Besit en behoort

November 5, 2010

Dis herfs hier in Münster. Dit is seker die mooiste herfs wat ek al in my lewe beleef het – wel, ek kan darem nie heeltemal dit sê nie. Dit bly beeldskoon. Die blare is in allerhande kleure (ek kan dit nie goed genoeg beskryf nie; maar ek kan ten minste die verskil sien!); die reën val baie liggies soos motreën wat nie heeltemal kan besluit watter kant toe dit waai nie, en dit is net warm genoeg om nie koud te wees nie.

Tussen hierdie herfs – wat ook ‘n herfs in my lewe is – kry ek baie kans om te dink. Een van die goed waaraan ek vandag gedink het, te midde van hierdie natuurprag, is Afrika. Hoe ek graag Afrika vir hierdie mense wil wys; want hierdie plek is getem. Dis mooi, ja, maar elke hoekie en draaitjie is ‘n tuin, ‘n stuk bewerkde aarde.

Ek het gedink aan hoe ek “ons” wilde natuur en diere aan hulle wil wys. Tot die besef in my kop kom draai – dis nie “ons” natuur nie. Dit behoort nie aan my nie, en eintlik ook nie aan die ander mense van Afrika nie. Dis dalk wat baie van ons verkeerd het.

Of dit willekeurig of onwillekeurig gebeur het, kan ek nie meer sê nie. Hoe dit ookal sy, ek besit nie Afrika nie. Ek behoort aan Afrika.


Praat ek dan van ‘n Wit Suid Afrika?

Augustus 13, 2010

Wat is Suid Afrika se nasionale sport?

Dalk is hierdie vraag nie die beste vraag om op hierdie tydstip te vra nie – nie na die sokkerwêreldbeker so fantasties afgeloop het nie. Tog – ek sou waag om te wed dat ‘n hele paar mense nog steeds sal antwoord – ja, jy weet dit –

rugby.

(Ons speel ook natuurlik graag krieket.)

Die afgelope rukkie is ek omring met allerlei mense van oraloor. Dit is dan net natuurlik dat ons mekaar in die oë sal kyk en vra: “Hoe werk dit daar by julle?” Dis natuurlik maklik om dan,

sonder om te dink,

‘n antwoord te kan gee: dis nie soos julle dink nie – die wilde diere loop nie in die strate rond nie; ons ken verkeersknope, aangesien mense eerder met hulle eie karre werk toe ry; die mense hou daarvan om by mekaar in hul huise te gaan kuier en dan buite te braai. Ons eet biltong en drink Castle. Gewoonlik loop ‘n mense se lewe so: jy bly by die huis en word deur die bediende opgepas, dan gaan jy skool toe, dan gaan jy hoërskool toe, dan gaan werk jy of jy gaan swot en dan gaan werk jy, en baie mense gaan bly dan in ‘n aftree-oord.

Dis wat so skokkend is: ek praat so sonder om te dink. Want as ek regtig daaroor moet dink, moet ek eers ‘n paar vrae aan myself stel:

  • Speel die oorgrote meerderheid mense in SA rugby of krieket?
  • Het alle volwassenes dan karre in SA, gemeet teenoor die getal inwoners?
  • Gaan daar regtig soveel mense ouetehuise toe – gemeet teenoor die gesamentlike getal mense in die land?
  • Het almal dan huise en tuine waarin hulle vleis kan braai?
  • Kan almal dan vleis bekostig?
  • Wie pas die bediendes se kinders op?
  • Met wie se stem praat ek nou eintlik hier, as ek hierdie goed sê? Van wie praat ek – of nog beter gestel –
  • van watter land praat ek hier?

Weereens – en dis wat ek wil beklemtoon – ek sê sulke goed oor die land waar ek vandaan kom,

oombliklik, sonder om daaroor na te dink.

Dit is dus heel waarskynlik my indruk van ons land. Dit, liewe leser, is

skokkend.

Dit is egter iets wat bedink moet word. As jy so effens tyd het, lees gerus hierdie voordrag wat ‘n vriend van my gehou het by ‘n onlangse konferensie. Dit gaan oor “whiteness studies” (deel van dit wat ek hierbo beskryf het), geweld en ook die NG Kerk. Ek is seker hy sal ook terugvoer daaroor waardeer!


