Rugby, geweld en die Bybel

Januarie 4, 2011

Hierdie post is eintlik soortvan in gesprek met ‘n post van ‘n vriend oor rugby en geweld, en dis eintlik ‘n goeie idee om daardie post eers te lees.

My storie loop seker min of meer dieselfde – ek het ook op skool rugby gespeel (net op laerskool), en ek moet erken, ek het nie so vinnig die lyntjies getrek met geweld nie. Alhoewel ek ook stories sou kon vertel van vriende wat openlik oor hulle vuilspel gespog het.

Ek onthou een dag op universiteit (dit was seker al eintlik na universiteit) op ons stoep toe ek, Cobus (wat die ander post geskryf het) en nog ‘n paar ander juis oor hierdie tema gesit en gesels het. Op daardie stadium was ek ook al oortuig dat rugby eintlik ‘n gewelddadige sport is; maar wat ek daardie dag besef het, is dat ek nie bereid was om dit hardop te sê nie, want dan sou ek klomp ander vorme van geweld ook moet aanspreek. Ek was juis in daardie tyd besig om een van laasgenoemde te lees – 1 Makkabeërs – en ek het daarvan gehou. Nee, ek sal dit openlik erken: ek hou nog steeds daarvan. Ek is eintlik versot daarop; net soos ek versot is op al die ander verhale in die Bybel (die Koningsboeke; Samuel; Rigters; ens.). En tog is dit vol geweld. Lees byvoorbeeld hierdie gedeelte, oor hoe Mattatias reageer toe hy gevra is (lees: gedwing is) om teen sy geloof te offer (1 Makkabeërs 2:23-25, my vrye vertaling):

Hierdie woorde was nog nie koud op sy lippe nie, toe ‘n Judese man daar voor almal kom om op die altaar in Modeïn te offer, soos die koning beveel het. Toe Mattatias dit sien was hy so vol geesdrif dat sy niere so te sê begin bewe het. Hy het goeie rede gehad om smoorkwaad te wees! Hy het nader gehardloop en die man net daar op die altaar afgeslag. Die man wat die koning gestuur het om die mense te dwing om te offer, het hy sommer tegelykertyd om die lewe gebring, en die altaar het hy afgebreek.

Dit klink soos iets uit ‘n fliek uit – 300, byvoorbeeld. (“This is Sparta/Juda!”)

Alhoewel ek dus van hierdie verhale uit die Bybel hou (ja, want die ander Bybelboeke, wat in die Protestante se Bybel is, het ook sulke voorbeelde!), lees ek dit deesdae ook met ‘n gevoel van weersin. Ja, iemand moet ook hierdie gevalle van geweld in die Bybel uitwys, en daarop wys dat ons, as Christene, nie meer daarmee kan saamgaan nie. Selfs al spreek dit my (sondige?) wese aan.

Die onderskeid tussen Nuwe Testament en Ou Testament help ons dalk hiermee, maar ook net so ver. Daar is ook voorbeelde in die Nuwe Testament waar geweld – myns insiens – ‘n te hoë waarde toegeskryf word. (Openbaring, om maar ‘n vinnige voorbeeld te noem.) Terselfdertyd is daar tekste soos Matt 5:38-39 – en dis hierdie lyn wat ek dink ons ons voor moet beywer.

Daarmee wil ek egter nie rugby, die Ou Testament, en stories soos 1 Makkabeërs heeltemal afskryf nie. Al drie hierdie het ons baie om te leer. Ek dink, byvoorbeeld, dat rugby ook baie goed kan wees – en ek ken ten minste een gesamentlike vriend van my en Cobus wat ten volle hiermee sal saamstem ;) ‘n Mens kan seker hier Invictus as voorbeeld noem (wat ek versigtig doen, want ja, ek sal ook erken ek het dit nog nie gekyk nie. Ek het een keer probeer, maar die DVD was gekrap). Miskien gaan dit hier eerder oor die manier hoe mens die spel speel? Wat Bybellees, en 1 Makkabeërs betref: ja, mens moet leer om verby die geweld te lees, en dan lees mens wel iets van geloof raak. Daarbenewens egter ook nog iets anders: dat ons geloof eintlik nooit ten volle kan vasvat en verstaan nie. 1 Makkabeërs illustreer dit baie goed (en dis die moeite werd om te lees!) – dit wat as held, as leier, as voorbeeld daar gestel word, is iets heeltemal anders as wat so eeu en ‘n half later gebeur het!


