‘n Besoek aan die haarkapper

Januarie 25, 2011

Ses maande lank was ek glad nie by ‘n haarkapper nie.

Weens ‘n haarstyl wat my ouma eens afkeurend na verwys het as “bandiet”, had al my hare ses maande gelede dieselfde wegspringpunt. Getrou aan hul aard groei die goed toe almal teen gelyke tempo. Die resultaat: ‘n mullet. Of, om meer tegnies daarmee om te gaan, iets wat baie maklik vir ‘n mullet aangesien kan word. Die mullet is immers iets wat goed in Duitsland onthou word, verseker daardie immer veranderende bron van wysheid, ikoon van ‘n postmoderne samelewing en relatiewe kennis, Wikipedia, my:

The mullet is well known and widely remembered in Germany, where it is known as the “Vokuhila”, which is an acronym for “vorne-kurz-hinten-lang” or “short in front and long in back”.

Wat my die meeste aan my eksperiment gegrief het, is die gepof aan die agterkant wat heeltemal te veel aan ‘n skouduif herinner het. Kort voor lank sou ek iets moes doen. So, om ‘n lang storie kort te maak, besluit ek om maar tou op te gooi en ‘n haarkapper te besoek.

Op aanbeveling dwaal ek toe in ‘n voorgestelde straat af, maar die gewensde haarkapper het klaarblyklik onlangs verskuif – of ten minste van naam verander. Die belangrikste inligting gewaar ek darem in die nuwe besigheid se venster: “Ohne Termin” (“sonder afspraak”). Dis die in-ding hier in Duitsland; alle haarkappers hou hierdie sleutelwoorde heel opsigtelik voor. (Iemand moet tog asseblief die konsep na Suid-Afrika uitvoer!) Vinnig glip my blik oor die pryslys – daar is ‘n billike 10 Euro haarsny in sig. Die enigste kliënt versterk ook my vertroue in my surrogaathaarkapper: nou ja, eintlik weet ek glad nie hoe kieskeurig nonne oor hul haarkappers is nie, maar hulle is darem seker op die regte pad.

Die haarkapper begroet my met soveel vreugde dat dit lyk of sy jare laas ‘n kliënt gesien het. (Die non moes seker nogal in die gesig gevat gewees het – maar sy was darem ook in goeie hande.) Ek moes egter weet die gort is gaar toe die haarkapper my soos ‘n wafferse kelnerin ‘n Cappucino aanbied. Dalk ‘n koffie? Dalk ‘n water? Nee, dankie. Nou sit, wat kan ons vandag vir u doen? Kort, kort asseblief. ‘n Hele gesprek volg (van die haarkapper se kant af) wat handel oor mode en style en dinge, waarvan die gevolg is dat ons altwee uiteindelik weet ons wil my hare kort gesny hê. Tog wil sy graag die hare bo ‘n bietjie langer los as dié aan die kant – dis immers so vervelig om mens se hare so in ewewig te dra. Nou goed, hoe kan ek anders as om my haarkapper te vertrou? Dis immers hoe ek grootgeword het! Het ek dan nie vandat ek nog ‘n tjokker was my hare by Oom Manie laat sny nie?.

Oom Manie was daardie tyd al oud van dae; sy hande het altyd in die hoekies van my oë gebewe as hy gierts-gierts met sy skêr hier langs my ore besig was. Alhoewel ek soos ‘n steenpilaar daar gesit het, het ek altyd met die ander oog probeer kyk of daar ‘n mediese kissie in die nabyheid was; maar al wat ek ooit kon opspoor was die watte waarmee Oom Manie sy outydse skeermeslemmetjies skoongemaak het. (Dáárdie naskeermiddel se reuk herinner my tot vandag toe nog aan hom!) Die oom was eintlik al afgetree, en het vir ekstra inkomste nog by sy huis hare gesny. Ná Oom Manie tot sterwe gekom het, het sy haarkapperstoel – soos ‘n koning se septer – ‘n staanplek gevind in ‘n ander huishaarkapper se voorkamer. Daar staan die stoel tot vandag toe nog. As ek toevallig in Vereeniging se wêreld is, en nodig het om hare te sny, gaan sit ek ook nog met graagte daarop.

