‘n Oop Monoloog: my geloofstorie, Deel 5

November 26, 2010

‘n Goeie vriend het my in September 2009 in effek gevra wat ek nou eintlik glo. Hierdie is my antwoord, so effens aangepas, maar grotendeels soos ek toe daaroor gedink het. In klein happies opgedeel.

Deel 5 – kerk werk en “opskop”

Begin vyfdejaar het ek begin werk by Waverley-Oos. Die aanvang daarvan was ’n opwindende tyd in my lewe. Ek het aan die begin nogal werk gemaak daarmee, maar het nooit regtig ten volle deel gevoel van die span nie. Middel van daardie jaar het ek my eerste “geloofskrisis”, as mens dit so kan beskryf, ondervind. Dalk meer ’n ontnugtering met die kerk? Ja, ek het bietjie moeg geword vir die kerkspeletjie. Almal verwag van jou om op ’n sekere manier op te tree, net omdat jy oppad is om ’n predikant te word. Daar is soveel rompslomp en komitees, soveel goed wat gebeur en soveel goed wat nie gebeur nie. Dis waar van meeste kerke, maar seker veral van die NG kerk – dis ’n eksklusiewe klub wat daarop gesteld is om gemeente vir gemeente te oorleef. Ek het begin twyfel aan die integriteit van ’n hele paar mense wat ingekoop het in hierdie klub, en dit wat ek soms ervaar het van sommige van my klasmaats op daardie stadium het ook nie regtig gehelp nie. Meer nog as al hierdie goed, en om dit dalk ‘n bietjie kras te stel (maar seker soos dit toe in my agterkop was): ek was nie lus om mense se doeke vir hulle om te ruil sodat hulle tog net kan beter voel en met hulle lewens kan voortgaan soos wat dit maar net nog altyd is nie. In ’n sin was ek ook nie bereid om my hande vuil te maak nie – vir al die gesukkel en opoffering wat ’n gemeente verg nie. Bo dit alles het een van die kerkverwante vakke wat ons gehad het – wat vir my absoluut betekenisloos was – my teen die mure uitgedryf. Ek kon dit nie langer meer vat nie! Daarom het ek besluit om tydelik op te skop, en net met my MA Antieke Tale (waarmee ek toe al besig was) aan te gaan.

Intussen het dinge by die kerk nie beter geraak nie. Prediking was schlep; ek het nie die punt daarvan ingesien nie, veral nie as dit net is omdat dit van my verwag word nie. Die voorbereiding deel was lekker, maar om dit om te skryf en vir mense mooi te maak (daar moet mos altyd iets moois of supercool wees sodat jy darem die arme kindertjies se aandag kan hou) was nou nie regtig vir my so great nie. Kampe en deurnagte en met tieners werk – siesa. (Ek wil nou nie die storie spoil of vooruitloop nie, maar later het ek besef dat mens tog wel iets hier uitgerig het, en dat dit nie beteknisloos was nie.)

Ek kan nie meer lekker onthou hoe ek daaroor gekom het nie – nee wag, ek dink nie ek het oor dit gekom nie, ek het net besef ek is dom om my studies met ’n jaar te verleng. So toe gaan praat ek mooi met die mense by die Teologie Fakulteit, en vra of ek nie die vakke wat ek gemis het in die vakansie kan opvang nie. Gelukkig het hulle darem nie my akademiese integriteit in twyfel getrek nie, so die Desembervakansie van my vyfdejaar (en daardie eksamen voor dit) was maar opvangtyd vir die vier vakke (in Teologie, agt eksamens) wat ek gemis het. Teen die begin van my sesdejaar kon ek begin met my “gemeentejaar” daar by Waverley-Oos. Dit het eintlik maar net beteken ek doen presies wat ek gedoen het, plus huisbesoek.

Volgende keer: Grieks en Zeplins