Doop, nagmaal en jongdominees (oftewel, proponente)

September 17, 2010

Toe ek nog jonk en bitter was … nou goed, seker nie die regte woordkeuse nie, eerder semi-rebels-krities … het ek al ‘n paar keer kritiek uitgespreek oor die feit dat proponente (dit is nou teologie studente wat afgestudeer is, maar nog nie in ‘n gemeente as ‘n dominee werk nie) nie die doop en nagmaal kan bedien nie. Hoekom kan ons (want ek is ingesluit in hierdie kategorie) preek dat die spoeg spat, maar nie die sakramente bedien nie (alhoewel hierdie “tekens” nie uit onsself nie, maar van God kom)?

Die mees arrogantste kritiek wat ek uitgespreek het, is in ‘n dokument waarin ek my beweegredes moes uiteensit waarom ek ‘n proponent / dominee in die NG Kerk wil word. In my inleidingssin kom dit al so bietjie deur:

” … hoekom ek ‘n predikant sou wou word in die NG Kerk … “

‘n Bietjie later in die dokument sê ek prontuit:

“Alhoewel ek nie verstaan hoekom slegs predikante die doop en nagmaal kan bedien nie, respekteer ek die NG Kerk se siening oor hierdie saak.  Ek sal graag self ook hierdie tekens wil bedien.  Dít is een van my beweegredes om toegelaat te word om ‘n predikant te wees in die NG Kerk familie.”

Natuurlik ‘n bietjie toegedraai in ‘n “ek-verstaan” verskoning, maar my gevoel, dink ek, het duidelik geblyk.

Nie die regte plek hierdie om om verskoning te vra nie – maar, en ‘n baie groot MAAR: ek het tot ander insigte gekom. Ek verstaan dinge bietjie beter. Daarom, baie genuanseerd, wil ek my stelling verander: ek dink dis ‘n goeie ding dat net predikante wat vas aan ‘n gemeente gekoppel is hierdie sakramente kan bedien.

Net eers gou ‘n “disclaimer.” My verduideliking neem nou ‘n idealistiese vorm aan – waarmee ek bedoel, dis die ideaal waarna gemeentes moet streef. Daar is natuurlik nie so ding soos ‘n “ideale gemeente” nie, maar soos met baie ander goed in die teologie kan die idee van ‘n “ideale gemeente” ons  ‘n bietjie help om nader daaraan te kom in ons eie gemeentes.

Hier is my verduideliking, kortom:

Die doop en die nagmaal beteken nie veel sonder ‘n gemeenskap waarin dit plaasvind nie. Hierdie gemeenskap kan natuurlik op ‘n hele aantal maniere verstaan word. Dit het alles te doen met verhoudings; tussen mense in die ganse gemeente. In my “ideale gemeente”-beeld moet ‘n dominee dan ook met mense in haar / sy gemeente ‘n verhouding opbou; ‘n sekere rol vervul in hierdie gemeente, en (sleutelwoorde!) oor ‘n lang tydperk ‘n pad met hierdie gemeentelede stap.

Met ander woorde: doop en nagmaal is tekens van God se betrokkenheid by die mens; maar hierdie betrokkenheid sluit ook die mens se betrokkenheid by ander mense in. Die regte plek om hierdie tekens dan na vore te laat kom, is natuurlik die primêre waar mense hulle betrokkenheid by God en ander mense uitleef. Dit sluit die predikant in! So, ‘n predikant wat vas aan ‘n gemeente gekoppel is, is die regte persoon om die simboliek hiervan uit te beeld. QED!


Mag: Deel 1

Junie 14, 2010

Die laaste ruk dink ek nogal na oor mag. Nie mag op grootskaal, soos wêreldmagte of wêreldmarkte of selfs nasionale politiek nie, maar die mag van redevoering en gesprek. Beide interne gesprek en publieke gesprek; ja, eintlik die fyn nuanses van enige gesprek. Die volgende paar blogposts gaan ek bietjie daaroor nadink – in drie dele: in die kerk, in die Bybel, en sommer in gesprek tussen twee mense.

