Drie dinge wat ek op my graf wil hê

April 12, 2011

As ek tot sterwe kom, moet julle asseblief drie goed op my graf(steen) sit:

‘n Dubbele inskripsie – in Grieks en Afrikaans: “ἐνθάδε καθεύδῃ Ῥονάλδος Hier slaap Ronald.“*

In Grieks, asseblief, om aan te dui dat ek deel vorm van daardie groep wat deur die eeue heen vashou aan die Christelike geloof. (Ja, en dit getuig so bietjie van my lewe ook.) Vandag nog, as mens ‘n antieke graf teëkom wat hierdie sinsnede op het, kan mens met redelike sekerheid sê dit was die graf van ‘n Christen.

Dit moet egter ook in Afrikaans wees. Anders, wie sal dit kan lees? Nee, ek sal graag ook relevant wil wees vir Jan Alleman. Selfs op my grafsteen.

So, asseblief, sit hierdie stuk hoop heel bo.

Onder dit die volgende: “Joh 10:10 – ‘Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.”

Lewe, in oorvloed, vir almal. Nie net lewe nie, maar lewe in sy volheid. Ook vir ander mense. Nie eendag nie, nóú. Met alles wat dit beteken. Want as daar een ding is waarvoor hierdie groep mense – waarna my eerste inskripsie verwys – voor gestaan het, en nog steeds staan, en nog steeds moet staan – selfs al het ons ook baie drooggemaak – is dit lewe.

Sit hierdie inskripsie, tegelyk versugting en getuienis, onder op my grafsteen. Dit is nie minder belangrik nie; inteendeel, dit is die basis waarop ons moet voortbou.

Die derde ding is ‘n bolplant wat jaarliks blom.

Mens moet niks daarvan in die winter kan sien nie. In die lente moet dit uit die grond uit bars met vars lewe en ongekende groei! Laat dit ‘n teken wees van die opstanding. Laat dit ‘n teken wees dat, verby alle hoop heen, verby alle verpletterd wees en dood en swaarkry en hoopverlorenheid, Hy nog steeds vir ons lewe skenk.

_________________________

* – kry iemand wat Grieks ken om dit uit te griffel! Ek draai drie maal in my graf om as die aksente nie reg is nie!


‘n Oop Monoloog: my geloofstorie, Deel 4

November 25, 2010

‘n Goeie vriend het my in September 2009 in effek gevra wat ek nou eintlik glo. Hierdie is my antwoord, so effens aangepas, maar grotendeels soos ek toe daaroor gedink het. In klein happies opgedeel.

Deel 4 – die boek oor die Boek en Universiteitsoord

Êrens in my eerstejaar (o gits, ons is nog steeds by my eerste jaar :o ) het ek daardie boek gelees waarvan ek jou al vertel het: Bruce Metzger se The Text of the New Testament. Ek het dit vir R20 gekoop by Protea Boekwinkel– ek kan nie eers meer onthou hoekom ek daar was nie, kan net onthou ek het gedink dis ’n bargain en dat dit nou ’n lekker boek gaan wees. Die eerste deel het gegaan oor hoe antieke boeke gemaak en oorgeskryf is – daar het dit my al gehad. Ek het sonder om twee keer te dink die volgende jaar ingeskryf vir Latyn (omdat die Bybel al vroeg reeds in Latyn vertaal is, maar ook omdat sommige kerkvaders in Latyn geskryf het – hulle haal gereeld die Bybel aan) en Duits (omdat baie boeke oor die teks van die NT in Duits geskryf is, en die bekendste sentrum wat hiermee werk in Duitsland is). Is dit nodig om te noem dat ek van Latyn en Duits gehou het? Die Duits was darem nie so moeilik nie, maar die Latyn was vrek baie werk. Menige dae het ek twee ure in die bib se studielokale gaan sit om my huiswerk te doen – maar dan het ons in die klas in ’n halfuur se tyd verby die punt gelees tot waar ek gekom het. (Teen die tweedejaar en derdejaar Latyn se tyd – my derde en vierdejaar –  was ons net vier en later drie mense in die klas – en die ander het al 5 jaar Latyn op skool gehad). Goeie vakkeuses, egter. Latyn het kerkgeskiedenis en Sistematiese Teologie (en ’n bietjie NT) makliker gemaak, terwyl Duits met NT, OT en Sistematiese Teologie gehelp het. Nie bietjie gehelp het nie, BAIE gehelp het.

