‘n Oop Monoloog: my geloofstorie, Deel 9

November 30, 2010

‘n Goeie vriend het my in September 2009 in effek gevra wat ek nou eintlik glo. Hierdie is my antwoord, so effens aangepas, maar grotendeels soos ek toe daaroor gedink het. In klein happies opgedeel.

Deel 9 – “bekering” – oftewel, epifanie

Dit gebeur eintlik eers ’n rukkie na ek “Fatherless in Gallilee” gelees het, op pad V-town toe. In die kar. Nie noodwendig ’n goeie plek om ’n openbaring te hê nie, veral as mens ‘n bietjie snot-en-tranerig word. Skielik word meer as sewe jaar se teologie studies met inhoud gevul: Jesus – sy lewe. Nie net die feit dat Hy gesterf het nie – ja, dit ook, maar meer eenvoudig net hierdie een ding: die Persoon van Jesus Christus, en hoe Hy op aarde opgetree het. (Dit wat ons daarvan kan weet.) Om jou lewe met sy liefde te vul. Dit is wat die evangelie vir my beteken. Dit is wat vergifnis van sonde vir my beteken. Dit is, in effek, die crux. Dit beteken verder opoffering. Dit is immers wat Jesus se lewe was.

Dit is waarna die Bybel vir my wys. Dit wys na Jesus, wat daar rondom Hom gebeur het – maar ook God se pad met mense tot op daardie punt. Ek dink dis belangrik om daardie tradisie te sien – die manier hoe God met mense was en hoe mense God ervaar het.

[Hierdie deel voeg ek nou ter wille van verklaring by, so dit het seker nou al bietjie ontwikkel na 2009; maar is nie ‘n sistematiese uiteensetting van wat ek glo nie.] Dit beteken allerhande begrippe, soos sending, en geloof, sien ek nou baie anders. Byvoorbeeld, as ek met iemand oor Jesus Christus sou moes praat, sou ek dit nie op ‘n kosmiese wyse doen nie. Ek sou nie vertel van Jesus se opstanding uit die dood nie; of die feit dat Hy ons sondes vergeef het nie. Eintlik maak dit nie vir my soveel saak of Jesus uit die dood uit opgewek is of nie; dis ‘n teken, ja, dat wat gebeur het waar is, maar dis ‘n ding wat ons eenvoudig net moet glo. Nee, ek sal vertel van Jesus se lewe, hier op aarde, tussen mense.

_______________________

Die Einde – tot en met 2009.


‘n Oop Monoloog: my geloofstorie, Deel 2

November 23, 2010

‘n Goeie vriend het my in September 2009 in effek gevra wat ek nou eintlik glo. Hierdie is my antwoord, so effens aangepas, maar grotendeels soos ek toe daaroor gedink het. In klein happies opgedeel.

Deel 2 – die besluit om teologie te gaan swot

In die April van my matriekjaar was ek op die Winklespruit kamp. Dit was ’n belewenis! (Ek het twee mense daar ontmoet wat later saam met my teologie geswot het.) Ek onthou die droom wat ek in die hart en op die mou rondgedra het daardie tyd: ek wil graag ’n Christen coffee shop begin, met ’n stage waarop ouens lekker Christelike agtergrondmusiek kan maak, ’n lekker ruimte om te gesels en elke nou en dan sluit ons die winkel en hou sommer praise & worship daar in die plek self. Van die ouens wat saam met my op daardie kamp was, onthou dit nog steeds – hulle vra my elke keer hoe ver my coffee shop droom gevorder het. Snaaks genoeg was dit egter ook op daardie kamp dat die idee by my begin posvat het om ’n dominee te word. Dis nie iets wat iemand spesifiek vir my gesê het om te doen nie – dis net iets wat in my hart gaan staan lê het. Dit wou ook nie weggaan nie. Logies het dit natuurlik nie regtig sin gemaak nie. Ek sê toe maar uiteindelik vir my ouers, en nou ja. Op ’n stadium gevra dat hulle die vorms vir my stuur van Tuks af – terloops, ek wou baie graag eerder by Potch geswot het, maar NG ouens mag mos nie. Ek vergeet toe daarvan – nee, ek begin logies daaroor dink en besef dat programmering op die oomblik my lewe is, en geld is ook nie te versmaai nie. Droomkombinasie! Op ’n dag, so uit die bloute uit, sê een van my vriende vir my (wat nie geweet het ek het dit enigsins oorweeg nie – dis wat hy sê) dat sy ma sê dat sy dink ek sal ’n uitstekende jeugpredikant maak. Dieselfde middag kom die vorms van Tuks by ons huis aan.

