Facebook updates, ET, Malema, vriende en relevansie

April 6, 2010

Op Facebook ontdek ek toe Eugene Terre’Blance is vermoor.  Een van my ‘vriende’ wil hê ek moet by ‘n groep aansluit wat dit gaan ‘wreek’ of iets in daardie lyn; ons blankes moet almal saamstaan, ens. ens.

Aanvanklik pla dit my dat iemand sal dink ek sal by só ‘n groep wil aansluit. Nog een persoon nooi my uit om by ‘n soortgelyke groep aan te sluit. “Ken hierdie mense my nie?” wil ek vir die wêreld skree.

Dis die laaste uitnodiging wat ek ontvang. Ek het nie ‘n SMS 2-uur die oggend ontvang om my van die gebeurtenis in te lig nie; ek het ook nie ‘n SMS ontvang met een of ander belaglike aanbod van 2 miljoen rand om Julius Malema uit die weg te ruim nie.

Hier en daar brand daar nog vure op Facebook se status updates. Van my ‘vriende’ wat gal braak teen ons land en wat my net ontstel. Vir ‘n ruk oorweeg ek dit om my status update iets in die lyn van die volgende te maak:

Hierdie is nie ‘n waarskuwing nie; net ‘n blote stelling. As jou Facebook status enigsins ‘n rassisties kleur het, gaan ek jou van my Facebook vriende verwyder.

Sou wraggies woord by daad ook gehou het. Dink nou egter anders daaroor. Dit pla my dat so min mense my genooi het om deel te word van hulle ‘aksies’. Nee, eintlik pla dit my nie soveel nie. Die vraag is net – hoeveel relevansie het ek as mense my nie na sulke goed wil uitnooi nie? Leef ek net in my wêreldjie, omring deur my enersdenkende vriende, en ons sê maar net dieselfde goed vir mekaar wat ons eie verstaan van die wêreld net nog meer versterk?

Ek gaan nie daardie vriende van my van Facebook af verwyder nie. Die kans dat hulle my oortuig om enigsins soos hulle te dink, is baie skraal, as ek eerlik moet wees. Dalk geld dieselfde vir my kanse om hulle oor te haal om soos ek te dink. Die probleem is net – dalk verloor ek heeltemal betekenis vir almal; veral as ek nie meer bereid is om te luister wat ander sê nie. Dalk, net dalk, luister iemand wat ek ook sê.