Miskien kan ek dit weer hier net vinnig noem, tot op hierdie punt het ek geen geloofskrisis ervaar nie. Ek weet van my klasmaats het, en dink boonop dis nodig, want anders gaan jy dalk deur 6 jaar se opleiding waar mense vir jou allerhande gereedskap voorhou – ook om te dink – en jy net niks daarvan jou eie maak nie.

Aan die einde van my tweedejaar het ek by Amicus betrokke geraak. Tot hier toe het ek hoofsaaklik in die oggend Universiteitsoord toe gegaan, en soms in die aand – dis nou, as die Levi mense saam met wie ek uitgehang het in die aand gegaan het. Ek het sommer net aansoek gedoen vir ’n posisie op die WK (wykskommittee), en het dit toe gekry. Die volgende jaar eerstejaarskamp toe, bietjie die mense leer ken, lekker gesels (ook teologie) en toe al hoe meer betrokke geraak by die hele storie. Dit het daarop uitgeloop dat ek toe die volgende jaar (my vierdejaar) as voorsitter dien. Saam met ’n hele klomp ander übercool mense op die SK. Ek wou dit eers nie doen nie, maar daar was nou nie juis iemand anders nie. Oom Willem (Nicol), weer, het aan die begin ’n bietjie gewonder of ek die mas gaan opkom. Groot pret. Die effek van hierdie hele situasie: ek het besluit predikant is dalk beter as dosent, after all. Nie dat my studies te veel daaronder gely het nie – maar ek het wel baie tyd by die kerk spandeer. Dit was regtig ’n goeie tyd in my lewe.

Nog steeds, egter, nie ’n geloofskrisis in sig nie. Nog steeds gevoel ek weet te min. Nog steeds teologie studies geniet en veral OT en NT verslind.

Volgende keer: kerk werk en “opskop”


‘n Oop Monoloog: my geloofstorie, Deel 3

November 24, 2010

‘n Goeie vriend het my in September 2009 in effek gevra wat ek nou eintlik glo. Hierdie is my antwoord, so effens aangepas, maar grotendeels soos ek toe daaroor gedink het. In klein happies opgedeel.

Deel 3 – my eerste jare op Tuks.

Om een of ander rede ondervind baie teologie studente die eerste jaar as ’n hengse  skok. Veral as mens met Sistematiese Teologie begin (dit was lank terug Dogmatiek genoem). Ek het Sistematiese Teologie GELUV! Dit was wel redelik baie werk (in vergelyking met die ander werk), maar dit was soos poeding op ’n Vrydagmiddag. Ek dink daar is ’n paar goed wat my situasie anders gemaak het as van die ander ouens. Ek wou weet. Verder, dink ek, het ek die vermoë gehad om te onderskei tussen wat mense al in die kerk gesê het, en wat Prof Buitendag self sê. Sistematiese Teologie in die eerste paar jare op universiteit is nie ’n vak waarin hulle vir jou sê wat jy moet dink nie of selfs wat reg of verkeerd is om te dink nie; inteendeel, dit is eintlik maar die geskiedenis van die gesprek tot nou toe, sodat jy kan hoor wat gesê is en al klaar weet wat die probleme is met wat jy besig is om te sê. Nie almal in my klas was noodwendig so goed voorberei daarop nie. Wat my betref: ek het eintlik maar nog altyd gedink ek weet te min, so daarom was ek bietjie opinieloos. Ek wou eers al die opsies hoor – eers as mens genoeg inligting het, kan mens ’n opinie hê en ’n besluit neem, was my gevoel. (NB – dit beteken nie ek het nie geglo op hierdie stadium nie!) Eintlik het ek hierdie houding regdeur my 6 jaar van basiese opleiding gehandhaaf. Daar was min goed wat my soveel geïrriteer het as daardie kerkgeskiedenis take waar mens jou opinie moet lug, of ’n vergelyking moet trek met iets in die verlede en dan afleidings daaruit moet maak nie. Vrekkit, ek weet heeltemal te min, het ek gevoel, om enigsins iets te sê hieroor. Dis juis hoekom ek hierheen gekom het – sodat ek meer daarvan kan weet. Ek het nie met ’n vooropgestelde idee van alles kom swot nie!

Terug na my eerste twee jaar van studie toe. Die tale, o, die tale! Wat ’n voorreg om die Bybel te kan lees in die oorspronklike tale! (Darem het ek so ‘n effense aanvoeling vir tale.) Dit het, tot ’n groot mate, die plek ingeneem wat die programmering op skool vir my was. Die geskiedenis – wat hand aan hand met die tale gaan – was ook nie te versmaai nie. Ek het onthou spesifiek die een Ou Testament eksamen – ’n deel daarvan was oopboek. Ons kon ons Hebreeuse Bybel en woordeboek saambring, en enige grammatikaboeke wat ons wou. Dit was verseker die lekkerste vraestel wat ek op universiteit geskryf het. Het glad nie omgegee hoeveel ek vir die vraestel het nie – die blote feit dat ek die vertaling kon doen en dit met insig was vir my genoeg.