Ek was vandag vir die eerste keer in die St Reinoldi gemeente in Dortmund, waar ek die volgende vier maande bly. Dit was vir my welgevallig, en ek dink ek gaan by die gemeente betrokke raak. Dit is ‘n Evangelische gemeente, so ek verstaan hoe die erediens aanmekaargesit is, en ek voel heel tuis in die effens formele erediens. Ek ken die wysies van meeste van die liedere en die mense is heel vriendelik. Daar is elke tweede Dinsdag van die maand ‘n Taizé diens, en die preek was vir my goed. (Natuurlik moet ek erken dat ek nie 100% die preek kon volg nie, maar ek kon darem min of meer die rigting van die gesprek peil.)

Inderdaad, die preek was goed. Ek wil dit graag benadruk, want dit wat volg mag dalk laat blyk dat ek nie so dink nie. Sien, die afgelope ruk dink ek onwillekeurig aan mag, veral hoe mense gesprekke gebruik om mag te bekom, en wat hulle dan met daardie mag wil bereik. In hierdie preek uit Efesiërs twee het die prediker mooi verduidelik hoe daar twee groepe teenwoordig was in die gemeente aan wie die brief gerig is: (ten minste) die Jode en die nie-Jode. Hy het mooi verduidelik hoe dit juis in Christus is dat hierdie twee met mekaar oor die weg kon kom – selfs al het hulle soms vasgesit. Natuurlik het hulle vasgesit, anders was dit nie nodig om dit weer in te brief te beklemtoon nie. Maar op ‘n manier is Christus die gom – die bindmiddel – wat hierdie twee groepe kon verbind.

Die prediker het sy storie afgesluit met ‘n staaltjie uit die verlede van die gemeente, wat geëindig het met ‘n gemeentelid wat as teologie-professor bevestig is in dieselfde gebou waar ons op daardie oomblik gesit het. (Hoekom vertel ek nie die hele storie nie? Dis juis hier waar die Duits my bietjie ondergekry het. Tot my spyt.) Die prediker het inderdaad met hierdie staaltjie afgesluit! Waarom? Om ekstra gewig aan sy preek te verleen. Anders gestel – en miskien ‘n bietjie kras, maar tog so – om die mag te bekom om te oorreed. In hierdie geval, deur te verwys na iets wat in die gemeente self gebeur het.

Elke gesprek bevat ‘n mate van mag; selfs al is dit net om die reg te kry om te praat. Meer dikwels is dit om die reg te kry om vertrouenswaardig te wees – selfs al is die gesprek in ‘n ligte trant. Dit is, het ek tot die slotsom gekom, ook so in die kerk, en veral in die erediens. (Ja, helaas – ook in hierdie blogpost, of meeste ander gesprekke wat ek aanknoop!) Dit is natuurlik nou verbind aan die kuns van retoriek.

Ek het onlangs ‘n ander gemeente besoek wat ‘n tyd vir getuienis ingeruim het. Wat my opgeval het – ek het immers na punte gesoek waar die soeke na mag deurskemer – is dat die oorgrote meerderheid (eintlik sonder uitsondering) van die getuienisse die “mag” van die spesifieke gemeente beaam het.

Vandat ek by gemeente X aangesluit het, het die Here my regtig geseën.

Gemeente X het vir my soos ‘n familie geword; hier ervaar ek die liefde van die Here!

Ek het vir jare lank aan ‘n siekte gely, en eintlik was my lewe chaos, tot my vriend my na gemeente X gebring het. Ek is nie oornag genees nie, maar die siekte is besig om te verdwyn …

Die prediker het by hierdie geleentheid ook nie juis op hom laat wag nie. Die vraag wat by my vassteek, is hoe mens dit moet beoordeel? Ek weet nie. Dis maklik om vingers te wys, maar as mens regtig eerlik moet wees, kom hierdie soeke om mag dikwels na vore.

Soos in die Bybel.

Maar heirdie blogpost is al klaar heeltemal te lank, so meer daaroor in ‘n volgende aflewering.


Kerk op die internet?

Desember 23, 2009

Is daar ruimte vir kerk op die internet? Dis ‘n vraag wat ‘n paar van ons al op Google Wave onder die vergrootglas gehad het. My kort antwoord hierop is “nee”. Tot onlangs toe kon ek egter nog nie my vinger plaas pop juis wat dit is wat my daarvan pla nie.

