‘n Oop Monoloog: my geloofstorie, Deel 1

November 22, 2010

‘n Goeie vriend het my in September 2009 in effek gevra wat ek nou eintlik glo. Hierdie is my antwoord, so effens aangepas, maar grotendeels soos ek toe daaroor gedink het. In klein happies opgedeel.

Deel 1 – tot net voor matriek

Christen-huis. Die bekende SA storie. Op skool by CSV betrokke, ens. ens. Goeie tye. Had egter g’n begeerte om ’n predikant te word nie – inteendeel. Het vir ’n lang ruk gedink dit moet nogal ’n vervelige job wees. OK, behalwe die kere wat ek gedink het – hoe sou ek hierdie preek gedoen het? Meeste ander kere het ek probeer uitwerk hoe ek die irriterende pilare wat meeste mense in daardie spesifieke kerkgebou se sig belemmer het, uit die weg kon ruim. (Die pilare het al ’n simbool geword van sonde in ons gemeente. Ek het ’n hele paar oplossings uitgedink.)

Sondagskool was ’n redelike drag. Die gewone ou vrae; as jy ouers by die huis Bybel gelees het, was dit eintlik maar ’n bietjie van ’n pyn om in die Sondagskoolklas te sit. Ek onthou veral my standerd 8 jaar. Laaank en uitgerek. Het altyd gewonder of daar nie iets soos Sondagskool op hoërgraad was nie. Hoekom die heeltyd hierdie simpel vrae invul waarmee hulle jou eintlik lei? (Byvoorbeeld: Jesus het ons ______. Hy het aan die _____ gesterf vir ons ______.) Dit het regtig nou nogal vir my bietjie soos tydmors gevoel.

’n Hele paar keer gedurende hierdie tyd het ek die “Jesus kom bly in my hart” tipe gebed gedoen. ’n Paar keer in die kerk, by die skool – daar was altyd mense wat by die skool kom praat het – en soms op sulke random tye. Ek onthou een keer wat ons gery het in daardie rooi Datsun – en net regtig gewonder het. So, toe bid ek maar hard en ernstig. Die een keer wat ek die beste onthou, is seker hier in standerd 6 rond. Dit was in die kerk, en een van die dinge waaraan ek juis sit en dink het was dat ek al hierdie vantevore gedoen het. Daarom het ek spesifiek gevra dat hierdie die laaste keer moet wees – ek onthou ook ek het in my kop dit met ’n testament vergelyk. (Ek dink nie mens het ’n dag en datum nodig nie, maar as ek dan nou een moet noem, dan is dit seker daardie dag.)

Intussen het my belangstelling in rekenaars al hoe meer opgevlam. Ek het al so in standerd 4 se kant met BASIC begin rondspeel op ’n ou Hewlett Packard masjien, maar gelukkig darem op ’n stadium met ’n PC begin werk. Dit het my lewe tot ’n mate oorgeneem – rekenaarspeletjies ook – tot so ’n mate dat ek dikwels vergeet het om te eet terwyl ek besig was om met een of ander ding te speel. Mens wil mos altyd “net gou” kyk of iets werk, en voor jy weet het jy al ’n hele stuk verder gevorder met wat jy besig was. So die plan was om rekenaarsingenieurswese (of elektroniese ingenieurswese) te gaan swot (by Potch) – of ten minste een of ander vorm van IT.

Volgende keer: die besluit om teologie te gaan swot.


1 of 2 of meer (en nog meer oor gebed)

Januarie 20, 2010

Hierdie is die tweede post in die beloofde reeks oor gebed. Ek weet jy kon nie wag om dit te lees nie; ja, jy, enkele leser van hierdie blog! Die vorige keer het dit gegaan oor ‘n gebedstipe; hierdie keer gaan dit oor ‘n paar gebedstyle. Die verskil tussen die twee is dat gebedstipe eintlik die genre van die gebed is (die “wat” – of die inhoud) terwyl gebedstyl die manier is waarop gebid word (die “hoe”). Mens kan die twee op verskillende maniere meng om verskillende kombinasies te kry: ai, is keuses darem nie wonderlik nie.

Gebedstyl 1: Die Sirkelgebed / kettinggebed

So, daar staan ons nou almal in ‘n sirkel. Ons almal weet ‘n sirkel het nie ‘n begin en einde nie, so as iemand begin bid en dan maak ons almal mooi beurte soos ons op skool geleer het tot dit weer die eindpunt bereik. Soos ‘n elektriese stroom.

