‘n Oop Monoloog: my geloofstorie, Deel 6

‘n Goeie vriend het my in September 2009 in effek gevra wat ek nou eintlik glo. Hierdie is my antwoord, so effens aangepas, maar grotendeels soos ek toe daaroor gedink het. In klein happies opgedeel.

Deel 6 – Grieks en Zeplins

Daardie jaar (2007) het ek egter die geleentheid gekry om te begin om Grieks aan te bied by Antieke Tale. Dit was pret – het natuurlik heelwat van die gemeente se tyd gesteel, en met dié dat my MA skripsie nog nie heeltemal klaar was nie, was ek maar bietjie oorwerk. Oorwerk is nie ’n goeie teëlaarde vir teologiese besinning nie. Of is dit juis? Middel daardie jaar is ek die eerste keer oorsee – Duitsland toe, om ’n konferensie by te woon. Het meeste van my spaargeld gebruik wat ek deur al 6 jaar van teologie studies bymekaargemaak het en ’n bietjie geld wat ons dekaan vir my gegee het (maar het toe so suinig geleef dat ek met die terugkomslag ’n kitaar en kamera kon koop en weer later daardie jaar Turkye toe kon gaan – ka-tching!). Dit het daartoe gelei dat ek maar weer die akademiese pad begin stap het – ek het nog ook gedink, hoekom nie voltyds verder swot in SA nie? Dis tog in elk geval wat ek oorsee wil gaan doen.

Êrens in daardie jaar het ons ’n selgroep begin by die kerk, vir jongmense van omtrent my ouderdom. Dit was ’n groot probleem daar – die jong volwassenes. Om eerlik te wees, die inhoud van die selgroep was maar – blugh. Ek wou nie die heeltyd preek nie, so ek het hulle uitgenooi om hulle opinie te lug, maar ek vermoed hulle het nou weer gemeen “jy swot dit”, en so aan. Verder het die hele affêre nie baie teologie ingehad nie – ek was dalk in elk geval nog te opinieloos, en wou nie maar net deur die motions gaan nie. Dit voel vir my na die grootste tydmors om iets te doen as dit nie inhoud het nie. So ek gaan nou nie staan en bid en Bybelstudie en allerhande ander goed doen as ek voel dit is juis wat hulle lamlê om nie regtig in die wêreld ’n verskil te maak nie! Meantime het ek ook nie geweet wat om nou juis vir hierdie mense te sê nie. So baie keer het ons maar net gekuier – wat, natuurlik, ook nie ’n slegte ding is nie. Gemeenskap met ander Christene is darem goed.

Ek het een van die ouens in die sel gevra om my bietjie saam te vat Zeplins toe. (Ek dink ons het al hieroor gepraat.) Een van die dinge wat daardie aand op die spits gedryf is vir my, is hoe irrelevant die kerk vir die wêreld is. Wel, OK, ek kan eintlik maar net van die NG kerk praat, en seker eintlik ook maar net oor die paar gemeentes waarmee ek bekend is. Nietemin, dit het wel vir my gevoel of dit die geval was en wat agter dit lê, dink ek, is juis dat die (NG) kerk so ekslusief is. Ons oordeel. Punt. Een van die wonderlikste stukke gereedskap waarmee ons oordeel is sondelyste. Punt. Dit beteken nie ek dink nie daar is nie reg of verkeerd nie – beter of slegter nie – maar ek dink wel dat dit nie ek is wat daardie finale besluit moet maak nie.

Volgende keer: skripsie en Amerika

2 Responses to ‘n Oop Monoloog: my geloofstorie, Deel 6

  1. Abel Burke sê:

    Hoe gebeur dit? Jy is jonk, ambisieus en in ’n hoë pos. Die paaiemente van jou trendy motor en huis in die regte woonbuurt is hemelhoog. Jou kollegas blaas in jou nek. Jy het iets nodig wat jou daardie ekstra edge gee. Jou jappie-vriende snuif gereeld kokaïen en jy dink: Hoekom nie? Dis ’n vinnige manier om die “regte” mense te ontmoet. Diep binne jou voel jy trots dat jy toegang gekry het tot dié eksklusiewe groepie. En jy weet tog wat jy doen.

Lewer kommentaar