‘n Oop Monoloog: my geloofstorie, Deel 9

November 30, 2010

‘n Goeie vriend het my in September 2009 in effek gevra wat ek nou eintlik glo. Hierdie is my antwoord, so effens aangepas, maar grotendeels soos ek toe daaroor gedink het. In klein happies opgedeel.

Deel 9 – “bekering” – oftewel, epifanie

Dit gebeur eintlik eers ’n rukkie na ek “Fatherless in Gallilee” gelees het, op pad V-town toe. In die kar. Nie noodwendig ’n goeie plek om ’n openbaring te hê nie, veral as mens ‘n bietjie snot-en-tranerig word. Skielik word meer as sewe jaar se teologie studies met inhoud gevul: Jesus – sy lewe. Nie net die feit dat Hy gesterf het nie – ja, dit ook, maar meer eenvoudig net hierdie een ding: die Persoon van Jesus Christus, en hoe Hy op aarde opgetree het. (Dit wat ons daarvan kan weet.) Om jou lewe met sy liefde te vul. Dit is wat die evangelie vir my beteken. Dit is wat vergifnis van sonde vir my beteken. Dit is, in effek, die crux. Dit beteken verder opoffering. Dit is immers wat Jesus se lewe was.

Dit is waarna die Bybel vir my wys. Dit wys na Jesus, wat daar rondom Hom gebeur het – maar ook God se pad met mense tot op daardie punt. Ek dink dis belangrik om daardie tradisie te sien – die manier hoe God met mense was en hoe mense God ervaar het.

[Hierdie deel voeg ek nou ter wille van verklaring by, so dit het seker nou al bietjie ontwikkel na 2009; maar is nie ‘n sistematiese uiteensetting van wat ek glo nie.] Dit beteken allerhande begrippe, soos sending, en geloof, sien ek nou baie anders. Byvoorbeeld, as ek met iemand oor Jesus Christus sou moes praat, sou ek dit nie op ‘n kosmiese wyse doen nie. Ek sou nie vertel van Jesus se opstanding uit die dood nie; of die feit dat Hy ons sondes vergeef het nie. Eintlik maak dit nie vir my soveel saak of Jesus uit die dood uit opgewek is of nie; dis ‘n teken, ja, dat wat gebeur het waar is, maar dis ‘n ding wat ons eenvoudig net moet glo. Nee, ek sal vertel van Jesus se lewe, hier op aarde, tussen mense.

_______________________

Die Einde – tot en met 2009.


‘n Oop Monoloog: my geloofstorie, Deel 8

November 29, 2010

‘n Goeie vriend het my in September 2009 in effek gevra wat ek nou eintlik glo. Hierdie is my antwoord, so effens aangepas, maar grotendeels soos ek toe daaroor gedink het. In klein happies opgedeel.

Deel 8 – eerste ware geloofskrisis

Terug in Suid-Afrika – hierdie jaar (2009). Amper al my teologie maters is of oorsee, of het by kerke begin werk. Een van die vyfdejaars (dankie Irma, dit was ’n goeie vraag oor al die ander vrae wat dit ontketen het) vra my wanneer ek besluit het om nooit in ’n kerk te werk nie. Nooit? Is dit hoe dit lyk? NOOIT!? Ek veronderstel dis seker hoe ek gevoel het op ’n stadium. Heeltyd gedink ek sal by ’n kerk inskakel, maar die dominee-ding – ek weet darem nie. So, hier kom “ek-is-bang-en-alleen-waarheen-is-ek-oppad” krisis nommer 37. (aka “Hoekom het ek teologie begin swot?”) Waarmee ek vir so ’n week of wat sit. En toe min of meer so ’n antwoord kry/gee, in liedvorm:

Hierdie is my two cents

Hierdie is my druppel in die emmer

Hierdie is my repliek

 

Hierdie is die antwoorde

Op die vrae wat jy nie vra

Hierdie is die steriele kant

Van ‘n boom wat vrug moes dra

 

Ek is jammer ek het probeer

Die opdraand was te steil

Miskien moet ek maar weer bekeer

 

Hierdie is die antwoorde

Op die vrae wat jy nie vra

Hierdie is die steriele kant

Van ‘n boom wat vrug moes dra

 