‘n Oop Monoloog: my geloofstorie, Deel 9

November 30, 2010

‘n Goeie vriend het my in September 2009 in effek gevra wat ek nou eintlik glo. Hierdie is my antwoord, so effens aangepas, maar grotendeels soos ek toe daaroor gedink het. In klein happies opgedeel.

Deel 9 – “bekering” – oftewel, epifanie

Dit gebeur eintlik eers ’n rukkie na ek “Fatherless in Gallilee” gelees het, op pad V-town toe. In die kar. Nie noodwendig ’n goeie plek om ’n openbaring te hê nie, veral as mens ‘n bietjie snot-en-tranerig word. Skielik word meer as sewe jaar se teologie studies met inhoud gevul: Jesus – sy lewe. Nie net die feit dat Hy gesterf het nie – ja, dit ook, maar meer eenvoudig net hierdie een ding: die Persoon van Jesus Christus, en hoe Hy op aarde opgetree het. (Dit wat ons daarvan kan weet.) Om jou lewe met sy liefde te vul. Dit is wat die evangelie vir my beteken. Dit is wat vergifnis van sonde vir my beteken. Dit is, in effek, die crux. Dit beteken verder opoffering. Dit is immers wat Jesus se lewe was.

Dit is waarna die Bybel vir my wys. Dit wys na Jesus, wat daar rondom Hom gebeur het – maar ook God se pad met mense tot op daardie punt. Ek dink dis belangrik om daardie tradisie te sien – die manier hoe God met mense was en hoe mense God ervaar het.

[Hierdie deel voeg ek nou ter wille van verklaring by, so dit het seker nou al bietjie ontwikkel na 2009; maar is nie ‘n sistematiese uiteensetting van wat ek glo nie.] Dit beteken allerhande begrippe, soos sending, en geloof, sien ek nou baie anders. Byvoorbeeld, as ek met iemand oor Jesus Christus sou moes praat, sou ek dit nie op ‘n kosmiese wyse doen nie. Ek sou nie vertel van Jesus se opstanding uit die dood nie; of die feit dat Hy ons sondes vergeef het nie. Eintlik maak dit nie vir my soveel saak of Jesus uit die dood uit opgewek is of nie; dis ‘n teken, ja, dat wat gebeur het waar is, maar dis ‘n ding wat ons eenvoudig net moet glo. Nee, ek sal vertel van Jesus se lewe, hier op aarde, tussen mense.

_______________________

Die Einde – tot en met 2009.


Taal en mag (Duits, Afrikaans en Ingels)

Augustus 30, 2010

Ek is lief vir Afrikaans – dit sit in my murg. Êrens het die mite in my agterkop kom lê oor wat die Ingelse oor Afrikaners in die Anglo-Boereoorlog gesê het:

as hulle van hul ouers by geboorte geskei word, sal hul nog steeds Afrikaans sonder moeite kan praat.

Dié storie oor die Afrikaanssprekendes se taalvermoë is seker nie heeltemal waar nie, maar tog gl‎ý die mens se moederspraak eenvoudig oor sy tong. Dit help baie met die Duits wat ek tans leer – in sekere opsigte gaan dit soos stroop af; tog is daar tye wanneer ek dit nie heeltemal snap nie. Meeste van die tyd verstaan ek darem alles van die hogere Duits wat almal veronderstel is om te praat, maar die vashaakpunt is om self geboorte te gee aan ‘n ou sinnetjie of twee. Mens is eenvoudig net nie seker waar kom al die ekstra “sch, e, en, en er” klanke nie. Ek is so selfbewus hieroor dat ek partykeer nie eers waag om mense aan te spreek. Byvoorbeeld: ek betaal 2 Euro 50 vir ‘n sitplek te bespreek op die trein. Kom ek by my plek aan, en jou wraggie: daar sit Duitse kind. Ek kan ‘n situasie verdydelik, maar ek is bang ek is nie hoflik genoeg nie – en wat as die sitplekdief begin stry? ‘n Sekere groep van mense wat hierdie blogpost lees sal met my kan identifiseur: Afrikaanssprekendes wat, so lui spreekwoord, mos net Engels uit selfverdediging praat. Dis meer of min tans gelyke van mei Duitser taalvermoëns.