’n Hele rits gesprekke met verskeie mense het gevolg. My ouers en peetouers was natuurlik bekommerd aangesien daar geen werk vir predikante is nie, en hulle ook nou nie regtig geld kry nie. (Hemel, hulle kry meer as meeste universiteitsdosente. Sheesh.) Die twee predikante waarmee ek gesels het, was oor dieselfde goed bekommerd. Die uiteindelike ooreenkoms met die ouers was dat, as ek my teologie grade klaarmaak, ek dit sal oorweeg om ’n ingenieursgraad te doen, of meer waarskynlik ’n IT graad. Hulle (en ek) was ten volle bereid om dit so om te doen. Daar was ’n hele paar keer dat ek dit oorweeg het, selfs terwyl ek met teologie besig was – al was dit dan om dit deeltyds te doen. Ek dink ons kan darem al teen hierdie tyd sê dit gaan nou nie regtig gebeur nie. ;o)

Dit was toe maar Tukkies toe! Ek dink met groot deernis terug aan my eerste twee jare hier. Wat ’n wonderlike tyd! Dit was nie lank nie, of ek het begin afsien van die idee van ’n jeugpredikant. Al was dit dan nou nie uitgesproke nie. ’n Dosent, ja! Hierdie was uiteindelik die Sondagskool op steriods waarna ek so gesmag het! Die tale, natuurlik, was vir my ’n belewenis. Ek het dit só geniet! (Dalk, selfs, te veel geniet – tot so ’n mate dat ek in sekere opsigte heeltemal asosiaal geword het.)

Volgende keer: my eerste jare op Tuks.


Om God te hierjy en jou

September 13, 2010

Ek tel ’n tendens op onder sommige van my meer krities denkende vriende om na God in die “normale” tweedepersoon te verwys: “Jy”, of “Jou”. Dit skok my piëtisties Protestantse siel tot in die sesde sirkel van Dante se hel (dis nou die sirkel waar godslastering sou inpas).* Elke keer.

Gelukkig dat van my ander krities denkende vriende my ook ’n paar goed van dekonstruksie geleer het. So, kom ons dink eers ’n bietjie hieroor. Die “U” wat in ons Bybelvertalings voorkom, is ’n respekvorm. Dit word dubbeld beklemtoon – eenmaal deur bloot die feit dat “u” gebruik word, ’n tweede keer deur ’n verwysing na God altyd as ’n hoofletter gedruk word.** Die Engelse taal, daarteenoor, maak nie meer ’n onderskeid tussen die respekvorm en die gewone tweedepersoonsvorm nie (“you”). Hierdie taalverwikkeling het daartoe gelei dat veel sanggroepe wat dit nie in die “regte wêreld” sou kon maak nie, tog vir hulleself ’n naam kon maak in die “Gospel”-wêreld***:

“I love You, I love You, I want You, I want You” is nie ver weg van “I love you, I love you, I want you, I want you” nie. Tot ons spyt.

My weersin teen die gebruik van “Jy” of “Jou” vir God is natuurlik te danke aan my tipiese Afrikanerskap. Mens sê “Oom” en “Tannie”, “Prof”, en in baie huishoudings “Pa” en “Ma”, selfs al sou ’n normale sin ’n voornaamwoord verwag. Dis maar net weens die respekte.

Nou na die Duits. Die Duitsers het seker nog ’n meer ingewikkeld sisteem om respek aan te dui as Afrikaans. Hulle het selfs werkwoorde wat die aksie van “hoflik praat” of “normal praat” te beskryf (“siezen” en “duzen”). Interessant is, egter, dat daar in ’n gesin glad nie “gesiezen” word nie. Daar noem almal – kinders, ouers, grootouers, oergrootouers – watookal – mekaar op die normale tweedepersoonsnaam. Dis nie ’n kwessie van respek nie; dis ’n kwessie van intimiteit. Respek is voorveronderstel – part of the package.

In soverre die nuwe Afrikaanse tendens hierdie feit onderstreep, kan my swak siel heelhartig daarmee saamgaan. Sal ek dit selfs aanraai – die “U” – vorm kan mens dalk God so laat “vrees” dat mens vergeet mens kan ook intiem met Hom wees. And that’s the beauty of it!

__________

Notas:

*Dis nou, as ek as Protestant in daardie tipe goed sou glo.

** Nie vir besitlike voornaamwoorde nie! Ek het al voorheen hieroor gemor.

*** Ek vermoed my vriende kan dalk deur die lirieke / lede van ’n sekere Afrikaanse band beïnvloed wees; dus moet ek vinnig hier byvoeg dat mens nie al die sanggroepe wat ’n verwysing na God as “Jy” of “Jou” oor dieselfde kam kan skeer nie. Plus, as ek reg onthou het hierdie spesifieke sanggroep al lank terug gesê dat hulle nie “Gospel” maak nie, net musiek … :-)


“Hy het sy geloof verloor …”

September 1, 2010

Ek glo nie mens kan geloof vasvat in een definisie nie. Immers, geloof is dit wat ons nie kan sien nie (Heb 11:1), so hoe sal ons nou in elk geval daaraan kan vat? Selfs al praat ons van ‘n tasbare geloof. Geloof om uit die bootjie te klim … of binne die kas te bly? Dis deesdae maar troebel water daarbuite!