Ek dink die probleem is gemeenskap. Ons siening van kerk en hoe om kerk te wees, dink ek, is heeltemal te veel informasiegedrewe. Dink ‘n bietjie daaroor. Om net eredienste as voorbeeld te gebruik (want daar is baie ander manier om “kerk te wees”): Mense stel baie maklik ‘n erediens aan ‘n preek gelyk – m.a.w. “die diens was vandag goed gewees” = “die dominee het vandag mooi gepreek”. Ja, miskien ook ‘n bietjie van hoe die inligting oorgedra word (“mooi gepreek”). Hoofsaaklik, egter, wat oorgedra word.

Dis natuurlik nie nuus nie. Wat ek egter nou hier wil sê, is dat hierdie informasiegedrewe verstaan van wat die kerk is, ook oorgespoel het in hoe ons daaraan sal dink dat kerk op die internet moet wees. Dink byvoorbeeld aan echurchalhoewel hierdie oordra van inligting ‘n baie nodige (en nuttige) ding is, voldoen dit nie aan wat ‘n kerk moet wees nie – of wat ‘n erediens moet wees nie. Net so is daar baie ander informasiegedrewe inligting op die internet beskikbaar – podcasts, video’s en ander blogs. Gewoonlik is hierdie egter net die preek – nie eers die hele erediens nie!

Nou is ek seker ‘n bietjie hard op die internet. Die koms van Web 2.0 het natuurlik vir ons die geleentheid gebied om te antwoord in ‘n gesprek – en so dit eintlik regtig ‘n gesprek te maak. Ek sal dit egter waag om te sê hierdie is ook meestal gegrond op inligting. Dit gaan nog steeds oor die wat van die gesprek.

Aan die einde van November het ek die voorreg gehad om saam met ‘n Amerikaanse familie Thanksgiving te vier. Die meisie wat my genooi het, het voor die tyd vir my verduidelik wat ek verwagte kan wees. Op ‘n punt het sy min of meer die volgende gesê:

After lunch, we just sit around and enjoy each other.

Mens sou natuurlik verwag “enjoy each other’s company” – maarbogenoemde is wat sy gesê het, en dit het soveel meer trefkrag. Daar is iets daarin om soms net bymekaar te wees, selfs al doen mens niks – al sê mens niks.


Ou skool worship en prefab lofprysing

Oktober 27, 2009

Ou skool worship. Uit volle bors.

Soveel so dat ek nie weet wat om daarmee te doen nie.

Soveel so dat Jesus, groot bo almal klink soos ‘n skool wat alles gee om die geesbeker by interhoër in te palm. Helaas, nee, ek dink nie ek het al ooit by ‘n sportbyeenkoms ‘n lied gehoor wat met soveel drif gesing word nie.

Dit skreeu – ja, dit grens letterlik aan skreeu – teen alles wat ek al in my korte lewe oor lofprysing (en om lofprysing te lei) geleer het. In my kop moet daar ‘n gewyde stilte wees; daardie meaningful silence êrens in die middel van ‘n liedjie in die middel van die hele affêre. Lofprysing moet mos min of meer hierdie patroon hê: ‘n raserige begin, ‘n diep middel, met ‘n fokuspunt êrens, en dan (bege)lei die musiekspan weer die mense uit om hulle gereed te kry vir die boodskap wat volg.

Lofprysing by die Jakaranda kinderhuis lyk soos volg: ‘n raserige begin, ‘n raserige middel, en dan ‘n raserige einde. Bygesê, hulle laat hulle ook nie eintlik juis lei nie – deels omdat hulle dalk nie die musiekspan so goed kan hoor nie; die gevolg hiervan is dat ons eerder hulle tempo vat as andersom. Aanvanklik het ek gedink hierdie mense dryf die spot met ons; maar na dit keer op keer gebeur, dink ek nie meer so nie. Inteendeel, ek dink hulle hou van sing. Uit volle bors. Die hele tyd.