Hoe my stambome geskud is

Augustus 6, 2010

Die graf se oppervlak is al goed afgeloop deur die duisende besoekers wat daagliks daaroor wandel, sonder om dit eers op te merk. Geen wonder; dis maar net een graf tussen 2500 ander. Om presies te wees, nommer 281 van 2500 ander grafte. Maar op hierdie besonderse Sondag, 1 Augustus 2010, ruk IT van den Bergh se graf in die Oude Kerk in Amsterdam my tot stilstand – of, effens filosofies gestel – tot ‘n eksistensiële halfwegstasie.

Waar kom ek vandaan?

Dis nie die eerste keer in die afgelope twee maande dat ek die vraag teëkom nie. Dis tog ‘n Nederlandse van, nie waar nie? Hoe lank is jou familie al in Suid-Afrika?

Ek weet nie. Ek weet glad nie. Die vraag is al tevore aan my gestel, maar die verste wat ek kan terugdink, is ‘n vae herinnering dat my ouma- en oupagrootjie ten minste in Suid-Afrika moes gewees het. Die wortels van my stamboom verdwyn as’t ware in die vergetelheid.

Daarom dat hierdie graf van Iohannes Theodorus van den Bergh my so aangryp. Veral hier in Nederland, waar alles so bekend, en dog so vreemd is. Waar ek sinsnedes hoor wat ek nog nooit gehoor het nie en tog verstaan sonder om selfs daaroor na te dink. Waar ek in ‘n museum instap en voel of ek in die Kaap is – selfs die portrette aan die muur voel vir my na ‘n weerkaatsing van beelde wat eintlik in my geheue leef.

Soos mens die Oude Kerk betree, is daar ‘n rekenaar met inligting oor al die grafte in die kerk. Ek tik “van den bergh” in, effens stadig vanweë die gepantserde sleutelbord. (Toegegee, my van is eintlik “van der Bergh”, maar ek vermoed dat iemand êrens ‘n strepie te hoog getrek het. Sover ek kan aflei, is Van den Bergh die oorspronklike van. Daar is dan ook geen van der Bergh in die Oude Kerk begrawe nie.) Daar is skynbaar 12 Van den Berghe in die Oude Kerk begrawe, waarvan die oudste Adriana van den Bergh is (1661!). Op daardie tydstip sou ek uiteraard graag elkeen van hierdie twaalf wou naspoor, om te kyk of daar nie dalk iets is wat my met hulle verbind nie. Ongelukkig is dit vyfuur, en die vriendelike Nederlander, wat nie deur ‘n ywerige waansin om sy voorsate te vind besiel is nie, dreig hoeka om al die besoekers by die deur uit te boender.

Gelukkig spoor ek later die indeks van die Oude Kerk se grafte op die internet op. Dit help nie veel nie; selfs al is die prentjies van meeste grafte ook daar beskikbaar, en kan mens hier en daar iets te wete kom oor die persoon. Natuurlik was dit “een bijzondere eer om in De Oude Kerk begraven te worden” (volgens die Oude Kerk se webblad). Iemand in my familie (?) het êrens iets bereik, dis verseker. Soos A(d)riana, wat die eerste vroulike beroepstoneelspeler was by die Amsterdamse Skouburg. Sy is nie al een nie, verseker die internet my; blykbaar moet ek ook op een of ander manier verbind wees met die Amerikaanse president, Theodore Roosevelt (Kyk gerus hier as jy my nie glo nie):

Cornelius Gysbertse van der Bergh was getroud met Cornelia Wynantse van der Poel; hul had ‘n dogter, Tryntjie Cornelis van den Bergh. Tryntjie was getroud met Pieter Waldron; hul had ‘n dogter, Rebecca Waldron. Rebecca was getroud met Johannes G. Yates; hul had ‘n dogter, Angeltje Yates. Angeltje was getroud met Cornelius van Schaack; hul had ‘n dogter, Maria van Schaak. Maria was getroud met James Jacobus Roosevelt; hul had ‘n seun, Cornelius van Schaack Roosevelt. Cornelius was getroud met Margaret Barnhill; en ja, Cornelius en Margaret was die trotse ouers van Teddy Roosevelt.