Ja, ek lief vir Afrikaans – hy sit inderdaad in my murg. Probleem is echter wanneer hierdie taal (enige taal) ‘n wrang smakie daar voorlaat: wanner hiri taal ‘n maginstrument word.

Ek dink an hoe mens wat goed vertroud is met die voerspraak – of groep mense –  dit hele vergadering kan domineer of plus manupileer.

Ek dink hier omwilekeerig aan dinge waarop mense gedwing is om in Afrikaans onderrig te neem – en se ook aan te leer.

Op hoe mense ‘n sleg vertroudheid oor taal gelykstel met ‘n onvermoëns om tedink.

Voorbeelde vertwee in kop van my as my hieroor nadink. Vakterminologie – medies termes, regstermen, reknaarterme, mense politiek praat terme vermeer – sukke woorde goed wat Jan Alleman vêrstaan uitslyt.

Sake mense uitsluit van om selfs blogpost hierdie lees te kon; uitdrukkings van klank soos “Jan Alleman.”

Terme dinge oor God praat.

Ek verstaan hoe taal mense soos deure oop- en toe-, in- en uitsluit. En ek verstaan mense ‘n bietjie beter.


Duitse Wikipedia oor Suid-Afrika … en Apartheid

Augustus 26, 2010

Vir ‘n taak hou ek my besig met die Duitse Wikipedia oor Suid-Afrika. (Ja, alle Wikipedia artikels in verskillende tale is anders!) Ek sien nou klomp goed raak waaroor ek nie – of nog nie – gedink het nie. ‘n Paar kere is dit sommer net ‘n perspektief op die land – en baie keer moet ek dit die Duitsers toegee, hulle het reg!

‘n Baie goeie voorbeeld hiervan is die begin van die Apartheidsjare. Die Tweede Wêreldoorlog is natuurlik vir die Duitsers van groot belang, terwyl ek nou nie juis te veel daaraan dink nie – ek is te laat gebore, en dit was in elk geval so ver weg van my land af – hoekom sou ek my daaraan steur? Tog lees ek toe die volgende raak, en ek dink ek stem daarmee saam:

die Nasionale Party kon in die tyd na die Tweede Wêreldoorlog hulle mag vestig …

Onmiddelik word die twee in verband gebring met mekaar. Mens moet dan ook toegee – die Tweede Wêreldoorlog het die wêreld so lamgelê, dat niemand ook kon ingryp nie, al wou hulle. Ja, goed, ek besef dit is nie alles so eenvoudig nie, en die VSA sit min of meer dieselfde tyd met dieselfde probleem; die Duitse Wikipedia kan dalk so Europese skuld probeer afweer (sonder om dit eksplisiet so uit te druk); punt bly staan, die oorlog het ‘n groot rol gespeel, en ons neem nie eers notisie daarvan nie.

Ek is seker ek is nie die eerste Suid-Afrikaner wat hierdie punt raaksien nie; ek vind dit net interessant – en gebruik myself as voorbeeld – dat dit nie meer algmeen bekend is nie.

Dieselfde gebeur natuurlik in baie ander lande, en op baie ander tye: die ryk van Alexander die Grote verdeel in vier, toe later drie dele; volke in die Bybelse tyd (gaan lees dit maar gerus, byv. Konings, Jesaja, ens.) gryp hulle kanse aan sodra die wêreldmagte rondom hulle begin mag verloor.

Ja, eintlik is niks in die geskiedenis nuut nie.


Coca-Cola, Pseudo-Paulus en Plagiaat

Julie 29, 2009

Kolossense is waarskynlik nie deur Paulus geskryf nie. Nou goed dan, dit kon dalk deur Paulus geskryf gewees het. Efesiërs, egter, het ‘n kleiner kans om regtig deur Paulus geskryf te gewees het.

Nou ja, daar is allerhande goed wat mens in gedagte moet hou as mens so ‘n uitlating maak. Een van hulle kan wees dat iemand anders die brief vir Paulus geskryf het – dus, dat Paulus ‘n tipe van ‘n “sekretaris” gehad het – (mens noem so iemand ‘n amanuensis). Daarom dat hy aan die einde van sommige briewe noem dat hy nou “met sy eie hand” skryf. (E.g. 1 Kor 16:21, maar veral Gal 6:11).