Een van die metodes wat ons aangeleer is, is die histories-kritiese metode. Dit was wel nie die enigste metode wat ons aangeleer het nie, maar het nogtans ’n belangrike rol gespeel in ons opleiding. Inteendeel, as ek nou daaraan terugdink, was die dosente by Antieke Tale baie gefokus op metodes wat die eenheid van die teks beklemtoon – anders gestel, dat ons werk met hoe die teks vandag voor ons lê. Nogtans is die histories-kritiese metode as ’n belangrike stuk gereedskap in ons tale (en OT en NT) toolbox beskou. Ek moet bieg, hierdie goed fassineer my. Nie omdat ek nie respek het vir die Bybel nie, maar eerder omdat ek baie lief is daarvoor. Ek wil weet waarvandaan het dit gekom, en hoe is dit aanmekaargesit.

Volgende keer: die boek oor die Boek en Universiteitsoord


Mag: Deel 2

Junie 14, 2010

Hierdie is deel 2 van my nadenke oor mag – vir deel 1, wat met mag in die erediens te doen het, kyk hier.

Ja, helaas; mag as deel van gesprek en redevoering is ook in die Bybel te vinde. Ek gee myself uit as iemand wat veral die Nuwe Testament bestudeer, so daarom sal ek sommer net ‘n paar voorbeelde uit die NT aanhaal.

Ons kan sommer by Paulus begin. Dis eintlik voor die hand liggend in sommige goed wat Paulus sê: die manier hoe hy homself voorstel. Hy is ‘n apostel; hy het allerhande goeie goed gedoen, maar ook allerhande ellendes deurgemaak ter wille van die evangelie. Ja, in ‘n baie ware sin is Paulus wat homself as voorbeeld voorhou ‘n goeie voorbeeld van ‘n retoriek om mag. Paulus moet sy outoriteit beskerm sodat die mense na hom sal luister!

Kyk na my as voorbeeld! Ek volg die voorbeeld van Christus Jesus.

Daar is ook ander maniere waarop Paulus sy outoriteit beklemtoon – dinge wat nie so ooglopend is nie. Byvoorbeeld, sy verwysings na tyd wat hy by die gemeente spandeer het, of mense wat hy in ‘n sekere gemeente ken en wat hom ook ken.

Dieselfde geld ook van die evangelieskrywers –  op ‘n subtiele vlak vind ons allerlei wyses waarop die evangelieskrywers hulle outoriteit daar wil stel: Lukas begin byvoorbeeld deur te verduidelik hoe goed hy sy bronne nagevors het. Die ander verskaf details wat hulle storie ook beaam, om met soveel gesag as moontlik te praat. Handelinge vertel die storie van die apostels; mense wat Jesus geken het. Al die boeke in die NT maak gebruik van die Ou Testament – geskrifte wat gesag dra! In baie gevalle word dit juis benadruk:

Daar staan geskrywe …

So is die Woord vervul …

Moses het gesê …

Die evangelies vra ook om gesag in die manier waarop hulle Jesus uitbeeld. Dikwels kom Jesus teen die Fariseërs te staan, en elke keer wen Hy die strydgesprek wat daar tussen hulle ontstaan. Nou ja, om dinge op ‘n spits te dryf: Jesus het waarskynlik self ook so te werk gegaan dat sy woorde gesag gedra het (volg byv Markus se begin!).

O gits! Hoe nou gemaak? As alles dan ‘n spel om mag is …

Ek dink nie mens gaan daarvan wegkom nie. Om enigsins iets te sê wat iemand anders hoor, moet ‘n mens eenvoudig ‘n spel om mag handhaaf. Natuurlik is ‘n vraag om mag nie outomaties gelyk aan aanvaarding daarvan nie – mens kan nog altyd kies om iets te glo of nie. Dalk is dit net goed om op jou hoede te wees? Al wat ek op hierdie stadium weet, is dat dit daar ‘n spel om mag is wat skadelik is (sien byv my eerste blogpost oor mag, die tweede deel) en goed wat nie skadelik is nie. Ek stel die volgende dus voor:

  1. Wees versigtig vir jou eie spel om mag.
  2. Wees versigtig vir andere se spel om mag – luister wat sit agter iemand se woorde. (Ek bedoel nou nie dat mens sinies moet wees of iemand anders se woord heeltyd in twyfel te trek nie, maar probeer ten minste iemand se bedoeling raaksien.)
  3. Dink mooi oor wat jy as gesaghebbend sien.

