My eerste volwaardige Duitse gedig: “Zwieback”

Mei 7, 2011

Hier is my eerste Duitse gedig (dis nou as mens nie Haiku’s tel nie) en ‘n vertaling daarvan:

Zwieback

Zwieback, o beskuit-gleichende Zwieback!

O, glorreiche Zwieback!

Ich werd’ dich konsumieren!

Auffressen wie ein TIER!

Verleih meinem Maul dein Geschmack!

Färb mein Mund mit deiner trock’nen Süßigkeit!

Mit deinem brockelenden Daseins verdeck mein Heimweh.

O, zauberhafte Zwieback!

“Zweiback”

Zwieback, o beskuit-soortgelyke Zwieback!

O, glorieryke Zwieback!

Ek gaan jou verorber!

Opvreet soos ‘n DIER!

Verleen my smoel jou smaak!

Verf my mond met jou droë soetigheid!

Met jou brokkelende daarwees – bedek my heimwee.

O, toweragtige Zwieback!

Kommentaar

‘n Paar verskynsels in die gedig verlang kommentaar. Die uitroeptekens aan die einde van bykans al die sinne dui op die spreker se nood en die drif waarmee die gedig uitgespreek word. (Dit kan inderdaad ook as ‘n operastuk gesing word.) Die enigste sin sonder ‘n uitroepteken is ook die crux van die gedig – die spreker vind uiteindelik berusting in die feit dat hierdie stuk Zwieback, al is dit net vir ‘n korte tyd, sy sinne gaan afstomp en hom so ‘n wyle gemoedsrus kan skenk. Dat hierdie die hoogtepunt van die gedig is, word ook aangedui deur die omgeruilde woordorde – die spreker breek vir die eerste keer met die reeds vasgestelde patroon, en die werkwoord vind eers aan die einde van die sin sy rusplek. Die “brockelende Daseins” (verbrokkelende daarwees) dui nie net op die tekstuur van die beskuit nie, maar tegelyk ook op die tydelike ineenstorting van die realiteit rondom die spreker, wat op die punt is om ‘n stuk Zwieback te verorber.


Drie dinge wat ek op my graf wil hê

April 12, 2011

As ek tot sterwe kom, moet julle asseblief drie goed op my graf(steen) sit:

‘n Dubbele inskripsie – in Grieks en Afrikaans: “ἐνθάδε καθεύδῃ Ῥονάλδος Hier slaap Ronald.“*

In Grieks, asseblief, om aan te dui dat ek deel vorm van daardie groep wat deur die eeue heen vashou aan die Christelike geloof. (Ja, en dit getuig so bietjie van my lewe ook.) Vandag nog, as mens ‘n antieke graf teëkom wat hierdie sinsnede op het, kan mens met redelike sekerheid sê dit was die graf van ‘n Christen.

Dit moet egter ook in Afrikaans wees. Anders, wie sal dit kan lees? Nee, ek sal graag ook relevant wil wees vir Jan Alleman. Selfs op my grafsteen.

So, asseblief, sit hierdie stuk hoop heel bo.

Onder dit die volgende: “Joh 10:10 – ‘Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.”

Lewe, in oorvloed, vir almal. Nie net lewe nie, maar lewe in sy volheid. Ook vir ander mense. Nie eendag nie, nóú. Met alles wat dit beteken. Want as daar een ding is waarvoor hierdie groep mense – waarna my eerste inskripsie verwys – voor gestaan het, en nog steeds staan, en nog steeds moet staan – selfs al het ons ook baie drooggemaak – is dit lewe.

Sit hierdie inskripsie, tegelyk versugting en getuienis, onder op my grafsteen. Dit is nie minder belangrik nie; inteendeel, dit is die basis waarop ons moet voortbou.

Die derde ding is ‘n bolplant wat jaarliks blom.

Mens moet niks daarvan in die winter kan sien nie. In die lente moet dit uit die grond uit bars met vars lewe en ongekende groei! Laat dit ‘n teken wees van die opstanding. Laat dit ‘n teken wees dat, verby alle hoop heen, verby alle verpletterd wees en dood en swaarkry en hoopverlorenheid, Hy nog steeds vir ons lewe skenk.

_________________________

* – kry iemand wat Grieks ken om dit uit te griffel! Ek draai drie maal in my graf om as die aksente nie reg is nie!


Die Inkopierebel

April 8, 2011

Elke land het maar sy eie gebruike en rituele.