Hoekom sal iemand dan homself as Paulus voordoen as hy skryf? Een rede kan wees omdat hy ‘n leerling van Paulus was, en hy meen dus dat dit eintlik maar in elk geval is wat Paulus geskryf het. ‘n Ander moontlikheid kan die beste met ‘n hedendaagse voorbeeld uitgelig word: Coca-Cola.

Ek hoef niemand te vertel wat Coca-Cola is nie. En dit is juis die punt! Iewers het ek gehoor (en ek glo dit, daarom dat ek dit sommerso uitblaker) dat sou Coca-Cola alles verloor wat hulle het – elke pennie – sal hulle weer van voor af kan begin en ‘n nuwe sukses van die storie maak. Selfs al proe die koeldrank wat hulle dan maak heelwat anders as dit waaraan ons gewoond is. Alles net omdat hulle handelsmerk so bekend is.

In die vroeë kerk was Paulus ook amper so ‘n handelsmerk. Om iets aan sy naam te koppel, was om dit besonderse waarde te gee. Selfs dan ook die mense wat onder hom “studeer” het – hierdie mense wat naby hom was, het hoë status gekry bloot omdat hulle by hom was. Dit was veral onder die heidense (i.e., nie-Joodse) kerk dat Paulus se stem soveel werd was – en raai bietjie watter groep het toe baie vinnig die grootste deel van die vroeë kerk uitgemaak?

Deur op die Paulus-podium te klim, kan mens soveel meer mense bereik. Antieke skrywers het so iets nie as plagiaat gesien nie. Ou Paulus sou dalk opgewerk geword het as hy met iets nie in die brief saamgestem het nie – en dit sal ons nou nie weet nie – maar as hy saamgestem het, sou hy waarskynlik nie juis omgekrap gewees het nie.


Diensbare cliché’s – ook in die erediens

Mei 24, 2009

cliché: (uitspr. klie-sjee’) (-s) 1 Drukvorm vir illustrasies. 2 Afgesaagde, holruggeryde uitdrukking; verslete beeldspraak.

-HAT

 

Die lewendige en lewegewende geloof dring ons daartoe om ons ou, uitgedroogde cliché’s met nuwes te vervang. Wanneer die lewensbloed van daardie cliché’s opgedroog het, is dit tyd om weer nuwes uit te dink. 

Is dit moontlik om anders met die teologie om te gaan? Is dit moontlik om anders oor God te praat? Wat is die middelpunt, die anker? Miskien lê die antwoord in die uitroep van die hervormers:

ecclesia reformata semper reformanda (secundum verbi dei)

“die gereformeerde kerk moet altyd gereformeer word (volgens die Woord van God)”


‘n Lekker luukse, leergebonde medisynepilletjie

Maart 26, 2009

Ek was gister by ‘n gesprek oor hoe mens die Bybel moet lees. Snaaks genoeg, na gister se uitlatings, het ek maar redelik my mond gehou. Daar was in elk geval ander mense wat dit beter kan beduie. Wat my wel opgeval het – en sulke goed val my deesdae al hoe meer op – is hoeveel mense luukse leergebonde Bybels het. (Ek het self een – goed, ek het toevallig meer as een.) Kan ons dit regtig regverdig om so duur vir Bybels te betaal? Dis tog nie regtig funksioneel nie – net luuks? 

Ek onthou toe ek nog ‘n kinders was, het my ouers altyd ons kolliehonde se medisyne in allerhande ander kos probeer verdoesel. Sommige van die goed het maar aardig geruik vir my; ander kere was dit prima stukkies vleis. Die honde het natuurlik die ou happies verslind. (Ons honde was nie van daardie tipes wat oormatig gepamperlang is nie – die kleinste ou stukkie vleis het hulle seker pure wolf laat voel.) Soms het hulle al rondom die pilletjies geëet, sodat mens maar weer probeer het met ‘n ander stuk. Een of ander tyd het die medisyne darem ingegaan.

Miskien is ‘n luukse Bybel maar net die happie waarin die medisyne gerol is. Dit wat mens in die Bybel lees, is immers nie altyd so lekker nie. O ja, daar is dele wat mens opgewonde maak. Dis nou natuurlik, as mens die ding lees. Ek dink nog steeds dis te veel geld wat vermors word. Dit beteken natuurlik nie dat ek nou myne gaan brand en die goedkoopste een gaan aanskaf nie – dis mos onsinnig om een fout met ‘n ander te probeer regmaak. Ek gaan egter nie sommer weer vir myself so ‘n luukse uitgawe koop nie, en definitief ander mense aanraai om twee keer te dink voor hulle doen!


