‘n Oop Monoloog: my geloofstorie, Deel 7

November 28, 2010

‘n Goeie vriend het my in September 2009 in effek gevra wat ek nou eintlik glo. Hierdie is my antwoord, so effens aangepas, maar grotendeels soos ek toe daaroor gedink het. In klein happies opgedeel.

Deel 7 – skripsie en Amerika

My MDiv skripsie doen ek toe uiteindelik oor tekskritiek (waaroor Metzger se boek gaan) – maar meer nog as dit, oor hoe die OT in die NT gebruik word. Dit was great, want dit het klomp van my geliefde goed bymekaar uitgebring. Dit het ook al ’n paar goed geplant wat later vir wat ek glo belangrik sou word, ook ten opsigte van die Bybel. Dit het gegaan oor hoe Ps 40:7-9 in Heb 10:5-7 gebruik word. My bevinding is dat die skrywer van Hebreërs klein wysigings aanbring aan die OT aanhaling, sodat sekere goed uitgelig kan word (amper asof hy dit onderstreep). Om dit beter te beskryf, voel ek ek moet hier ‘n stuk aanhaal wat ek in my gevolgtrekking skryf:

… the authors of the New Testament did not consider the act of quoting something to de done according to the scientific categories of the present day. Nor did they regard the setting of the quotation as important as present-day exegetes do. Rather, they interpreted these texts in the light of Christ and found application for them in their contemporary faith communities. The authors of the New Testament allowed the Old Testament to permeate their thoughts. They knew and used these texts, viewing them as the prophetic announcement of the Christ event. However, they did not place Scripture on a higher level than God himself. Instead, the sacred texts point towards Him and for this reason may be highlighted (in this piece of Scripture, by subtle changes to the text) in order to do this more effectively.

Sewende jaar. Hou op werk by die kerk, wat verseker (vir eers) ’n goeie ding is. Lees vir die vale – alles OT en NT goed, wat ek vir die volgende skripsie moet lees in elk geval. Nog steeds met ’n redelik negatiewe houding teen die kerk. Werk al te vlytig! Dis maar min of meer wat gebeur tot ek New Orleans toe gaan aan die einde van laas jaar (2008) – die hele doel om meer van tekskritiek te gaan leer. Ek maak daar baie goeie vriende, en is regtig beïndruk met die erns wat die mense in hul gemeente maak. (Wel, die een wat ek meestal bywoon. Was by ’n hele paar kerke terwyl ek daar was. Ek het by die Southern Baptist Seminary geswot.) Nee, ek stem nie saam met alles wat hulle sê nie – maar ek sien hoe hulle regtig betrokke is by mense wat swaar kry. Meeste van hulle verstaan nie wat in Afrika aangaan nie (vet weet, ek ook seker nie rêrig nie), en ek kan sien hoekom hulle dink soos hulle dink. Ek leer by hulle die waarde van gemeenskap; ek leer by hulle van die liefde; ek leer van die Bybel. Ook leer ek natuurlik oor die tekskritiek gedeelte waarvoor ek gegaan het.

Volgende keer – eerste ware geloofskrisis


‘n Oop Monoloog: my geloofstorie, Deel 4

November 25, 2010

‘n Goeie vriend het my in September 2009 in effek gevra wat ek nou eintlik glo. Hierdie is my antwoord, so effens aangepas, maar grotendeels soos ek toe daaroor gedink het. In klein happies opgedeel.