Soms verskil dit.

Hier in Duitsland – en in Europa, soos dit vir my lyk – het hulle ‘n wonderlike sisteem uitgedink om presies aan te dui watter produkte die klant wil koop. ‘n Driehoekige stafie wat mens vóór en ná jou gewensde produkte op die aanvoerband plaas.

O, die angs! O, die stres wat daardie ritueel my nie al besorg het nie! Wat as daar nie stafies is nie? Wat as die persoon met my begin stry oor ek hulle goed betaal het? Moet ek vir iemand tong uitsteek as ek my stafie neersit? Pê-wê, ek het oënskynlik hierdie aanvraag-aanbod spel gewen?

“Good fences make good neighbors.”

Ek hoor jou, Robert Frost! Tot hier toe, en nie verder nie!Ek weier om langer die persoon agter my en voor my te mistrou; ek weier om langer die intelligensie van die persoon agter die kasregister in twyfel te trek; ek verset my teen hierdie van bo op ons afgedrukde sisteem

… ek is: …

Die Inkopierebel!

_______________________

Die Nederlandse Wikipedia het ‘n artikel oor die staaf – of klaarblyklik eerder “beurtbalkie”. Jammer dat ek dit nou moet sê, maar ek dink dit is mal: in 2002 was daar blykbaar ‘n “Actiegroep Over de Balk” wat die woord in die Nederlandse taalskat ingedruk het, pleks van die balk uit die samelewing uit te laat verwyder, soos mens van normale mense sou kon verwag.

Die foto in bogenoemde wiki-bladsy is belaglik; ek was nog by geen supermark waar daar nie ten minste 30cm spasie tussen my en die ander klante op die voerband was nie. En daar is ALTYD ‘n ry.


Gebed aan Winterseind

Maart 13, 2011

Liewe Here, dankie!


‘n Besoek aan die haarkapper

Januarie 25, 2011

Ses maande lank was ek glad nie by ‘n haarkapper nie.

Weens ‘n haarstyl wat my ouma eens afkeurend na verwys het as “bandiet”, had al my hare ses maande gelede dieselfde wegspringpunt. Getrou aan hul aard groei die goed toe almal teen gelyke tempo. Die resultaat: ‘n mullet. Of, om meer tegnies daarmee om te gaan, iets wat baie maklik vir ‘n mullet aangesien kan word. Die mullet is immers iets wat goed in Duitsland onthou word, verseker daardie immer veranderende bron van wysheid, ikoon van ‘n postmoderne samelewing en relatiewe kennis, Wikipedia, my:

The mullet is well known and widely remembered in Germany, where it is known as the “Vokuhila”, which is an acronym for “vorne-kurz-hinten-lang” or “short in front and long in back”.

Wat my die meeste aan my eksperiment gegrief het, is die gepof aan die agterkant wat heeltemal te veel aan ‘n skouduif herinner het. Kort voor lank sou ek iets moes doen. So, om ‘n lang storie kort te maak, besluit ek om maar tou op te gooi en ‘n haarkapper te besoek.

Op aanbeveling dwaal ek toe in ‘n voorgestelde straat af, maar die gewensde haarkapper het klaarblyklik onlangs verskuif – of ten minste van naam verander. Die belangrikste inligting gewaar ek darem in die nuwe besigheid se venster: “Ohne Termin” (“sonder afspraak”). Dis die in-ding hier in Duitsland; alle haarkappers hou hierdie sleutelwoorde heel opsigtelik voor. (Iemand moet tog asseblief die konsep na Suid-Afrika uitvoer!) Vinnig glip my blik oor die pryslys – daar is ‘n billike 10 Euro haarsny in sig. Die enigste kliënt versterk ook my vertroue in my surrogaathaarkapper: nou ja, eintlik weet ek glad nie hoe kieskeurig nonne oor hul haarkappers is nie, maar hulle is darem seker op die regte pad.

