Knus kussings en klipharde klippe

February 8, 2010

Jy – ja jy! Jy kan my help om ‘n boodskap te bring by ‘n Bybelstudiegroep. Hier is die dele waaroor ek gaan praat; my eerste gedagtes daaroor; en die vraag wat ek gaan vra. Die mense by die Bybelstudie is almal 45+ en het al baie lewenservaring. Eintlik wil ek hierdie hele ding benader deur vir hulle te bring wat ek kan (naamlik, eksegese en agtergrondinligting oor hierdie twee stukkies uit die Bybel) en dan te luister wat hulle vir my kan sê hieroor. Ek wil ook graag hoor wat dink jy daarvan? Altwee die dele hier onder is aanhalings uit die Nuwe Afrikaanse Vertaling (1983):

Psalm 131

Selfverheffing en hoogmoed is daar nie by my nie, Here. Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie, dinge wat bo my vermoë is.

Ek het rus en kalmte gevind. Soos ‘n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind.

Wag op die Here, Israel, nou en vir altyd.

‘n Paar goed wat opval hier: in Hebreeus is “selfverheffing” en “hoogmoed” letterlik “my hart is nie verhoog nie” en “my oë is nie omhoog nie”.

Die “besorg” deel is ook die woord vir “loop”; “rus en kalmte vind” is dan “tot stilstand kom” – so hierdie twee goed word baie sterker in Hebreeus teenoor mekaar gestel.

“Kindjie by sy moeder tevredenheid” – dis in Hebreeus “soos een wat gespeen is teenoor sy ma” – en die tweede deel dan “so is my siel gespeen teenoor my.” Ek weet nog nie lekker wat om hiermee te maak nie.

Hierdie is ‘n baie mooi psalm, nê!

Matt 8:18-22

Toe Jesus die menigte mense rondom Hom sien, het Hy opdrag gegee om na die oorkant toe te vertrek. ‘n Skrifgeleerde kom toe nader en sê vir Hom: “Meneer, ek sal u volg waar u ook al gaan.” Jesus sê vir hom: “Jakkalse het gate en voëls het neste, maar die Seun van die mens het nie eens ‘n rusplek vir sy kop nie.” Iemand anders, een van sy dissipels, sê vir Hom: “Here, laat my toe om eers terug te gaan en my pa te begrawe.” Maar Jesus antwoord hom: “Volg My, en laat die dooies hulle eie dooies begrawe.”

Hierdie is harde woorde – maar waarskynlik soos die lewe van Jesus en sy dissipels was.

Vraag

Hierdie twee dele in die Bybel wys vir ons twee maniere uit waarop ons dink oor godsdiens – en oor God. Die een manier is om te dink aan God as Iemand by wie ons rus vind; woorde soos knus, snoesig en warm kom by mens op. Die misterie-deel van ons geloof klink baie soos hierdie – om in God rus te vind.

Die tweede manier is dat dit ‘n harde paadjie is – dat ons vervolg word – dat ons juis nie rus vind nie – dat ons eintlik alles wat ons het moet prysgee. Dis te maklik om te sê dis cool want ons vind mos ons rus in God; of so dink ek.

Die vraag waarmee ek nou sit is dit: hoe bring mens hierdie twee by mekaar uit? Om regtig te kan sê ek vind my rus in God, maar tegelyk ook te weet hierdie is ‘n harde lewe?


God – respek – mense

February 7, 2010


“Respect only God.”

Drie woorde op ‘n bumper sticker. Mens kan die onder andere die volgende groepies maak daarmee:

Respect God.

So op die oor af klink hierdie nie te sleg nie.

Only God.

Ruik ook nogals aanvaarbaar. Helaas, klink nogal soos iets wat die vroegste hervormers sou sê.

“Respect only God.” Dis snaaks hoe goed wat mens êrens gehoor het vir mens kan begin goed klink. Hierdie stelling klink reg, want die twee dele waaruit dit bestaan – “respekteer God” en “slegs God” klink vir ons reg.

Beteken dit egter ook dat mens nie ander mense moet respekteer nie? Dat jy maar verby hulle kan kyk, solank jou saak met God reg is? So ‘n stelling kan maklik “mense” losmaak van God.

Een van die hartkamers van my geloof klop egter nie hiermee nie – een wesenlike deel van wat ek glo – wat, as mens dit sou uitruk, my geloof eintlik dood sou laat: ek dink eerder die volgende stelling is waar:

“God respects people.”

Daarom kan ons nie help om ander mense te respekteer nie – as ons hart met die hartklop van God praat.