Deel 4 – die boek oor die Boek en Universiteitsoord

Êrens in my eerstejaar (o gits, ons is nog steeds by my eerste jaar :o ) het ek daardie boek gelees waarvan ek jou al vertel het: Bruce Metzger se The Text of the New Testament. Ek het dit vir R20 gekoop by Protea Boekwinkel– ek kan nie eers meer onthou hoekom ek daar was nie, kan net onthou ek het gedink dis ’n bargain en dat dit nou ’n lekker boek gaan wees. Die eerste deel het gegaan oor hoe antieke boeke gemaak en oorgeskryf is – daar het dit my al gehad. Ek het sonder om twee keer te dink die volgende jaar ingeskryf vir Latyn (omdat die Bybel al vroeg reeds in Latyn vertaal is, maar ook omdat sommige kerkvaders in Latyn geskryf het – hulle haal gereeld die Bybel aan) en Duits (omdat baie boeke oor die teks van die NT in Duits geskryf is, en die bekendste sentrum wat hiermee werk in Duitsland is). Is dit nodig om te noem dat ek van Latyn en Duits gehou het? Die Duits was darem nie so moeilik nie, maar die Latyn was vrek baie werk. Menige dae het ek twee ure in die bib se studielokale gaan sit om my huiswerk te doen – maar dan het ons in die klas in ’n halfuur se tyd verby die punt gelees tot waar ek gekom het. (Teen die tweedejaar en derdejaar Latyn se tyd – my derde en vierdejaar –  was ons net vier en later drie mense in die klas – en die ander het al 5 jaar Latyn op skool gehad). Goeie vakkeuses, egter. Latyn het kerkgeskiedenis en Sistematiese Teologie (en ’n bietjie NT) makliker gemaak, terwyl Duits met NT, OT en Sistematiese Teologie gehelp het. Nie bietjie gehelp het nie, BAIE gehelp het.

Miskien kan ek dit weer hier net vinnig noem, tot op hierdie punt het ek geen geloofskrisis ervaar nie. Ek weet van my klasmaats het, en dink boonop dis nodig, want anders gaan jy dalk deur 6 jaar se opleiding waar mense vir jou allerhande gereedskap voorhou – ook om te dink – en jy net niks daarvan jou eie maak nie.

Aan die einde van my tweedejaar het ek by Amicus betrokke geraak. Tot hier toe het ek hoofsaaklik in die oggend Universiteitsoord toe gegaan, en soms in die aand – dis nou, as die Levi mense saam met wie ek uitgehang het in die aand gegaan het. Ek het sommer net aansoek gedoen vir ’n posisie op die WK (wykskommittee), en het dit toe gekry. Die volgende jaar eerstejaarskamp toe, bietjie die mense leer ken, lekker gesels (ook teologie) en toe al hoe meer betrokke geraak by die hele storie. Dit het daarop uitgeloop dat ek toe die volgende jaar (my vierdejaar) as voorsitter dien. Saam met ’n hele klomp ander übercool mense op die SK. Ek wou dit eers nie doen nie, maar daar was nou nie juis iemand anders nie. Oom Willem (Nicol), weer, het aan die begin ’n bietjie gewonder of ek die mas gaan opkom. Groot pret. Die effek van hierdie hele situasie: ek het besluit predikant is dalk beter as dosent, after all. Nie dat my studies te veel daaronder gely het nie – maar ek het wel baie tyd by die kerk spandeer. Dit was regtig ’n goeie tyd in my lewe.

Nog steeds, egter, nie ’n geloofskrisis in sig nie. Nog steeds gevoel ek weet te min. Nog steeds teologie studies geniet en veral OT en NT verslind.

Volgende keer: kerk werk en “opskop”


Hallo! Ich komme aus Südafrika!

Mei 25, 2010

Dit was Junie 2007 – ‘n relatiewe warm jaar in Duitsland. Ek en ‘n vriend het sopas vir ‘n week lank deur Duitsland getoer – op die goedkoopste wyse wat ons aan kan dink. Die hele reis was ‘n avontuur – maar dis ‘n storie vir ‘n ander dag.

Die eintlike rede hoekom ek myself in Duitsland bevind het, was om ‘n konferensie by te woon – my heel eerste konferensie oorsee, in Tübingen. Voor dit was daar egter een ander ding wat ek moes doen, en dit was om Göttingen te besoek.

Göttingen – daardie legendariese, mistiese plek (so het dit op daardie stadium gevoel; wag, eintlik steeds nog), waar soveel teologie al oordink is en sorgvuldig op papier neergepen is. Die net-duskant-heilige plek waar die mense van die Septuaginta Unternehmen nou nog vlytig maar pynlik werskaf om die teksgeskiedenis van die Septuaginta oop te vlek. (Nota aan die oningeligde / ongeïnteresseerde leser: die plek is vir my belangrik). Ek het gereël om die Septuaginta Unternehmen self te besoek! ‘n Droom wat vervlees het! (Ja, ja, so vervlees is miskien nie ‘n amptelike woord nie.) En nou staan ek hier voor die deur van die plek …