Alle grappies op ‘n stokkie. Ons sukkel om geloof in ‘n definisie oor te sit. Dit pla my veral wanneer ek ‘n stelling hoor soos: “Hy het sy geloof verloor.” Vandag wil ek maar net oor een aspek daarvan praat – deels deur die Anne Rice geloof-debakel ontketen. Die probleem wat ek op die tafel wil sit: ons verstaan geloof in ‘n heeltemal te kleine sfeer. My invalshoek is in die vorm van ‘n vergelyking: ons verstaan van geloof is soos seewater wat verdamp het, en waarvan net die sout nog agterbly. (Nota: ek skryf as ‘n lid van die NG Kerk, in Suid-Afrika; ek wil net solank hierdie punt duidelik maak – dit sal later duidelik word waarom.)

Wat beteken dit om te glo (ingeslote natuurlik Heb 11:1, maar ek vra die vraag ‘n bietjie wyer)? Baie mense sou ‘n lysie daar stel: as mens in hierdie dinge glo (daar is ‘n God; Jesus is God; Jesus het gesterf en het opgestaan) en ook dan vertrou op God – dit is geloof. Kom ons noem dit die sout van die seewater. (Vir my gaan dit in elk geval in ‘n groot mate oor vertroue eerder as ‘n wete.) Goed, hoe jy hierdie dinge verstaan kan verskil van hoe ek dit verstaan – maar dis nie waaroor ek vandag wil praat nie.

Ek wil vandag oor die water praat.

Die water in ons seewatermengsel is iets wat die hele storie aan mekaar bind. Dit is iets waarin die sout ook – laat ek dit nou al solank uitwys – oplos. Vir alle praktiese doeleindes word al die deeltjies sout met behulp van al die deeltjies water aanmekaargehou en aan mekaar verbind. (Ja, ja, ek weet … chemie was nog nooit my sterkpunt nie, maar hierdie is ‘n metafoor!)

Die water, dink ek, is die geloofsgemeenskap. Geloof is eintlik ‘n baie minder private ding as wat ons dit altyd wil uitmaak. Ja, dis belangrik dat jy jou geloofsissues vir jouself uitsorteer: maar indien jy in ‘n geloofsgemeenskap is, word hierdie issues baie minder belangrik. Minder belangrik in die sin dat die hele geloofsgemeenskap nou dit dra – en dat almal by almal ingeskakel is. Om so daaroor te dink, lei tot ‘n baie voller verstaan van geloof: dan praat ons ook van ‘n geloof in ‘n gemeenskap, en nie van ‘n enkele persoon nie. Dan onthou mens ook dat geloof altyd gedeel word.

Twee hedendaagse voorbeelde – en vergewe my as ek hier op tone trap – is die Rooms Katolieke Kerk en die Joodse gemeenskap. Indien ons as Protestantse (Evangeliese?) Christene ons op-die-individu-gerigde definisie van geloof sou gaan toepas op hierdie twee gemeenskappe, sou ons vinnig kon vasstel dat daar heelwat mense is wat “hul geloof verloor het.” Veral die Joodse gemeenskap – soos ek dit nou verstaan, natuurlik. Nogtans skakel hierdie mense sonder teenkanting, maar ook vrywillig, in hulle onderskeie geloofsgemeenskappe in; beskryf hulle hulself as deel van hierdie gemeenskappe. Die gemeenskap aanvaar hulle en wys hulle ook nie op ‘n harde, jy-is-in-of-jy-is-uit manier tereg nie; oftewel, nie sover ek kan agterkom nie.

In dieselfde asem moet ek daarop wys dat ek nie geloof met kultuur wil vervang nie. Die doel van my skrywe is eerder om daarop te wys hoe nou geloof en gemeenskap met mekaar verbonde is; tot so ‘n mate dat ons moeilik ‘n stelling kan maak soos: “Sy het haar geloof verloor.” Inderdaad, dit kan ons nie sê as “sy” dan nog deel van die geloofsgemeenskap is nie, of hoe?


(Geestelike) Supersterre!

Oktober 12, 2009

Die Oostelike Sinode van die NG Kerk het ‘n liedjieskrywerskompetisie uitgevaardig. Dit het my baie laat dink.

Hoekom juis die kerk se musiek op dieselfde manier as die wêreld se musiek inrig? Op die ritme van dieselfde sisteem? Is dit sinvol om ‘n Idols te hou sodat ons ‘n beter liedereskat vir die kerk kan opbou?

My dink is in twee geskeur.

