“Stranger than Fiction” en die opstanding van Jesus

Julie 13, 2009

Een van my gunsteling flieks is sonder twyfel “Stranger than Fiction”, met Will Ferrell in die hoofrol. (In hierdie post gaan ek heelwat van die storielyn weggee – as jy die fliek nog nie onder oë gehad het nie, dan stel ek voor dat jy dalk hierdie post laat verbygaan!)

Die fliek se hoofkarakter, Harold Crick, ontdek een oggend dat daar ’n verteller is wat sy hele lewensverhaal soos dit gebeur voorhou. Stelselmatig ontdek die karakter dat hy inderdaad nie mal is nie, maar dat hy eintlik in ’n storie leef. Die fliek het heelwat te sê vir ’n studie van die letterkunde, en dit is net eenvoudig goed aanmekaargesit. Kan egter nou nie aanhou om die fliek se lof te besing nie – dis verseker beter om dit te kyk as wat ek daarop kommentaar kan lewer! Tot sy skok besef die protagonis dat die skrywer wat sy lewensverhaal neerpen, Kay Eiffel, slegs tragedies skryf – daar was nog nie een verhaal waar die held die dood vrygespring het as haar verhale tot slot kom nie. Dit is onvermydelik – hy gaan sterf!

Die einde kom dan ook vinnig – hy spring voor ’n bus in om ’n kind uit die pad uit te stamp, en natuurlik tref die bus hom! Die skrywer verander egter die verhaal, teen alle verwagtinge van beide karakter en kyker. Een van die laaste tonele in die fliek speel dan in die hospitaal af, waar die karakter herstel na sy onderonsie met die bus. Gevra waarom sy die karakter laat leef het – wat van die boek volgens ’n professor in letterkunde minder geslaagde poging maak – antwoord sy min of meer as volg:

Because it’s a book about a man who doesn’t know he’s about to die. And then dies. But if a man does know he’s about to die and dies anyway. Dies- dies willingly, knowing that he could stop it, then- I mean, isn’t that the type of man who you want to keep alive?

Kom ons sit vir ’n oomblik die vraag of Jesus God is opsy – asook die vraag of Hy uit die dood uit opgestaan het of nie. Wat bly oor? Sou dit heeltemal afbreek doen aan die persoon wat ons as Jesus ken? Wat oorbly is Jesus se lewe op aarde. (In sekere kringe sou mens praat van die “Historiese Jesus”). Sou ’n geskiedkundige hieroor skryf – wat natuurlik al heelwat kere gebeur het – sou dit nogal moeilik wees om die feite vas te vat. Ongeag die menigdom vrae wat eenvoudig nie vaste antwoorde het nie, is daar ’n hele paar goed wat mens wel met sekerheid kan sê. Ons het ook (ten minste) vier betroubare bronne (en hier vertrou ek veral op die tradisie!) wat vir ons meer vertel, en waaruit ons baie kan wys word. Ook ander boeke wat ek gelees het, het my hiermee gehelp; om nader te kom aan wat Hy hier gedoen het. (Byvoorbeeld Fatherless in Galilee deur Prof van Aarde.)

Die volgende staan vir my vas: Jesus was radikaal; ’n kontra-kultuur leier – waar kultuur ook soms as politiese ideologie gelees kan word – ’n figuur wat ’n ongekende openheid openbaar het tot op die punt dat dit ’n moorddadige reaksie by die owerhede ontketen. Jesus het mense liefgehad – op meer as een plek in die evangelies word vertel hoe Hy hulle “innig” jammer gekry het (die Griekse woord wat telkens hier gebruik word tower prentjies op van jou binnegoed wat heeltemal in jou omkeer – soos klere in ’n wasmasjien); hoe Hy teen alle verwagtinge van die samelewing wette oortree het om sy liefde aan hierdie mense te wys; hoe Hy homself nie gesteur het aan dit wat “rein” is of “onrein” is nie. Daar is nog heelwat wat ’n mens kan sê oor sy lewe. Soveel so dat die skrywer van een van die bronne wat aan ons beskikbaar is meen dat daar nie ’n end aan al die geskrywery sal wees as mens dit moet neerpen nie. Dis definitief beter as mens dit self gaan lees; ek hoef nou nie al vier evangelies hier te herhaal nie.

Hoe meer ek van hierdie Man leer, hoe meer dink ek dat dit is hoe ek wil wees. Méér nog: hoe meer ek van hierdie Man leer, hoe meer dink ek dat Hy God moet wees. Dit wat Hy op aarde gedoen het, is seersekerlik goddelik. Sy selfopoffering tot op die punt dat Hy sy lewe gegee het – dít is ’n ideaal wat sonder twyfel verdien om voort te leef. Waarrondom ander mense hulself ook kan skaar. Selfs al beteken dit ook dat hulle hul lewe moet gee.

Natuurlik kan mens die ooreenkomste tussen Stranger than Fiction en die lewe van Jesus net so ver vat. Soos enige metafoor het dit beperkinge. Dit help dalk net om een faset van Jesus se lewe en sy opstanding ’n bietjie duideliker te maak – in elk geval, dit help vir my.

Nou ja, die kans is goed dat ek nie dáár gaan uitkom waar Hy was nie; dat ek tekort skiet daaraan om dit te doen wat Hy daagliks gedoen het. Dit voel ek elke dag, hoe ek nog nie dáár is nie; hoe ek nóg meer liefde aan mense kan bewys – dít wetende dat ek soms uit eie keuse die regte keuse vermy.


“Son of Man” – fliek

Mei 5, 2009

In dit wat volg, gaan ek so ‘n bietjie van die storie van “Son of Man” weggee. O, as jy die basiese storie nog nie ken nie – daar is vier amptelike weergawes (vyf, tegnies, as jy Markus 16:9-20 as ‘n eie evangelie in ‘n neutedop beskou). Maar dalk wil jy verras word – soos ek was – met die manier hoe hierdie storie uitgebeeld word. Moet dan nie verder lees nie! (Maar gaan kyk die fliek – sommer in hierdie week nog!)

Son of Man is die evangelie in ‘n Suider-Afrikaanse konteks. As ek reg verstaan, praat die mense in die storie Xhosa – dit het Engelse byskrifte. Die fliek is ‘n radikale interpretasie van die evangelie – as mens dit langs die ander vier (vyf) sit. Die koninkryk van Judea word beset – in tipiese Afrika-burgeroorlog styl, met mense met masjiengewere wat elke nou en dan op ander losbrand; korrupsie wat die oorhand het. Die fliek maak niks met Apartheid nie – verwys nie eers eenkeer daarna nie – dit kon eintlik, maar ek dink dit was ‘n bewuste keuse om dit nie te doen nie. Te midde van al hierdie geweld en korrupsie tree Jesus dan op en lewer ‘n boodskap van ‘n ander manier om dinge te doen – ‘n nie-geweld manier. Ag, eintlik vreeslik baie ander teologiese temas ook wat aangespreek word, op ‘n besonderse manier.

Die fliek begin in medio res, soos ‘n klassieke klassieke verhaal. (Ek verwys nou na Homeros se geskribbel. Die man had nogal talent.) Die eerste tonele beeld ‘n volwasse Jesus in die woestyn uit, waar die duiwel Hom versoek. Die Satan vat Jesus na ‘n duin, wys Hom die aarde, en seg dat as Hy hom aanbid, dan gee hy al hierdie lande aan Hom. Dit eindig met Jesus wat die duiwel by ‘n duin afstamp, met die woorde: “This is my world!” ‘n Snaakse manier om die storie te begin, het ek gedink. Dit beeld Jesus as so magtig uit – en ek was nie seker of dit in die Afrika konteks inpas nie. Die verhaal keer dan terug na die begin – Maria wat die boodskap van ‘n engel ontvang dat sy swanger gaan word, ens. Nie lank nie, of een van die mees aangrypendste dele van die fliek vind plaas – die kindermoord. Op hierdie punt is daar ‘n klein verhaaltjie ingebou wat nie in die Bybelse verhale is nie, maar noodsaaklik is in die fliek. Na ‘n aantal kinders wreed vermoor word, en Jesus en sy gesin toekyk, kom daar ‘n engel om Jesus te kom haal – dis amper ‘n tweede versoeking, een wat sê: “Dit alles kan nou eindig, hierdie beker kan by jou verbygaan.” Die kind Jesus, nog nie eers vier jaar oud nie, antwoord dan vasbeslote: “This is my world!” Die sirkel is voltooi; die tema van die fliek is aangekondig; die ondertoon van die fliek bereik sy volle trefkrag.

Die manier hoe die fliek eindig, was ook vir my ‘n aangename verrassing. Gedurende die fliek praat Jesus soveel wat ek as “politiek” gesien het, maar wat eintlik ‘n nuwe leefwyse was, dat ek skoon bang was Jesus staan nie uit die dood uit op nie. Hy word ook nie ‘n verhoor gegun nie, sommer net uit die weg geruim. “Crossan, hier kom ons!” het ek gedink. Jesus se lyk word in ‘n vlak graf êrens tussen niks en nêrens gegooi. Sy ma gaan haal dit egter, en hulle bind dit aan ‘n kruis vas wat uitkyk op die dorpie. Dan volg daar ‘n konfrontasie met die magte wat Judea beset, terwyl Jesus se volgelinge in Afrika-styl toi toi onder die kruis. (I kid you not. As jy nog nie hierdie fliek gekyk het nie, gaan kyk dit NOU.) Ek was ernstig bang dat hulle die fliek se boodskap tot ‘n soortvan politieke propaganda verskraal het. Ernstig, ek het nie gedink Jesus gaan opstaan nie. En DIT was vir my ‘n nuwe ondervinding. Want ons almal WEET mos Jesus gaan opstaan. Ons hoor dit dan al so baie! Maar hierdie keer het ek regtig gedink: daar is dit nou. Hy is dood. Hulle gaan Hom nie in hierdie fliek laat opstaan nie. Die boodskap is klaar.

Die karakters is interessant. Twee van Jesus se twaalf dissipels is vroue. Die enigste persoon wat ek dalk ‘n bietjie anders sou uitbeeld, is Judas. Die arme man is sleg van die begin af, volgens die fliek. (Goed dan, volgense die vier (vyf) evangelies ook.) ‘n Meisie wat saam met my die fliek gekyk het, het gemeen dat hulle darem ‘n aantreklike man gekry het om die rol van Jesus te vertolk. Sover dit my aangaan, is ek geneig om saam te stem. (Maar my opinie tel nie nou juis so baie in hierdie departement nie.)

Op die kassie van die DVD is daar ‘n aanhaling van ‘n  fliek resensent (van Sky Movies), waarmee ek ook hierdie post wil afsluit: “Mel Gibson – look and learn!”


Making Money – Terry Pratchett. ‘n Suid-Afrikaanse perspektief.

April 9, 2009

Terry Pratchett is geniaal, ‘n ware satiriese fantasieverhaal-maestro. Ek het onlangs sy Making Money klaargelees. Wat ‘n fees! Ek weet nie waar kry hy sy idees vandaan nie, maar gewoonlik slaan hy die spyker op die kop. Twee tema’s in die boek staan vir my voorop:

  1.  Pratchett beskryf die bankwese as in ‘n gemors – ‘n profetiese uitspraak, as mens daaraan dink. Dit gaan vir hom baie oor waarin die sekuriteit van geld/bankwese gesetel is. (Sien punt 2). In die proses wees Pratchett hoe onderduims die hele gedoente is / kan wees.
  2. Die oplossing (of is dit juis sy kritiek?) wat Pratchett bied is dat die sekuriteit van bankwese in die werkersklas lê. Interessant genoeg stel Pratchett juis hierdie laag in die samelewing as die grootste gevaar-wie hulle beheer, kan die wêreld oorwin. Hier lê ook die grootste potensiaal vir rewolusie! Dalk lees ek te veel in die hele storie in. Ten minste het dit my laat dink!