Ja, soos jy uit die boonste prentjie kan aflei, die plek was toe nou nie so indrukwekkend soos wat ek myself al die tyd voorgestel het nie. Daar was toe nie honderd mense wat dag en nag werk aan die Septuaginta nie. Inteendeel, slegs die boonste verdieping huisves die Septuaginta Unternehmen. Wat nog meer van ‘n verrassing was, is dat daar nie ‘n massiewe (neon) bord is wat aandui dat dit die Septuaginta Unternehmen is nie; o nee! Daardie paar spikkies pixels op die deur (links onder) is die naambordjie – seker ongeveer ‘n font grootte van 8:

Dit het nie afbreuk gedoen aan my opgewondenheid nie. Ek was hier; dit was my droom; ek was besig om my droom te leef! Ek laat nie op my wag nie en lui die klokkie – die deur gaan oop; ek stap vol verwagting in die voorportaal in. ‘n Hele aantal nuuskierige Duitsers kyk van bo van die wenteltrap af – dis amper asof hulle ook net so vol verwagting is soos ek.

Hallo! Ich komme aus Südafrika!

Dis al waaraan ek kan dink – maar dis die reine, reine waarheid! Hoe opgewonde ek ook al is oor dit wat besig is om met my te gebeur – die wonders wat my oë op pad is om te aanskou; die kennis wat op pad is om voor my oop te vou; die weet wat hierdie mense adem – my hart is op ‘n ander plek! Ich komme aus Südafrika!

_____________

Nou gaan ek terug. Hierdie keer vir langer as ‘n jaar. (Ek vra daarom om verskoning as hierdie blog dan ook soms as ‘n reisjoernaal diens doen!) ‘n Jaar waarin ek weet ek veel gaan leer, van dinge waarvan ek nou al van my eerste jaar op universiteit droom, by ‘n plek waarna ek nog altyd – so voel dit – gehoop het om te gaan. Ek weet dat ek elke tree gaan gee, soos omtrent drie jaar terug, terwyl ek ook die volgende gaan herhaal, soos toe:

Ek is uit Afrika! Ek is uit Afrika!


Coca-Cola, Pseudo-Paulus en Plagiaat

Julie 29, 2009

Kolossense is waarskynlik nie deur Paulus geskryf nie. Nou goed dan, dit kon dalk deur Paulus geskryf gewees het. Efesiërs, egter, het ‘n kleiner kans om regtig deur Paulus geskryf te gewees het.

Nou ja, daar is allerhande goed wat mens in gedagte moet hou as mens so ‘n uitlating maak. Een van hulle kan wees dat iemand anders die brief vir Paulus geskryf het – dus, dat Paulus ‘n tipe van ‘n “sekretaris” gehad het – (mens noem so iemand ‘n amanuensis). Daarom dat hy aan die einde van sommige briewe noem dat hy nou “met sy eie hand” skryf. (E.g. 1 Kor 16:21, maar veral Gal 6:11).

Hoekom sal iemand dan homself as Paulus voordoen as hy skryf? Een rede kan wees omdat hy ‘n leerling van Paulus was, en hy meen dus dat dit eintlik maar in elk geval is wat Paulus geskryf het. ‘n Ander moontlikheid kan die beste met ‘n hedendaagse voorbeeld uitgelig word: Coca-Cola.

Ek hoef niemand te vertel wat Coca-Cola is nie. En dit is juis die punt! Iewers het ek gehoor (en ek glo dit, daarom dat ek dit sommerso uitblaker) dat sou Coca-Cola alles verloor wat hulle het – elke pennie – sal hulle weer van voor af kan begin en ‘n nuwe sukses van die storie maak. Selfs al proe die koeldrank wat hulle dan maak heelwat anders as dit waaraan ons gewoond is. Alles net omdat hulle handelsmerk so bekend is.

In die vroeë kerk was Paulus ook amper so ‘n handelsmerk. Om iets aan sy naam te koppel, was om dit besonderse waarde te gee. Selfs dan ook die mense wat onder hom “studeer” het – hierdie mense wat naby hom was, het hoë status gekry bloot omdat hulle by hom was. Dit was veral onder die heidense (i.e., nie-Joodse) kerk dat Paulus se stem soveel werd was – en raai bietjie watter groep het toe baie vinnig die grootste deel van die vroeë kerk uitgemaak?

Deur op die Paulus-podium te klim, kan mens soveel meer mense bereik. Antieke skrywers het so iets nie as plagiaat gesien nie. Ou Paulus sou dalk opgewerk geword het as hy met iets nie in die brief saamgestem het nie – en dit sal ons nou nie weet nie – maar as hy saamgestem het, sou hy waarskynlik nie juis omgekrap gewees het nie.