Waar was ons? O ja, by die kelnerin wat my toe vriendelik beveel om langs die non by die wasbak stelling in te neem. Teen hierdie tyd sien ek groot moeilikheid kom! My verwagtinge van 10 Euro het ek nou begin skat op 27. Natuurlik sou ek nog enige tyd kon stop. Dis boonop nie uit geldnood dat ek die sneeubal sou wou stop nie – ek het immers 6 maande se haarsnygeld in reserwe. Nee, ek sien hier kom ‘n gepamperlang waartydens ek geen eerstehulpkissies gaan besigtig nie, maar eerder die horlosie – in slow motion. Die vrees om woorde op sulke onbekende Duitse terrein te voorskyn te bring, laat egter my hare rys. Ek dink onwillekeurig aan ‘n bordjie wat in Prof Steyn, my studieleier, se kantoor hang: “Komm zur Sache, reden kannst du beim Friseur.” (“Kom tot die punt, jy kan by die haarkapper praatjies maak.”) Hoe ironies.

Na die kopwas word ek weer na “ons plek” weggestuur – die stoel op die hoek. Êrens moes ek iets verkeerd verstaan het, want die dame begin toe die hare tussen my wenkbroue uitpluk. Ek het nie eers geweet ek hét hare tussen my wenkbroue nie! Toe word die wenkbroue self ook bygedam; weereens is ek nie seker of ek daartoe toestemming verleen het nie. Uit die hoek van my oog sien ek nóg watte nóg horlosie, maar wel ‘n digitale fotoraam, waarop ‘n Wella advertensie met Charlize Theron herhaaldelik uitgesaai word. “Hey, sy kom ook uit Suid-Afrika!” wil ek die haarkapper meedeel; maar ek kan nie. Ten minste voel ek nie meer so alleen in die modewêreld nie. Die haarkapper-kelnerin begin nou my hare op my kop stapel in die vorm van ‘n Russies-Ortodokse kerkkoepel. My hart sak in my skoene. Die haarkapper begin stelselmatig my hare afpik. Lok vir lok. Charlize begin van voor af in die vrye natuur haar hare in die wind swaai.

Uiteindelik is my vriendin klaar. (Ek gebruik met ‘n skoon gewete die term vriendin, aangesien mense wat so lank in mekaar se geselskap is, nie anders kan as om vriende te wees nie, ongeag of beide van hulle met mekaar gepraat het of nie.) Nou eers weer ‘n draai by die wasbak, en dan ‘n afdroogsessie. Sy vertel my van ‘n wonderlike produk wat mens in jou hare sit wat dit dan laat lyk of daar glad nie iets in jou hare is nie. Nee, toemaar, dink ek – dít gaan ek ten minste self kan regkry. Met min moeite. Sy speel weer kelnerin en bring vir my op ‘n skinbord ‘n stomende warm lappie om my gesig en nek mee af te vee; daarmee saam ook die wonderproduk, wat sy met vrye gemoed in my hare invryf.

Dan – ongelukkig tyd om te gaan! Nog ‘n laaste draai by die kasregister, natuurlik. 22 Euro, glad nie sleg nie – alles in ag genome, ‘n winskopie.

By die huis kyk ek vir die eerste keer ernstig in die spieël presies wat my vriendin nou eintlik opgedis het. Vanselfsprekend ná ek die onsienbare jel uitgewas het. Diepe insig: uit persoonlike ondervinding kan ek meedeel dat die magiese nog nie heeltemal uit die westerse samelewing verdwyn het nie. 22 Euro kan nog steeds jou skouduif in ‘n aasvoëlnes verander! Nou ja, mens sou dink ek sal van nou af haarkappers vermy. Maar my vertroue is nie heeltemal soveel gekrenk soos my eer nie: ek kan eintlik nie wag vir my volgende besoek aan die haarkapper nie. Behalwe vir die voorreg om nog ‘n nuwe besigheid te ontdek, sien ek verskriklik daarna uit om my ingeoefende Duits ten toon te stel: “Alles af, asseblief.”