Dis dalk die moeite werd om hierdie blogpost met ‘n (wat ek sien as) goeie spel om “mag” te sien: die soeke om mag te bekom juis ter wille van andere. Dit blyk die geval te wees met Paulus (byv in Filippense, waar hy keer op keer sy “mag” gebruik om mense daarop te wys dat hulle ander hoër as hulself moet ag), maar veral met dit wat ek weet van Jesus Christus. Keer op keer was sy spel om mag juis om ander te bemagtig: dié mense wat nie vir hulleself kon opstaan nie. Voor ek egter beskuldig word dat ek net weereens ‘n Christen-sousie oor my blogpost bredie gooi, sal ek eerder hierdie skrywe afsluit. Gaan lees egter self die Boek en besluit dan of dit gesaghebbend is of nie.


Mag: Deel 1

Junie 14, 2010

Die laaste ruk dink ek nogal na oor mag. Nie mag op grootskaal, soos wêreldmagte of wêreldmarkte of selfs nasionale politiek nie, maar die mag van redevoering en gesprek. Beide interne gesprek en publieke gesprek; ja, eintlik die fyn nuanses van enige gesprek. Die volgende paar blogposts gaan ek bietjie daaroor nadink – in drie dele: in die kerk, in die Bybel, en sommer in gesprek tussen twee mense.

Ek was vandag vir die eerste keer in die St Reinoldi gemeente in Dortmund, waar ek die volgende vier maande bly. Dit was vir my welgevallig, en ek dink ek gaan by die gemeente betrokke raak. Dit is ‘n Evangelische gemeente, so ek verstaan hoe die erediens aanmekaargesit is, en ek voel heel tuis in die effens formele erediens. Ek ken die wysies van meeste van die liedere en die mense is heel vriendelik. Daar is elke tweede Dinsdag van die maand ‘n Taizé diens, en die preek was vir my goed. (Natuurlik moet ek erken dat ek nie 100% die preek kon volg nie, maar ek kon darem min of meer die rigting van die gesprek peil.)

Inderdaad, die preek was goed. Ek wil dit graag benadruk, want dit wat volg mag dalk laat blyk dat ek nie so dink nie. Sien, die afgelope ruk dink ek onwillekeurig aan mag, veral hoe mense gesprekke gebruik om mag te bekom, en wat hulle dan met daardie mag wil bereik. In hierdie preek uit Efesiërs twee het die prediker mooi verduidelik hoe daar twee groepe teenwoordig was in die gemeente aan wie die brief gerig is: (ten minste) die Jode en die nie-Jode. Hy het mooi verduidelik hoe dit juis in Christus is dat hierdie twee met mekaar oor die weg kon kom – selfs al het hulle soms vasgesit. Natuurlik het hulle vasgesit, anders was dit nie nodig om dit weer in te brief te beklemtoon nie. Maar op ‘n manier is Christus die gom – die bindmiddel – wat hierdie twee groepe kon verbind.

Die prediker het sy storie afgesluit met ‘n staaltjie uit die verlede van die gemeente, wat geëindig het met ‘n gemeentelid wat as teologie-professor bevestig is in dieselfde gebou waar ons op daardie oomblik gesit het. (Hoekom vertel ek nie die hele storie nie? Dis juis hier waar die Duits my bietjie ondergekry het. Tot my spyt.) Die prediker het inderdaad met hierdie staaltjie afgesluit! Waarom? Om ekstra gewig aan sy preek te verleen. Anders gestel – en miskien ‘n bietjie kras, maar tog so – om die mag te bekom om te oorreed. In hierdie geval, deur te verwys na iets wat in die gemeente self gebeur het.

Elke gesprek bevat ‘n mate van mag; selfs al is dit net om die reg te kry om te praat. Meer dikwels is dit om die reg te kry om vertrouenswaardig te wees – selfs al is die gesprek in ‘n ligte trant. Dit is, het ek tot die slotsom gekom, ook so in die kerk, en veral in die erediens. (Ja, helaas – ook in hierdie blogpost, of meeste ander gesprekke wat ek aanknoop!) Dit is natuurlik nou verbind aan die kuns van retoriek.