Aan die een kant is dit wonderlik dat daar soveel nuwe liedere in omloop kom. (Vir hierdie sinode is daar 206 liedere ingeskryf! 206 – maar nie almal gaan noodwendig gebruik word nie. Ek hoop daar is meer liedere wat mens kan gebruik as net die wat gewen het.) Dit is belangrik, want musikale mense mag dalk van verveling dood neerslaan as daar nie nuwe goed geskryf word nie. (Meeste kerke het nie versekering teen hierdie tipe goed nie.) Belangriker as dit, is dat daar juis ‘n tekort aan liedere is vir die handjievol mense wat hierdie styl liedere in hul eredienste wil gebruik. Die hoendertand-getal goeie liedere waaruit hulle op die oomblik keuses kan maak, bied min of meer die verskeidenheid wat my klerekas my elke oggend bied.

Dan moet ek ook skerp kritiek teenoor die verIdolisering van die kerk se musiek uitspreek. Wel, om die waarheid te sê, ek het nog altyd gedink Idols is in elk geval ‘n bietjie van die pad af. Dis so … sinteties. Soos plastiek-ketties. Ja, baie soos plastiekketties, die musiek word ook in ‘n gietvorm ingedruk.

Dalk sou dit ‘n goeie idee wees as ons ons aandag ‘n bietjie bestee om mense te help om eerder in gemeentes liedere te skryf – vir gemeentes. Eerder as om die ore na buite te rig, om na een of ander Superster-strooipop se pype te dans. Dit sou vir my sin maak. As ‘n been-af verliefde sot ‘n liefdeslied skryf, mag dit dalk vir almal rondom hom pragtig wees, maar dit het partykeer net regtig betekenis vir sy bessie-wang stroopgesiggie. (Dan vra mense nog hoekom ek nie ‘n meisie het nie!) Dit mog dalk die geval wees met ons kerkmusiek ook. Ons smokkel soveel liedere van buite af in – nee, die oorgrote meerderheid van ons liedere – dat dit soms maar net mooi op die oor val. En dood lê verkluim daar buite. Dalk kan ons gemeentes begin help om vir hulle self liedere te skryf?

Natuurlik is dit nie altyd sleg om liedere van buite af te kry nie. Party mense het nou maar eenmaal net die gawe om dit goed te kan doen. Dit moet ons deel met ander. Veral die wat in Suid-Afrika self begin liedere skryf. Dit spreek tog almal van ons aan – ten minste verstaan ons die taal daarvan. Daarom is ‘n liedjieskryfkompetisie dalk nie die slegste ding wat in die kerk kan gebeur nie.

Ek moet darem ook in hierdie post iets sê van hoe die Oostelike Sinode se liedjieskryfkompetisie uitgedraai het. Ek is opgewonde oor die nuwe liedere wat ons bykry. Ek het nie so baie van alles gehou nie – maar smaak verskil seker. Hier en daar het ek so effens begin skrik vir die teologie van ‘n lied – maar aan die ander kant, ek skrik elke nou en dan effens vir die teologie van ander mense se uitsprake (en gereeld as ek in die spieël kyk).


Fokofpolisiekar en die Intense Leegheid van die Siel

Augustus 14, 2009

‘n Vriend van my, wat (onder andere) hier blog, doen navorsing oor Fokofpolisiekar. Meeste mense weet dit nie, en ek vermoed sal dit ook nie sommer raai nie, maar ek het meer as die helfde van my MDiv skripsie met Fokofpolisiekar in die agtergrond (en BAIE koffie) geskryf.

Hulle is eenvoudig net een van die groepe wat die beste musiek – musikaal, bedoel ek nou – in Afrikaans maak. Ek vermoed dit is die hoofsaak hoekom baie mense na hulle luister. Inderdaad, ek is nie so seker of almal noodwendig hulle boodskap snap nie – vergelyk byvoorbeeld hierdie lirieke van Hemel op die Platteland wat ek op die internet gekry het (sal maar eerder nie sê waar nie):

Kan jy my skroewe vir my vasdraai?
Kan jy my albasters vir my find?
Kan jy jou idee van normaal
By jou gat opdruk?
Kan jy?
Kan jy Aberdeen spel?

Ironies dat die ou nie “vind” kan spel nie – of ten minste nie gesien het dit is verander deur ‘n woordverwerker nie. Nog meer van ‘n ironie dat die woord “a-p-a-t-i-e” nou vervang is met “Aberdeen” – wat beteken die hele punt van die liedjie is gemis.

Hemel op die platteland is een van die groep se ouer liedjies. Dit bevat natuurlik ook hierdie opspraakwekkende gedeelte:

Kan iemand dalk ‘n god bel
En vir hom sê ons het hom nie meer
Nodig nie
Kan jy –
Kan jy apatie spel?

Ek dink hierdie is ouens wat erg ontnugter is – deur die kerk; deur die samelewing waarin hulle grootgeword het. Ek dink hulle is ouens met diep insig.

Ek dink ook hulle is verkeerd.