Deeg – ‘n metafoor vir ‘n skripsie

Julie 7, 2009

‘n Skripsie is soos ‘n bol deeg.

Eers lê die gedagte net daar, tot jy begin om stadig maar seker die ding plat te rol, sodat jy uiteindelik koekievorms daaruit kan sny. Dan begin jy aan die punte sny; jy maak die deeg ‘n bietjie minder sodat die vorm beter kan lyk; jy sny die goed wat niks te make het met jou skripsie nie langs die kante af.

Dan begin jy besef hierdie idee is nie in die beste vorm wat dit kan wees nie. Jy rol die deeg weer in ‘n balletjie op, en dan’s jy weer waar jy begin het. ‘n Groot bol gedagtes wat op die tafel voor jou lê. Ag wat, bring maar die koekroller …


Antieke kopiereg en ‘n digitale wêreld

April 10, 2009

In die ou, ou dae was boekeskryf nie so ‘n maklike ding gewees nie. Ek praat nou van die ou, ou dae voor almal van ons se oumagrootjies. In die eerste paar eeue van hierdie jaartelling. Behalwe dalk die juffrou wat in ons hoërskool se bib gewerk het (en toevallig ook die geskiedenis-onnie was) – sy het dalk daardie dae gesien. Om mee te begin, die kans dat jy kon lees was maar klein. Sommige meen tot 20% van die samelewing. (Ons is vinnig besig om weer daar uit te kom.) Lees en skryf is nie dieselfde ding nie; die kans dat jy kon skryf was waarskynlik nog kleiner as 20% – dalk so min as 5%. Ordentlike skryfgoed was duur. Gekke en dwase was dus volop. Hulle het selfs op blare gegriffel, en ou potskerwe. (Mens sou ‘n lang opstel kon skryf oor die meerdoeligheid van gebroke potskerwe. Elke nou en dan, byvoorbeeld, het mens ‘n ou potskerfie nodig gehad om jou swere mee te krap). 

Kopiereg was nog ‘n groter “probleem”. Sodra mens jou werk klaar geskryf het – so het dit met baie skrywers / digters gegaan – het mens ‘n private partytjie gehou en dit dan gaan voordra aan iemand wat genoeg geld gehad het om jou te borg om die hele ding gepubliseer te kry. Dan het daardie persoon mense betaal om ‘n paar kopieë te maak van jou werk – en dan, boeta, dan het daardie klein werkie van jou (so 12 boekrolle?) vrye teuels gekry. Mense het oor en weer die goed uitgeruil, gekopieër en dan weer aan ander gegee om afskrifte te maak. Daar was mense wie se werk dit was om boeke oor te skryf. (Met boeke bedoel ons hier natuurlik grotendeels boekrolle.) Dit was egter nie die groot probleem nie – dit was daardie ouens wat net kon lees waaroor jy jou moes bekommer. Amateurs. Uiteindelik het jou werkie op baie plekke heel anders gelyk as toe jy dit geskryf het.

Iewers in die verlede het dinge verander. Kopiereg het sy opwagting gemaak. Dit moes seker kort na Gutenberg en sy nederige kontrêpsie gewees het. Nou was dit ewe skielik doodsonde om by iemand anders af te skryf. (‘n Siekte wat tot vandag toe nog in skole gevind word.) Dit wat jy geskryf het, was joune – en tot ‘n groot mate kon jy beheer wat daarmee gebeur. Behalwe as iemand besluit al jou boeke moet brand. (Die Verligting.) 

Tot onlangs. Snaaks hoe die wêreld dikwels in sirkels loop! Die digitale eeu maak dit nou makliker as ooit tevore (selfs mense wat nie kan lees en skryf nie – die grootste gedeelte van die kinders in SA skole; en in die Sondagskool) om goed te kopiëer. Kliek – kliek: dis soos toorkuns. Enigiemand wat ooit met ‘n stel skurwe blare, potskerwe of selfs luukse vellum moes spook, sou groen wees van jaloesie. Dis onafwendbaar: ons stuur af op ‘n situasie waar mense weer beheer verloor oor hulle werke! Dit sluit vandag natuurlik musiek, boeke, rekenaarprogramme en wie-weet-wat nog alles in. Daar is ook niks wat hierdie reuse-wiel gaan stop nie. Die mense (outeurs!) wat dit eerste besef (skuus, ek bedoel al ‘n hele rukkie terug besef het), gaan die beste daarvan afkom.