Ek het onlangs ‘n ander gemeente besoek wat ‘n tyd vir getuienis ingeruim het. Wat my opgeval het – ek het immers na punte gesoek waar die soeke na mag deurskemer – is dat die oorgrote meerderheid (eintlik sonder uitsondering) van die getuienisse die “mag” van die spesifieke gemeente beaam het.

Vandat ek by gemeente X aangesluit het, het die Here my regtig geseën.

Gemeente X het vir my soos ‘n familie geword; hier ervaar ek die liefde van die Here!

Ek het vir jare lank aan ‘n siekte gely, en eintlik was my lewe chaos, tot my vriend my na gemeente X gebring het. Ek is nie oornag genees nie, maar die siekte is besig om te verdwyn …

Die prediker het by hierdie geleentheid ook nie juis op hom laat wag nie. Die vraag wat by my vassteek, is hoe mens dit moet beoordeel? Ek weet nie. Dis maklik om vingers te wys, maar as mens regtig eerlik moet wees, kom hierdie soeke om mag dikwels na vore.

Soos in die Bybel.

Maar heirdie blogpost is al klaar heeltemal te lank, so meer daaroor in ‘n volgende aflewering.


Coca-Cola, Pseudo-Paulus en Plagiaat

Julie 29, 2009

Kolossense is waarskynlik nie deur Paulus geskryf nie. Nou goed dan, dit kon dalk deur Paulus geskryf gewees het. Efesiërs, egter, het ‘n kleiner kans om regtig deur Paulus geskryf te gewees het.

Nou ja, daar is allerhande goed wat mens in gedagte moet hou as mens so ‘n uitlating maak. Een van hulle kan wees dat iemand anders die brief vir Paulus geskryf het – dus, dat Paulus ‘n tipe van ‘n “sekretaris” gehad het – (mens noem so iemand ‘n amanuensis). Daarom dat hy aan die einde van sommige briewe noem dat hy nou “met sy eie hand” skryf. (E.g. 1 Kor 16:21, maar veral Gal 6:11).

Hoekom sal iemand dan homself as Paulus voordoen as hy skryf? Een rede kan wees omdat hy ‘n leerling van Paulus was, en hy meen dus dat dit eintlik maar in elk geval is wat Paulus geskryf het. ‘n Ander moontlikheid kan die beste met ‘n hedendaagse voorbeeld uitgelig word: Coca-Cola.

Ek hoef niemand te vertel wat Coca-Cola is nie. En dit is juis die punt! Iewers het ek gehoor (en ek glo dit, daarom dat ek dit sommerso uitblaker) dat sou Coca-Cola alles verloor wat hulle het – elke pennie – sal hulle weer van voor af kan begin en ‘n nuwe sukses van die storie maak. Selfs al proe die koeldrank wat hulle dan maak heelwat anders as dit waaraan ons gewoond is. Alles net omdat hulle handelsmerk so bekend is.

In die vroeë kerk was Paulus ook amper so ‘n handelsmerk. Om iets aan sy naam te koppel, was om dit besonderse waarde te gee. Selfs dan ook die mense wat onder hom “studeer” het – hierdie mense wat naby hom was, het hoë status gekry bloot omdat hulle by hom was. Dit was veral onder die heidense (i.e., nie-Joodse) kerk dat Paulus se stem soveel werd was – en raai bietjie watter groep het toe baie vinnig die grootste deel van die vroeë kerk uitgemaak?

Deur op die Paulus-podium te klim, kan mens soveel meer mense bereik. Antieke skrywers het so iets nie as plagiaat gesien nie. Ou Paulus sou dalk opgewerk geword het as hy met iets nie in die brief saamgestem het nie – en dit sal ons nou nie weet nie – maar as hy saamgestem het, sou hy waarskynlik nie juis omgekrap gewees het nie.


Ek ken ‘n ou, ou liedjie – maar ouer as daardie een (P. Berol. 8299)

Julie 17, 2009

Ek lees bietjie Grieks saam met die tweedejaars. Nou goed dan, die universiteit betaal my om Grieks saam met die tweedejaars te lees.

Ek is mal daaroor.

Vandag het ons ‘n gedig (was dit miskien ‘n lied?) gelees wat, sover ek weet, nog nooit in Afrikaans vertaal is nie. Dit is êrens in die vierde eeu op ‘n stuk papirus neergeskryf wat nou in Berlyn is (P. Berol. 8299). Miskien kom dit uit nog ‘n vroeër tyd! Iemand, vermoedelik in Egipte êrens, het hierdie gedig die moeite werd geag om oor te skryf.