Hulle lewer egter sosiale kommentaar wat mens nie sommer kan miskyk nie. Sosiale kommentaar – en kommentaar op die kerk – wat ek hoop op een of ander tyd deur alle teologiestudente in die gesig staar word. Ek gaan nie alles in hierdie een post kan aanraak nie. Ek kan maar net hier en daar so losweg vat. Die volgende deel uit Lugsteuring, byoorbeeld, het my veral aangegryp:

Ek wil net nie verkeerd wees in
hierdie lewenslang kleedrepitisie nie
Is die monster wat jou jaag
emosionele progressie?
Is jy die enigste vyand van
spirituele tegnologie?
Ons oë is vervang met skerms
en ons siele met prentjies van die see

Nou, ek vermoed ons het hier te doen met ‘n erediens.  Dink mens kan dit sien in die res van die liedjie ook. Dink dis nogal baie raak. Die hele “kerk-toe-gaan” ervaring het mos tot ‘n groot mate ‘n toetssteen geword vir mens se geloof. Dit spreek van onegtheid – iets wat mens gerus uit jou geloof uit kan sny.

Terselfdertyd, dink ek, is hierdie ouens bewus van iets groters, selfs al kies hulle om dit mis te lees. Ja, hulle wil die Greep van Geloof afgooi. Maar waarmee sit mens dan? Ek dink mens kan dit gerus die Intense Leegheid van die Siel noem. Kyk bietjie na hierdie aanhaling – al die lirieke van Tiny Town:

In wrede woede het ek die
hand wat beheer gebyt
Verwyt myself op harder en
harder grond neergesmyt
Dis nou ek wat die leiband lei
Te veel verskeur om sulke
argumente ernstig op te neem
Miskien is niks soos wat ek dink dit is nie
My greep op my geloof glip gereeld
My wonde wonder waar genesing kom vandaan
Soet slaap sonder sonde vanaand

Miskien is niks soos wat jy dink dit is nie
Jou greep op jou geloof glip gereeld
Jou wonde wonder waar genesing kom vandaan
Soet slaap sonder sonde vanaand

Hierdie liedjie het my aangespreek. Ek waardeer die eerlikheid daarvan – die absolute openheid. Ek betreur die feit dat die kerk nie ‘n oop genoeg ruimte – en ‘n veilig genoeg ruimte – skep vir mense wat sulke vrae wil vra nie. Die gevolg? Afgesien daarvan dat die idee van die kerk gesien word as iets met gesag wat op mens afgedwing word? Iets wat afgegooi moet word? Na my mening: mense wat verskeur word. Hierdie is goed waardeur ‘n mens moet worstel; maar daar is geen plek daarvoor nie. Hierdie is goed waarmee ek graag mense sou wou uitdaag; maar daar is geen plek daarvoor nie.

Anderkant die vermaaklikheidskerk en die Intense Leegheid van die Siel lê daar antwoorde. Graag sal ek mense daar wil sien aankom, maar dit moet nie geforseer wees nie. Sal ek Fokofpolisiekar vir mense aanbeveel om hulle hiermee te help? Nie sommer vir enigiemand nie. Vir teologiestudente – wel, miskien. Iets anders wat ek wel definitief vir teologiestudente sal aanbeveel is om Oppikoppi toe te gaan – sodat hulle kan leer van die wêreld, van liefde en aanvaarding. Ja, nie noodwendig om mense daar te gaan bekeer nie, maar net om bietjie waar te neem – en te leer. Plus, mens hoor dalk net ‘n bietjie goeie musiek ook. Dít is egter ‘n post vir ‘n ander dag.


Behoort, beleef, bely: Saampraat met Nelus Niemandt

Junie 29, 2009

Ek skryf hierdie post na aanleiding van Prof Nelus Niemandt se artikel in die Beeld.

Prof Niemandt betoog kortliks die volgende: in plaas van ‘n kerk waarin hul geloof bely, hul geloof dan daarna kan beleef en dan uiteindelik tot die gemeenskap behoort (hierdie is die tradisionele manier van kerkwees in veral die NG Kerk),  moet die volgorde omgeswaai word: na ‘n behoort, beleef, bely situasie.

Ek kan nie help om in breë trekke hiermee saam te stem nie. Die eienskappe wat my generasie (X) tipeer, voel ek mos aan my eie bas: ons is nie meer so lojaal aan instansies nie, eerder die ideaal wat agter die instansies lê. (Juis nou die dag weer hieroor gepraat met die Dinsdaggroepie – julle weet wie julle is.) Daarom ook dat ons nie noodwendig onsself aan ‘n kerk vasbind net omdat dit van ons verwag word nie – ons wil sien hoekom ons aan daardie kerk moet behoort. Terwyl ons terselfdertyd ook daarna hunker om te behoort …

Soos sulke dinge maar gaan (hierdie is immers ‘n gesprek) moet ek egter ‘n paar punte uitlig wat ek wil byvoeg of effens wil verander:

  1. In die tradisionele model was daar nou nie juis veel belewing nie. Uitlewing miskien. In die nuwe model voel ek ook dat beleef enbehoort oorvleuel – tot so ‘n mate dat dit op presies dieselfde tyd kan gebeur.
  2. Prof Niemandt raak die punt aan, maar brei nie soveel daarop uit nie: Jesus het eerstens mense verwelkom, en daarna het die geloofsreis posgevat. Waar ander groepe eksklusief was – soos die Qumran gemeenskap – en hoë eise gestel het wat verband gehou het met heiligheid – was die beweging wat rondom Jesus ontstaan het radikaal inklusief. Ten minste, dis die slotsom waartoe ek kom met my gedeeltelike verstaan en lees van die Bybel (en ander tekste). (Nota: en baie, baie meer leeswerk moet ek nog doen! :) )
  3. Die gesprek moet waarskynlik oor meer gaan as net die omkeer van hierdie volgorde. Die kerk gaan waarskynlik ook nie dieselfde lyk as wat dit nou lyk nie. Die fokus kan, myns insiens, nie meer soseer op die instansie val nie. ‘n Organiese verstaan van die kerk – dit kan dalk werk. Nietemin, dis nie nodig om te veel hieroor uit te brei aangesien die voorbrand vir so ‘n gesprek in die SA kerkgemeenskap alreeds besig is om gedoen te word, onder andere deur Prof Niemandt in Nuwe Drome vir Nuwe Werklikhede. (Dis beskikbaar by Loot.co.za vir slegs R82, of by Kalahari.net vir slegs R79. Bargain! Koop dit sommer vir jou hele kerkraad as ‘n middel-van-die-jaar kersgeskenk.)

Daar is een aanhaling in Prof Niemandt se artikel wat my sal bybly, en wat ek heelhartig sal onderskryf; daarmee sluit ek ook dan hierdie deel van die gesprek af:

Mense stel belang om die liefde van Jesus van Nasaret in aksie te sien.

Mag dit in ons kerkwees / liggaam-van-Christus-wees elke dag al hoe meer sigbaar word.


Van Aarde, The Shack en die risus paschalis

Junie 28, 2009

Ek het vanaand sopas teruggekom van die “Joint Conference” vir Teologie op Stellenbosch. Die Teologie Fakulteit van die Maties is hierdie jaar 150 jaar oud, dus het hulle hierdie konferensie daar gehou om al dit te vier. Dit was nogal ‘n aangename geleentheid – sal miskien later weer daaroor blog, miskien egter eerder op my Engelse blog.

Een van die lesings wat definitief uitgestaan het, is die van Prof Andries van Aarde oor die triniteitsbegrip in die gewilde boek van Young, The Shack. Die boonste kamer van die Teologie Fakulteit was gepak – dit terwyl daar net 20 uitdeelstukke was. Wat het hulle gedink? Van Aarde, The Shack – natuurlik gaan daar meer as 20 mense wees.

(Dit wat volg is my interpretasie van die lesing! Ek mag dalk verkeerd gehoor of verstaan het.) Van Aarde het ‘n baie positiewe beoordeling van die boek gegee. Ongelukkig was die tyd te kort om sy hele referaat te lewer, so ek vermoed daar is ook effense kritiek wat hy nie by kon uitkom nie. Die hoofargument van sy betoog was dat die Shack weer ‘n verhoudingselement in die triniteit inbring; hy het ook ander goed uitgelig, byvoorbeeld dat die boek ‘n postliberale lees van die Bybel verteenwoordig. Van Aarde meen dat die boek weer teruggryp na ‘n tyd voor Tertullianus, wat die begrip trinitas die eerste keer gebruik het. Dit laat die Drie-Eenheid dan ook oop om weer mense toe te laat. Die idee is dat daar ook geen verhouding tussen mense kan bestaan – d.w.s. liefde – as dit nie ook so was met God nie.

Al drie Persone van die Drie-Eenheid word speels uitgebeeld in die boek. Van Aarde gaan hiermee saam, en verwys dan ook na die risus paschalis. Dit is ‘n ou Ortodokse tradisie wat klaarblyklik in Bavaria ontstaan het, waarin die priester die gemeente lui in ‘n geweldige lagbui om die opstanding uit die dood te vier.  (Prof Yolanda Dreyer het die relevante gedeeltes in die boek uitstekend voorgelees, asook die verwysing na die risus paschalis.) Dit, volgens Van Aarde, is ‘n belangrike element wat ons in ons geloof moet terugkry.

Tydens die vrae was dit veral Prof Pieter de Villiers se kommentaar wat vir my interessant was. Prof De Villiers spesialiseer op spiritualiteit, en veral die mistiek. Volgens hom stem die Shack nie soseer ooreen met wat in die klassieke mistiek geglo sou word nie. Dit is eenvoudig net onmoontlik om die essensie van God vas te vat. Prof Van Aarde het egter daarop gewys dat veral die Heilige Gees uitgebeeld word as Iemand waarop Mack, die hoofkarakter in die verhaal, nie kan fokus nie.

Myns insiens: die boek se plot ontvou vir my ‘n bietjie stadig. Verder irriteer die manier hoe die onderskeie verhoudings uitgebeeld word in die boek my so ‘n bietjie, maar ek besef dit sê dalk meer van my as van die boek of die skrywer. Daar is verskeie ander probleme wat ook uitgewys kan word – byvoorbeeld, dat die boek maklik patripassianisme (die kettery dat die Vader saam met die Seun aan die kruis gesterf het, dus dat daar nie drie Persone is nie, maar drie verskillende maniere waarop God Homself manifesteer) kan uitbeeld. Of, eintlik moet ons dit erken – dat die boek dit eintlik so voorstel. (Die bekende teoloog Moltmann, soos ek verstaan, is egter nie te ver van hierdie siening af nie – The Crucified God is op my lysie, maar ek moet dit nog lees). Prof Van Aarde het ook op hierdie verstaan in die boek gewys – maar nou ja, hoe kan mens in elk geval oor God praat? Self Augustinus het gesê dat ons eintlik niks oor God kan sê nie; dit wat die kerkvaders gesê het, is bloot maar net omdat mens iets moet sê.

Verder dink ek die boek is verseker ‘n produk van sy tyd. Die groot klem op verhoudings en wegbeweeg van die strukturele elemente in godsdiens is nie besonders nuut nie. Sommige van dit is nodig – na my mening gaan ons egter weer op ‘n stadium ‘n tyd bereik waar die kerk in ‘n vaster struktuur staan na die huidige struktuur uitgedaag en gedekonstrueer is. Hoe dit gaan lyk, dit kan ek nie sê nie. Nogtans dink ek die boek kan mense in pyn help. Ek sal dit aanbeveel vir mense om te lees – maar dit nie as Die Waarheid verkoop nie.


Nog nadenke oor multikulterele eredienste

April 5, 2009

Ek het Cobus se raad gevolg en by Matt Stone se blog gaan kers opsteek oor multikulterele eredienste en bedieninge. In een van sy uitlatings oor multikulterele bediening (en sending) beskryf hy baie mooi wat my pla, en begin ook dink in ‘n rigting waarmee ek gemaklik is. Of dalk juis vir my ongemaklik, op hierdie oomblik – as mens van comfort zones begin praat. Kortom verduidelik hy dit só: ons kan of aanhou kerke stig wat op spesifieke subkulture gemik is, of ons kan almal saamgooi in een. Êrens gaan ons die twee kulture eenvoudig moet laat oorvleuel. (Matt verduidelik dit baie beter as wat ek kan – lees gerus sy blog. Daar is prentjies ook!) Dit gaan OOK beteken dat daar punte in ‘n erediens gaan wees wat net vir een groep mense van belang is en wat net vir een groep aanspreek. Om dit eintlik nog verder te vat: dit beteken dalk dat daar punte in ‘n erediens gaan wees wat net vir een groep sin maak! Natuurlik gaan die span wat verantwoordelik is vir die samestel van so ‘n erediens hul beste moet doen om soveel as moontlik te laat oorvleuel, sodat hierdie oomblikke tot ‘n minimum beperk sal moet word. Ek twyfel of mens dit heeltemal sal kan uitskakel. (In ‘n monokulturele erediens is daar in elk geval sulke momente – aangesien so ‘n erediens laerskoolkinders, tieners, studente, en allerlei ander mense moet aanspreek.) 

‘n Multikulturele erediens sal dus net werk as daar ‘n tipe van ‘n kompromie bereik word. ‘n Balans van belange. Vir my gaan dit ten diepste oor ‘n openheid vir ander mense – en dis dalk iets wat gekweek moet word, of miskien is dit ‘n diepkant-ingooi-en-swem ervaring. Dit beteken nie dat mens jou identiteit moet prysgee nie. Inteendeel, dit maak dit dalk juis meer interessant, mits daar hierdie houding van aanvaarding teenwoordig is. Hoe bereik mens dit egter?

Op ‘n effense ander noot: ek kon toe nie vandag NG Arcadia se diens bywoon nie. Ek was verkeerdelik onder die indruk dat hulle ‘n aanddiens het – wys jou net die kringe waarin ek beweeg en bietjie moet afskud dalk. Hulle dienste is om 11:00 die oggend. Dus gaan daardie diens moet wag tot die 25ste April, ongelukkig. In stede van NG Arcadia het ek ‘n diens bygewoon in Lyttelton, by die Bethany Baptist Church. Ek het onmiddelik van die plek gehou: dit is ‘n klein gemeente en die kerkgebou is regtig eenvoudig. Soos alle Baptiste (lyk dit vir my) is hulle baie gerig op sending. Die gemeente bestaan uit allerhande geure en kleure: Die voertaal is Engels, maar daar was heelwat Afrikaanssprekendes. Hoofsaaklik witmense, maar ook swartmense en Indiërs. Die diens was egter nog steeds ‘n bietjie “monokultuur”. (So terloops, die preek het oor dieselfde tema gegaan as die selgroep wat ek Dinsdagaand bygewoon het, en waaroor ek vroeër die week geblog het. Dit was egter op ‘n meer sober manier hanteer – selfs al het ek miskien nie saamgestem met presies alles wat die prediker gesê het nie. Nog ‘n tersyde opmerking: dis die moeite werd om te lees wat Cobus op sy Afrikaanse blog geskryf het oor gesonde en ongesonde teologie. Ignoreer maar die horde opmerkings.)


Wat is die Bybel?

Maart 25, 2009

My broer sê nou die dag vir my dat hy vir hom ‘n boek bestel het wat die vier evangelies saam in een gooi (dus, ‘n “harmonie”). Dis een of ander Amerikaanse ou wat so probeer sin maak van die tydsverloop van die gebeure waarvan die evangelies vertel; ek kan ongelukkig nie onthou wat sy naam is nie. Aanvanklik het ek nie geweet hoekom die hele gedoente my gepla het nie, maar na ek ‘n rukkie daaroor gaan sit en dink het, dink ek ek het die probleem nou in my kop raakgevat. Dis ‘n probleem wat diep lê – dis ‘n probleem wat gaan oor wat die Bybel is, en wat dit vir mense beteken. Ek gaan my storie egter eers ‘n bietjie van ‘n draai laat loop – net om die punt ‘n bietjie te illustreer.

Sien, die Amerikaner is natuurlik nie die eerste ou wat daaraan gedink het om die vier evangelies te versoen nie. Die vroegste vertaling in Siries – so lyk dit vir ons – is dié van Tatianus, wat die vier evangelies (miskien ook ‘n vyfde een wat aan hom bekend was!) in een gesit het. (Hierdie vertaling staan bekend as die “Diatessaron” – en het al baie hoofbrekens besorg aan mense wat die tekstradisie van die Nuwe Testament bestudeer). Goed, miskien het hy dit van ‘n Griekse weergawe afgeskryf wat nie aan ons bekend is nie (behalwe dalk die stukkies wat hulle gevind het by Dura Europos?). Hierdie hele affêre het baie vroeg afgespeel – al in die tweede eeu na Christus. Na ‘n ruk het die (ortodokse) kerk besluit daar is verseker net vier evangelies wat in die versameling boeke hoort wat hulle as gesaghebbend sien, en het hulle probeer om elke moontlike teken van die Diatessaron uit te wis. (Nog hoofbrekens vir die geleerdes vandag.) Tatianus het ‘n baie vloeiende idee gehad van wat die evangelies is – dit vertel die verhaal van Jesus, en hoekom vier hê as daar een kan wees? Dalk was die Diatessaron ‘n hulpmiddel vir sendelinge om makliker met ander mense oor Jesus te praat – daarom ook die vertaling in Siries.

Die hedendaagse poging om die vier evangelies saam te flans, is (myns insiens) egter iets heel anders. Dit kan ook nie anders nie, want dit gebeur na die Aufklärung, in die tyd van (en net na) die modernisme. Dit gaan daaroor om die Bybel as waar te bewys – as ons al die verskille tussen die evangelies kan uitstryk, dan moet dit mos so wees dat die Bybel onfeilbaar is. Dalk is die logika juis andersom: die Bybel is onfeilbaar, daarom moet ons die verskille tussen die evangelies kan uitstryk. Dit is juis waar my ongemaklikheid met die hele storie sit: dat ons die BYBEL dan so op die voorgrond stel, dat ons ons geloof aan die absolute (woordelikse) waarheid daarvan moet koppel. Daar is selfs ‘n woord hiervoor: bibliolatrie (=bybelaanbidding). Dis nou wanneer ons vergeet dat die Bybel eintlik na God verwys, en dat dit self nie aanbid behoort te word nie. Dis eintlik baie snaaks – want selfs die skrywers van die Nuwe Testament het so daaraan gedink – dit wat ons vandag as die Ou Testament ken, en veral die profeet Jesaja (40-55), het vir hulle bloot gewys na Jesus. Daarom kon hulle maar dele van die Bybel uit konteks aanhaal, of selfs hier en daar van die aanhalings verander, sodat dit nog duideliker vir mense kan wys wie Jesus is.

Dus is my probleem nie soseer met die feit dat die woorde van die Bybel in ‘n ander volgorde rangskik word nie – my probleem is die (moontlike, moet ek byvoeg – ek ken nie die man wat dit gedoen het nie, dis maar net ‘n vermoede) motief wat daar agter sit. Wat my betref: ek is tevrede daarmee dat die Bybel vir my ‘n rigtingwyser is na God – wat vir my van verskillende kante af toelig wie God is – sodat ek uiteindelik ‘n verhouding met God kan hê.