Ek vergaap my eers aan hierdie inligting. So, Theodore Roosevelt is familie van CG van der Bergh. Wag ‘n bietjie! Dit kan nie wees nie! Hierdie is 6 of 7 generasies, waarvan die eerste 5 in die ketting tussen CG en T vrouens is!!! Hulle kan dan mos nie …

Ronald, jou seksistiese bliksem. Natuurlik is die ma ook deel van die geslagslyn! Nou ja, my ma se nooiensvan is Müller. Dit is ook ‘n ou familie; ‘n Duitse een. Dit kan ek waarskynlik verder navors, as ek wil. Maar watter een van die 79 Duitse mans wat tussen 1652 en 1806 aan die Kaap geland het is nou eintlik my oeroupa? (Kyk hier as jy my nie glo nie.)

Dan tref dit my weer! Ronald, jou seksistiese bliksem. Dis nie net die Müller familie wat jy moet navors nie, dis ook jou ouma aan moederskant waarna jy moet kyk. Dieselfde reëls geld immer vir jou ma as wat vir jou geld. Nou goed, sover ek weet, was my ouma aan moederskant se nooiensvan Espach; ook ‘n Duitse familie, as ek dit reg het. Wag ‘n bietjie! Eintlik moet ek ook al die ander dames in my stamboom navors, aan altwee kante … (In alle eerlikheid gesê, ek was nie die eerste een wat hieraan gedink het nie. Terwyl ek nog in Nederland was het ek en my medereisiger juis hieroor gesit en gesels. Dit het my sowaar eers ten volle getref na ek Teddy Roosevelt – ek kan hom seker maar Teddy noem, ons is immers familie – se stamboom gekry het.)

Die veronderstelling dat ek “afkomstig” is van die kant van die familie wie se van ek dra, is eintlik ‘n baie arrogante en patriargale manier van dink. Die gedagte is waarskynlik afkomstig van die idee dat die vrou nie eers bydra tot die stof waaruit die mens gevorm word nie – sy is net ‘n houer vir die man se saad. Die gedagte hieraan het ons natuurlik al lankal afgesweer, maar die oorblyfsels daarvan sit vandag nog in ons siening van geneaologie – van stambome – vasgevang. Hoe jammer is dit nie! Hoeveel keer is dit nie juis die vrou wat kultuur oordra aan hul kinders nie, selfs in ‘n patriargale samelewing?

Hierdie nuwe insig lei my natuurlik tot nuwe insigte – oftewel, versterk van my oues. Die wortels van my stamboom het in die vergetelheid verdwyn. Dit lyk ook of dit so verweef is, dat ek dit nooit sal kan ontrafel nie. Daarmee bedoel ek natuurlik nie dat ek alles gaan ontsê van my verlede en van waar ek vandaan kom nie. Maar soms … soms moet mens ook nuwe wortels plant.

Een ding weet ek verseker: ek het vaste wortels. Dit lê daar langs my hart, êrens aan die Suidpunt van Afrika. Boonop het ek ook nou ‘n antwoord op daardie vraag, volgende keer as iemand my vra:

– Waar kom jy vandaan?


Hallo! Ich komme aus Südafrika!

Mei 25, 2010

Dit was Junie 2007 – ‘n relatiewe warm jaar in Duitsland. Ek en ‘n vriend het sopas vir ‘n week lank deur Duitsland getoer – op die goedkoopste wyse wat ons aan kan dink. Die hele reis was ‘n avontuur – maar dis ‘n storie vir ‘n ander dag.

Die eintlike rede hoekom ek myself in Duitsland bevind het, was om ‘n konferensie by te woon – my heel eerste konferensie oorsee, in Tübingen. Voor dit was daar egter een ander ding wat ek moes doen, en dit was om Göttingen te besoek.