Ek gee alles oor aan U

Wat ek dog myne is

Ek verloor beheer

Sal U my leer

Sal U my leer

Om aan U vas te klou

’n Goeie punt om te wees. Dit het ’n paar goed tot gevolg, onder andere: 1) Ek weet ek is op die regte plek. Dit is vir my lekker, maar so met ’n rede. Daardie gevoel in matriek was toe dalk nou nie verkeerd nie. 2) Ek is bereid om hard te werk op hierdie plek. Dit help dat dit lekker is. 3) Ek kan nie minder omgee wat hulle my betaal nie. Ek het natuurlik niks om oor te kla nie, en so nou en dan gaan ek grappies maak daaroor, maar bottomline is dit: ek gee nie regtig om nie. 4) Ek wil nog steeds Duitsland toe gaan. Vir ’n lang ruk was dit vir ontvlugting. Nou is dit omdat ek a) regtig meer wil weet en b) dit my beter gaan kwalifiseer sodat ek op ’n plek kan wees waar ek ’n bydrae gaan lewer.

Die hele vraag van Irma vloei ook mooi oor na die volgende punt in die reis. Dit nou tesame met ’n boek wat ek al ’n hele ruk wou lees, maar baie duur was in SA – en toe die geleentheid gekry het om dit toevallig goedkoop in die VSA te koop. Ek het dit begin lees in die laaste twee weke terwyl ek daar was. Die boek se titel is “Fatherless in Gallilee” – en dit is geskryf deur Prof Andries van Aarde. Ek vermoed Eta Linnemann sou nie so baie van Prof van Aarde gehou het nie. Prof van Aarde hou van Rudolph Bultmann. Ek hou van Prof van Aarde. Guilty by association? :) Ek stem nie noodwendig saam met alles wat Prof van Aarde sê nie. Ag, die hoofbetoog van die boek is nie hier van soveel belang nie. Dit staan bankvas in die historiese Jesus navorsing. Hy skryf oor Wie Jesus was. Hoe radikaal anders Jesus was. Wat Hy gedoen het. Hoe Hy teenoor mense opgetree het. Soveel so dat mense Hom wou doodmaak oor hoe Hy teen die sisteem inbeweeg het!

Volgende keer: “bekering” – oftewel, epifanie


‘n Oop Monoloog: my geloofstorie, Deel 7

November 28, 2010

‘n Goeie vriend het my in September 2009 in effek gevra wat ek nou eintlik glo. Hierdie is my antwoord, so effens aangepas, maar grotendeels soos ek toe daaroor gedink het. In klein happies opgedeel.

Deel 7 – skripsie en Amerika

My MDiv skripsie doen ek toe uiteindelik oor tekskritiek (waaroor Metzger se boek gaan) – maar meer nog as dit, oor hoe die OT in die NT gebruik word. Dit was great, want dit het klomp van my geliefde goed bymekaar uitgebring. Dit het ook al ’n paar goed geplant wat later vir wat ek glo belangrik sou word, ook ten opsigte van die Bybel. Dit het gegaan oor hoe Ps 40:7-9 in Heb 10:5-7 gebruik word. My bevinding is dat die skrywer van Hebreërs klein wysigings aanbring aan die OT aanhaling, sodat sekere goed uitgelig kan word (amper asof hy dit onderstreep). Om dit beter te beskryf, voel ek ek moet hier ‘n stuk aanhaal wat ek in my gevolgtrekking skryf:

… the authors of the New Testament did not consider the act of quoting something to de done according to the scientific categories of the present day. Nor did they regard the setting of the quotation as important as present-day exegetes do. Rather, they interpreted these texts in the light of Christ and found application for them in their contemporary faith communities. The authors of the New Testament allowed the Old Testament to permeate their thoughts. They knew and used these texts, viewing them as the prophetic announcement of the Christ event. However, they did not place Scripture on a higher level than God himself. Instead, the sacred texts point towards Him and for this reason may be highlighted (in this piece of Scripture, by subtle changes to the text) in order to do this more effectively.