Gebedstyl 2: Die “Popcorn” gebed

Ons almal staan in ‘n kring en dan bid ons lukraak. Soos springmielies. Hierdie styl van gebed kan sommige mense op hul senuwees maak, want hulle wil graag weet waar om in te val.

Gebedstyl 3: Die Gemengde gebed (ook bekend as Gerrie Gereformeerd se Grootse Nagmerriegebed)

Sommige gemeenskappe verkies om in ‘n groep bymekaar te kom en dan almal gelyk – en hardop – te bid. (Dit is die moeite werd om oop-oë in so ‘n gebed in te gaan as daar nuwelinge is wat dit nie vermoed nie. Keer net jouself om nie dan hardop te lag nie; al is almal redelik op hul eie gebed gefokus gaan iemand jou uitvang.)

Gebedstyl 4: Die Groepleiergebed

In ‘n sirkel, in ‘n vierkant, in ‘n bus, in ‘n skoolsaal; op baie plekke kies mens soms iemand om ‘n hele groep mense voor te gaan in gebed.

Gebedstyl 5: Die Binne-jou-hartjie-gebed

Hierdie gebed is die gebed wat mens alleen in jou kamer bid. Nie omdat jy skaam is nie, maar bloot omdat jy die hele bid-affêre as ‘n privaat ding tussen jou en God sien. Goed dan, vir party mense is dit omdat hulle skaam is.

Gebedstyl 6: Die Hardop-alleen-(as iemand jou nou kon hoor dink hulle jy’s mal)-gebed

Dit klink vreemd; hoekom sal mens hardop bid as dit net jy is? Wel, in die antieke wêreld was dit redelik algemeen gewees om hardop te bid, selfs al is jy alleen. Plus, dit kan mens help om te fokus en die realiteit ook te ervaar van dit wat mens bid; dus is dit nie ‘n te slegte idee om wel van tyd tot tyd hardop te bid nie.

Ons los die gebede wat 2 mense saam bid – en die maniere waarop mens staan / sit / lê / kniel / uitstrek en die ander gebedstipes maar vir ‘n volgende keer.

Op nog ‘n ander keer sal ons ook ‘n bietjie gesels oor hoekom mens saam bid / alleen bid; waarom mense soms skaam is om te bid; ens.


Laat ek U iets leer, Vader: “lerende” gebed

Januarie 17, 2010

Dit is moeilik, ek weet. Veral as jy jou oë toemaak. Veral as dit ‘n laaange is, en die voorganger se stem boonop klink soos die gedreun van ‘n honderd swerms rysmiere. Goed dan, partykeer klink dit meer soos die dawerende eggo in Plato se grot – wat net weereens bevestig dat jy (semi-)bestaan. Mens kan maklik verlore raak in ‘n gebed. Daarom dink ek dis dalk ‘n goeie idee om ‘n gids tot die kleur en geur van gebed op te stel – ‘n A-Z van gebed. Hierdie blogpost is my eerste gedagtes daaroor. Lees gerus, en kyk of jy dit volgende keer kan uitken – veral as jy self bid.

Gebedstipe 1: Lerende (“didaktiese”) gebed

Hierdie tipe gebed is seker die tipe wat my die meeste irriteer. Dit help natuurlik nie dat ek dit self oor en oor doen nie. Dis nou wanneer ‘n gebed min of meer so opgesom kan word:

“Liewe Here, U het my preek gehoor. As ek dit weer kan opsom, daar was drie hoofpunte.”

Dis wanneer dit klink asof iemand iets vir God wil leer – maar dit eintlik vir die omstanders bid. Luister bietjie, jy gaan hierdie een gewoonlik na ‘n preek hoor; of miskien in ‘n gebedsgroepie waar iemand “Skrif” wil gebruik in ‘n gebed. Dan kan dit dalk ook so klink:

“U weet, Here, dat U in u Woord gesê het …”

Die persoon wat bid maak asof s/hy met God praat; maar die harde feite is dat s/hy eintlik net iets wil oordra aan die mense wat na die gebed luister. Mens sou kon dink hierdie is nogal ‘n nuttige stuk gereedskap in enige prediker se gereedskapskissie; maar dis eerder ‘n red herring; ‘n foefie; iets wat die aandag van die saak aflei. Watter nut het gesprek met God as mens nie regtig met Hom praat nie?