Göttingen – daardie legendariese, mistiese plek (so het dit op daardie stadium gevoel; wag, eintlik steeds nog), waar soveel teologie al oordink is en sorgvuldig op papier neergepen is. Die net-duskant-heilige plek waar die mense van die Septuaginta Unternehmen nou nog vlytig maar pynlik werskaf om die teksgeskiedenis van die Septuaginta oop te vlek. (Nota aan die oningeligde / ongeïnteresseerde leser: die plek is vir my belangrik). Ek het gereël om die Septuaginta Unternehmen self te besoek! ‘n Droom wat vervlees het! (Ja, ja, so vervlees is miskien nie ‘n amptelike woord nie.) En nou staan ek hier voor die deur van die plek …

Ja, soos jy uit die boonste prentjie kan aflei, die plek was toe nou nie so indrukwekkend soos wat ek myself al die tyd voorgestel het nie. Daar was toe nie honderd mense wat dag en nag werk aan die Septuaginta nie. Inteendeel, slegs die boonste verdieping huisves die Septuaginta Unternehmen. Wat nog meer van ‘n verrassing was, is dat daar nie ‘n massiewe (neon) bord is wat aandui dat dit die Septuaginta Unternehmen is nie; o nee! Daardie paar spikkies pixels op die deur (links onder) is die naambordjie – seker ongeveer ‘n font grootte van 8:

Dit het nie afbreuk gedoen aan my opgewondenheid nie. Ek was hier; dit was my droom; ek was besig om my droom te leef! Ek laat nie op my wag nie en lui die klokkie – die deur gaan oop; ek stap vol verwagting in die voorportaal in. ‘n Hele aantal nuuskierige Duitsers kyk van bo van die wenteltrap af – dis amper asof hulle ook net so vol verwagting is soos ek.

Hallo! Ich komme aus Südafrika!

Dis al waaraan ek kan dink – maar dis die reine, reine waarheid! Hoe opgewonde ek ook al is oor dit wat besig is om met my te gebeur – die wonders wat my oë op pad is om te aanskou; die kennis wat op pad is om voor my oop te vou; die weet wat hierdie mense adem – my hart is op ‘n ander plek! Ich komme aus Südafrika!

_____________

Nou gaan ek terug. Hierdie keer vir langer as ‘n jaar. (Ek vra daarom om verskoning as hierdie blog dan ook soms as ‘n reisjoernaal diens doen!) ‘n Jaar waarin ek weet ek veel gaan leer, van dinge waarvan ek nou al van my eerste jaar op universiteit droom, by ‘n plek waarna ek nog altyd – so voel dit – gehoop het om te gaan. Ek weet dat ek elke tree gaan gee, soos omtrent drie jaar terug, terwyl ek ook die volgende gaan herhaal, soos toe:

Ek is uit Afrika! Ek is uit Afrika!


Robbeneiland

Augustus 31, 2009

‘n Besoek aan Robbeneiland kan nogal ‘n nare ervaring wees. (Vir my was dit eerder die terugkomslag, op die boot, terwyl ek nie die horison kan sien nie … blykbaar moet mens die heeltyd die horison dophou … aaklige groengesig-landrot ervaring!)

Sommer so van die wegspringblokke af was ek ‘n bietjie teleurgestel. In plaas daarvan om buite saam met die uitlanders op die boot se rand te gaan staan en die Kaapse wind trotseer, het ek maar nes geskrop in die binneste ruim van die skip. Ek het mos al die see gesien. Veel eerder wou ek die inligtingsvideo bekyk; ek wou myself immers voorberei op wat wag by Robbeneiland.

Hoe langer ek kyk, hoe meer begin ek voel iets is nie pluis nie. Die verteller se stellings val ‘n bietjie snaaks op die oor:

“Our ancestors were imprisoned on this island … “

Goed, miskien was een van my voorouers ook daar gevange gehou. Wie weet? Dis egter nie te lank daarna nie, of ek hoor:

“The land was given back to the people … “

Ek weet hierdie is ‘n fyn onderskeid, maar stories – taal – tekste – sit in my bloed – en in my opleiding. Moet die sin nie eerder wees: “The land was given back to all the people … ” nie? Dis mos verskriklike ons-julle taal wat die verteller daar kwytraak! Hoe meer ek luister, hoe moeiliker sit daai stoel. Die verteller eindig met ‘n soetsappige “peace-and-reconciliation” sousie. Ek is eger oortuig dat dit nou nie juis die ondertoon is wat die video inkleur nie. (Ek is immers opgelei om na die implisiete ideologie in die subteks te soek.)

Die besoek aan die eiland verloop vir my effens beter. Die eerste gids is nogal vermaaklik – weet darem nie of hy so vermaaklik was soos wat sy (onuitgesproke, vrywillige) fooitjie (wat hy by die deur van die bus verhaal) dit vereis nie. Die tweede gids gebruik ook ons-julle taal, maar hy was immers ‘n politieke gevangene op die eiland.

