‘n Vriend van my, wat (onder andere) hier blog, doen navorsing oor Fokofpolisiekar. Meeste mense weet dit nie, en ek vermoed sal dit ook nie sommer raai nie, maar ek het meer as die helfde van my MDiv skripsie met Fokofpolisiekar in die agtergrond (en BAIE koffie) geskryf.
Hulle is eenvoudig net een van die groepe wat die beste musiek – musikaal, bedoel ek nou – in Afrikaans maak. Ek vermoed dit is die hoofsaak hoekom baie mense na hulle luister. Inderdaad, ek is nie so seker of almal noodwendig hulle boodskap snap nie – vergelyk byvoorbeeld hierdie lirieke van Hemel op die Platteland wat ek op die internet gekry het (sal maar eerder nie sê waar nie):
Kan jy my skroewe vir my vasdraai?
Kan jy my albasters vir my find?
Kan jy jou idee van normaal
By jou gat opdruk?
Kan jy?
Kan jy Aberdeen spel?
Ironies dat die ou nie “vind” kan spel nie – of ten minste nie gesien het dit is verander deur ‘n woordverwerker nie. Nog meer van ‘n ironie dat die woord “a-p-a-t-i-e” nou vervang is met “Aberdeen” – wat beteken die hele punt van die liedjie is gemis.
Hemel op die platteland is een van die groep se ouer liedjies. Dit bevat natuurlik ook hierdie opspraakwekkende gedeelte:
Kan iemand dalk ‘n god bel
En vir hom sê ons het hom nie meer
Nodig nie
Kan jy -
Kan jy apatie spel?
Ek dink hierdie is ouens wat erg ontnugter is – deur die kerk; deur die samelewing waarin hulle grootgeword het. Ek dink hulle is ouens met diep insig.
Ek dink ook hulle is verkeerd.
Hulle lewer egter sosiale kommentaar wat mens nie sommer kan miskyk nie. Sosiale kommentaar – en kommentaar op die kerk – wat ek hoop op een of ander tyd deur alle teologiestudente in die gesig staar word. Ek gaan nie alles in hierdie een post kan aanraak nie. Ek kan maar net hier en daar so losweg vat. Die volgende deel uit Lugsteuring, byoorbeeld, het my veral aangegryp:
Ek wil net nie verkeerd wees in
hierdie lewenslang kleedrepitisie nie
Is die monster wat jou jaag
emosionele progressie?
Is jy die enigste vyand van
spirituele tegnologie?
Ons oë is vervang met skerms
en ons siele met prentjies van die see
Nou, ek vermoed ons het hier te doen met ‘n erediens. Dink mens kan dit sien in die res van die liedjie ook. Dink dis nogal baie raak. Die hele “kerk-toe-gaan” ervaring het mos tot ‘n groot mate ‘n toetssteen geword vir mens se geloof. Dit spreek van onegtheid – iets wat mens gerus uit jou geloof uit kan sny.
Terselfdertyd, dink ek, is hierdie ouens bewus van iets groters, selfs al kies hulle om dit mis te lees. Ja, hulle wil die Greep van Geloof afgooi. Maar waarmee sit mens dan? Ek dink mens kan dit gerus die Intense Leegheid van die Siel noem. Kyk bietjie na hierdie aanhaling – al die lirieke van Tiny Town:
In wrede woede het ek die
hand wat beheer gebyt
Verwyt myself op harder en
harder grond neergesmyt
Dis nou ek wat die leiband lei
Te veel verskeur om sulke
argumente ernstig op te neem
Miskien is niks soos wat ek dink dit is nie
My greep op my geloof glip gereeld
My wonde wonder waar genesing kom vandaan
Soet slaap sonder sonde vanaand
Miskien is niks soos wat jy dink dit is nie
Jou greep op jou geloof glip gereeld
Jou wonde wonder waar genesing kom vandaan
Soet slaap sonder sonde vanaand
Hierdie liedjie het my aangespreek. Ek waardeer die eerlikheid daarvan – die absolute openheid. Ek betreur die feit dat die kerk nie ‘n oop genoeg ruimte – en ‘n veilig genoeg ruimte – skep vir mense wat sulke vrae wil vra nie. Die gevolg? Afgesien daarvan dat die idee van die kerk gesien word as iets met gesag wat op mens afgedwing word? Iets wat afgegooi moet word? Na my mening: mense wat verskeur word. Hierdie is goed waardeur ‘n mens moet worstel; maar daar is geen plek daarvoor nie. Hierdie is goed waarmee ek graag mense sou wou uitdaag; maar daar is geen plek daarvoor nie.
Anderkant die vermaaklikheidskerk en die Intense Leegheid van die Siel lê daar antwoorde. Graag sal ek mense daar wil sien aankom, maar dit moet nie geforseer wees nie. Sal ek Fokofpolisiekar vir mense aanbeveel om hulle hiermee te help? Nie sommer vir enigiemand nie. Vir teologiestudente – wel, miskien. Iets anders wat ek wel definitief vir teologiestudente sal aanbeveel is om Oppikoppi toe te gaan – sodat hulle kan leer van die wêreld, van liefde en aanvaarding. Ja, nie noodwendig om mense daar te gaan bekeer nie, maar net om bietjie waar te neem – en te leer. Plus, mens hoor dalk net ‘n bietjie goeie musiek ook. Dít is egter ‘n post vir ‘n ander dag.