P.S. Ek mis die mense daar by Rocky se haarsalon in Duncanstraat in Pretoria. (Lees: Rocky en Kevin.) Mens kon daar regtig lekker kuier. Nie dat ek ooit regtig lank daar by hulle moes wag nie. Daarbenewens het hulle my altyd, selfs na ek nie meer regtig suiwer student was nie, teen studenteprys laat betaal. So met ‘n “hou jou geld man, dit was mos nie moeite nie” houding. Iemand, stuur asseblief vir hulle groete.


Om God te hierjy en jou

September 13, 2010

Ek tel ’n tendens op onder sommige van my meer krities denkende vriende om na God in die “normale” tweedepersoon te verwys: “Jy”, of “Jou”. Dit skok my piëtisties Protestantse siel tot in die sesde sirkel van Dante se hel (dis nou die sirkel waar godslastering sou inpas).* Elke keer.

Gelukkig dat van my ander krities denkende vriende my ook ’n paar goed van dekonstruksie geleer het. So, kom ons dink eers ’n bietjie hieroor. Die “U” wat in ons Bybelvertalings voorkom, is ’n respekvorm. Dit word dubbeld beklemtoon – eenmaal deur bloot die feit dat “u” gebruik word, ’n tweede keer deur ’n verwysing na God altyd as ’n hoofletter gedruk word.** Die Engelse taal, daarteenoor, maak nie meer ’n onderskeid tussen die respekvorm en die gewone tweedepersoonsvorm nie (“you”). Hierdie taalverwikkeling het daartoe gelei dat veel sanggroepe wat dit nie in die “regte wêreld” sou kon maak nie, tog vir hulleself ’n naam kon maak in die “Gospel”-wêreld***:

“I love You, I love You, I want You, I want You” is nie ver weg van “I love you, I love you, I want you, I want you” nie. Tot ons spyt.

My weersin teen die gebruik van “Jy” of “Jou” vir God is natuurlik te danke aan my tipiese Afrikanerskap. Mens sê “Oom” en “Tannie”, “Prof”, en in baie huishoudings “Pa” en “Ma”, selfs al sou ’n normale sin ’n voornaamwoord verwag. Dis maar net weens die respekte.

Nou na die Duits. Die Duitsers het seker nog ’n meer ingewikkeld sisteem om respek aan te dui as Afrikaans. Hulle het selfs werkwoorde wat die aksie van “hoflik praat” of “normal praat” te beskryf (“siezen” en “duzen”). Interessant is, egter, dat daar in ’n gesin glad nie “gesiezen” word nie. Daar noem almal – kinders, ouers, grootouers, oergrootouers – watookal – mekaar op die normale tweedepersoonsnaam. Dis nie ’n kwessie van respek nie; dis ’n kwessie van intimiteit. Respek is voorveronderstel – part of the package.

In soverre die nuwe Afrikaanse tendens hierdie feit onderstreep, kan my swak siel heelhartig daarmee saamgaan. Sal ek dit selfs aanraai – die “U” – vorm kan mens dalk God so laat “vrees” dat mens vergeet mens kan ook intiem met Hom wees. And that’s the beauty of it!

__________

Notas:

*Dis nou, as ek as Protestant in daardie tipe goed sou glo.

** Nie vir besitlike voornaamwoorde nie! Ek het al voorheen hieroor gemor.

*** Ek vermoed my vriende kan dalk deur die lirieke / lede van ’n sekere Afrikaanse band beïnvloed wees; dus moet ek vinnig hier byvoeg dat mens nie al die sanggroepe wat ’n verwysing na God as “Jy” of “Jou” oor dieselfde kam kan skeer nie. Plus, as ek reg onthou het hierdie spesifieke sanggroep al lank terug gesê dat hulle nie “Gospel” maak nie, net musiek … :-)


Taal en mag (Duits, Afrikaans en Ingels)

Augustus 30, 2010

Ek is lief vir Afrikaans – dit sit in my murg. Êrens het die mite in my agterkop kom lê oor wat die Ingelse oor Afrikaners in die Anglo-Boereoorlog gesê het:

as hulle van hul ouers by geboorte geskei word, sal hul nog steeds Afrikaans sonder moeite kan praat.