Dis ongelukkig net die laaste deel van die gedig wat oorgebly het. Ons weet dit, want die laaste reëls begin elke keer met die opeenvolgende laaste letters van die Griekse alfabet. Dus was daar waarskynlik 24 reëls aanvanklik, een vir elke letter van die Griekse alfabet. Dit val onmiddelik op dat dit soos die psalms klink.

Hier is my vertaling daarvan:

U beskerm die lam van gevaar; U neem dit en maak dit deel van u kudde.

Noudat ek weet dat die Seun die Herder is, besit ek die weiveld van die Vader.

Sal ek tussendeur vreesaanjaende magte reis, sal niks van hulle swaarkry my tref nie.

Want U is Genade, (U is) die Geseënde Een: noudat ek U gesien het, sal ek wegkom van al die planne wat teen my gesmee word.

Ek tel musiekinstrumente op vir U; ek sal heilige koordanse dans!

O Woord van die nimmereindigende Vader, aan U die eer, die mag tot in ewigheid!


Hier is die Grieks, vir diegene wat dalk ‘n beter vertaling daarvan wil maak – of net myne wil korrigeer. (Onthou tog asb: hierdie is nie ‘n kritiese teks nie!)

Τηρεῖς συ τὸν ἄρνα ἐπ’ ὤμου λαβὼν σῇ ποίμνῃ ἑνώσας.

Υἱὸν νομέα νῦν ἐπέγνων, νῦν ἔσχα νομὴν πατρῴαν.

Φοβερὰς δυνάμεις διοδεύσω μηδέν τι παθὼν ἀπὸ τούτων.

Χάρις τε συ, μάκαρ, ἀποβλέψας ἀποφεύξομαι τῶν ἐπιβούλων.

Ψαλτήριά σοι ἀνεγείρω, ἁγίους δὲ χοροὺς χορεὺσω.

Ὧ Λόγε πατρὸς ἀπειρίτου, σοὶ δόξα, κράτος εἰς αἰῶνας.


Behoort, beleef, bely: Saampraat met Nelus Niemandt

Junie 29, 2009

Ek skryf hierdie post na aanleiding van Prof Nelus Niemandt se artikel in die Beeld.

Prof Niemandt betoog kortliks die volgende: in plaas van ‘n kerk waarin hul geloof bely, hul geloof dan daarna kan beleef en dan uiteindelik tot die gemeenskap behoort (hierdie is die tradisionele manier van kerkwees in veral die NG Kerk),  moet die volgorde omgeswaai word: na ‘n behoort, beleef, bely situasie.

Ek kan nie help om in breë trekke hiermee saam te stem nie. Die eienskappe wat my generasie (X) tipeer, voel ek mos aan my eie bas: ons is nie meer so lojaal aan instansies nie, eerder die ideaal wat agter die instansies lê. (Juis nou die dag weer hieroor gepraat met die Dinsdaggroepie – julle weet wie julle is.) Daarom ook dat ons nie noodwendig onsself aan ‘n kerk vasbind net omdat dit van ons verwag word nie – ons wil sien hoekom ons aan daardie kerk moet behoort. Terwyl ons terselfdertyd ook daarna hunker om te behoort …

Soos sulke dinge maar gaan (hierdie is immers ‘n gesprek) moet ek egter ‘n paar punte uitlig wat ek wil byvoeg of effens wil verander:

  1. In die tradisionele model was daar nou nie juis veel belewing nie. Uitlewing miskien. In die nuwe model voel ek ook dat beleef enbehoort oorvleuel – tot so ‘n mate dat dit op presies dieselfde tyd kan gebeur.
  2. Prof Niemandt raak die punt aan, maar brei nie soveel daarop uit nie: Jesus het eerstens mense verwelkom, en daarna het die geloofsreis posgevat. Waar ander groepe eksklusief was – soos die Qumran gemeenskap – en hoë eise gestel het wat verband gehou het met heiligheid – was die beweging wat rondom Jesus ontstaan het radikaal inklusief. Ten minste, dis die slotsom waartoe ek kom met my gedeeltelike verstaan en lees van die Bybel (en ander tekste). (Nota: en baie, baie meer leeswerk moet ek nog doen! :) )
  3. Die gesprek moet waarskynlik oor meer gaan as net die omkeer van hierdie volgorde. Die kerk gaan waarskynlik ook nie dieselfde lyk as wat dit nou lyk nie. Die fokus kan, myns insiens, nie meer soseer op die instansie val nie. ‘n Organiese verstaan van die kerk – dit kan dalk werk. Nietemin, dis nie nodig om te veel hieroor uit te brei aangesien die voorbrand vir so ‘n gesprek in die SA kerkgemeenskap alreeds besig is om gedoen te word, onder andere deur Prof Niemandt in Nuwe Drome vir Nuwe Werklikhede. (Dis beskikbaar by Loot.co.za vir slegs R82, of by Kalahari.net vir slegs R79. Bargain! Koop dit sommer vir jou hele kerkraad as ‘n middel-van-die-jaar kersgeskenk.)