Sewende jaar. Hou op werk by die kerk, wat verseker (vir eers) ’n goeie ding is. Lees vir die vale – alles OT en NT goed, wat ek vir die volgende skripsie moet lees in elk geval. Nog steeds met ’n redelik negatiewe houding teen die kerk. Werk al te vlytig! Dis maar min of meer wat gebeur tot ek New Orleans toe gaan aan die einde van laas jaar (2008) – die hele doel om meer van tekskritiek te gaan leer. Ek maak daar baie goeie vriende, en is regtig beïndruk met die erns wat die mense in hul gemeente maak. (Wel, die een wat ek meestal bywoon. Was by ’n hele paar kerke terwyl ek daar was. Ek het by die Southern Baptist Seminary geswot.) Nee, ek stem nie saam met alles wat hulle sê nie – maar ek sien hoe hulle regtig betrokke is by mense wat swaar kry. Meeste van hulle verstaan nie wat in Afrika aangaan nie (vet weet, ek ook seker nie rêrig nie), en ek kan sien hoekom hulle dink soos hulle dink. Ek leer by hulle die waarde van gemeenskap; ek leer by hulle van die liefde; ek leer van die Bybel. Ook leer ek natuurlik oor die tekskritiek gedeelte waarvoor ek gegaan het.

Volgende keer – eerste ware geloofskrisis


Mag: Deel 2

Junie 14, 2010

Hierdie is deel 2 van my nadenke oor mag – vir deel 1, wat met mag in die erediens te doen het, kyk hier.

Ja, helaas; mag as deel van gesprek en redevoering is ook in die Bybel te vinde. Ek gee myself uit as iemand wat veral die Nuwe Testament bestudeer, so daarom sal ek sommer net ‘n paar voorbeelde uit die NT aanhaal.

Ons kan sommer by Paulus begin. Dis eintlik voor die hand liggend in sommige goed wat Paulus sê: die manier hoe hy homself voorstel. Hy is ‘n apostel; hy het allerhande goeie goed gedoen, maar ook allerhande ellendes deurgemaak ter wille van die evangelie. Ja, in ‘n baie ware sin is Paulus wat homself as voorbeeld voorhou ‘n goeie voorbeeld van ‘n retoriek om mag. Paulus moet sy outoriteit beskerm sodat die mense na hom sal luister!

Kyk na my as voorbeeld! Ek volg die voorbeeld van Christus Jesus.

Daar is ook ander maniere waarop Paulus sy outoriteit beklemtoon – dinge wat nie so ooglopend is nie. Byvoorbeeld, sy verwysings na tyd wat hy by die gemeente spandeer het, of mense wat hy in ‘n sekere gemeente ken en wat hom ook ken.

Dieselfde geld ook van die evangelieskrywers –  op ‘n subtiele vlak vind ons allerlei wyses waarop die evangelieskrywers hulle outoriteit daar wil stel: Lukas begin byvoorbeeld deur te verduidelik hoe goed hy sy bronne nagevors het. Die ander verskaf details wat hulle storie ook beaam, om met soveel gesag as moontlik te praat. Handelinge vertel die storie van die apostels; mense wat Jesus geken het. Al die boeke in die NT maak gebruik van die Ou Testament – geskrifte wat gesag dra! In baie gevalle word dit juis benadruk:

Daar staan geskrywe …

So is die Woord vervul …

Moses het gesê …

Die evangelies vra ook om gesag in die manier waarop hulle Jesus uitbeeld. Dikwels kom Jesus teen die Fariseërs te staan, en elke keer wen Hy die strydgesprek wat daar tussen hulle ontstaan. Nou ja, om dinge op ‘n spits te dryf: Jesus het waarskynlik self ook so te werk gegaan dat sy woorde gesag gedra het (volg byv Markus se begin!).