Dit dwing natuurlik die vraag na vore: is daar iets verkeerd hiermee? Verseker nie!. Die hele gedoente wys net hoeveel die prefab idee van lofprysing in my kop is: daar moet eenvoudig stilte tussen-in wees. Die prefab idee van lofprysing hoor ons gereeld in allerlei vorme: by die kerk, op CD’s, by lofprysingsshows. Dit veronderstel ‘n sekere wyse van omgaan met musiek en ‘n sekere kwaliteit van musiek. Daarmee is nou nie noodwendig iets verkeerd nie – veral kwaliteit, maar sodra prefab lofprsying ons enigste manier word waarop ons sing, begin ons ons “lofprysing” altyd daaraan meet – dit word ‘n maatstaf (wat deur ander mense opgestel is!) om te bepaal of ons regtig nou geworship het.

Daarom dink ek nie ek moet die mense by Jakaranda kinderhuis “opvoed” in lofprysing nie. Hulle ken dit klaar – dalk meer as ek. Ja, inteendeel – ek sê dankie vir dit wat ek by hulle kon leer, en ek sien uit na die volgende keer wat ek saam met hierdie mense sang kan geniet.

 

 

 


(Geestelike) Supersterre!

Oktober 12, 2009

Die Oostelike Sinode van die NG Kerk het ‘n liedjieskrywerskompetisie uitgevaardig. Dit het my baie laat dink.

Hoekom juis die kerk se musiek op dieselfde manier as die wêreld se musiek inrig? Op die ritme van dieselfde sisteem? Is dit sinvol om ‘n Idols te hou sodat ons ‘n beter liedereskat vir die kerk kan opbou?

My dink is in twee geskeur.

Aan die een kant is dit wonderlik dat daar soveel nuwe liedere in omloop kom. (Vir hierdie sinode is daar 206 liedere ingeskryf! 206 – maar nie almal gaan noodwendig gebruik word nie. Ek hoop daar is meer liedere wat mens kan gebruik as net die wat gewen het.) Dit is belangrik, want musikale mense mag dalk van verveling dood neerslaan as daar nie nuwe goed geskryf word nie. (Meeste kerke het nie versekering teen hierdie tipe goed nie.) Belangriker as dit, is dat daar juis ‘n tekort aan liedere is vir die handjievol mense wat hierdie styl liedere in hul eredienste wil gebruik. Die hoendertand-getal goeie liedere waaruit hulle op die oomblik keuses kan maak, bied min of meer die verskeidenheid wat my klerekas my elke oggend bied.

Dan moet ek ook skerp kritiek teenoor die verIdolisering van die kerk se musiek uitspreek. Wel, om die waarheid te sê, ek het nog altyd gedink Idols is in elk geval ‘n bietjie van die pad af. Dis so … sinteties. Soos plastiek-ketties. Ja, baie soos plastiekketties, die musiek word ook in ‘n gietvorm ingedruk.

Dalk sou dit ‘n goeie idee wees as ons ons aandag ‘n bietjie bestee om mense te help om eerder in gemeentes liedere te skryf – vir gemeentes. Eerder as om die ore na buite te rig, om na een of ander Superster-strooipop se pype te dans. Dit sou vir my sin maak. As ‘n been-af verliefde sot ‘n liefdeslied skryf, mag dit dalk vir almal rondom hom pragtig wees, maar dit het partykeer net regtig betekenis vir sy bessie-wang stroopgesiggie. (Dan vra mense nog hoekom ek nie ‘n meisie het nie!) Dit mog dalk die geval wees met ons kerkmusiek ook. Ons smokkel soveel liedere van buite af in – nee, die oorgrote meerderheid van ons liedere – dat dit soms maar net mooi op die oor val. En dood lê verkluim daar buite. Dalk kan ons gemeentes begin help om vir hulle self liedere te skryf?

Natuurlik is dit nie altyd sleg om liedere van buite af te kry nie. Party mense het nou maar eenmaal net die gawe om dit goed te kan doen. Dit moet ons deel met ander. Veral die wat in Suid-Afrika self begin liedere skryf. Dit spreek tog almal van ons aan – ten minste verstaan ons die taal daarvan. Daarom is ‘n liedjieskryfkompetisie dalk nie die slegste ding wat in die kerk kan gebeur nie.

Ek moet darem ook in hierdie post iets sê van hoe die Oostelike Sinode se liedjieskryfkompetisie uitgedraai het. Ek is opgewonde oor die nuwe liedere wat ons bykry. Ek het nie so baie van alles gehou nie – maar smaak verskil seker. Hier en daar het ek so effens begin skrik vir die teologie van ‘n lied – maar aan die ander kant, ek skrik elke nou en dan effens vir die teologie van ander mense se uitsprake (en gereeld as ek in die spieël kyk).