Wat is die Bybel?

Maart 25, 2009

My broer sê nou die dag vir my dat hy vir hom ‘n boek bestel het wat die vier evangelies saam in een gooi (dus, ‘n “harmonie”). Dis een of ander Amerikaanse ou wat so probeer sin maak van die tydsverloop van die gebeure waarvan die evangelies vertel; ek kan ongelukkig nie onthou wat sy naam is nie. Aanvanklik het ek nie geweet hoekom die hele gedoente my gepla het nie, maar na ek ‘n rukkie daaroor gaan sit en dink het, dink ek ek het die probleem nou in my kop raakgevat. Dis ‘n probleem wat diep lê – dis ‘n probleem wat gaan oor wat die Bybel is, en wat dit vir mense beteken. Ek gaan my storie egter eers ‘n bietjie van ‘n draai laat loop – net om die punt ‘n bietjie te illustreer.

Sien, die Amerikaner is natuurlik nie die eerste ou wat daaraan gedink het om die vier evangelies te versoen nie. Die vroegste vertaling in Siries – so lyk dit vir ons – is dié van Tatianus, wat die vier evangelies (miskien ook ‘n vyfde een wat aan hom bekend was!) in een gesit het. (Hierdie vertaling staan bekend as die “Diatessaron” – en het al baie hoofbrekens besorg aan mense wat die tekstradisie van die Nuwe Testament bestudeer). Goed, miskien het hy dit van ‘n Griekse weergawe afgeskryf wat nie aan ons bekend is nie (behalwe dalk die stukkies wat hulle gevind het by Dura Europos?). Hierdie hele affêre het baie vroeg afgespeel – al in die tweede eeu na Christus. Na ‘n ruk het die (ortodokse) kerk besluit daar is verseker net vier evangelies wat in die versameling boeke hoort wat hulle as gesaghebbend sien, en het hulle probeer om elke moontlike teken van die Diatessaron uit te wis. (Nog hoofbrekens vir die geleerdes vandag.) Tatianus het ‘n baie vloeiende idee gehad van wat die evangelies is – dit vertel die verhaal van Jesus, en hoekom vier hê as daar een kan wees? Dalk was die Diatessaron ‘n hulpmiddel vir sendelinge om makliker met ander mense oor Jesus te praat – daarom ook die vertaling in Siries.

Die hedendaagse poging om die vier evangelies saam te flans, is (myns insiens) egter iets heel anders. Dit kan ook nie anders nie, want dit gebeur na die Aufklärung, in die tyd van (en net na) die modernisme. Dit gaan daaroor om die Bybel as waar te bewys – as ons al die verskille tussen die evangelies kan uitstryk, dan moet dit mos so wees dat die Bybel onfeilbaar is. Dalk is die logika juis andersom: die Bybel is onfeilbaar, daarom moet ons die verskille tussen die evangelies kan uitstryk. Dit is juis waar my ongemaklikheid met die hele storie sit: dat ons die BYBEL dan so op die voorgrond stel, dat ons ons geloof aan die absolute (woordelikse) waarheid daarvan moet koppel. Daar is selfs ‘n woord hiervoor: bibliolatrie (=bybelaanbidding). Dis nou wanneer ons vergeet dat die Bybel eintlik na God verwys, en dat dit self nie aanbid behoort te word nie. Dis eintlik baie snaaks – want selfs die skrywers van die Nuwe Testament het so daaraan gedink – dit wat ons vandag as die Ou Testament ken, en veral die profeet Jesaja (40-55), het vir hulle bloot gewys na Jesus. Daarom kon hulle maar dele van die Bybel uit konteks aanhaal, of selfs hier en daar van die aanhalings verander, sodat dit nog duideliker vir mense kan wys wie Jesus is.

Dus is my probleem nie soseer met die feit dat die woorde van die Bybel in ‘n ander volgorde rangskik word nie – my probleem is die (moontlike, moet ek byvoeg – ek ken nie die man wat dit gedoen het nie, dis maar net ‘n vermoede) motief wat daar agter sit. Wat my betref: ek is tevrede daarmee dat die Bybel vir my ‘n rigtingwyser is na God – wat vir my van verskillende kante af toelig wie God is – sodat ek uiteindelik ‘n verhouding met God kan hê.