O gits! Hoe nou gemaak? As alles dan ‘n spel om mag is …

Ek dink nie mens gaan daarvan wegkom nie. Om enigsins iets te sê wat iemand anders hoor, moet ‘n mens eenvoudig ‘n spel om mag handhaaf. Natuurlik is ‘n vraag om mag nie outomaties gelyk aan aanvaarding daarvan nie – mens kan nog altyd kies om iets te glo of nie. Dalk is dit net goed om op jou hoede te wees? Al wat ek op hierdie stadium weet, is dat dit daar ‘n spel om mag is wat skadelik is (sien byv my eerste blogpost oor mag, die tweede deel) en goed wat nie skadelik is nie. Ek stel die volgende dus voor:

  1. Wees versigtig vir jou eie spel om mag.
  2. Wees versigtig vir andere se spel om mag – luister wat sit agter iemand se woorde. (Ek bedoel nou nie dat mens sinies moet wees of iemand anders se woord heeltyd in twyfel te trek nie, maar probeer ten minste iemand se bedoeling raaksien.)
  3. Dink mooi oor wat jy as gesaghebbend sien.

Dis dalk die moeite werd om hierdie blogpost met ‘n (wat ek sien as) goeie spel om “mag” te sien: die soeke om mag te bekom juis ter wille van andere. Dit blyk die geval te wees met Paulus (byv in Filippense, waar hy keer op keer sy “mag” gebruik om mense daarop te wys dat hulle ander hoër as hulself moet ag), maar veral met dit wat ek weet van Jesus Christus. Keer op keer was sy spel om mag juis om ander te bemagtig: dié mense wat nie vir hulleself kon opstaan nie. Voor ek egter beskuldig word dat ek net weereens ‘n Christen-sousie oor my blogpost bredie gooi, sal ek eerder hierdie skrywe afsluit. Gaan lees egter self die Boek en besluit dan of dit gesaghebbend is of nie.


MNET gee om – en Jesus ook!

Januarie 4, 2010

“JESUS CARES!”

skree die teken vir my. Baie vlugtig, want teen 120km/h gaan sulke dinge nogal gou verby. In die truspieëltjie sien ek aankomende motoriste word ook van hierdie inligting vergewis. Baie strategies, hierdie driehoekige teken. Soos ‘n tweesnydende swaard.

Die vertaler in my kop skop onmiddelik in werking. (Pretoria is nog ver, OK, en die liedjies op my iPod – want my kar se radio werk al jare lank nie – het ek al suf geluister, so nee, daar is niks anders om te doen nie.) Jesus gee om.

Laat mens nogal dink aan daardie ou sêding:

“Bel vir MNET. Hulle gee om.”

Die verskil tussen die twee: eersgenoemde sê mense met ‘n ernstige gesig (nee, ek bedoel nie vroom nie, alhoewel dit ook in my storie sou inpas) en laasgenoemde weet almal is (meestal) net ‘n grap.

Die ooreenkoms: as iemand nie kan VOEL en kan SIEN dat Jesus omgee nie, kan eersgenoemde ook maar ‘n grap wees. En dan is dit nie eers ‘n baie snaakse een nie.

Bel vir Jesus, Hy gee om!

Dis jammer dat dit is wat ons baie keer baie hard sê – met ons DOEN. Met die mond bely ons (ook nie altyd nie – woorde kan ook DOEN wees), en met die hande vergryp ons.

My punt? As ons nie omgee nie, kan ons eenvoudig nie sê Jesus gee om nie. Dan is Jesus en sy beweerde omgee ‘n vae skimmebeeld in ‘n verafgeleë land wat absoluut zokol betrekking het op die lewe. Nope, Jesus se omgee moet deur ons omgee praat.

P.S. Ek weet glad nie wat doen die gemeente wat hierdie teken opgesit het nie. Dit kan dalk wees dat hulle wonderlike werk doen en regtig mense laat VOEL en SIEN dat Jesus omgee. Indien dit so is – great stuff! Alhoewel ek dalk sou vra of die teken regtig effektief is, spreek ek nie kritiek uit teen die gemeente as sulks nie. Dit het my net ‘n bietjie laat dink.


“Stranger than Fiction” en die opstanding van Jesus

Julie 13, 2009

Een van my gunsteling flieks is sonder twyfel “Stranger than Fiction”, met Will Ferrell in die hoofrol. (In hierdie post gaan ek heelwat van die storielyn weggee – as jy die fliek nog nie onder oë gehad het nie, dan stel ek voor dat jy dalk hierdie post laat verbygaan!)