Iets vreet egter aan my van daardie video. Ek dink nie die verskuilde agenda (myns insiens) is noodwendig ‘n ideologie wat deur al die mense in ons land gedeel word nie – ongeag hul ras. Inteendeel, ek dink ook nie dat dit die ideologie is wat die mense van die Struggle gehad het nie. Ek is nie heeltemal onkundig nie. Long Walk to Freedom het ek al vroeg in my studies gelees; so ook ‘n paar ander goed in dieselfde lyn. (Ek beveel LWtF ten sterkste aan!) Goed, dit maak my nie ‘n kenner nie. ‘n Paar plekke op Robbeneiland tel ek tog brokkies op wat strook met wat ek al gelees het. Die treffendste hiervan is die Universiteit.

Die Universiteit is ‘n grot wat by die klipgroef is waar die politieke gevangenes op Robbeneiland daagliks geswoeg en gesweet het. Dit is die enigste skuiling wat hulle gehad het; die enigste stukkie privaatheid tussen die gewapende buitewêreld. Dit het bekendgestaan as die Universiteit omdat dit hier is waar die gevangenes “van mekaar geleer het”. Hier is meer as die helfde van ons land se grondwet geskryf – ‘n grondwet van gelykheid. Dit terwyl daar alle gleentheid was om die land vir ‘n sekere groep te eien. Terwyl die groepie daar binne die Universiteit gesit het, verag deur dié mense daarbuite, het hulle lustig beplan … om vir almal ewe veel kans te gee.

‘n Besoek aan Robbeneiland is verseker die moeite werd. Dit vertel ‘n storie wat oorvertel moet word. Dit herinner aan slegte dinge; dinge waaruit en waarvan ons by mekaar kan leer. Saam. Ja, pak gerus die reis aan na Robbeneiland, as die kans homself voordoen. Wees net lugtig vir ‘n vals ideologie; en as jy kan, hou die horisonne dop …


Wie slaan deesdae (letterlik) die drom in Afrika?

Mei 17, 2009

Ek het die voorreg om by NG Arcadia se musiekbediening betrokke te kon raak. Sommer by die eerste 11:00 diens wat ek bygewoon het, het die finalejaar teologie student (wat toevallig ook vandag sy proefpreek gedoen het – praat van vleuende vaandels!) die gemeente uitgenooi om by die band betrokke te raak. Katvoet het ek aangebied om saam te speel – ek wou niemand se plek vat nie, maar dit het na ‘n plek gelyk waar ek gelyk verhoudings kan bou en my talente kan inspan. 

Dit het toe so uitgewerk dat dit slegs ek en Jacques, die finalejaar, was wat opgedaag het wat wel musiekinstrumente kon bespeel. (Jacques kitaar en ek baskitaar.) Vir drie Dinsdae na mekaar het ons nou al ‘n ander dromspeler gehad – wat die Jembe moes bespeel. Tot my uiterste verbasing het elkeen van hierdie drie (al drie swart mans) dit moeilik gevind! 

Ek praat toe tydens ontbyt met ‘n vriendin van my wat musiek swot. “Ja,” sê sy, “jy moet onthou die Jembe is ‘n Noord-Afrika instrument.” Een merkie langs my naam vir stereotipering! Die gesprek raak vinnig dieper. My vriendin swot musiekterapie – en hulle bespreek dikwels die rol van musiek in die samelewing, en veral die stad. Sy skilder die prentjie so treffend: die mense wat in die middestad van Pretoria bly, is lankal nie meer die mense wat op die platteland bly nie. Sommige van hulle het hier in Pretoria grootgeword. Dis nie meer dieselfde kultuur nie. Sy sit die dink in my los: dis nou ‘n mengelmoes. Kultuur is ‘n glibberige ding! ‘n Tweede merkie langs my naam vir stereotipering!

