon…

    Maar wat ek wel wil sé is dat die sakramente vir my NIE net deur predikante of selfs proponente bedien kan word nie.
    Ek glo dat die vir die gelowiges en dus die geloofgemeenskap gegee is en dus voel ek dat dit juis so gebruik kan word daar waar gelowiges saam is.
    Ek het al telke male bv nagmaal gebruik by verskeie geleenthede soos by my selgroep,vriendekring,as band,op ‘n kamp en selfs ook net in ‘n gebedstent.
    Meeste van hierdie kere het ‘n predikant nie die nagmaal bedien nie!Dit was wonderlike geleenthede waar ons as gelowiges onsself herhinner het aan Jesus en dit wat Hy vir ons gedoen het.
    Ek glo dus nie dat sulke geleenthede weggeneem kan word van die gelowige en beperk word tot geleenthede waar predikante (of selfs proponente) kan wees nie.

    Ek is bang dat soveel van ons as gelowiges se daaglikse verkeer,handeling en kommunikasie met God beperk word tot “kerk” tyd of daar waar ‘n dominee is.Dit minimaliseer ons gelooflewe en die uitleef daarvan…
    Ek voel dat die primere rol van ‘n predikant is om lering uit die Woord te gee wat hy so bevoorreg was om voltyds vir soveel jare te bestudeer en om sodoende volwasse gelowiges om hom op te rig wat NIE afhanklik van hom raak in enige area van hul gelooflewe nie.

  5. flippiefanus sê:

    Marina ek stem heelhartig met jou saam.

  6. Ronald sê:

    Hi Marina!

    Ek hou baie van hoe jy jou standpunt stel. Daar is ‘n paar goed wat ek wil uitlig, as ek mag: in al die voorbeeld wat jy gee van die nagmaal, gaan dit oor ‘n gemeenskap, nie waar nie? ‘n Plek waar gelowiges ook mekaar se verhoudings vier? Anders gestel, ‘n plek waar daardie saamwees-as-gelowiges ook baie spesiaal is. Haha! Gelukkig het ek myself gecover met “Hierdie gemeenskap kan natuurlik op ‘n hele aantal maniere verstaan word,” want ek dink ook nie dis net tot wat ons as “normale” erediens of gemeente sou sien beperk nie.

    Tog sou ek nog graag wou dink dat die erediens ‘n spesiale plek inneem as hierdie gemeenskap as ‘n gemeente bestaan. En hier kan ek sien hoekom die kerkorde nie wil hê enige Jan Rap moet die sakramente bedien nie; maar eerder iemand wat ‘n meer “permanente” rol speel in die gemeenskap. Natuurlik, weereens, is my idee gebaseer op ‘n “ideale gemeente”. Dit gaan nie altyd so wonderlik nie, feit soos ‘n koei.

    In my haas en onkunde as ‘n jong amper-proponent het ek nie hierdie klem op die verhouding deel van die sakramentbediening gesien nie – en dis wat ek eintlik bekla in hierdie post :)

    [Wil myself nou pootjie en byvoeg, daar is iets baie spesiaal daaraan om in ‘n wildvreemde plek, tussen wildvreemde mense, en soms in ‘n wildvreemde taal, saam die nagmaal te kan gebruik – wat ook natuurlik op ‘n verbintenis dui, selfs al ken ons mekaar van geen kant af nie.]

    Ek hou baie van jou laaste paragraaf. Wens meer mense (en die hele kaboel – predikante, proponente, ens – is hierby ingesluit) kon dit insien. Ek moet nog self ‘n bietjie gaan dink oor hoe dit by my prentjie inpas … dankie!

  7. cobus sê:

    ek het nou weer my beweegredes deurgelees, en tot die konklusie gekom dat jy die groter rebel is :-)

    ek wonder of jy nie die gemeenskap ding nog sterker moet benadruk nie (soos wat ander wat gecomment het ook sê), maar versigtig moet wees met die “predikant” ding nie. As predikant voel ek minder vas aan die gemeente as baie lidmate. Ek weet immers dat daar ‘n dag sal kom wat ek moontlik na ‘n ander gemeente sal skuif, maar soveel lidmate in ons gemeente sal daar aftree, is hulle nie dan beter gekwalifiseer om die sakramente te bedien as ek nie?

    verder, as ons hierdie lyn wil volg sal ons weer moet vra of die sakramente dan dalk belangriker as die prediking is? wat moontlik so kan wees…

  8. Ronald sê:

    Net op papier, Cobus, net op papier! :)

    Dit lyk dan of die konsensus in hierdie gesprek beweeg daarnatoe dat ENIGEEN die sakramente kan bedien, mits dit in gemeenskap / verhoudings plaasvind. Ek is heeltemal gemaklik hiermee. My oorspronklike lotsbeklaging het begin by die predikant / proponent onderskeid en hoe ek dit nou opgelos sien, maar ek kan insien dat my “insig” eintlik verder gevat moet word. Goeie punt oor die predikante wat weet hulle gaan moet skuif!

    Ek wonder al lankal oor die prediking ding; ek sal ook gemaklik wees daarmee om te sê die sakramente is “belangriker”, maar dan moet mens ook natuurlik versigtig wees om dit oor te beklemtoon. Dalk moet ons sê “die gemeenskap van die heiliges” is die middelpunt?

  9. cobus sê:

    Ek sal nog verder wil dink Ronald. Ons sal moet onderskei tussen “gemeenskap” en “verhoudings”. Ek dink “gemeenskap” is anders as “verhoudings”. Ons sal ook moet dink wat maak “geloofsgemeenskap” anders as net “gemeenskap”, want ek dink dit is waar die sakramente hoort. Maar daai term is met soveel negatiewe goed weer gelaai.

  10. tiaan sê:

    Haha julle is toe meer gereformeerd as wat ek (en ek vermoed julle self) gedink het!
    Wou eers ook vra nou wat van my, die proponent-jeugwerker wat al die “opleiding” het en vas aan die gemeenskap verbind is, maar nie die sakrament aan my belydeniskids by hulle aflegging mag bedien nie. Bietjie weird. Maar sien die gesprek het reeds in daardie paadjie gestap, so semi in elk geval.
    Het “gemeenskap” nie in elk geval iets met “geloof” uit te waai nie? “Glo” ‘n “gemeenskap” nie per definisie in iets “gemeenskapliks” wat hulle dus saambind nie? Just wondering.

  11. Middag Ronald!

    Ek het toevallig op hierdie “thread” afgekom toe ek inligting gesoek het aangaande ander mense as predikante wat die nagmaal bedien.

    Ek is mede-aanbieder van ‘n alfa-kusus by ons gemeente en die hoofaanbieder (ook nie ‘n predikant nie) het my gevra om vanaand nagmaal by die sessie te bedien. Die mense is almal aktiewe lidmate van die gemeente en nie soos gewoonlik nuwe gelowiges wat ‘n inleiding in die Christelike geloof wil hê nie.

    Wat is jou opinie/ raad?
    Bernard Jordaan (11245850)
    osiresbj@gmail.com

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: