Soortvan die einde van ‘n era

September 22, 2010

Ek het besluit om voortaan eerder op my Engelse blog te konsentreer. Die rede is eenvoudig: ek het ‘n paar vriende wat eenvoudig nie Afrikaans kan lees nie, en Google translator is nou nie heeltemal so effektief nie.

Dan is daar ook die vraag na gesprek – as ek wel wil hê mense moet deelneem aan die gesprek wat buite die kring is, dan sal die gesprek nou maar in Engels gevoer moet word. Dis soortvan die einde van ‘n era – vir my, in elk geval, want dit was lekker om in Afrikaans goed kwyt te raak. Nou ja, ek is seker ek sal weer iets hier skribbel, een of ander tyd.


Hallo! Ich komme aus Südafrika!

Mei 25, 2010

Dit was Junie 2007 – ‘n relatiewe warm jaar in Duitsland. Ek en ‘n vriend het sopas vir ‘n week lank deur Duitsland getoer – op die goedkoopste wyse wat ons aan kan dink. Die hele reis was ‘n avontuur – maar dis ‘n storie vir ‘n ander dag.

Die eintlike rede hoekom ek myself in Duitsland bevind het, was om ‘n konferensie by te woon – my heel eerste konferensie oorsee, in Tübingen. Voor dit was daar egter een ander ding wat ek moes doen, en dit was om Göttingen te besoek.

Göttingen – daardie legendariese, mistiese plek (so het dit op daardie stadium gevoel; wag, eintlik steeds nog), waar soveel teologie al oordink is en sorgvuldig op papier neergepen is. Die net-duskant-heilige plek waar die mense van die Septuaginta Unternehmen nou nog vlytig maar pynlik werskaf om die teksgeskiedenis van die Septuaginta oop te vlek. (Nota aan die oningeligde / ongeïnteresseerde leser: die plek is vir my belangrik). Ek het gereël om die Septuaginta Unternehmen self te besoek! ‘n Droom wat vervlees het! (Ja, ja, so vervlees is miskien nie ‘n amptelike woord nie.) En nou staan ek hier voor die deur van die plek …

Ja, soos jy uit die boonste prentjie kan aflei, die plek was toe nou nie so indrukwekkend soos wat ek myself al die tyd voorgestel het nie. Daar was toe nie honderd mense wat dag en nag werk aan die Septuaginta nie. Inteendeel, slegs die boonste verdieping huisves die Septuaginta Unternehmen. Wat nog meer van ‘n verrassing was, is dat daar nie ‘n massiewe (neon) bord is wat aandui dat dit die Septuaginta Unternehmen is nie; o nee! Daardie paar spikkies pixels op die deur (links onder) is die naambordjie – seker ongeveer ‘n font grootte van 8:

Dit het nie afbreuk gedoen aan my opgewondenheid nie. Ek was hier; dit was my droom; ek was besig om my droom te leef! Ek laat nie op my wag nie en lui die klokkie – die deur gaan oop; ek stap vol verwagting in die voorportaal in. ‘n Hele aantal nuuskierige Duitsers kyk van bo van die wenteltrap af – dis amper asof hulle ook net so vol verwagting is soos ek.

Hallo! Ich komme aus Südafrika!

Dis al waaraan ek kan dink – maar dis die reine, reine waarheid! Hoe opgewonde ek ook al is oor dit wat besig is om met my te gebeur – die wonders wat my oë op pad is om te aanskou; die kennis wat op pad is om voor my oop te vou; die weet wat hierdie mense adem – my hart is op ‘n ander plek! Ich komme aus Südafrika!

_____________

Nou gaan ek terug. Hierdie keer vir langer as ‘n jaar. (Ek vra daarom om verskoning as hierdie blog dan ook soms as ‘n reisjoernaal diens doen!) ‘n Jaar waarin ek weet ek veel gaan leer, van dinge waarvan ek nou al van my eerste jaar op universiteit droom, by ‘n plek waarna ek nog altyd – so voel dit – gehoop het om te gaan. Ek weet dat ek elke tree gaan gee, soos omtrent drie jaar terug, terwyl ek ook die volgende gaan herhaal, soos toe:

Ek is uit Afrika! Ek is uit Afrika!


Apologie, verskoning, inleiding en vooruitskouing

Maart 24, 2009

Êrens in die nabye vergetelheid het iemand ‘n presedent geskep: om ‘n nuwe blog met ‘n inleiding te begin. Hierdie blog begin ongelukkig ook met ‘n inleiding: ek vra om verskoning daarvoor. Vir ‘n blog wat uit die staanspoor beweer om ‘n blikkie wurms oop te maak, is dit seker nie gepas nie. Ek vra ook om verskoning dat die titel nou juis aan Engels ontleen is – maar dis darem ‘n baie mooi visuele beeld van wat ek met hierdie blog wil vermag. ‘n Wydoop gesprek, waar ons wraggies ernstig met mekaar kan gesels oor alles en nog wat – al voel ons die kriewelinge wriemel hier teen ons ruggraat af.

Terloops, die woordjie “apologie” in die titel van hierdie stuk is nie ‘n anglisisme nie – ek bedoel dit voorwaar in die sin van ‘n verweerskrif. Ja, tussendeur ons oor en weer eerlikheid gaan ek wel probeer om my te verweer van wat ek glo – met diens verstande dat jy ook inspraak daarin kan lewer!