“Hy het sy geloof verloor …”

September 1, 2010

Ek glo nie mens kan geloof vasvat in een definisie nie. Immers, geloof is dit wat ons nie kan sien nie (Heb 11:1), so hoe sal ons nou in elk geval daaraan kan vat? Selfs al praat ons van ‘n tasbare geloof. Geloof om uit die bootjie te klim … of binne die kas te bly? Dis deesdae maar troebel water daarbuite!

Alle grappies op ‘n stokkie. Ons sukkel om geloof in ‘n definisie oor te sit. Dit pla my veral wanneer ek ‘n stelling hoor soos: “Hy het sy geloof verloor.” Vandag wil ek maar net oor een aspek daarvan praat – deels deur die Anne Rice geloof-debakel ontketen. Die probleem wat ek op die tafel wil sit: ons verstaan geloof in ‘n heeltemal te kleine sfeer. My invalshoek is in die vorm van ‘n vergelyking: ons verstaan van geloof is soos seewater wat verdamp het, en waarvan net die sout nog agterbly. (Nota: ek skryf as ‘n lid van die NG Kerk, in Suid-Afrika; ek wil net solank hierdie punt duidelik maak – dit sal later duidelik word waarom.)

Wat beteken dit om te glo (ingeslote natuurlik Heb 11:1, maar ek vra die vraag ‘n bietjie wyer)? Baie mense sou ‘n lysie daar stel: as mens in hierdie dinge glo (daar is ‘n God; Jesus is God; Jesus het gesterf en het opgestaan) en ook dan vertrou op God – dit is geloof. Kom ons noem dit die sout van die seewater. (Vir my gaan dit in elk geval in ‘n groot mate oor vertroue eerder as ‘n wete.) Goed, hoe jy hierdie dinge verstaan kan verskil van hoe ek dit verstaan – maar dis nie waaroor ek vandag wil praat nie.

Ek wil vandag oor die water praat.

Die water in ons seewatermengsel is iets wat die hele storie aan mekaar bind. Dit is iets waarin die sout ook – laat ek dit nou al solank uitwys – oplos. Vir alle praktiese doeleindes word al die deeltjies sout met behulp van al die deeltjies water aanmekaargehou en aan mekaar verbind. (Ja, ja, ek weet … chemie was nog nooit my sterkpunt nie, maar hierdie is ‘n metafoor!)

Die water, dink ek, is die geloofsgemeenskap. Geloof is eintlik ‘n baie minder private ding as wat ons dit altyd wil uitmaak. Ja, dis belangrik dat jy jou geloofsissues vir jouself uitsorteer: maar indien jy in ‘n geloofsgemeenskap is, word hierdie issues baie minder belangrik. Minder belangrik in die sin dat die hele geloofsgemeenskap nou dit dra – en dat almal by almal ingeskakel is. Om so daaroor te dink, lei tot ‘n baie voller verstaan van geloof: dan praat ons ook van ‘n geloof in ‘n gemeenskap, en nie van ‘n enkele persoon nie. Dan onthou mens ook dat geloof altyd gedeel word.

Twee hedendaagse voorbeelde – en vergewe my as ek hier op tone trap – is die Rooms Katolieke Kerk en die Joodse gemeenskap. Indien ons as Protestantse (Evangeliese?) Christene ons op-die-individu-gerigde definisie van geloof sou gaan toepas op hierdie twee gemeenskappe, sou ons vinnig kon vasstel dat daar heelwat mense is wat “hul geloof verloor het.” Veral die Joodse gemeenskap – soos ek dit nou verstaan, natuurlik. Nogtans skakel hierdie mense sonder teenkanting, maar ook vrywillig, in hulle onderskeie geloofsgemeenskappe in; beskryf hulle hulself as deel van hierdie gemeenskappe. Die gemeenskap aanvaar hulle en wys hulle ook nie op ‘n harde, jy-is-in-of-jy-is-uit manier tereg nie; oftewel, nie sover ek kan agterkom nie.

In dieselfde asem moet ek daarop wys dat ek nie geloof met kultuur wil vervang nie. Die doel van my skrywe is eerder om daarop te wys hoe nou geloof en gemeenskap met mekaar verbonde is; tot so ‘n mate dat ons moeilik ‘n stelling kan maak soos: “Sy het haar geloof verloor.” Inderdaad, dit kan ons nie sê as “sy” dan nog deel van die geloofsgemeenskap is nie, of hoe?


Taal en mag (Duits, Afrikaans en Ingels)

Augustus 30, 2010

Ek is lief vir Afrikaans – dit sit in my murg. Êrens het die mite in my agterkop kom lê oor wat die Ingelse oor Afrikaners in die Anglo-Boereoorlog gesê het:

as hulle van hul ouers by geboorte geskei word, sal hul nog steeds Afrikaans sonder moeite kan praat.

Dié storie oor die Afrikaanssprekendes se taalvermoë is seker nie heeltemal waar nie, maar tog gl‎ý die mens se moederspraak eenvoudig oor sy tong. Dit help baie met die Duits wat ek tans leer – in sekere opsigte gaan dit soos stroop af; tog is daar tye wanneer ek dit nie heeltemal snap nie. Meeste van die tyd verstaan ek darem alles van die hogere Duits wat almal veronderstel is om te praat, maar die vashaakpunt is om self geboorte te gee aan ‘n ou sinnetjie of twee. Mens is eenvoudig net nie seker waar kom al die ekstra “sch, e, en, en er” klanke nie. Ek is so selfbewus hieroor dat ek partykeer nie eers waag om mense aan te spreek. Byvoorbeeld: ek betaal 2 Euro 50 vir ‘n sitplek te bespreek op die trein. Kom ek by my plek aan, en jou wraggie: daar sit Duitse kind. Ek kan ‘n situasie verdydelik, maar ek is bang ek is nie hoflik genoeg nie – en wat as die sitplekdief begin stry? ‘n Sekere groep van mense wat hierdie blogpost lees sal met my kan identifiseur: Afrikaanssprekendes wat, so lui spreekwoord, mos net Engels uit selfverdediging praat. Dis meer of min tans gelyke van mei Duitser taalvermoëns.

Ja, ek lief vir Afrikaans – hy sit inderdaad in my murg. Probleem is echter wanneer hierdie taal (enige taal) ‘n wrang smakie daar voorlaat: wanner hiri taal ‘n maginstrument word.

Ek dink an hoe mens wat goed vertroud is met die voerspraak – of groep mense –  dit hele vergadering kan domineer of plus manupileer.

Ek dink hier omwilekeerig aan dinge waarop mense gedwing is om in Afrikaans onderrig te neem – en se ook aan te leer.

Op hoe mense ‘n sleg vertroudheid oor taal gelykstel met ‘n onvermoëns om tedink.

Voorbeelde vertwee in kop van my as my hieroor nadink. Vakterminologie – medies termes, regstermen, reknaarterme, mense politiek praat terme vermeer – sukke woorde goed wat Jan Alleman vêrstaan uitslyt.

Sake mense uitsluit van om selfs blogpost hierdie lees te kon; uitdrukkings van klank soos “Jan Alleman.”

Terme dinge oor God praat.

Ek verstaan hoe taal mense soos deure oop- en toe-, in- en uitsluit. En ek verstaan mense ‘n bietjie beter.


Kaleidoskoop, mosaïek of verkleurmannetjie op ‘n smartiebox – hoe lyk ‘n multi-kulturele erediens?

April 1, 2009

Marcel Barnard praat van “bricolageliturgie”. Sommige kerke verwys na ‘n “mosaïek”. Iemand het al êrens melding gemaak van ‘n kaleidoskoop. Al hierdie is maniere om van ‘n erediens te praat wat uit verskillende kleure, geure en klanke – verskillende geloofstradisies – aanmekaargeweef is. Verskillende kleure? Verskillende geure? Verskillende klanke? Dis nou juis my probleem: dit voel vir my of al hierdie beskrywings eintlik maar nog steeds twee-dimensioneel is; of dit uit dieselfde kultuur kom (en jy is welkom hier, solank jy jouself kan aanpas om by hierdie kultuur in te skakel) en of dit eintlik maar nog ‘n mono-kultuur is, waarvan die liturgie net wyd uiteenlopend is. Veral hier in smartiebox Suid-Afrika … 

Daar is twee goed, op die oog af, wat verhoed dat mens ‘n ordentlike, drie-dimensionele, multi-kulturele diens kan hê. Dit word natuurlik as ‘n verskoning gebruik in baie kerke (onder andere ‘n sekere volkskerk): taal en musiek. Musiek is mos in elk geval ‘n probleem, ons sukkel om ons mono-kultuur eredienste se nate bymekaar te hou. Dis nou as gevolg van die onderskeie subkulture wat soos olie en water meng. Nogtans, ons het nie eers begin om die volle impak van die verskil in musiek tussen kulture aan te spreek nie.

Taal skep natuurlik glad nie so groot probleem as wat party mense dink nie. ‘n Tolk is eintlik nie so steurend nie – meeste mense bly nog steeds 7de Laan kyk – en Engels – as party mense net hul nukke sal los – is ‘n bruikbare common denominator (gemene deler – sien, dit was nie so moeilik nie!) 

‘n Derde noemenswaardige ding, is dat baie kerke dienste het in verskillende tale. Ag, hoe pragtig! Hoe wonderlik! Solank ons net nie die kerkgebou op dieselfde tyd moet beset nie, o weë! Dit gaan nou nogal bereidheid en ‘n sekere stuk opgawe verg om hierdie dienste bymekaar te gooi.

Natuurlik is hierdie lang relaas wat ek nou net gevoer het, vanuit my perspektief (dit van die NG Kerk?) gesien. Daar is hordes gemeentes wat elke Sondag multi-kulturele dienste het – ek dink byvoorbeeld aan ‘n klein gemeente in Mamelodi – daar is verskeie tale en kulture teenwoordig! Ek kan egter die NG Kerk gemeentes wat so kerk hou, op my een hand se vingers tel. Dalk is dit beter om hulle hier op die blog te tel:

NG Riviera. Hulle het nie elke aand saam diens nie – daar is ‘n Afrikaanse diens en ‘n Engelse diens dieselfde tyd, maar soms gooi hulle die twee saam. Ek was juis hierdie Sondag in so ‘n gesamentlike diens – en het baie daarvan gehou. Die prediker het in Afrikaans gepreek, maar die Engels het op die projektorskerm verskyn. Daar is in Afrikaans en Engels gebid (en gesing), en die liturgie is in altwee tale hanteer. Natuurlik kan mens hierdie hele gedoente nog meer verfyn – maar ek dink dis ‘n stappie in die regte rigting.

Andrew Murray – gemeente. Alhoewel ek nog nie self daar was nie, en ek vermoed hulle in elk geval net in Engels ‘n diens het.

Dalk verraai ek nou my onkunde, maar dis waar my lysie stop. Ek besef ook dat my post nie regtig enige vrae antwoord nie. Miskien is dit eerder ‘n aankondiging dat ek oor hierdie sakie dink, en ‘n uitnodiging vir enigiemand anders om saam met my daaroor te dink. Hoe lyk ‘n multi-kulturele erediens? Kan ons dalk by die vroeë kerk gaan leer? Grieke en Jode? Olie en water?