Wonderwerke en getuienis

Januarie 29, 2010

“Daar is geen manier dat enigiemand so ‘n ongeluk kan oorleef nie. Almal in die kar moes dood gewees het toe die bakkie daardie aand in ons vasgejaag het. Daar is net geen manier dat die spoed waarteen hy ons getref het nie ons almal se dood veroorsaak het nie. Dit moes ‘n wonderwerk gewees het. God is groot!”

Dis nie die eerste keer dat ek ‘n getuienis hoor nie. Ongelukkig, moet ek effens bieg. Daar is iets van dieselfde inhoud aan meeste getuienisse, ‘n geheue, ‘n wrang déjà vu. Meeste getuienisse veronderstel ‘n wonderwerk. God gryp op ‘n bonatuurlik wyse in die lewens van mense in; beskerm hulle van doodsgevaar; genees hulle op ‘n wonderbaarlike wyse.

Dalk trek dit juis my aandag omdat ek dan sit en dink aan juis elke keer wat God dan so te sê nie ingegryp het in mense se lewens nie.

Die bakkie het geslinger – eers regs, toe links, toe weer regs – en elke verwoede draai het dit al hoe nader aan hul kar gebring. Die pad was nat – dit was natuurlik moeilik om beheer oor die bakkie te hou. Heeltemal te moeilik. Die twee jong mans en die meisie in die kar is op slag dood. Daar was in elk geval geen manier dat enigiemand so ‘n ongeluk kon oorleef nie.

Beteken dit dan dat God in hierdie tweede voorval nie kon of wou gehelp het nie? Of dat Hy die groot Puppetmeischter is wat toutjies trek en so oor ons lot beskik?

Wonderwerk-getuienisse (die oorgrote meerderheid van getuienisse) ontstel my want dit veronderstel ‘n God wat meestal ver en afwesig is. Dit ontstel my want dis hoe die grootste groep Christene oor God dink – dat Hy van êrens af bonatuurlik ingryp in ons lewens – maar net partykeer.



1 of 2 of meer (en nog meer oor gebed)

Januarie 20, 2010

Hierdie is die tweede post in die beloofde reeks oor gebed. Ek weet jy kon nie wag om dit te lees nie; ja, jy, enkele leser van hierdie blog! Die vorige keer het dit gegaan oor ‘n gebedstipe; hierdie keer gaan dit oor ‘n paar gebedstyle. Die verskil tussen die twee is dat gebedstipe eintlik die genre van die gebed is (die “wat” – of die inhoud) terwyl gebedstyl die manier is waarop gebid word (die “hoe”). Mens kan die twee op verskillende maniere meng om verskillende kombinasies te kry: ai, is keuses darem nie wonderlik nie.

Gebedstyl 1: Die Sirkelgebed / kettinggebed

So, daar staan ons nou almal in ‘n sirkel. Ons almal weet ‘n sirkel het nie ‘n begin en einde nie, so as iemand begin bid en dan maak ons almal mooi beurte soos ons op skool geleer het tot dit weer die eindpunt bereik. Soos ‘n elektriese stroom.

Gebedstyl 2: Die “Popcorn” gebed

Ons almal staan in ‘n kring en dan bid ons lukraak. Soos springmielies. Hierdie styl van gebed kan sommige mense op hul senuwees maak, want hulle wil graag weet waar om in te val.

Gebedstyl 3: Die Gemengde gebed (ook bekend as Gerrie Gereformeerd se Grootse Nagmerriegebed)

Sommige gemeenskappe verkies om in ‘n groep bymekaar te kom en dan almal gelyk – en hardop – te bid. (Dit is die moeite werd om oop-oë in so ‘n gebed in te gaan as daar nuwelinge is wat dit nie vermoed nie. Keer net jouself om nie dan hardop te lag nie; al is almal redelik op hul eie gebed gefokus gaan iemand jou uitvang.)

Gebedstyl 4: Die Groepleiergebed

In ‘n sirkel, in ‘n vierkant, in ‘n bus, in ‘n skoolsaal; op baie plekke kies mens soms iemand om ‘n hele groep mense voor te gaan in gebed.

Gebedstyl 5: Die Binne-jou-hartjie-gebed

Hierdie gebed is die gebed wat mens alleen in jou kamer bid. Nie omdat jy skaam is nie, maar bloot omdat jy die hele bid-affêre as ‘n privaat ding tussen jou en God sien. Goed dan, vir party mense is dit omdat hulle skaam is.