Daar is een aanhaling in Prof Niemandt se artikel wat my sal bybly, en wat ek heelhartig sal onderskryf; daarmee sluit ek ook dan hierdie deel van die gesprek af:

Mense stel belang om die liefde van Jesus van Nasaret in aksie te sien.

Mag dit in ons kerkwees / liggaam-van-Christus-wees elke dag al hoe meer sigbaar word.


Van Aarde, The Shack en die risus paschalis

Junie 28, 2009

Ek het vanaand sopas teruggekom van die “Joint Conference” vir Teologie op Stellenbosch. Die Teologie Fakulteit van die Maties is hierdie jaar 150 jaar oud, dus het hulle hierdie konferensie daar gehou om al dit te vier. Dit was nogal ‘n aangename geleentheid – sal miskien later weer daaroor blog, miskien egter eerder op my Engelse blog.

Een van die lesings wat definitief uitgestaan het, is die van Prof Andries van Aarde oor die triniteitsbegrip in die gewilde boek van Young, The Shack. Die boonste kamer van die Teologie Fakulteit was gepak – dit terwyl daar net 20 uitdeelstukke was. Wat het hulle gedink? Van Aarde, The Shack – natuurlik gaan daar meer as 20 mense wees.

(Dit wat volg is my interpretasie van die lesing! Ek mag dalk verkeerd gehoor of verstaan het.) Van Aarde het ‘n baie positiewe beoordeling van die boek gegee. Ongelukkig was die tyd te kort om sy hele referaat te lewer, so ek vermoed daar is ook effense kritiek wat hy nie by kon uitkom nie. Die hoofargument van sy betoog was dat die Shack weer ‘n verhoudingselement in die triniteit inbring; hy het ook ander goed uitgelig, byvoorbeeld dat die boek ‘n postliberale lees van die Bybel verteenwoordig. Van Aarde meen dat die boek weer teruggryp na ‘n tyd voor Tertullianus, wat die begrip trinitas die eerste keer gebruik het. Dit laat die Drie-Eenheid dan ook oop om weer mense toe te laat. Die idee is dat daar ook geen verhouding tussen mense kan bestaan – d.w.s. liefde – as dit nie ook so was met God nie.

Al drie Persone van die Drie-Eenheid word speels uitgebeeld in die boek. Van Aarde gaan hiermee saam, en verwys dan ook na die risus paschalis. Dit is ‘n ou Ortodokse tradisie wat klaarblyklik in Bavaria ontstaan het, waarin die priester die gemeente lui in ‘n geweldige lagbui om die opstanding uit die dood te vier.  (Prof Yolanda Dreyer het die relevante gedeeltes in die boek uitstekend voorgelees, asook die verwysing na die risus paschalis.) Dit, volgens Van Aarde, is ‘n belangrike element wat ons in ons geloof moet terugkry.

Tydens die vrae was dit veral Prof Pieter de Villiers se kommentaar wat vir my interessant was. Prof De Villiers spesialiseer op spiritualiteit, en veral die mistiek. Volgens hom stem die Shack nie soseer ooreen met wat in die klassieke mistiek geglo sou word nie. Dit is eenvoudig net onmoontlik om die essensie van God vas te vat. Prof Van Aarde het egter daarop gewys dat veral die Heilige Gees uitgebeeld word as Iemand waarop Mack, die hoofkarakter in die verhaal, nie kan fokus nie.

Myns insiens: die boek se plot ontvou vir my ‘n bietjie stadig. Verder irriteer die manier hoe die onderskeie verhoudings uitgebeeld word in die boek my so ‘n bietjie, maar ek besef dit sê dalk meer van my as van die boek of die skrywer. Daar is verskeie ander probleme wat ook uitgewys kan word – byvoorbeeld, dat die boek maklik patripassianisme (die kettery dat die Vader saam met die Seun aan die kruis gesterf het, dus dat daar nie drie Persone is nie, maar drie verskillende maniere waarop God Homself manifesteer) kan uitbeeld. Of, eintlik moet ons dit erken – dat die boek dit eintlik so voorstel. (Die bekende teoloog Moltmann, soos ek verstaan, is egter nie te ver van hierdie siening af nie – The Crucified God is op my lysie, maar ek moet dit nog lees). Prof Van Aarde het ook op hierdie verstaan in die boek gewys – maar nou ja, hoe kan mens in elk geval oor God praat? Self Augustinus het gesê dat ons eintlik niks oor God kan sê nie; dit wat die kerkvaders gesê het, is bloot maar net omdat mens iets moet sê.