 Die storie lyk natuurlik anders hier in Suid-Afrika. Die banke is in ‘n toestand, nog altyd. Mens sit ook nie jou geld in die bank om dit te laat groei nie, net om dit op te pas. Jy betaal hulle, anders as in Pratchett se tuisland. (So lyk dit vir iemand wat nou nie juis baie verdien nie!)

Afrika lyk op die oog af  ‘n bodemlose put te wees wat dors geld opslurp. Korrupsie; rykes wat al hoe ryker word; armes wat in sommige plekke lankal nie meer hul hoop in geld as handelsmiddel stel nie. Ek kies egter om mooi te luister wat Pratchett sê – of ten minste wat ek inlees in wat hy geskryf het. (Praat van lustig allegoriseer!) Die eintlike waarde van ‘n land is in sy mense. Dis dalk diep begrawe, soos ‘n skat, maar dis daar. Daar word bietjie hiervan uitgebeeld in The Motorcycle Diaries, een van my gunsteling flieks. Dit handel oor Che Guevara se lewe. Dis verseker verromantiseer, maar darem dra dit ‘n sterk boodskap. Gaan kyk dit gerus.

 Wat my betref, ek val maar saam in hierdie bodemlose put. Om dit nog beter te stel: ek val SAAM  met SA mense in hierdie put. In hierdie wonderlike, skatryk land.


Monsters vs. Aliens

April 4, 2009

Ek het lanklaas ‘n 3D prent gaan kyk – goed, so lanklaas dat ek nog onder die indruk was dat mens daardie papierbrilletjies opsit wat herinner aan die Niknaks man. Stel jou my verbasing voor toe daar aan my ‘n bril oorhandig word wat (in sekere kringe) die daglig sou kon sien as ‘n sonbril! (Let wel – in sekere kringe. Dit laat ‘n mens tog nog steeds onwillekeurig dink aan Clark Kent.) Die 3D animasie het my so effens verstom. Na ‘n ruk raak mens dit gewoond, maar dit bly tog ‘n belewenis. (Weet darem nie of ek sommer net enige fliek sal gaan kyk net omdat dit 3D effekte inhet nie.)

Monsters vs. Aliens val nie in die Beste Animasiefliek Ooit-kategorie nie, maar is heel kykbaar. Eintlik kry mens net wat mens verwag: ‘n versameling skreeusnaakse karakters (onder andere ‘n potsierlike – is dit die regte woord, want die ding is HUGE – insekmonster, ‘n mal wetenskaplike in die vorm van ‘n kakkerlak, ‘n breinlose blob, ens.) wat natuurlik met al hul manewales probeer om die aarde te red en ons terselfdertyd vermaak. Soos wat met meeste animasieflieks die geval is, is MvA tweevlakkig. Dit het versteekte humor wat seersekerlik net deur meer volwasse kykers gesnap sal word. So byvoorbeeld aan die begin van die prent, tydens die troue – speel maar gerus die “watter een is anders?” speletjie. Daar word ook ‘n karikatuur gemaak van die Amerikaanse president en die algemene Amerikaanse militante houding.