Dié storie oor die Afrikaanssprekendes se taalvermoë is seker nie heeltemal waar nie, maar tog gl‎ý die mens se moederspraak eenvoudig oor sy tong. Dit help baie met die Duits wat ek tans leer – in sekere opsigte gaan dit soos stroop af; tog is daar tye wanneer ek dit nie heeltemal snap nie. Meeste van die tyd verstaan ek darem alles van die hogere Duits wat almal veronderstel is om te praat, maar die vashaakpunt is om self geboorte te gee aan ‘n ou sinnetjie of twee. Mens is eenvoudig net nie seker waar kom al die ekstra “sch, e, en, en er” klanke nie. Ek is so selfbewus hieroor dat ek partykeer nie eers waag om mense aan te spreek. Byvoorbeeld: ek betaal 2 Euro 50 vir ‘n sitplek te bespreek op die trein. Kom ek by my plek aan, en jou wraggie: daar sit Duitse kind. Ek kan ‘n situasie verdydelik, maar ek is bang ek is nie hoflik genoeg nie – en wat as die sitplekdief begin stry? ‘n Sekere groep van mense wat hierdie blogpost lees sal met my kan identifiseur: Afrikaanssprekendes wat, so lui spreekwoord, mos net Engels uit selfverdediging praat. Dis meer of min tans gelyke van mei Duitser taalvermoëns.

Ja, ek lief vir Afrikaans – hy sit inderdaad in my murg. Probleem is echter wanneer hierdie taal (enige taal) ‘n wrang smakie daar voorlaat: wanner hiri taal ‘n maginstrument word.

Ek dink an hoe mens wat goed vertroud is met die voerspraak – of groep mense –  dit hele vergadering kan domineer of plus manupileer.

Ek dink hier omwilekeerig aan dinge waarop mense gedwing is om in Afrikaans onderrig te neem – en se ook aan te leer.

Op hoe mense ‘n sleg vertroudheid oor taal gelykstel met ‘n onvermoëns om tedink.

Voorbeelde vertwee in kop van my as my hieroor nadink. Vakterminologie – medies termes, regstermen, reknaarterme, mense politiek praat terme vermeer – sukke woorde goed wat Jan Alleman vêrstaan uitslyt.

Sake mense uitsluit van om selfs blogpost hierdie lees te kon; uitdrukkings van klank soos “Jan Alleman.”

Terme dinge oor God praat.

Ek verstaan hoe taal mense soos deure oop- en toe-, in- en uitsluit. En ek verstaan mense ‘n bietjie beter.


Stuk-stuk raak die Woordpers tot Hollands gekaap

Augustus 5, 2009

Ek sien daar is iets wat my WordPress account stadig maar seker tot Afrikaans verander. Soos ‘n gogga. Ek is egter nie so beïndruk soos sommige mense (die mense agter die kap van die – baie arbitrêre – woordbyl?)  sou dink nie.  Behalwe dat die twee tale nou lelik gemeng word, is ek nie heeltemal oortuig dat die regte vertalings altyd gebruik word nie – sekere dinge val darem maar snaaks op die oor! Byvoorbeeld: “Preview” het onlangs verander tot “Vooraf Kyk” – maar dit maak nie regtig sin nie; dit moet veel eerder “Kyk Vooraf” wees – dis immers ‘n opdrag wat mens aan die rekenaar gee.

Aanvanklik was ek heel verward: wat, in Engels,  is ‘n “Wysig?” Eers gedog dis ‘n afkorting van die afkorting wysiwyg. Om nog verder kommentaar te lewer: ek is amper seker “comment” is nie “kommentaar” nie – dalk ‘n “stuk kommentaar”, maar nie net “kommentaar” nie.