O Kinders! My bedieningsvoorkeure het geskuif!

Julie 26, 2009

Terwyl ek nog die predikantpaadjie-teologiekursus op fakulteit geloop het, het ek altyd gedink dit sal lekker wees om met dié of met dáái groep mense te werk. Dis seker maar hoe dit met elke tokkelok gaan. Die eerste ruk (en dit kom van hoërskool af) het ek altyd gedink ek sal ‘n “jeugdominee” wees – dis nou iemand wat se hooffokus op tieners is. Dit het redelik gou verander op universiteit; ek het begin dink studente is meer my ding – of miskien ou mense.

Redelik onlangs het ek weer skuiwe gemaak in die volgorde van hierdie voorkeure. Die lysie lyk nou so:

  1. Nog steeds studente; insluitende mense net na skool wat nie gaan studeer het nie.
  2. Mense tussen 40 en 60.
  3. Voorskool en laerskoolkinders.
  4. Oumense (ouer as 60).
  5. Mense tussen 25 en 40.
  6. Tieners (hoërskoolkinders).

Alhoewel die studente ding nou al ‘n rukkie lank in plek is, was daar ‘n radikale omswaai tussen hoërskoolkinders en laerskoolkinders. Hulle het net mooi plekke omgeruil. Snotneusies, inkleurkryt en klein skoene maak my nog steeds nie kinderlik opgewonde nie (en die kanse is goed dat dit nooit sal gebeur nie); erger nog, wanneer mense baba-taal begin praat en verkleinvorme vir alles begin gebruikies gooi ek steeds in my mondjie op, maar ek verander nie meer in ‘n soutpilaar as die klein goed in my teenwoordigheid kom nie. Inteendeel, dit voel vir my asof ek al hoe meer agter die kap van die byl begin kom en verstaan hoe werk die goed se koppe! Natuurlik is dit wat jy sien dit wat jy kry. Belangriker nog, hulle het min of meer almal dieselfde behoeftes – en dit kan ‘n mens deur die bank lees en aanspreek. Dieselfde kan mens nie sê van tieners nie – daardie klomp is oppervlakkig op ‘n ander manier.


26 – en steeds op soek na my identiteit

Julie 23, 2009

Sal ek dit nou maar erken? Ek is nog steeds op soek na my identiteit. Neig 27 se kant toe. Dis telkens as iemand sommer goed aanneem oor my dat ek dit veral ervaar – byvoorbeeld, mense wat aanneem dat ek in die akademie gaan opeindig, êrens by ‘n universiteit, besig om my stowwerige lesings aan te bied vir die stowwerige banke waarop niemand regtig sit nie.

Die afgelope week is ek op veral twee geleenthede uitgedaag om weer ‘n bietjie van meet af aan oor my eie identiteit te dink. Veral hoe ek dit meet. Die eerste geleentheid – laas Vrydagaand. ‘n Koffie-gesprek saam met ‘n vriendin. Sy dwing my, onwillekeurig (en vir haar dalk  – onwetend), om te erken dat dit vir my (te veel) saak maak wat ander mense van my dink. Dis die begin van die nuwe kwartaal, en ek worry oor wat die nuwe klomp studente gaan sien – wat hulle gaan dink – in watter boksie hulle my gaan sit.

Die tweede geleentheid gebeur twee dae later – laas Sondag. Ek woon die oggenddiens by Mosaiëk gemeente in Johannesburg by. (Ons kan ander dag miskien praat oor Mosaiëk self.) Die prediker (Johan Geyser) sê nie regtig iets nuuts nie – nie na Vrydagaand nie – maar bring dit dalk net ‘n bietjie meer ter illustrasie. Op die verhoog is daar ‘n pawiljoen. (Twee konsepte wat my brein al lelik deurmekaar gekrap het.) Telkens stap daar nuwe mense op die verhoog op, kry dan ‘n kaartjie by Johan Geyser, om toeskouers van sy lewe te word, en dan gaan sit hulle natuurlik op die pawiljoen. Na ‘n ruk begin hy daarop sinspeel dat hy nou vir hulle leef. Alles doen hy om hulle tevrede te stel. In pleks daarvan om sy lewe voor God uit te leef.