Die storielyn is miskien ‘n bietjie flou. Nou ja, wat verwag mens as geeneen van die voorprente jou aanspreek nie. (Meeste het wel my lysie gehaal; dis nou my lysie met die opskrif: VERMY TEN ALLE KOSTE.) Natuurlik kan mens ook redeneer dat die storielyn juis so uitspeel om rede dit die draak steek met wetenskapsfiksie in geheel – op ‘n mooi manier, darem. Die karakters is nie eenvormig nie; inteendeel, hulle word nogal interessant uitgebeeld, en na die fliek verby was, het ek besef ek wou eintlik nog ‘n bietjie meer van elkeen geweet het. Hulle kon wel meer tyd spandeer het aan ‘n paar verhoudings – byvoorbeeld, die verhouding tussen Susan (die hoofkarakter) en haar ouers, asook haar aanstaande.

Die fliek is definitief goed genoeg om te gaan kyk, veral as mens na ligte vermaak op soek is. Ek hoop nie hulle maak ‘n tweede rolprent nie, maar nou ja …


Watchmen

Maart 29, 2009

Ek het die aaklige fout begaan om Watchmen laas Donderdag te gaan kyk. 

Dis eintlik nogal vreemd, want ek sou later uitvind dat Jacques Liebenberg van Beeld die fliek ‘n 5/5 resensie gegee het. Ek het respek vir Jacques Liebenberg – hy skroom nie om sy sê te sê nie. Sover ek weet, het hy al menige fliek ‘n 0 gegee – en ‘n 0 was dit dan werd. Wanneer ookal Jacques besluit om ‘n fliek met ‘n 5 te kroon, kan jy maar wed ek gaan dit kyk. (Anders as met Barry Ronge, wie se resensies ek in my jonger dae as ‘n inverse maatstaf gebruik het.) Ek kan egter nie help om te dink dat Jacques ‘n fout gemaak het met Watchmen nie!

Geeneen van die karakters het my aangespreek nie – voorwaar, ek het geen empatie gehad met enige van hulle nie! (Goed, behalwe die ou wat duidelik onbeholpe is wat die skoner geslag betref; dis natuurlik nou nie iets waarmee ek myself wil vereenselwig nie, en buitendien is daardie greintjie empatie vir my doodgedruk in die middel van die fliek deur die langste onnodige sekstoneel wat ek tot nog in ‘n fliek gesien het.) Die storie agter die storie, so lyk dit my, kan nogal goed wees. Dis dieselfde tipe materiaal wat mens in Sin City kry, of 300. Tot ‘n mate word die fliek ook so aangebied – die hoeke waaruit dit verfilm is, die donker kleure. Dit het egter nie dieselfde trefkrag nie en het verseker nie daarin geslaag om my in te trek nie – ek kon nie minder omgee wat in die karakters se verlede gebeur het nie!

Wat my seersekerlik ook van die fliek gepla het, is Dr. Manhattan. Die grootste deel van die fliek is die man (superwese?) poedelnaak. Dus was ek nie seker of hy eerder na Adam of na God toe neig nie. Alhoewel hy dit ontken in die fliek, word hy eintlik maar as God uitgebeeld. As die fliek só die teodisee-vraagstuk probeer aanspreek (hoekom is daar kwaad in hierdie wêreld?), sit dit die pot myle mis. (En na my mening is dit wel ‘n tema van die fliek: die mens is sleg; hoe beskerm die mens homself teen homself?) Behalwe natuurlik as jy ‘n erg deïstiese siening van God het (dus, dat God nie betrokke is by hierdie wêreld nie).

Die enigste goeie ding wat ek van die fliek kan kwytraak, is dat die karakters darem ‘n mate van kompleksiteit vertoon. Meeste van hulle is nie óf goed, óf sleg nie, maar sit darem êrens tussen-in. Mens kan seker maar dieselfde sê van die fliek se ontknoping – ja, die einde kan dalk die hele gedoente red. Miskien het Jacques Liebenberg net die begin gesien, toe geswig voor die versoeking om te slaap, en net betyds wakker geword om die einde te aanskou. (Jammer dat ons nie oor hierdie een saamstem nie. Ek gaan nog steeds sy raad volg.)