Wat is die Bybel?

Maart 25, 2009

My broer sê nou die dag vir my dat hy vir hom ‘n boek bestel het wat die vier evangelies saam in een gooi (dus, ‘n “harmonie”). Dis een of ander Amerikaanse ou wat so probeer sin maak van die tydsverloop van die gebeure waarvan die evangelies vertel; ek kan ongelukkig nie onthou wat sy naam is nie. Aanvanklik het ek nie geweet hoekom die hele gedoente my gepla het nie, maar na ek ‘n rukkie daaroor gaan sit en dink het, dink ek ek het die probleem nou in my kop raakgevat. Dis ‘n probleem wat diep lê – dis ‘n probleem wat gaan oor wat die Bybel is, en wat dit vir mense beteken. Ek gaan my storie egter eers ‘n bietjie van ‘n draai laat loop – net om die punt ‘n bietjie te illustreer.

Sien, die Amerikaner is natuurlik nie die eerste ou wat daaraan gedink het om die vier evangelies te versoen nie. Die vroegste vertaling in Siries – so lyk dit vir ons – is dié van Tatianus, wat die vier evangelies (miskien ook ‘n vyfde een wat aan hom bekend was!) in een gesit het. (Hierdie vertaling staan bekend as die “Diatessaron” – en het al baie hoofbrekens besorg aan mense wat die tekstradisie van die Nuwe Testament bestudeer). Goed, miskien het hy dit van ‘n Griekse weergawe afgeskryf wat nie aan ons bekend is nie (behalwe dalk die stukkies wat hulle gevind het by Dura Europos?). Hierdie hele affêre het baie vroeg afgespeel – al in die tweede eeu na Christus. Na ‘n ruk het die (ortodokse) kerk besluit daar is verseker net vier evangelies wat in die versameling boeke hoort wat hulle as gesaghebbend sien, en het hulle probeer om elke moontlike teken van die Diatessaron uit te wis. (Nog hoofbrekens vir die geleerdes vandag.) Tatianus het ‘n baie vloeiende idee gehad van wat die evangelies is – dit vertel die verhaal van Jesus, en hoekom vier hê as daar een kan wees? Dalk was die Diatessaron ‘n hulpmiddel vir sendelinge om makliker met ander mense oor Jesus te praat – daarom ook die vertaling in Siries.

Die hedendaagse poging om die vier evangelies saam te flans, is (myns insiens) egter iets heel anders. Dit kan ook nie anders nie, want dit gebeur na die Aufklärung, in die tyd van (en net na) die modernisme. Dit gaan daaroor om die Bybel as waar te bewys – as ons al die verskille tussen die evangelies kan uitstryk, dan moet dit mos so wees dat die Bybel onfeilbaar is. Dalk is die logika juis andersom: die Bybel is onfeilbaar, daarom moet ons die verskille tussen die evangelies kan uitstryk. Dit is juis waar my ongemaklikheid met die hele storie sit: dat ons die BYBEL dan so op die voorgrond stel, dat ons ons geloof aan die absolute (woordelikse) waarheid daarvan moet koppel. Daar is selfs ‘n woord hiervoor: bibliolatrie (=bybelaanbidding). Dis nou wanneer ons vergeet dat die Bybel eintlik na God verwys, en dat dit self nie aanbid behoort te word nie. Dis eintlik baie snaaks – want selfs die skrywers van die Nuwe Testament het so daaraan gedink – dit wat ons vandag as die Ou Testament ken, en veral die profeet Jesaja (40-55), het vir hulle bloot gewys na Jesus. Daarom kon hulle maar dele van die Bybel uit konteks aanhaal, of selfs hier en daar van die aanhalings verander, sodat dit nog duideliker vir mense kan wys wie Jesus is.

Dus is my probleem nie soseer met die feit dat die woorde van die Bybel in ‘n ander volgorde rangskik word nie – my probleem is die (moontlike, moet ek byvoeg – ek ken nie die man wat dit gedoen het nie, dis maar net ‘n vermoede) motief wat daar agter sit. Wat my betref: ek is tevrede daarmee dat die Bybel vir my ‘n rigtingwyser is na God – wat vir my van verskillende kante af toelig wie God is – sodat ek uiteindelik ‘n verhouding met God kan hê.