Gebedstyl 6: Die Hardop-alleen-(as iemand jou nou kon hoor dink hulle jy’s mal)-gebed

Dit klink vreemd; hoekom sal mens hardop bid as dit net jy is? Wel, in die antieke wêreld was dit redelik algemeen gewees om hardop te bid, selfs al is jy alleen. Plus, dit kan mens help om te fokus en die realiteit ook te ervaar van dit wat mens bid; dus is dit nie ‘n te slegte idee om wel van tyd tot tyd hardop te bid nie.

Ons los die gebede wat 2 mense saam bid – en die maniere waarop mens staan / sit / lê / kniel / uitstrek en die ander gebedstipes maar vir ‘n volgende keer.

Op nog ‘n ander keer sal ons ook ‘n bietjie gesels oor hoekom mens saam bid / alleen bid; waarom mense soms skaam is om te bid; ens.


Laat ek U iets leer, Vader: “lerende” gebed

Januarie 17, 2010

Dit is moeilik, ek weet. Veral as jy jou oë toemaak. Veral as dit ‘n laaange is, en die voorganger se stem boonop klink soos die gedreun van ‘n honderd swerms rysmiere. Goed dan, partykeer klink dit meer soos die dawerende eggo in Plato se grot – wat net weereens bevestig dat jy (semi-)bestaan. Mens kan maklik verlore raak in ‘n gebed. Daarom dink ek dis dalk ‘n goeie idee om ‘n gids tot die kleur en geur van gebed op te stel – ‘n A-Z van gebed. Hierdie blogpost is my eerste gedagtes daaroor. Lees gerus, en kyk of jy dit volgende keer kan uitken – veral as jy self bid.

Gebedstipe 1: Lerende (“didaktiese”) gebed

Hierdie tipe gebed is seker die tipe wat my die meeste irriteer. Dit help natuurlik nie dat ek dit self oor en oor doen nie. Dis nou wanneer ‘n gebed min of meer so opgesom kan word:

“Liewe Here, U het my preek gehoor. As ek dit weer kan opsom, daar was drie hoofpunte.”

Dis wanneer dit klink asof iemand iets vir God wil leer – maar dit eintlik vir die omstanders bid. Luister bietjie, jy gaan hierdie een gewoonlik na ‘n preek hoor; of miskien in ‘n gebedsgroepie waar iemand “Skrif” wil gebruik in ‘n gebed. Dan kan dit dalk ook so klink:

“U weet, Here, dat U in u Woord gesê het …”

Die persoon wat bid maak asof s/hy met God praat; maar die harde feite is dat s/hy eintlik net iets wil oordra aan die mense wat na die gebed luister. Mens sou kon dink hierdie is nogal ‘n nuttige stuk gereedskap in enige prediker se gereedskapskissie; maar dis eerder ‘n red herring; ‘n foefie; iets wat die aandag van die saak aflei. Watter nut het gesprek met God as mens nie regtig met Hom praat nie?


MNET gee om – en Jesus ook!

Januarie 4, 2010

“JESUS CARES!”

skree die teken vir my. Baie vlugtig, want teen 120km/h gaan sulke dinge nogal gou verby. In die truspieëltjie sien ek aankomende motoriste word ook van hierdie inligting vergewis. Baie strategies, hierdie driehoekige teken. Soos ‘n tweesnydende swaard.

Die vertaler in my kop skop onmiddelik in werking. (Pretoria is nog ver, OK, en die liedjies op my iPod – want my kar se radio werk al jare lank nie – het ek al suf geluister, so nee, daar is niks anders om te doen nie.) Jesus gee om.

Laat mens nogal dink aan daardie ou sêding:

“Bel vir MNET. Hulle gee om.”

Die verskil tussen die twee: eersgenoemde sê mense met ‘n ernstige gesig (nee, ek bedoel nie vroom nie, alhoewel dit ook in my storie sou inpas) en laasgenoemde weet almal is (meestal) net ‘n grap.

Die ooreenkoms: as iemand nie kan VOEL en kan SIEN dat Jesus omgee nie, kan eersgenoemde ook maar ‘n grap wees. En dan is dit nie eers ‘n baie snaakse een nie.

Bel vir Jesus, Hy gee om!

Dis jammer dat dit is wat ons baie keer baie hard sê – met ons DOEN. Met die mond bely ons (ook nie altyd nie – woorde kan ook DOEN wees), en met die hande vergryp ons.

My punt? As ons nie omgee nie, kan ons eenvoudig nie sê Jesus gee om nie. Dan is Jesus en sy beweerde omgee ‘n vae skimmebeeld in ‘n verafgeleë land wat absoluut zokol betrekking het op die lewe. Nope, Jesus se omgee moet deur ons omgee praat.