Die haarkapper begroet my met soveel vreugde dat dit lyk of sy jare laas ‘n kliënt gesien het. (Die non moes seker nogal in die gesig gevat gewees het – maar sy was darem ook in goeie hande.) Ek moes egter weet die gort is gaar toe die haarkapper my soos ‘n wafferse kelnerin ‘n Cappucino aanbied. Dalk ‘n koffie? Dalk ‘n water? Nee, dankie. Nou sit, wat kan ons vandag vir u doen? Kort, kort asseblief. ‘n Hele gesprek volg (van die haarkapper se kant af) wat handel oor mode en style en dinge, waarvan die gevolg is dat ons altwee uiteindelik weet ons wil my hare kort gesny hê. Tog wil sy graag die hare bo ‘n bietjie langer los as dié aan die kant – dis immers so vervelig om mens se hare so in ewewig te dra. Nou goed, hoe kan ek anders as om my haarkapper te vertrou? Dis immers hoe ek grootgeword het! Het ek dan nie vandat ek nog ‘n tjokker was my hare by Oom Manie laat sny nie?.

Oom Manie was daardie tyd al oud van dae; sy hande het altyd in die hoekies van my oë gebewe as hy gierts-gierts met sy skêr hier langs my ore besig was. Alhoewel ek soos ‘n steenpilaar daar gesit het, het ek altyd met die ander oog probeer kyk of daar ‘n mediese kissie in die nabyheid was; maar al wat ek ooit kon opspoor was die watte waarmee Oom Manie sy outydse skeermeslemmetjies skoongemaak het. (Dáárdie naskeermiddel se reuk herinner my tot vandag toe nog aan hom!) Die oom was eintlik al afgetree, en het vir ekstra inkomste nog by sy huis hare gesny. Ná Oom Manie tot sterwe gekom het, het sy haarkapperstoel – soos ‘n koning se septer – ‘n staanplek gevind in ‘n ander huishaarkapper se voorkamer. Daar staan die stoel tot vandag toe nog. As ek toevallig in Vereeniging se wêreld is, en nodig het om hare te sny, gaan sit ek ook nog met graagte daarop.

Waar was ons? O ja, by die kelnerin wat my toe vriendelik beveel om langs die non by die wasbak stelling in te neem. Teen hierdie tyd sien ek groot moeilikheid kom! My verwagtinge van 10 Euro het ek nou begin skat op 27. Natuurlik sou ek nog enige tyd kon stop. Dis boonop nie uit geldnood dat ek die sneeubal sou wou stop nie – ek het immers 6 maande se haarsnygeld in reserwe. Nee, ek sien hier kom ‘n gepamperlang waartydens ek geen eerstehulpkissies gaan besigtig nie, maar eerder die horlosie – in slow motion. Die vrees om woorde op sulke onbekende Duitse terrein te voorskyn te bring, laat egter my hare rys. Ek dink onwillekeurig aan ‘n bordjie wat in Prof Steyn, my studieleier, se kantoor hang: “Komm zur Sache, reden kannst du beim Friseur.” (“Kom tot die punt, jy kan by die haarkapper praatjies maak.”) Hoe ironies.

Na die kopwas word ek weer na “ons plek” weggestuur – die stoel op die hoek. Êrens moes ek iets verkeerd verstaan het, want die dame begin toe die hare tussen my wenkbroue uitpluk. Ek het nie eers geweet ek hét hare tussen my wenkbroue nie! Toe word die wenkbroue self ook bygedam; weereens is ek nie seker of ek daartoe toestemming verleen het nie. Uit die hoek van my oog sien ek nóg watte nóg horlosie, maar wel ‘n digitale fotoraam, waarop ‘n Wella advertensie met Charlize Theron herhaaldelik uitgesaai word. “Hey, sy kom ook uit Suid-Afrika!” wil ek die haarkapper meedeel; maar ek kan nie. Ten minste voel ek nie meer so alleen in die modewêreld nie. Die haarkapper-kelnerin begin nou my hare op my kop stapel in die vorm van ‘n Russies-Ortodokse kerkkoepel. My hart sak in my skoene. Die haarkapper begin stelselmatig my hare afpik. Lok vir lok. Charlize begin van voor af in die vrye natuur haar hare in die wind swaai.

Uiteindelik is my vriendin klaar. (Ek gebruik met ‘n skoon gewete die term vriendin, aangesien mense wat so lank in mekaar se geselskap is, nie anders kan as om vriende te wees nie, ongeag of beide van hulle met mekaar gepraat het of nie.) Nou eers weer ‘n draai by die wasbak, en dan ‘n afdroogsessie. Sy vertel my van ‘n wonderlike produk wat mens in jou hare sit wat dit dan laat lyk of daar glad nie iets in jou hare is nie. Nee, toemaar, dink ek – dít gaan ek ten minste self kan regkry. Met min moeite. Sy speel weer kelnerin en bring vir my op ‘n skinbord ‘n stomende warm lappie om my gesig en nek mee af te vee; daarmee saam ook die wonderproduk, wat sy met vrye gemoed in my hare invryf.