Die twee kuiers – een minder formeel, op ‘n bank met ‘n koppie koffie in die hand, die ander in ‘n erediens saam met ander Christene – trou in my kop. My vriendin met haar identiteit in God gegrond – Johan Geyser wat nie sy besluite in ander se goedkeuring wil grond nie. Om nie vir ander te leef nie, maar om juis vir ander te leef. As dit enigsins sin maak.

Hopelik dwing al hierdie ligte stampies op die pad my ook al hoe meer in daardie rigting.


Luidkeels 3

Junie 3, 2009

So, dis amper weer tyd dat die uiters suksesvolle Retief Burger en kie ‘n derde CD / DVD opneem.

Hierdie keer word daar egter gedoen waarvan ‘n mens net kan droom – of wel, dalk het dit die vorige keer ook gebeur, maar ek het verseker nie daarvan geweet nie. Hierdie keer word die musiek voor die tyd vrygestel – in ‘n onverwerkde vorm, maar nog steeds! Nou al kan mens dit van die Luidkeels webblad aflaai – sodat mens saam kan sing die dag van die Groot Opname – maar meer as dit, nou kan mens dit solank in kerke begin sing! Dankie tog vir die digitale wêreld!

Op die oomblik is ek besig om daarna te luister. Dit klink goed, baie gefokus op lof (wat verwag mens?). Dit klink baie Retiewerig. Wat ‘n goeie ding is. Sien uit daarna om die verwerkde liedjies te hoor – en ook by die opname (R40, by NG Moreleta Park, Saterdag, 25 Julie 2009).

Ek gaan ook dadelik begin gebruikmaak van hierdie liedjies – so vars soos pasgebakde plaasbrood – as ons by die Jakaranda kinderhuis (in Pretoria) begin musiekmaak. Iemand lus om ons daarmee te help? Dit sal lekker wees as mens ‘n span het wat kan afwissel.

Wat kan mens nog sê van Luidkeels 3? Om by die laaste metafoor te hou – hierdie opname kan nie ‘n misbaksel wees as mense dit al voor die gebeurtenis begin gebruik nie!


Diensbare cliché’s – ook in die erediens

Mei 24, 2009

cliché: (uitspr. klie-sjee’) (-s) 1 Drukvorm vir illustrasies. 2 Afgesaagde, holruggeryde uitdrukking; verslete beeldspraak.

-HAT

 

Die lewendige en lewegewende geloof dring ons daartoe om ons ou, uitgedroogde cliché’s met nuwes te vervang. Wanneer die lewensbloed van daardie cliché’s opgedroog het, is dit tyd om weer nuwes uit te dink. 

Is dit moontlik om anders met die teologie om te gaan? Is dit moontlik om anders oor God te praat? Wat is die middelpunt, die anker? Miskien lê die antwoord in die uitroep van die hervormers:

ecclesia reformata semper reformanda (secundum verbi dei)

“die gereformeerde kerk moet altyd gereformeer word (volgens die Woord van God)”


Ou Franciskaanse seënbede

Mei 20, 2009

‘n Vriendin wat saam met my geswot het, is onlangs bevestig as predikant. Met haar intreepreek het sy die volgende seën gebruik, wat my diep getref het. Dis ‘n ou Franciskaanse seënbede – hierdie is die weergawe wat in die NG Kerk se handleiding by die erediens gedruk is:

Mag die Here jou seën met ongemak oor maklike antwoorde, halwe waarhede en oppervlakkige verhoudings sodat jy uit die diepte van jou hart kan leef;

Mag die Here jou seën met woede oor onreg, onderdrukking en die uitbuiting van mense sodat jy kan werk vir geregtigheid, vryheid en vrede;

Mag die Here jou seën met trane om te stort vir mense wat pyn, verwerping, honger en oorlog ervaar sodat jy ‘n hand kan uitreik en hulle pyn in blydskap kan verander.

En mag God jou seën met genoeg dwaasheid om te glo dat jy ‘n verskil kan maak in hierdie wêreld, sodat jy dinge sal kan doen wat ander mense dink nie gedoen kan word nie.