P.S. Ek weet glad nie wat doen die gemeente wat hierdie teken opgesit het nie. Dit kan dalk wees dat hulle wonderlike werk doen en regtig mense laat VOEL en SIEN dat Jesus omgee. Indien dit so is – great stuff! Alhoewel ek dalk sou vra of die teken regtig effektief is, spreek ek nie kritiek uit teen die gemeente as sulks nie. Dit het my net ‘n bietjie laat dink.


‘n Storie oor Jesus – Markus 8 as dit vandag sou plaasvind

December 31, 2009

Hier is my sondebelydenis vir 2009: hoe Markus 8:1-9 in vandag se taal sou klink. Dis bietjie oorgeskryf van die ‘83 vertaling – spelfoute is myne :o )

In daardie selfde tyd was daar weer ‘n keer ‘n groot klomp mense by Jesus, en hulle het niks gehad om te eet nie. Hy roep toe sy dissipels nader en sê vir hulle: “Ek kry hierdie mense innig jammer, want hulle is nou al drie dae lank hier by My en hulle het niks om te eet nie. Kom ons leer hulle om brood te bak, sodat hulle nie langs die pad beswyk nie. Immers, gee iemand ‘n brood, en hy eet vir ‘n dag; leer hom hoe om brood te bak en hy eet’n leeftyd. Ons kan hulle sommer leer visvang ook.”

Maar die dissipels sê vir Hom: “Moet ons nie darem eers eet nie? Ons moet darem eers na onsself kyk, dan kan ons dit wat oor is uitdeel. Netnou beswyk óns!”

Hy vra hulle toe: “Hoeveel brood het julle?”
“Sewe,” antwoord hulle.
Toe gee Hy die mense bevel om op die grond te gaan sit. Nadat Hy die sewe brode geneem en God gedank het, het Hy dit gebreek en vir sy dissipels gegee. Hulle het smullekker geëet. Daar was selfs vissies sodat hulle nie die brood so droog hoef af te gesluk het nie. Hulle het geëet en genoeg gekry.
Daarna het hulle die mense geleer hoe om brode te bak en vis te vang. Hy het die mense toe huis toe gestuur. Hulle kon nou vir hulself sorg – leeglêery is immers die duiwel se oorkussing.

Mag ek in 2010 anders dink en meer van myself gee.


Kerk op die internet?

December 23, 2009

Is daar ruimte vir kerk op die internet? Dis ‘n vraag wat ‘n paar van ons al op Google Wave onder die vergrootglas gehad het. My kort antwoord hierop is “nee”. Tot onlangs toe kon ek egter nog nie my vinger plaas pop juis wat dit is wat my daarvan pla nie.

Ek dink die probleem is gemeenskap. Ons siening van kerk en hoe om kerk te wees, dink ek, is heeltemal te veel informasiegedrewe. Dink ‘n bietjie daaroor. Om net eredienste as voorbeeld te gebruik (want daar is baie ander manier om “kerk te wees”): Mense stel baie maklik ‘n erediens aan ‘n preek gelyk – m.a.w. “die diens was vandag goed gewees” = “die dominee het vandag mooi gepreek”. Ja, miskien ook ‘n bietjie van hoe die inligting oorgedra word (“mooi gepreek”). Hoofsaaklik, egter, wat oorgedra word.

Dis natuurlik nie nuus nie. Wat ek egter nou hier wil sê, is dat hierdie informasiegedrewe verstaan van wat die kerk is, ook oorgespoel het in hoe ons daaraan sal dink dat kerk op die internet moet wees. Dink byvoorbeeld aan echurchalhoewel hierdie oordra van inligting ‘n baie nodige (en nuttige) ding is, voldoen dit nie aan wat ‘n kerk moet wees nie – of wat ‘n erediens moet wees nie. Net so is daar baie ander informasiegedrewe inligting op die internet beskikbaar – podcasts, video’s en ander blogs. Gewoonlik is hierdie egter net die preek – nie eers die hele erediens nie!

Nou is ek seker ‘n bietjie hard op die internet. Die koms van Web 2.0 het natuurlik vir ons die geleentheid gebied om te antwoord in ‘n gesprek – en so dit eintlik regtig ‘n gesprek te maak. Ek sal dit egter waag om te sê hierdie is ook meestal gegrond op inligting. Dit gaan nog steeds oor die wat van die gesprek.

Aan die einde van November het ek die voorreg gehad om saam met ‘n Amerikaanse familie Thanksgiving te vier. Die meisie wat my genooi het, het voor die tyd vir my verduidelik wat ek verwagte kan wees. Op ‘n punt het sy min of meer die volgende gesê:

After lunch, we just sit around and enjoy each other.