Die fliek se hoofkarakter, Harold Crick, ontdek een oggend dat daar ’n verteller is wat sy hele lewensverhaal soos dit gebeur voorhou. Stelselmatig ontdek die karakter dat hy inderdaad nie mal is nie, maar dat hy eintlik in ’n storie leef. Die fliek het heelwat te sê vir ’n studie van die letterkunde, en dit is net eenvoudig goed aanmekaargesit. Kan egter nou nie aanhou om die fliek se lof te besing nie – dis verseker beter om dit te kyk as wat ek daarop kommentaar kan lewer! Tot sy skok besef die protagonis dat die skrywer wat sy lewensverhaal neerpen, Kay Eiffel, slegs tragedies skryf – daar was nog nie een verhaal waar die held die dood vrygespring het as haar verhale tot slot kom nie. Dit is onvermydelik – hy gaan sterf!

Die einde kom dan ook vinnig – hy spring voor ’n bus in om ’n kind uit die pad uit te stamp, en natuurlik tref die bus hom! Die skrywer verander egter die verhaal, teen alle verwagtinge van beide karakter en kyker. Een van die laaste tonele in die fliek speel dan in die hospitaal af, waar die karakter herstel na sy onderonsie met die bus. Gevra waarom sy die karakter laat leef het – wat van die boek volgens ’n professor in letterkunde minder geslaagde poging maak – antwoord sy min of meer as volg:

Because it’s a book about a man who doesn’t know he’s about to die. And then dies. But if a man does know he’s about to die and dies anyway. Dies- dies willingly, knowing that he could stop it, then- I mean, isn’t that the type of man who you want to keep alive?

Kom ons sit vir ’n oomblik die vraag of Jesus God is opsy – asook die vraag of Hy uit die dood uit opgestaan het of nie. Wat bly oor? Sou dit heeltemal afbreek doen aan die persoon wat ons as Jesus ken? Wat oorbly is Jesus se lewe op aarde. (In sekere kringe sou mens praat van die “Historiese Jesus”). Sou ’n geskiedkundige hieroor skryf – wat natuurlik al heelwat kere gebeur het – sou dit nogal moeilik wees om die feite vas te vat. Ongeag die menigdom vrae wat eenvoudig nie vaste antwoorde het nie, is daar ’n hele paar goed wat mens wel met sekerheid kan sê. Ons het ook (ten minste) vier betroubare bronne (en hier vertrou ek veral op die tradisie!) wat vir ons meer vertel, en waaruit ons baie kan wys word. Ook ander boeke wat ek gelees het, het my hiermee gehelp; om nader te kom aan wat Hy hier gedoen het. (Byvoorbeeld Fatherless in Galilee deur Prof van Aarde.)

Die volgende staan vir my vas: Jesus was radikaal; ’n kontra-kultuur leier – waar kultuur ook soms as politiese ideologie gelees kan word – ’n figuur wat ’n ongekende openheid openbaar het tot op die punt dat dit ’n moorddadige reaksie by die owerhede ontketen. Jesus het mense liefgehad – op meer as een plek in die evangelies word vertel hoe Hy hulle “innig” jammer gekry het (die Griekse woord wat telkens hier gebruik word tower prentjies op van jou binnegoed wat heeltemal in jou omkeer – soos klere in ’n wasmasjien); hoe Hy teen alle verwagtinge van die samelewing wette oortree het om sy liefde aan hierdie mense te wys; hoe Hy homself nie gesteur het aan dit wat “rein” is of “onrein” is nie. Daar is nog heelwat wat ’n mens kan sê oor sy lewe. Soveel so dat die skrywer van een van die bronne wat aan ons beskikbaar is meen dat daar nie ’n end aan al die geskrywery sal wees as mens dit moet neerpen nie. Dis definitief beter as mens dit self gaan lees; ek hoef nou nie al vier evangelies hier te herhaal nie.

Hoe meer ek van hierdie Man leer, hoe meer dink ek dat dit is hoe ek wil wees. Méér nog: hoe meer ek van hierdie Man leer, hoe meer dink ek dat Hy God moet wees. Dit wat Hy op aarde gedoen het, is seersekerlik goddelik. Sy selfopoffering tot op die punt dat Hy sy lewe gegee het – dít is ’n ideaal wat sonder twyfel verdien om voort te leef. Waarrondom ander mense hulself ook kan skaar. Selfs al beteken dit ook dat hulle hul lewe moet gee.