Dan – ongelukkig tyd om te gaan! Nog ‘n laaste draai by die kasregister, natuurlik. 22 Euro, glad nie sleg nie – alles in ag genome, ‘n winskopie.

By die huis kyk ek vir die eerste keer ernstig in die spieël presies wat my vriendin nou eintlik opgedis het. Vanselfsprekend ná ek die onsienbare jel uitgewas het. Diepe insig: uit persoonlike ondervinding kan ek meedeel dat die magiese nog nie heeltemal uit die westerse samelewing verdwyn het nie. 22 Euro kan nog steeds jou skouduif in ‘n aasvoëlnes verander! Nou ja, mens sou dink ek sal van nou af haarkappers vermy. Maar my vertroue is nie heeltemal soveel gekrenk soos my eer nie: ek kan eintlik nie wag vir my volgende besoek aan die haarkapper nie. Behalwe vir die voorreg om nog ‘n nuwe besigheid te ontdek, sien ek verskriklik daarna uit om my ingeoefende Duits ten toon te stel: “Alles af, asseblief.”

P.S. Ek mis die mense daar by Rocky se haarsalon in Duncanstraat in Pretoria. (Lees: Rocky en Kevin.) Mens kon daar regtig lekker kuier. Nie dat ek ooit regtig lank daar by hulle moes wag nie. Daarbenewens het hulle my altyd, selfs na ek nie meer regtig suiwer student was nie, teen studenteprys laat betaal. So met ‘n “hou jou geld man, dit was mos nie moeite nie” houding. Iemand, stuur asseblief vir hulle groete.


Rugby, geweld en die Bybel

Januarie 4, 2011

Hierdie post is eintlik soortvan in gesprek met ‘n post van ‘n vriend oor rugby en geweld, en dis eintlik ‘n goeie idee om daardie post eers te lees.

My storie loop seker min of meer dieselfde – ek het ook op skool rugby gespeel (net op laerskool), en ek moet erken, ek het nie so vinnig die lyntjies getrek met geweld nie. Alhoewel ek ook stories sou kon vertel van vriende wat openlik oor hulle vuilspel gespog het.

Ek onthou een dag op universiteit (dit was seker al eintlik na universiteit) op ons stoep toe ek, Cobus (wat die ander post geskryf het) en nog ‘n paar ander juis oor hierdie tema gesit en gesels het. Op daardie stadium was ek ook al oortuig dat rugby eintlik ‘n gewelddadige sport is; maar wat ek daardie dag besef het, is dat ek nie bereid was om dit hardop te sê nie, want dan sou ek klomp ander vorme van geweld ook moet aanspreek. Ek was juis in daardie tyd besig om een van laasgenoemde te lees – 1 Makkabeërs – en ek het daarvan gehou. Nee, ek sal dit openlik erken: ek hou nog steeds daarvan. Ek is eintlik versot daarop; net soos ek versot is op al die ander verhale in die Bybel (die Koningsboeke; Samuel; Rigters; ens.). En tog is dit vol geweld. Lees byvoorbeeld hierdie gedeelte, oor hoe Mattatias reageer toe hy gevra is (lees: gedwing is) om teen sy geloof te offer (1 Makkabeërs 2:23-25, my vrye vertaling):

Hierdie woorde was nog nie koud op sy lippe nie, toe ‘n Judese man daar voor almal kom om op die altaar in Modeïn te offer, soos die koning beveel het. Toe Mattatias dit sien was hy so vol geesdrif dat sy niere so te sê begin bewe het. Hy het goeie rede gehad om smoorkwaad te wees! Hy het nader gehardloop en die man net daar op die altaar afgeslag. Die man wat die koning gestuur het om die mense te dwing om te offer, het hy sommer tegelykertyd om die lewe gebring, en die altaar het hy afgebreek.

Dit klink soos iets uit ‘n fliek uit – 300, byvoorbeeld. (“This is Sparta/Juda!”)

Alhoewel ek dus van hierdie verhale uit die Bybel hou (ja, want die ander Bybelboeke, wat in die Protestante se Bybel is, het ook sulke voorbeelde!), lees ek dit deesdae ook met ‘n gevoel van weersin. Ja, iemand moet ook hierdie gevalle van geweld in die Bybel uitwys, en daarop wys dat ons, as Christene, nie meer daarmee kan saamgaan nie. Selfs al spreek dit my (sondige?) wese aan.