Het daaraan gedink om die taal waarin ek skryf (volgens WordPress) te verander, maar gaan dit vir eers so hou, want ek hou nogal van die “Tuiste” vir “Home” – dis iets wat ek al lankal wou verander, maar nie geweet het hoe nie. Dit is immers wat die mense sien wat die blog lees; ‘n tipe van wjsiwjk (wat jy sien is wat jy kry).


hy of Sy; Hy of Hom haar syne

Junie 16, 2009

Daar is in Afrikaans ‘n verskil tussen die persoonlike voornaamwoord en die besitlike voornaamwoord. Dit is ‘n taalreël; dis nou maar net ‘n feit soos ‘n koei.

‘n Persoonlike voornaamwoord is wanneer die voornaamwoord (hy/sy/hom/haar ens.) gebruik word in die plek van ‘n naam, of ‘n persoon. Byv., “Jan is al oud genoeg om op die klim en klouter te speel, want hy is al veertien.” Dis eintlik twee sinne, maar as mens die naam voluit sê die tweede keer klink dit dom.

‘n Besitlike voornaamwoord word in die plek van ‘n persoon se naam gebruik as dit besit aandui, byv. “Sara het baie albasters, maar haar varkies is nie lekker op hok nie.” Dus, die spreekwoordelike dwalende varkies behoort aan Sara.

Wanneer daar van God gepraat word, is daar ‘n verskil tussen die besitlike voornaamwoord en die persoonlike voornaamwoord. Net een van hierdie voornaamwoorde (die persoonlike vnw) word met ‘n hoofletter gespel!!! Dus:

“God het ook vroulike eienskappe, Sy word ook as ‘n moeder uitgebeeld.” (Persoonlike voornaamwoord). (Kyk Ps 131).

“God is ons koning, sy glorie kan ons nie met woorde uitdruk nie.” (Besitlike voornaamwoord).

Gaan kyk gerus in die Bybel (Byv. Gen 1:5; Gen 1:26-27) as jy my nie glo nie.

Gaan maak NOU die goed op julle kerk se projeksieskerm reg. Dit maak die drie taalfreaks in julle gemeente ongemaklik elke keer as julle lofliedere sing!


Luidkeels 3

Junie 3, 2009

So, dis amper weer tyd dat die uiters suksesvolle Retief Burger en kie ‘n derde CD / DVD opneem.

Hierdie keer word daar egter gedoen waarvan ‘n mens net kan droom – of wel, dalk het dit die vorige keer ook gebeur, maar ek het verseker nie daarvan geweet nie. Hierdie keer word die musiek voor die tyd vrygestel – in ‘n onverwerkde vorm, maar nog steeds! Nou al kan mens dit van die Luidkeels webblad aflaai – sodat mens saam kan sing die dag van die Groot Opname – maar meer as dit, nou kan mens dit solank in kerke begin sing! Dankie tog vir die digitale wêreld!

Op die oomblik is ek besig om daarna te luister. Dit klink goed, baie gefokus op lof (wat verwag mens?). Dit klink baie Retiewerig. Wat ‘n goeie ding is. Sien uit daarna om die verwerkde liedjies te hoor – en ook by die opname (R40, by NG Moreleta Park, Saterdag, 25 Julie 2009).

Ek gaan ook dadelik begin gebruikmaak van hierdie liedjies – so vars soos pasgebakde plaasbrood – as ons by die Jakaranda kinderhuis (in Pretoria) begin musiekmaak. Iemand lus om ons daarmee te help? Dit sal lekker wees as mens ‘n span het wat kan afwissel.

Wat kan mens nog sê van Luidkeels 3? Om by die laaste metafoor te hou – hierdie opname kan nie ‘n misbaksel wees as mense dit al voor die gebeurtenis begin gebruik nie!


Kaleidoskoop, mosaïek of verkleurmannetjie op ‘n smartiebox – hoe lyk ‘n multi-kulturele erediens?