Natuurlik kan mens die ooreenkomste tussen Stranger than Fiction en die lewe van Jesus net so ver vat. Soos enige metafoor het dit beperkinge. Dit help dalk net om een faset van Jesus se lewe en sy opstanding ’n bietjie duideliker te maak – in elk geval, dit help vir my.

Nou ja, die kans is goed dat ek nie dáár gaan uitkom waar Hy was nie; dat ek tekort skiet daaraan om dit te doen wat Hy daagliks gedoen het. Dit voel ek elke dag, hoe ek nog nie dáár is nie; hoe ek nóg meer liefde aan mense kan bewys – dít wetende dat ek soms uit eie keuse die regte keuse vermy.


Behoort, beleef, bely: Saampraat met Nelus Niemandt

Junie 29, 2009

Ek skryf hierdie post na aanleiding van Prof Nelus Niemandt se artikel in die Beeld.

Prof Niemandt betoog kortliks die volgende: in plaas van ‘n kerk waarin hul geloof bely, hul geloof dan daarna kan beleef en dan uiteindelik tot die gemeenskap behoort (hierdie is die tradisionele manier van kerkwees in veral die NG Kerk),  moet die volgorde omgeswaai word: na ‘n behoort, beleef, bely situasie.

Ek kan nie help om in breë trekke hiermee saam te stem nie. Die eienskappe wat my generasie (X) tipeer, voel ek mos aan my eie bas: ons is nie meer so lojaal aan instansies nie, eerder die ideaal wat agter die instansies lê. (Juis nou die dag weer hieroor gepraat met die Dinsdaggroepie – julle weet wie julle is.) Daarom ook dat ons nie noodwendig onsself aan ‘n kerk vasbind net omdat dit van ons verwag word nie – ons wil sien hoekom ons aan daardie kerk moet behoort. Terwyl ons terselfdertyd ook daarna hunker om te behoort …

Soos sulke dinge maar gaan (hierdie is immers ‘n gesprek) moet ek egter ‘n paar punte uitlig wat ek wil byvoeg of effens wil verander:

  1. In die tradisionele model was daar nou nie juis veel belewing nie. Uitlewing miskien. In die nuwe model voel ek ook dat beleef enbehoort oorvleuel – tot so ‘n mate dat dit op presies dieselfde tyd kan gebeur.
  2. Prof Niemandt raak die punt aan, maar brei nie soveel daarop uit nie: Jesus het eerstens mense verwelkom, en daarna het die geloofsreis posgevat. Waar ander groepe eksklusief was – soos die Qumran gemeenskap – en hoë eise gestel het wat verband gehou het met heiligheid – was die beweging wat rondom Jesus ontstaan het radikaal inklusief. Ten minste, dis die slotsom waartoe ek kom met my gedeeltelike verstaan en lees van die Bybel (en ander tekste). (Nota: en baie, baie meer leeswerk moet ek nog doen! :) )
  3. Die gesprek moet waarskynlik oor meer gaan as net die omkeer van hierdie volgorde. Die kerk gaan waarskynlik ook nie dieselfde lyk as wat dit nou lyk nie. Die fokus kan, myns insiens, nie meer soseer op die instansie val nie. ‘n Organiese verstaan van die kerk – dit kan dalk werk. Nietemin, dis nie nodig om te veel hieroor uit te brei aangesien die voorbrand vir so ‘n gesprek in die SA kerkgemeenskap alreeds besig is om gedoen te word, onder andere deur Prof Niemandt in Nuwe Drome vir Nuwe Werklikhede. (Dis beskikbaar by Loot.co.za vir slegs R82, of by Kalahari.net vir slegs R79. Bargain! Koop dit sommer vir jou hele kerkraad as ‘n middel-van-die-jaar kersgeskenk.)

Daar is een aanhaling in Prof Niemandt se artikel wat my sal bybly, en wat ek heelhartig sal onderskryf; daarmee sluit ek ook dan hierdie deel van die gesprek af:

Mense stel belang om die liefde van Jesus van Nasaret in aksie te sien.

Mag dit in ons kerkwees / liggaam-van-Christus-wees elke dag al hoe meer sigbaar word.