Rugby, geweld en die Bybel

Hierdie post is eintlik soortvan in gesprek met ‘n post van ‘n vriend oor rugby en geweld, en dis eintlik ‘n goeie idee om daardie post eers te lees.

My storie loop seker min of meer dieselfde – ek het ook op skool rugby gespeel (net op laerskool), en ek moet erken, ek het nie so vinnig die lyntjies getrek met geweld nie. Alhoewel ek ook stories sou kon vertel van vriende wat openlik oor hulle vuilspel gespog het.

Ek onthou een dag op universiteit (dit was seker al eintlik na universiteit) op ons stoep toe ek, Cobus (wat die ander post geskryf het) en nog ‘n paar ander juis oor hierdie tema gesit en gesels het. Op daardie stadium was ek ook al oortuig dat rugby eintlik ‘n gewelddadige sport is; maar wat ek daardie dag besef het, is dat ek nie bereid was om dit hardop te sê nie, want dan sou ek klomp ander vorme van geweld ook moet aanspreek. Ek was juis in daardie tyd besig om een van laasgenoemde te lees – 1 Makkabeërs – en ek het daarvan gehou. Nee, ek sal dit openlik erken: ek hou nog steeds daarvan. Ek is eintlik versot daarop; net soos ek versot is op al die ander verhale in die Bybel (die Koningsboeke; Samuel; Rigters; ens.). En tog is dit vol geweld. Lees byvoorbeeld hierdie gedeelte, oor hoe Mattatias reageer toe hy gevra is (lees: gedwing is) om teen sy geloof te offer (1 Makkabeërs 2:23-25, my vrye vertaling):

Hierdie woorde was nog nie koud op sy lippe nie, toe ‘n Judese man daar voor almal kom om op die altaar in Modeïn te offer, soos die koning beveel het. Toe Mattatias dit sien was hy so vol geesdrif dat sy niere so te sê begin bewe het. Hy het goeie rede gehad om smoorkwaad te wees! Hy het nader gehardloop en die man net daar op die altaar afgeslag. Die man wat die koning gestuur het om die mense te dwing om te offer, het hy sommer tegelykertyd om die lewe gebring, en die altaar het hy afgebreek.

Dit klink soos iets uit ‘n fliek uit – 300, byvoorbeeld. (“This is Sparta/Juda!”)

Alhoewel ek dus van hierdie verhale uit die Bybel hou (ja, want die ander Bybelboeke, wat in die Protestante se Bybel is, het ook sulke voorbeelde!), lees ek dit deesdae ook met ‘n gevoel van weersin. Ja, iemand moet ook hierdie gevalle van geweld in die Bybel uitwys, en daarop wys dat ons, as Christene, nie meer daarmee kan saamgaan nie. Selfs al spreek dit my (sondige?) wese aan.

Die onderskeid tussen Nuwe Testament en Ou Testament help ons dalk hiermee, maar ook net so ver. Daar is ook voorbeelde in die Nuwe Testament waar geweld – myns insiens – ‘n te hoë waarde toegeskryf word. (Openbaring, om maar ‘n vinnige voorbeeld te noem.) Terselfdertyd is daar tekste soos Matt 5:38-39 – en dis hierdie lyn wat ek dink ons ons voor moet beywer.

Daarmee wil ek egter nie rugby, die Ou Testament, en stories soos 1 Makkabeërs heeltemal afskryf nie. Al drie hierdie het ons baie om te leer. Ek dink, byvoorbeeld, dat rugby ook baie goed kan wees – en ek ken ten minste een gesamentlike vriend van my en Cobus wat ten volle hiermee sal saamstem ;) ‘n Mens kan seker hier Invictus as voorbeeld noem (wat ek versigtig doen, want ja, ek sal ook erken ek het dit nog nie gekyk nie. Ek het een keer probeer, maar die DVD was gekrap). Miskien gaan dit hier eerder oor die manier hoe mens die spel speel? Wat Bybellees, en 1 Makkabeërs betref: ja, mens moet leer om verby die geweld te lees, en dan lees mens wel iets van geloof raak. Daarbenewens egter ook nog iets anders: dat ons geloof eintlik nooit ten volle kan vasvat en verstaan nie. 1 Makkabeërs illustreer dit baie goed (en dis die moeite werd om te lees!) – dit wat as held, as leier, as voorbeeld daar gestel word, is iets heeltemal anders as wat so eeu en ‘n half later gebeur het!

One Response to Rugby, geweld en die Bybel

  1. cobus sê:

    Ek onthou een oggend toe ek ‘n gesprek met ‘n redelike prominente skrywer gehad het juis oor die vraag van die kanon, en dit wat het gelei toe vrae oor geweld in (spesifiek) die Ou Testament. Alles was so half gemix met vrae oor Christene en Moslems ook. Sy opmerking het nogals ‘n blywende effek op my gehad: “elke godsdiens het die verantwoordelikheid om die slegste uit hulle geskiedenis te onthou, en dan te sê: ‘hierdie mag nooit weer gebeur nie'”. Later daai dag het ek my eerste besoek aan die apartheidsmuseum gehad…

    Ek probeer dus om oor verhale uit my eie tradisie wat vol geweld is te sê dat ek self sal verantwoordelikheid vat (of anders vir jou sal vra om dit te doen, siende dat jy die tekste baie beter ken) om dit te onthou. Ek hoef nie van buite af herinner te word dat my eie tradisie vol geweld is nie, ek sal dit self erken. Maar ek sal ook daarmee saam sê dat hierdie nooit weer mag gebeur nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: