Wonderwerke en getuienis

Januarie 29, 2010

“Daar is geen manier dat enigiemand so ‘n ongeluk kan oorleef nie. Almal in die kar moes dood gewees het toe die bakkie daardie aand in ons vasgejaag het. Daar is net geen manier dat die spoed waarteen hy ons getref het nie ons almal se dood veroorsaak het nie. Dit moes ‘n wonderwerk gewees het. God is groot!”

Dis nie die eerste keer dat ek ‘n getuienis hoor nie. Ongelukkig, moet ek effens bieg. Daar is iets van dieselfde inhoud aan meeste getuienisse, ‘n geheue, ‘n wrang déjà vu. Meeste getuienisse veronderstel ‘n wonderwerk. God gryp op ‘n bonatuurlik wyse in die lewens van mense in; beskerm hulle van doodsgevaar; genees hulle op ‘n wonderbaarlike wyse.

Dalk trek dit juis my aandag omdat ek dan sit en dink aan juis elke keer wat God dan so te sê nie ingegryp het in mense se lewens nie.

Die bakkie het geslinger – eers regs, toe links, toe weer regs – en elke verwoede draai het dit al hoe nader aan hul kar gebring. Die pad was nat – dit was natuurlik moeilik om beheer oor die bakkie te hou. Heeltemal te moeilik. Die twee jong mans en die meisie in die kar is op slag dood. Daar was in elk geval geen manier dat enigiemand so ‘n ongeluk kon oorleef nie.

Beteken dit dan dat God in hierdie tweede voorval nie kon of wou gehelp het nie? Of dat Hy die groot Puppetmeischter is wat toutjies trek en so oor ons lot beskik?

Wonderwerk-getuienisse (die oorgrote meerderheid van getuienisse) ontstel my want dit veronderstel ‘n God wat meestal ver en afwesig is. Dit ontstel my want dis hoe die grootste groep Christene oor God dink – dat Hy van êrens af bonatuurlik ingryp in ons lewens – maar net partykeer.