April 1, 2009

Marcel Barnard praat van “bricolageliturgie”. Sommige kerke verwys na ‘n “mosaïek”. Iemand het al êrens melding gemaak van ‘n kaleidoskoop. Al hierdie is maniere om van ‘n erediens te praat wat uit verskillende kleure, geure en klanke – verskillende geloofstradisies – aanmekaargeweef is. Verskillende kleure? Verskillende geure? Verskillende klanke? Dis nou juis my probleem: dit voel vir my of al hierdie beskrywings eintlik maar nog steeds twee-dimensioneel is; of dit uit dieselfde kultuur kom (en jy is welkom hier, solank jy jouself kan aanpas om by hierdie kultuur in te skakel) en of dit eintlik maar nog ‘n mono-kultuur is, waarvan die liturgie net wyd uiteenlopend is. Veral hier in smartiebox Suid-Afrika … 

Daar is twee goed, op die oog af, wat verhoed dat mens ‘n ordentlike, drie-dimensionele, multi-kulturele diens kan hê. Dit word natuurlik as ‘n verskoning gebruik in baie kerke (onder andere ‘n sekere volkskerk): taal en musiek. Musiek is mos in elk geval ‘n probleem, ons sukkel om ons mono-kultuur eredienste se nate bymekaar te hou. Dis nou as gevolg van die onderskeie subkulture wat soos olie en water meng. Nogtans, ons het nie eers begin om die volle impak van die verskil in musiek tussen kulture aan te spreek nie.

Taal skep natuurlik glad nie so groot probleem as wat party mense dink nie. ‘n Tolk is eintlik nie so steurend nie – meeste mense bly nog steeds 7de Laan kyk – en Engels – as party mense net hul nukke sal los – is ‘n bruikbare common denominator (gemene deler – sien, dit was nie so moeilik nie!) 

‘n Derde noemenswaardige ding, is dat baie kerke dienste het in verskillende tale. Ag, hoe pragtig! Hoe wonderlik! Solank ons net nie die kerkgebou op dieselfde tyd moet beset nie, o weë! Dit gaan nou nogal bereidheid en ‘n sekere stuk opgawe verg om hierdie dienste bymekaar te gooi.

Natuurlik is hierdie lang relaas wat ek nou net gevoer het, vanuit my perspektief (dit van die NG Kerk?) gesien. Daar is hordes gemeentes wat elke Sondag multi-kulturele dienste het – ek dink byvoorbeeld aan ‘n klein gemeente in Mamelodi – daar is verskeie tale en kulture teenwoordig! Ek kan egter die NG Kerk gemeentes wat so kerk hou, op my een hand se vingers tel. Dalk is dit beter om hulle hier op die blog te tel:

NG Riviera. Hulle het nie elke aand saam diens nie – daar is ‘n Afrikaanse diens en ‘n Engelse diens dieselfde tyd, maar soms gooi hulle die twee saam. Ek was juis hierdie Sondag in so ‘n gesamentlike diens – en het baie daarvan gehou. Die prediker het in Afrikaans gepreek, maar die Engels het op die projektorskerm verskyn. Daar is in Afrikaans en Engels gebid (en gesing), en die liturgie is in altwee tale hanteer. Natuurlik kan mens hierdie hele gedoente nog meer verfyn – maar ek dink dis ‘n stappie in die regte rigting.

Andrew Murray – gemeente. Alhoewel ek nog nie self daar was nie, en ek vermoed hulle in elk geval net in Engels ‘n diens het.

Dalk verraai ek nou my onkunde, maar dis waar my lysie stop. Ek besef ook dat my post nie regtig enige vrae antwoord nie. Miskien is dit eerder ‘n aankondiging dat ek oor hierdie sakie dink, en ‘n uitnodiging vir enigiemand anders om saam met my daaroor te dink. Hoe lyk ‘n multi-kulturele erediens? Kan ons dalk by die vroeë kerk gaan leer? Grieke en Jode? Olie en water?