Mens sou natuurlik verwag “enjoy each other’s company” – maarbogenoemde is wat sy gesê het, en dit het soveel meer trefkrag. Daar is iets daarin om soms net bymekaar te wees, selfs al doen mens niks – al sê mens niks.


Die effens (a)nostalgiese einde van nog ‘n era – die kommunelewe

December 14, 2009

Dit is nou 8 jaar lank dat ek saam met ander mense in kommunes nes moes skrop. 2 jaar lank in ‘n woonstel; 2 jaar lank in ‘n huis in Beckettstraat; ‘n verdere 4 jaar by my huidige adres – Huis Amperdaar (of in die volksmond, Prozza; Die Kommune; of selfs net Die Huis – byvoorbeeld: “ek is by die huis.”). Dit was nie altyd maklik nie. Inderdaad, ‘n minder geharde introvert of ‘n meer fynbesnaarde mens sou lankal al moed opgegee het.

Ek gaan nie die berge skottelgoed mis nie.

Ek gaan nie die laataandpartytjies of bewegings in die huis teen 4 uur die oggend mis nie.

Ek gaan nie die gedeelde badkamer mis nie – alhoewel hierdie darem die minste van my probleme was.

Ek gaan nie die TV wat soms kan blêr terwyl mens dringend slaap of studietyd nodig het mis nie.

Ek gaan nie die lae vlakke van sekuriteit mis nie.

Ek gaan nie gespanne verhoudings tussen kommuneburgers mis nie.

Daar is darem goed wat ek gaan mis ook.

Ek gaan ons pragtige tuin mis – ons kaggel - ons houtvloere - ons moerawiese kombuis - ons afdak in die tuin.

Bo dit alles gaan ek die mense hier mis. Nie dat ons mekaar nooit weer gaan sien nie – die lewe loop in elk geval mos snaakse draaie met ‘n mens. Van daardie draaie het vir ‘n tyd lank ons spul laslappies bymekaargeboender om ‘n baie spesiale dinamiek te vorm. Deur die jare het dit verander – vriende het gekom en gegaan – maar dit was altyd uniek. Dat soveel enersdenkende dog uiteenlopende mense vir ‘n tyd lank op so ‘n wyse bymekaar kon kom – dit is iets besonders.

Inderdaad sou ek nie huiwer om ons as ‘n familie te beskryf nie. En dit - dit gaan ek mis.

Totsiens Prozza!


Buite blink en binne stink?

November 13, 2009

Onlangs in ‘n erediens is daar in die agtergrond – terwyl die preek aangegaan het – teen die skerm kort boodskappe geflits van hoe “mense” die kerk sien. Dit wat die kerk verkeerd doen is op ‘n rooi skerm geprojekteer, dit wat die kerk reg doen op ‘n blou skerm. (Ek vermoed dis die erediensgroep wat die lyste saamgestel het – maar dit kon dalk ook meer mense as die erediensgroep se opinies gewees het.)

Dit wat my die meeste getref het, is dat die rooi boodskappe oorwegend dinge is wat binne die kerk gebeur, terwyl die blou boodskappe goed is wat die kerk as ‘n institusie doen en wat dus eintlik buite die dag-tot-dag bestaan van die “gewone” lidmate van die kerk plaasvind.

Byvoorbeeld:

Rooi: die kerk is skynheilig – dus, die mense wat kerk toe gaan is skynheilig.

Blou: die kerk rig kinderhuise op – dus, ons gee almal geld en betaal dan iemand om namens ons ‘n kinderhuis op te rig.

(Nou knyp ek maar my oë toe en hou duim vas, want ek is kleurblind, en hierbo is vir al wat ek weet dalk groen en pers.)

Dis ‘n groot verskil. Dis amper asof daar ‘n middellyn is wat die twee kante netjies kan skei. Aan die een kant staan die lidmate van die kerk en gooi al hul verantwoordelikheid soos ‘n sak silwermunte op die bietjie mense wat aan die ander kant van die lyn staan.

Verstaan mooi, ek sê nie ons moet ophou om die institusionele projekte van die kerk aan te pak nie. Maar solank daar hierdie onderskeid is tussen ons (die “gewone lidmate”)-hulle (die mense wat betaal word om goed te doen), selfs al is hierdie onderskeid net in hoe ons dink daaroor, is ons eintlik nie besig om regtig die evangelie te leef nie. Dan is die kerk maar eintlik, selfs al doen dit baie goeie goed daarbuite, buite blink en binne stink.

Hier sluit my selfpreek af. Ek gaan bietjie probeer kerk wees aan altwee kante van die lyn.