Vroeër vanaand koffie-kuier ek by ander vriende. Een van hulle was vir langer as ‘n jaar in Burundi – en sy vermaak ons gereeld met stories (ligtelik en ernstig!) oor haar wedervaringe. “Ja,” sê sy, “dromspeel in Burundi verskil van dorp tot dorp.” Sy vertel ons hoe sy leer dromspeel het in een dorp. (Ek glo haar – ek het haar al in aksie gesien. Sy werk teen ‘n tempo van ongeveer ‘n vriend / vyf minute.) In ‘n ander dorp kom sy mense teë wat duidelik sukkel – tot sy hulle reghelp!

Dis maklik om mens te misgis met mense-groepe. Dalk is dit ‘n beter pad om te stap as mens mense leer ken vir hulself; hoe hulle elkeen afsonderlik regtig is.


“Son of Man” – fliek

Mei 5, 2009

In dit wat volg, gaan ek so ‘n bietjie van die storie van “Son of Man” weggee. O, as jy die basiese storie nog nie ken nie – daar is vier amptelike weergawes (vyf, tegnies, as jy Markus 16:9-20 as ‘n eie evangelie in ‘n neutedop beskou). Maar dalk wil jy verras word – soos ek was – met die manier hoe hierdie storie uitgebeeld word. Moet dan nie verder lees nie! (Maar gaan kyk die fliek – sommer in hierdie week nog!)

Son of Man is die evangelie in ‘n Suider-Afrikaanse konteks. As ek reg verstaan, praat die mense in die storie Xhosa – dit het Engelse byskrifte. Die fliek is ‘n radikale interpretasie van die evangelie – as mens dit langs die ander vier (vyf) sit. Die koninkryk van Judea word beset – in tipiese Afrika-burgeroorlog styl, met mense met masjiengewere wat elke nou en dan op ander losbrand; korrupsie wat die oorhand het. Die fliek maak niks met Apartheid nie – verwys nie eers eenkeer daarna nie – dit kon eintlik, maar ek dink dit was ‘n bewuste keuse om dit nie te doen nie. Te midde van al hierdie geweld en korrupsie tree Jesus dan op en lewer ‘n boodskap van ‘n ander manier om dinge te doen – ‘n nie-geweld manier. Ag, eintlik vreeslik baie ander teologiese temas ook wat aangespreek word, op ‘n besonderse manier.

Die fliek begin in medio res, soos ‘n klassieke klassieke verhaal. (Ek verwys nou na Homeros se geskribbel. Die man had nogal talent.) Die eerste tonele beeld ‘n volwasse Jesus in die woestyn uit, waar die duiwel Hom versoek. Die Satan vat Jesus na ‘n duin, wys Hom die aarde, en seg dat as Hy hom aanbid, dan gee hy al hierdie lande aan Hom. Dit eindig met Jesus wat die duiwel by ‘n duin afstamp, met die woorde: “This is my world!” ‘n Snaakse manier om die storie te begin, het ek gedink. Dit beeld Jesus as so magtig uit – en ek was nie seker of dit in die Afrika konteks inpas nie. Die verhaal keer dan terug na die begin – Maria wat die boodskap van ‘n engel ontvang dat sy swanger gaan word, ens. Nie lank nie, of een van die mees aangrypendste dele van die fliek vind plaas – die kindermoord. Op hierdie punt is daar ‘n klein verhaaltjie ingebou wat nie in die Bybelse verhale is nie, maar noodsaaklik is in die fliek. Na ‘n aantal kinders wreed vermoor word, en Jesus en sy gesin toekyk, kom daar ‘n engel om Jesus te kom haal – dis amper ‘n tweede versoeking, een wat sê: “Dit alles kan nou eindig, hierdie beker kan by jou verbygaan.” Die kind Jesus, nog nie eers vier jaar oud nie, antwoord dan vasbeslote: “This is my world!” Die sirkel is voltooi; die tema van die fliek is aangekondig; die ondertoon van die fliek bereik sy volle trefkrag.