Die onderskeid tussen Nuwe Testament en Ou Testament help ons dalk hiermee, maar ook net so ver. Daar is ook voorbeelde in die Nuwe Testament waar geweld – myns insiens – ‘n te hoë waarde toegeskryf word. (Openbaring, om maar ‘n vinnige voorbeeld te noem.) Terselfdertyd is daar tekste soos Matt 5:38-39 – en dis hierdie lyn wat ek dink ons ons voor moet beywer.

Daarmee wil ek egter nie rugby, die Ou Testament, en stories soos 1 Makkabeërs heeltemal afskryf nie. Al drie hierdie het ons baie om te leer. Ek dink, byvoorbeeld, dat rugby ook baie goed kan wees – en ek ken ten minste een gesamentlike vriend van my en Cobus wat ten volle hiermee sal saamstem ;) ‘n Mens kan seker hier Invictus as voorbeeld noem (wat ek versigtig doen, want ja, ek sal ook erken ek het dit nog nie gekyk nie. Ek het een keer probeer, maar die DVD was gekrap). Miskien gaan dit hier eerder oor die manier hoe mens die spel speel? Wat Bybellees, en 1 Makkabeërs betref: ja, mens moet leer om verby die geweld te lees, en dan lees mens wel iets van geloof raak. Daarbenewens egter ook nog iets anders: dat ons geloof eintlik nooit ten volle kan vasvat en verstaan nie. 1 Makkabeërs illustreer dit baie goed (en dis die moeite werd om te lees!) – dit wat as held, as leier, as voorbeeld daar gestel word, is iets heeltemal anders as wat so eeu en ‘n half later gebeur het!


‘n Oop Monoloog: my geloofstorie, Deel 9

November 30, 2010

‘n Goeie vriend het my in September 2009 in effek gevra wat ek nou eintlik glo. Hierdie is my antwoord, so effens aangepas, maar grotendeels soos ek toe daaroor gedink het. In klein happies opgedeel.

Deel 9 – “bekering” – oftewel, epifanie

Dit gebeur eintlik eers ’n rukkie na ek “Fatherless in Gallilee” gelees het, op pad V-town toe. In die kar. Nie noodwendig ’n goeie plek om ’n openbaring te hê nie, veral as mens ‘n bietjie snot-en-tranerig word. Skielik word meer as sewe jaar se teologie studies met inhoud gevul: Jesus – sy lewe. Nie net die feit dat Hy gesterf het nie – ja, dit ook, maar meer eenvoudig net hierdie een ding: die Persoon van Jesus Christus, en hoe Hy op aarde opgetree het. (Dit wat ons daarvan kan weet.) Om jou lewe met sy liefde te vul. Dit is wat die evangelie vir my beteken. Dit is wat vergifnis van sonde vir my beteken. Dit is, in effek, die crux. Dit beteken verder opoffering. Dit is immers wat Jesus se lewe was.

Dit is waarna die Bybel vir my wys. Dit wys na Jesus, wat daar rondom Hom gebeur het – maar ook God se pad met mense tot op daardie punt. Ek dink dis belangrik om daardie tradisie te sien – die manier hoe God met mense was en hoe mense God ervaar het.

[Hierdie deel voeg ek nou ter wille van verklaring by, so dit het seker nou al bietjie ontwikkel na 2009; maar is nie ‘n sistematiese uiteensetting van wat ek glo nie.] Dit beteken allerhande begrippe, soos sending, en geloof, sien ek nou baie anders. Byvoorbeeld, as ek met iemand oor Jesus Christus sou moes praat, sou ek dit nie op ‘n kosmiese wyse doen nie. Ek sou nie vertel van Jesus se opstanding uit die dood nie; of die feit dat Hy ons sondes vergeef het nie. Eintlik maak dit nie vir my soveel saak of Jesus uit die dood uit opgewek is of nie; dis ‘n teken, ja, dat wat gebeur het waar is, maar dis ‘n ding wat ons eenvoudig net moet glo. Nee, ek sal vertel van Jesus se lewe, hier op aarde, tussen mense.

_______________________

Die Einde – tot en met 2009.


Follow

Get every new post delivered to your Inbox.