Verder dink ek die boek is verseker ‘n produk van sy tyd. Die groot klem op verhoudings en wegbeweeg van die strukturele elemente in godsdiens is nie besonders nuut nie. Sommige van dit is nodig – na my mening gaan ons egter weer op ‘n stadium ‘n tyd bereik waar die kerk in ‘n vaster struktuur staan na die huidige struktuur uitgedaag en gedekonstrueer is. Hoe dit gaan lyk, dit kan ek nie sê nie. Nogtans dink ek die boek kan mense in pyn help. Ek sal dit aanbeveel vir mense om te lees – maar dit nie as Die Waarheid verkoop nie.


Die teologie van Lied 190 (Grote God, aan U die eer)

April 25, 2009

Lied 190 (uit die Liedboek van die Kerk, 2001, NG Kerk-Uitgewers) maal die afgelope week in my kop rond. Dit is een van my gunsteling gesange: moontlik omdat ons dit al so baie in ons tradisie gesing het, en moontlik omdat dit so lekker op die kitaar gespeel kan word. Die melodie, oorspronklik Großer Gott, wir loben dich, is al bekend vanaf 1668, en dit werk nog steeds.

Ek dink egter onwillekeurig aan die teologie wat agter hierdie gesang, en moontlik agter die Liedboek, lê. Liedere, net soos preke, boeke en blogs, het ‘n eie teologie wat onderliggend is daaraan. Dit kan ook natuurlik nie anders nie! Mens moet dus soms op eiers loop – wat (baie!) nuwe kerkliedere betref, maar ook soms wat die ou tradisionele gesange betref.

 

Lied 190


(1) Grote God, aan U die eer!

Heerlik is waar U regeer;

hemels is u majesteit;

heilig u geregtigheid.

U wat alles onderhou, 

U is ewig en getrou.


(2) In genade, groot en ryk,

bou U, Heer, u koninkryk.

Voordat ek kon kies, kon vra,

het u Seun my vloek gedra.

Ek kon vind: U’t my gekry

voor ek nog my skuld bely.


(3) U, oor alles God en Hoof,

open oë van geloof

dat ons sien, geen goed of kwaad

word aan toeval oorgelaat:

Bokant ons begrip, verstand,

hou U al wat is in stand.

 

Ek hou baie van die eerste twee verse – dis diep teologie. (Soos teologie maar gaan, is dit ook oop vir interpretasie!) Die derde versie pla my egter. Op die oog af lyk dit of dit ‘n “Puppetmeischter” God voorstel. ” … geen goed of kwaad word aan toeval oorgelaat: … ” Beteken dit dan tot God letterlik alles beheer wat op aarde aangaan? ‘n Mens sou so dink! Dis ook heel moontlik dat die lied oorspronklik hierdie betekenis gehad het. (Die oorspronklike lied is tussen 1719-1790 deur Ignaz Franz gepen.) Ek sal baie versigtig wees voordat ek dit in ‘n erediens gebruik! Hoe nou gemaak? Moet mens dit herinterpreteer, of net nooit in ‘n erediens gebruik nie? Die eerste twee versies is dan so mooi! Ek kan dink dat mens miskien kan lees as: nadat goed of kwaad geskied het, gryp God in. Met hierdie interpretasie is daar egter ook probleme! 

Dis jammer dat Lied 191 so onbekend is. Dis gegrond op dieselfde melodie (soos ook Lied 192), en is later vertaal in Afrikaans as 190. (Dit gaan terug op Te Deum laudamus – weet nie hoe lank terug dit geskryf is nie – maar is eers in 2001 in Afrikaans beskikbaar gestel.) Hiermee strook my eie teologie beter. Sien byvoorbeeld vers 3:

 

Vader, ewig, goed en groot,

hoor ons lof uit elke oord.

Seun van God in ewigheid,

ons is tot u diens bereid.

Heil’ge Gees, Vertrooster, Heer,

ons, u kerk, wil U steeds eer.

 

Mens moet maar lugtig loop vir enige lied se teologie!