Die manier hoe die fliek eindig, was ook vir my ‘n aangename verrassing. Gedurende die fliek praat Jesus soveel wat ek as “politiek” gesien het, maar wat eintlik ‘n nuwe leefwyse was, dat ek skoon bang was Jesus staan nie uit die dood uit op nie. Hy word ook nie ‘n verhoor gegun nie, sommer net uit die weg geruim. “Crossan, hier kom ons!” het ek gedink. Jesus se lyk word in ‘n vlak graf êrens tussen niks en nêrens gegooi. Sy ma gaan haal dit egter, en hulle bind dit aan ‘n kruis vas wat uitkyk op die dorpie. Dan volg daar ‘n konfrontasie met die magte wat Judea beset, terwyl Jesus se volgelinge in Afrika-styl toi toi onder die kruis. (I kid you not. As jy nog nie hierdie fliek gekyk het nie, gaan kyk dit NOU.) Ek was ernstig bang dat hulle die fliek se boodskap tot ‘n soortvan politieke propaganda verskraal het. Ernstig, ek het nie gedink Jesus gaan opstaan nie. En DIT was vir my ‘n nuwe ondervinding. Want ons almal WEET mos Jesus gaan opstaan. Ons hoor dit dan al so baie! Maar hierdie keer het ek regtig gedink: daar is dit nou. Hy is dood. Hulle gaan Hom nie in hierdie fliek laat opstaan nie. Die boodskap is klaar.

Die karakters is interessant. Twee van Jesus se twaalf dissipels is vroue. Die enigste persoon wat ek dalk ‘n bietjie anders sou uitbeeld, is Judas. Die arme man is sleg van die begin af, volgens die fliek. (Goed dan, volgense die vier (vyf) evangelies ook.) ‘n Meisie wat saam met my die fliek gekyk het, het gemeen dat hulle darem ‘n aantreklike man gekry het om die rol van Jesus te vertolk. Sover dit my aangaan, is ek geneig om saam te stem. (Maar my opinie tel nie nou juis so baie in hierdie departement nie.)

Op die kassie van die DVD is daar ‘n aanhaling van ‘n  fliek resensent (van Sky Movies), waarmee ek ook hierdie post wil afsluit: “Mel Gibson – look and learn!”


Making Money – Terry Pratchett. ‘n Suid-Afrikaanse perspektief.

April 9, 2009

Terry Pratchett is geniaal, ‘n ware satiriese fantasieverhaal-maestro. Ek het onlangs sy Making Money klaargelees. Wat ‘n fees! Ek weet nie waar kry hy sy idees vandaan nie, maar gewoonlik slaan hy die spyker op die kop. Twee tema’s in die boek staan vir my voorop:

  1.  Pratchett beskryf die bankwese as in ‘n gemors – ‘n profetiese uitspraak, as mens daaraan dink. Dit gaan vir hom baie oor waarin die sekuriteit van geld/bankwese gesetel is. (Sien punt 2). In die proses wees Pratchett hoe onderduims die hele gedoente is / kan wees.
  2. Die oplossing (of is dit juis sy kritiek?) wat Pratchett bied is dat die sekuriteit van bankwese in die werkersklas lê. Interessant genoeg stel Pratchett juis hierdie laag in die samelewing as die grootste gevaar-wie hulle beheer, kan die wêreld oorwin. Hier lê ook die grootste potensiaal vir rewolusie! Dalk lees ek te veel in die hele storie in. Ten minste het dit my laat dink!

 Die storie lyk natuurlik anders hier in Suid-Afrika. Die banke is in ‘n toestand, nog altyd. Mens sit ook nie jou geld in die bank om dit te laat groei nie, net om dit op te pas. Jy betaal hulle, anders as in Pratchett se tuisland. (So lyk dit vir iemand wat nou nie juis baie verdien nie!)

Afrika lyk op die oog af  ‘n bodemlose put te wees wat dors geld opslurp. Korrupsie; rykes wat al hoe ryker word; armes wat in sommige plekke lankal nie meer hul hoop in geld as handelsmiddel stel nie. Ek kies egter om mooi te luister wat Pratchett sê – of ten minste wat ek inlees in wat hy geskryf het. (Praat van lustig allegoriseer!) Die eintlike waarde van ‘n land is in sy mense. Dis dalk diep begrawe, soos ‘n skat, maar dis daar. Daar word bietjie hiervan uitgebeeld in The Motorcycle Diaries, een van my gunsteling flieks. Dit handel oor Che Guevara se lewe. Dis verseker verromantiseer, maar darem dra dit ‘n sterk boodskap. Gaan kyk dit gerus.

 Wat my betref, ek val maar saam in hierdie bodemlose put. Om dit nog beter te stel: ek val SAAM  met SA mense in hierdie put. In hierdie wonderlike, skatryk land.